Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds André Botha. Foto verskaf

LUISTER: ‘Gee jou lewe vir die Here en die wêreld’

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Waarom voel die mense wat welkom gevoel het by Jesus, nie welkom by sy liggaam nie?

Jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om dit ook vir die wêreld te gee nie. André Botha het hierdie waarheid vroeg in sy lewe ontdek en hy hou steeds daaraan vas.

André het ’n passie vir die mees weerlose mense in die gemeenskap. Ek het nog selde met hom gesels wat hy nie ’n storie gehad het om te vertel van iemand op straat wat hy die week ontmoet het of iemand in die plaaslike informele nedersetting oor wie hy be­kommerd is nie.

Vir die grootste deel van sy lewe is André dominee op die platteland. Na sy studies was hy vir ’n tyd lank by ’n gemeente op Louis Trichardt, die laaste sewe jaar is hy predikant op Mookgophong (Naboomspruit). Maar sy passie vir Jesus en die wêreld het hom al op vreemde plekke laat beland. Vreemde plekke met vreemde mense wat ’n groot effek gehad het op sy siening van kerkwees vandag.

André het onder andere vir ’n tyd lank in Etiopië gewoon waar hy saam met Youth with a Mission (YWAM) gewerk het.

“Die hele community-lewe was vir my fantasties,” vertel hy en sy oë blink. “Ons het elke dag saam gebid, saam geleer, saam ’n pad gestap met straatkinders, saam uitgereik na die hawelo­ses op straat.” Hy vertel hoe hulle dik­wels genooi is deur gewone mense in die gemeenskap, hoe hulle saam gekuier en saam geëet het. “Dit was ’n wonderlike tyd al het ons selde luukshede soos warm water en beddens gehad. Ek verlang dikwels na die community en eenvoud wat ek in daardie tyd beleef het,” sê hy.

Hy en sy vrou Marnell het ook later vir ’n paar jaar in Oman gewoon waar hy as jeugleraar gewerk het. Die gemeente het hom gekontak en gevra om aansoek te doen. André sê hy was nogal geskok toe hy die pos kry en aanvanklik nie baie lus om in die Midde-Ooste te gaan woon nie. Hy lag en vertel hoe hy vir ’n vriend gesê het hy is bang hy is ’n Jona en beland dalk in ’n vis se maag as hy nie gaan nie, waarop sy vriend opgemerk het dat daar groot babers in hulle omgewing is.

Die groep jongmense met wie hy in Oman gewerk het was van vyftien verskillende nasionaliteite.

Maar al die paaie het hom keer op keer weer terug na Suid-Afrika gebring. Elke keer met nuwe ervarings en ont­dekkings wat sy passie vir versoening en ’n bediening aan die mees weerlose mense in ons land versterk het.

André vertel van sy persoonlike worsteling om aan die een kant die bedie­ning aan gemeentelede en aan die ander kant sy betrokkenheid by die informele nedersetting en by projekte in die gemeenskap te probeer balanseer.

Hulle het betrokke geraak by ’n seun wat in die plakkerskamp gebly het. Die seun, Aubrey, het tot so ’n mate deel geword van hulle gesin dat hulle eie twee seuns hom vandag sien as ’n ouer broer. “Aubrey het my baie gehelp om ’n be­lang­rike deel van my menswees te kon uitleef, want as gevolg van hom moes ek gereeld in die plakkerskamp kom, moes ek dikwels met sy ma gesels. Ek is hom ewig dankbaar daarvoor,” sê André. Vandag is Aubrey ’n onderwyser op Jeffreysbaai.

André en Marnell het besluit om hulle eie twee kinders in ’n multikulturele kleuterskool te sit. Hy verduidelik: “Toe ons op soek was na ’n kleuterskool het ons gesê ons wil ons kinders in ’n skool sit wat Suid-Afrika voorstel. Ons het gevoel hulle moet besef ons bly in ’n land waar daar verskillende kulture is en hoe vinniger hulle dit besef hoe beter is dit vir ons almal. Ons sien vandag die waarde wat dit vir ons seuns en vir ons toegevoeg het.”

André en Jaco gesels lekker. Foto verskaf

André en Marnell is vandag steeds betrokke by die skool, hulle het onder andere gehelp om ’n NWO te stig sodat hulle “nooit ooit ’n kind hoef weg te wys”, omdat die ouers te arm is om te betaal nie.

Een van die vrae waarmee André dikwels worstel is, waarom die werklike arm en gebroke mense in ’n gemeenskap selde welkom voel in ons kerke.

“Mense wat swaarkry voel dikwels hulle pas nie in by ons manier van kerkwees nie. Mense wat anders is voel uit. ’n Arm oom wat in die plakkerskamp woon, het my in die week gevra of hy kan erediens toe kom soos hy is. Toe sê ek, ja natuurlik. Toe vra hy, maar wat gaan die mense sê? Want hy het net ou stukkende klere.”

LEES OOK: Video: Die NG dominee wat kies om te kerk in Kulkutta

Waarom voel die mense wat welkom gevoel het by Jesus, nie welkom by sy liggaam nie? Waarom weerspieël ons goeie teologiese missionale praatjies nie in die profiel van ons gemeentes nie? En op ons begrotings en ons kalenders nie?

André sê hy glo onbekend maak onbemind en deel van die kerk se roeping is om ontmoetings te laat plaasvind tussen die uiteenlopende mense in ons land.

Hy vertel hoe ’n half blinde ou swart man nou die dag saam met hulle nagmaal by die kerk gebruik het.

Die eerste keer toe hy by die erediens opdaag, was dit effe vreemd vir die mense. André het vir hom gesê om voor in die kerk te kom sit, dan kan hy sommer beter sien.

Hy het toe vir die gemeente vertel wie die ou man is. Baie het besef hulle ken hom eintlik, hy was vir lank ’n hekwag by die dorp se gholfbaan. Nou, omdat sy oë finaal opgepak het, is hy werkloos.

“Met die nagmaal verlede Sondag het een van die gemeentetannies hom gehelp om uit die kelkie te drink, want hy kon nie sien nie. Dit was so mooi,” sê André, “ek wens ek kon ’n foto neem”.

  • Ds Jaco Strydom is predikant by die NG gemeente Villieria in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top