Podsending: Roelf Meyer oor die uitdagings van vredemaak

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“Roelf (Meyer) het ’n gawe om uiteenlopende mense om ’n tafel te kry om met mekaar te praat, selfs vyande en mense wat mekaar beskou as droogmakers,” vertel Schalk van Heerden wat hom leer ken het by die Foundation for a Safe South Africa.

Roelf en sy vrou is tans op Kakamas met ’n tipe sabbatsverlof. Maar daar is min tyd vir afskakel.

Roelf het al belangrike politieke posisies beklee, was onder andere Minister van Verdediging en later Minister vir Konstitusionele Ontwikkeling, maar hy het uiteindelik internasionale bekendheid verwerf as vredemaker. Veral vir die sleutelrol wat hy gespeel het in die onderhandelings om die apartheidregime vreedsaam tot ’n einde te bring.

Vandag is Roelf onder andere die direkteur van In Transformation Initiative (ITI), ’n organisasie sonder winsbejag met die hoofdoel om Suid-Afrika se oorgangservarings met ander plekke in konflik te deel ten einde vreedsame oplos­sings te help vind. Hy was al betrokke by versoeningsgesprekke en -projekte in Noord-Ierland, Sri-Lanka en Kosovo en op die oomblik is hy saam met ITI werk­saam in Zimbabwe, die Sentraal-Afri­kaan­se Republiek, Palestina en Mianmar.

Ek vra hom oor die staatsgreep in Mianmar.

Wat nou daar gebeur is vir hom ’n emosionele saak, want dit lyk of alles nou weer terug is by waar dit was voor 2014. Roelf vertel hoe hy vir ’n tyd lank nou saam met Aung San Suu Kyi, wat tans in gevangenskap is, gewerk het.

Roelf het grootgeword op ’n plaas naby Ficksburg. Voor skool was sy enigste maatjie op die plaas ’n swart seuntjie. “Ons het grootgeword soos boeties, daar was geen verskil nie,” sê hy. Maar hy is onseker oor die werklike invloed daarvan op sy vorming, die groot ont­nug­tering oor apartheid het eintlik eers veel later gekom, toe hy as prokureur begin werk het.

Roelf vertel dat die kern van alles wat hy in sy lewe tot dusver as “suksesvol” kon beskou altyd opgesluit was in die beginsel van goeie verhoudings.

“Ek het op universiteit ’n leier geword sonder dat ek dit verwag het. Ek het glad geen verwagtings gehad nie, want ek was nie ’n skoolleier nie. En toe skielik op universiteit beland ek in ’n posisie waar ek agterkom ouens aanvaar my as iemand wat kan leiding gee. Dit alles as gevolg van goeie verhoudings.”

Volgens Roelf is een van die grootste uitdagings vir ’n beter Suid-Afrika vandag, om die middelgrond te versterk. Ons gesels oor die groei in populisme en die gevare wat dit inhou, juis omdat dit polariseer en die middel verder laat wegval.

LEES OOK: LUISTER: ‘Gee jou lewe vir die Here en die wêreld’

“Die tragedie wat gebeur het in 2009 tot 2017, in Zuma se era, is dat die middelgrond sy baken verloor het. Die middelgrond het eintlik aan skerwe gespat. Een van die grootste take wat ons nou het op hierdie oomblik, is om dit weer te versterk, om die middelpuntvlietende krag te verenig en te versterk, teen al hier­die nasionalistiese oproepe van bui­te af, of dit nou van regs of links is.”

Die ongelykheid in Suid-Afrika bly een van die grootste uitdagings. “Dit moet aangespreek word,” sê Roelf, “maar dis nie net ’n moraliteitsissue nie, dit het ’n baie sterk ekonomiese element. Ons ekonomiese stelsel in Suid-Afrika begunstig steeds die elite en laat die arm mense agter.”

Hoe voel jy oor die kerk? vra ek.

“Die kerk as institusie is eintlik so jammerlik nie besig om sy opdrag uit te lewe nie,” sê Roelf. “Ek wil dit sag stel, ek wil nie probeer om klagte te lê nie. Maar dis jammer, want in die proses verloor ons ons roeping as Christenindividue, as mense wat tot ’n bepaalde geloof behoort. Ek wil eintlik sê, elke dag as ek lees wat Gift of the Givers doen, slaan dit my tussen my oë, om te sien wie die mense is wat daardie take onderneem. En ek sou so graag wou sien dat die Christenkerk ook net so daardie rol vervul.”

Maar Christene doen wél ’n lot lief­dadigheidswerk, is die eerste gedagte wat by my opkom terwyl ek na sy woor­de luister. Maar ek moet ook erken, iets wat my al baie gepla het is waarom daar so min vrede is in ’n land met soveel kerke? Is dit te veel gevra om groot impak van ’n groot kerk te verwag?

Ek vra hom wat hy sou wou sê as hy met ’n klomp dominees kon praat. Wat sou sy raad aan hulle wees in ’n tyd soos hierdie, in ’n land soos hierdie?

Hy moet versigtig wees, sê Roelf. Hy besef hy is nie ’n teoloog nie. Al is hy nie meer ’n praktiserende politikus nie, is die politiek die een dissipline wat hy die beste ken. Hy vertel hoe prof Piet Mei­ring hom destyds gevra het om met die nuwe teologiese studente by UP te praat.

“Ek het toe vir die studente gesê, die beste voorbeeld van Christelike deug wat ek dink ek in my lewe teëgekom het, was Nelson Mandela! En niemand kon tot en met sy dood sê of hy ’n oortuigde Christen was of nie. Maar hy het die Christelike deug uitgeleef. En daai deug het verskillende dimensies in my erva­ring aangeneem.”

Roelf vertel hoe hy gesien het hoe selfs die politieke konserwatiewes se respek vir Mandela toegeneem het wanneer hulle met hom in aanraking gekom het.

LEES OOK: Jan du Rand, skerp teoloog en skrywer, sterf aan Covid-19

“Dit wat die sterkste oorgekom het in sy hele optrede was sy menslikheid,” sê Roelf. “En dit is verstommend as jy dink waar hy vandaan gekom het en hy het nooit vengeance (wraaksug) gedemonstreer nie. Ons wat die geleentheid gehad het om nóú saam met hom te werk, in die onderhandelingstyd, ook in sy rege­ring na die oorgangstyd, het dit nooit ooit beleef nie. Niks daarvan nie. Hy het nooit eens ’n vraag daarna gevra nie.

“As ek dus vir die leraars ’n boodskap het, sou dit wees: Kom ons leef net uit wat ons glo die Christelike deug is. Ons leef dit net uit! En dra daai boodskap uit. As ons net almal kan kry om dít te leef, wat sê hulle is Christene, sal hier­die wêreld ’n ongelooflike plek kon wees. Maar mense is steeds in hulle eie ideologiese bekrompenheid vasgevang binne die kerk, met doktrines wat niks werd is nie en niks met die Christelike deug te doen het nie.”

Nie maklike woorde nie, dink ek, en ’n aanhaling wat ek onlangs gelees het kom in my gedagtes op: “Everyone loves a prophet, when he is criticizing the other team …”

Ons gesels oor die feit dat vredema­kers dikwels deur hulle eie mense vervolg word. Mahatma Gandhi is nie geskiet deur ’n Engelsman nie, maar deur ’n Hin­doe. Paulus se grootste weerstand het van sy eie mense gekom, die Joodse konserwatiewe godsdienstiges.

Hoe hanteer ’n mens die pyn wat jou aangedoen word deur jou eie mense wanneer jy ’n vredemaker probeer wees?

“Dit het maar te make met wat in jou eie kop aangaan, as jy oortuig is van wat jy moet doen, maak dit nie saak nie,” sê Roelf en vertel dat daar mense is wat hom steeds in 2021 beskou as die Antichris.

Ons het oor nog ’n hordes goed gepraat (luister die podcast!), maar een ding het ek geweet na ons gesprek: Vredemakers is nie people-pleasers nie! Hulle gee te veel om.


Word 'n vriend van Kerkbode