Podsending: ‘Ek vind ’n geestelike familie in Rusland’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Nou die dag loop ek ’n klomp Russe raak by NG Gemeente Dur­banville buite Kaapstad. Net een of twee van hulle kon Engels praat. Die een se naam was Olga. Sy het getolk, want die studente wou om die beurt kort toesprake lewer om hulle Suid-Afrikaanse dosent geluk te wens met sy 62ste verjaarsdag. ’n Mens kon duidelik sien hoe baie hy vir hulle beteken.

Die dosent se naam is dr Annes Nel. Olga, die tolk, is sy vrou. Hulle woon die afgelope paar jaar in Rusland. Die studente was op ’n teologietoer in Suid-Afrika en Namibië.

Gewoonlik werk dit anders­om, verduidelik hulle. Gewoonlik doen Annes die praatwerk en tolk Olga sy le­sings vir sy teologie­studente by die universiteit in St Petersburg waar hy klas gee.

Annes vertel dat sistematiese teologie eintlik sy vakgebied is, maar omdat daar geen dosent vir praktiese teologie in St Petersburg was nie, en amper geen akademiese literatuur in Russies nie, het hy ingestem. Hy kon gelukkig ’n klomp kenners in Suid-Afrika kontak vir raad, onder andere Coenie Burger, Malan Nel en Jurgens Hendriks.

Annes het ’n lang pad gestap tot in Rusland. Hy is op Lambertsbaai gebore, later studeer hy aan eers die Universiteit Stellenbosch en later die Universiteit van Suid-Afrika.

Hy was jare gelede vir meer as 15 jaar lank in die gemeentebediening in die NG Kerk – in Prieska en Windhoek – en daarna vir 10 jaar in die akademiese wêreld, waar hy onder andere direkteur was van die Ekumeniese Instituut aan die Universiteit van Namibië en medeprofessor in Sistematiese Teologie by die Universiteit van Zoeloeland. Daarna was hy vir ’n tyd lank predikant in Noord-Ierland.

LEES OOK: Schalk van Heerden en die brûe wat hy bou

Dit is dan ook die sinode van die Presbiteriaanse Kerk in Ierland, waar hy 12 jaar lank in die bediening was, wat hom uiteindelik na Rusland gestuur het en in wie se diens hy steeds is.

Annes is in Suid-Afrika bekend as die skrywer en medeskrywer van 20 boeke en vertaler van drie ander boeke, insluitende Dietrich Bonhoeffer se boek: Wat dissipelskap kos.

Van sy publikasies sluit in Hanteer depressie, Net jollie goeie mense, Op soek na God … buite die kerk, Sewe woorde wat jou lewe kan verander en verskeie Bybeldagboeke.

LEES OOK: Podsending: Roelf Meyer oor die uitdagings van vredemaak

Hy en Olga is al 18 jaar getroud. Sy is eintlik ’n ingenieur, maar het vir ’n reisagentskap gewerk toe hulle mekaar destyds ontmoet het.

Olga vertel hoe sy grootgeword het as ’n ateïs: “Ek kon nie glo dat enigiemand in iets bo-natuurlik kon glo nie,” sê sy. “Ons is grootgemaak dat gods­diens ’n klomp nonsens is!”

Sy vertel hoe sy bloot ’n nominale lidmaat van die Russies-Ortodokse Kerk was, hoe dinge in haar lewe ver­ander het toe sy vir Annes ontmoet het en hoe sy vandag ’n passievolle volgeling van Jesus is. Sy het jare gelede, voor sy geweet het wat voorlê, ’n meestersgraad gedoen wat fokus op Russies-Engelse vertaling. Olga sê sy sou nooit kon dink sy gaan eendag saam met haar man by ’n universiteit in haar eie land werk nie. Dit is vir haar ’n wonderlike voorreg om saam met Annes in die bediening te wees.

Meer as een keer merk Annes op dat hulle God se hand so duidelik kon sien in al die dinge wat gebeur het op hulle pad tot in St Petersburg.

Daar bestaan byvoorbeeld ’n beson­derse goeie ooreenkoms tussen die Russiese en Suid-Afrikaanse regerings om mekaar se akademiese kwalifikasies te erken – en bo alles is hy met ’n Rus­siese vrou getroud!

Olga vertel dat Rusland deesdae al minder oop is vir buitelanders. “Behalwe vir Suid-Afrikaners,” sê sy. “Hulle is baie oop vir mense van Suid-Afrika.”

Annes lag en vertel hoe hy soms verstom staan voor die ironie. Wie sou kon dink dat iemand wat ’n NG dominee was toe ons destyds oorlog moes maak teen die Russe in Angola, wat van kleins af gewaarsku is teen die “Rooi gevaar”, vandag ’n klomp van sy studente uit St Petersburg op ’n teologiese toer begelei om te kyk wat doen die NG Kerk met betrekking tot sosiale geregtigheid en versoening!

Ek vra hom uit oor die studente se belewenis van die kerk in Suid-Afrika en Namibië.

Die enorme gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika was vir hulle ont­stellend, vertel Annes, maar daar was ook verwondering vir die praktiese manier waarop die kerk op die grond betrokke is. Baie gemeentes in Rusland is na binne gerig.

Hy en Olga vertel hoe baie die toer vir die studente beteken het. Die een student het geskryf dat hy totaal verwonderd staan voor die feit dat die einste kerk wat so integraal deel was van die totstandkoming en instandhouding van apartheid, vandag so baie doen met betrekking tot versoening en uitreik na die armes in die samelewing.

LEES OOK: Inbreker byt en pot dominee wat via Zoom om hulp roep

Een van die hoogtepunte van hulle toer was die besoek aan Worcester waar hulle vir ds Hans Steyn ontmoet het. Hy het hulle voorgestel aan ’n verskeidenheid stemme in die plaaslike gemeenskap. Hulle het van Stefaans Coetzee se storie gehoor, die bomontploffing destyds in Shoprite, van die gemeentes se betrokkenheid by die versoeningspro­ses en die Worcester Peace Train.

Hulle het ook projekte in Durbanville, Ysterplaat en in die middestad van Kaapstad by Groote Kerk besoek, waar hulle die hande en voete van die kerk vir mense in nood eerstehands kon sien.

Christene se betrokkenheid by armoede, verslawing, rekonsiliasie en ander sosiale kwessies het ’n groot indruk op hulle gelaat, vertel Olga en ’n mens kan die opgewondenheid in haar stem hoor.

Die laaste deel van die toer was in Namibië waar hulle die studente vir ’n paar dae Etosha toe geneem het om iets van die Afrikanatuur te laat beleef.

“Ons het destyds grootgeword met sekere voorveronderstellings oor die mense van Rusland,” sê Annes, “maar ek beleef hulle as wonderlike mense wat die regte ding wil doen, vriendelike, gasvrye mense. Ek het ’n geestelike fa­milie in Rusland gevind.”

  • Ds Jaco Strydom is predikant in die NG gemeente Villieria in Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode