LUISTER: Die NG dominee wat kies om te kerk in Kalkutta

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

EJ Leach is ’n vreemde dominee. Na hy sy studies by Tuks voltooi het, besluit hy en sy vrou om te trek na ’n plek waar dit rowwer gaan as in Suid-Afrika. Hulle woon vandag in die hartjie van Kalkutta in Indië.

Terwyl ek na EJ luister, kan ek nie help om te dink aan ’n klomp van my vriende wat die afgelope tyd geëmigreer het na, onder andere, Nieu-Seeland, Kanada en Australië nie. Van die grootste redes wat hulle aanvoer is dat dit té onveilig raak in Suid-Afrika, dat hulle meer geld kan maak of ’n beter toekoms wil gee aan hulle kinders.

LEES OOK: Historiese gemeente wil ‘Huis van vrede’ wees

Ek is baie lief vir hierdie mense, en elkeen moet doen soos hy of sy goed dink (dit klink vir my ook lekker), maar dit is fassinerend om met iemand te gesels wat presies die teenoorgestelde doen. Wat doelbewus kies om eenvou­diger te lewe, met minder sekuriteite en ’n erg klein salaris, wat kies om te gaan woon op ’n tipe plek wat die meeste Afri­kaanse kerkmense eintlik ten alle koste sou wou vermy.

“Waarom doen julle dit?” vra ek vir EJ. Ons drink koffie in my kombuis in Pretoria. Hy en Sané is vir twee weke in Suid-Afrika om ’n klomp admin uit te sort.

Ons gesels oor die pad wat EJ gestap het tot in Kalkutta, die ervarings langs die pad wat sy denke gevorm het.

Lees ook: Om ’n kerk op ’n ashoop te bou

Hy was op skool in Menlopark. Na skool skryf hy in vir ’n BCom-graad aan die Universiteit van Pretoria. Op Universiteitsoord se eerstejaarskamp beleef EJ ’n tipe geestelike ervaring wat uiteindelik maak dat hy besluit om eerder teo­logie te gaan swot.

Vir ’n tyd lank is hy saam met Alan Childs, wat op daardie stadium die studenteleraar was en ’n groot invloed gehad het op sy lewe, betrokke by die gemeente se uitreikbediening.

EJ sê daar was baie “missionale praatjies” in die kerk en onder die teoloë op fakulteit, maar hy het al meer besef dat dit eintlik net waarde het as dit geleef word.

In daardie tyd lees hy en ’n groep medestudente Shane Claiborne se boek, The irresistible revolution. Die boek vertel onder andere van ’n neo-monastiese gemeenskap genaamd “The Simple Way”, waar mense saam woon, saam aanbid en saam dien.

LEES OOK: Die kerk en Covid-19-entstof: Ons is aan mekaar vebind

Dit het ’n groot indruk gemaak en hy en ’n paar vriende besluit toe om dit ook in Pretoria te probeer. Hulle het ’n huis gehuur in die hartjie van Sunnyside waar hulle vir ’n tyd lank in eenvoud saam geleef en gedien het. Die gemeenskap se naam was “Intentional Living”.

Later, kort na EJ bevestig is as dominee in sy eerste gemeente, woon hy vir ’n tyd lank in ’n ander soortgelyke gemeenskap in ’n huis saam met ’n klomp seuns wat geen familie het nie.

EJ vertel hoe baie hy geleer het by die mense in hierdie gemeenskappe wat saam met hom ’n verskil probeer maak het, maar ook by die mense in nood.

Ons gesels oor Henri Nouwen wat toe iemand hom vra waarom hy besluit het om Harvard te verlaat, gesê het: “I’m speaking about prayer, but have less and less time to pray, I speak about community, but I have no time to form a community, I’m teaching things like “blessed are the poor”, while living in this very ambitious place …”

Later sê Nouwen: “I did not leave the university – after twenty years – and move in with people with disabilities at L’arche, because I wanted to help them, but because I needed better teachers …”

Hierdie en ’n klomp ander dinge (soos die lees van die vier Evangelies) het ’n invloed gehad op EJ en Sané se besluit om uiteindelik Indië toe te trek en ’n kerk te plant saam met Hope Unlimited Church.

“Nou hoe plant ’n mens ’n kerk in Kalkutta?” vra ek.

LEES OOK: Word ’n vriend van Kerkbode

“Wel, ons het ons kerk uit die huis uit geplant, want ons het die waarde van gasvryheid ontdek,” vertel EJ. “Ons het letterlik begin deur ons huis oop te maak en mense te ontvang soos hulle is en hulle net liefgehad. Mense is skepties oor Christene weens die sendingge­skie­denis. So, jy moet die mense se vertroue wen. Ons het ’n tafel-teologie gehad. Aan die begin het ons letterlik net elke Sondag om die tafel vergader en saam gesels en geëet. Dit was vir my belang­rik om van die begin af die skeiding tussen die dominee en die gemeente te breek. En om saam om ’n tafel te sit, help baie.”

Hy sê vanuit hulle albei se vorige ervarings van “saamwoon in omgee-gemeenskappe”, kon hulle ook nie anders nie as om hulle huis oop te maak sodat mense saam met hulle woon.

Deur die week is hulle op verskillende maniere betrokke by barmhartigheidswerk, voedingskemas en ander projekte in die gemeenskap. Sané, wat maatskaplik geswot het, is onder andere betrokke by ’n organisasie wat vroue uit mensehandel help.

Ek vra EJ die groot vraag. ’n Vraag wat mense wat oorsee gaan vir sendingwerk of saam met organisasies soos die Rooi Kruis of UNICEF werk, tot ver­ve­lens toe moet antwoord: Waarom Indië, hier is mos baie nood in Suid-Afrika?

“Dit is so,” sê EJ. “Indië en Suid-Afrika het dieselfde tipe sosiale nood. Maar wat Indië anders maak is dat daar min­der as 1% Christene is. Ek en Sané wou graag in ’n land woon waar die Christene in die minderheid is. Waar die oes groot is en die arbeiders min.”

  • Ds Jaco Strydom is predikant by die NG gemeente Villieria in Pretoria.