Die kerk en die Covid-19-entstof: Ons is aan mekaar verbind

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is amper voor die hand liggend dat teologie ’n prominente stem in mediese etiek sal hê; die vraagstukke wat na vore kom handel dikwels oor lewe, dood en gesondheid, en is daarom kwessies waarmee Christenetici en teoloë hulleself besig hou. Hierdie besorgdheid kan gesien word op alle vlakke van mediese en/of bio-etiek, vanaf die duidelike etiese en morele kwessies soos aborsie en genadedood, tot kontemporêre vraagstukke wat die snelle ontwikkeling van tegnologie op mediese gebied opper, soos byvoorbeeld genetiese manipulasie.

Die mediese ontwikkeling van entstowwe is ’n besondere deurbraak. Kindersiektes soos polio, difterie, tetanus en kinkhoes, wat vroeër baie lewens geneem het, is vandag amper vergete. Ons lees ook vandag elke dag van die nuwe Covid-19-entstof, en vele is in hoopvolle afwagting vir wanneer dit ook in Suid-Afrika beskikbaar sal word. Vier belangrike beginsels in bio-etiek wat Westerse mediese etiek vir die afgelope 40 jaar gerig het, is belangrik in die nadenke oor die Covid-19-entstof. Hierdie beginsels is welwillendheid, nie-kwaadwilligheid, geregtigheid en outonomie.

Lees ook: Tutu oor entstof

Soos alle entstowwe, is die Covid-19-entstof ’n poging tot welwillendheid, om goed te doen. Die entstof bied immuniteit teen Covid-19. Indien dit egter teen ’n hoë prys sou kom, soos slegte newe-effekte, sou dit bevraagteken kon word op die basis van primum non nocere (doen eerste geen kwaad nie). Sover blyk dit egter dat die newe-effekte relatief lig is, soortgelyk aan ander entstowwe. Die poging tot universele inenting wêreldwyd sou gesien kon word as ’n poging tot geregtigheid, veral met betrekking tot diegene wat dit nie sou kon bekom indien die entstof kommersieel beskikbaar gemaak word nie.

In die Suid-Afrikaanse konteks, gebaseer op die inligting wat deurgegee is rondom die regering se inentingsplan, word vrae rondom geregtigheid egter ook opgeroep. Indien daar gemik word om slegs 67% van Suid-Afrikaners in te ent ten einde kudde-immuniteit te bereik, wie gaan die besluit neem wie in die groep van 33% val wat nie toegang tot die inenting sal hê nie? Die kwessie rondom outonomie kom ook sterk na vore in hierdie gesprek.

Lees ook: Ramaphosa oor begrafnisse se dodelike gevaar

Dit blyk dat die inenting nie verpligtend sal wees nie, en die outonomie van elke individu volgens die vier bio-etiese beginsels word dus gehandhaaf. Vir baie beteken outonomie egter meer as dit, en ’n fokus op individuele vryheid, met ’n besondere klem op die individu.

Die vraagstukke rondom die entstof is nie slegs ’n kwessie vir mediese etiek nie, maar een met vele oorvleuelende areas. In bevrydingsteologie word daar gepraat van die voorkeuropsie vir die armes. Dit is ook veral relevant in mediese etiek, want siekte en virusse het ook ’n voorkeur vir die armes. Met die Covid-19-pandemie word dit ook veral uitgelig: Hoe was jy jou hande gereeld as jy nie toegang tot lopende water het nie? Hoe beoefen jy sosiale afstand in ’n informele nedersetting? Met die aankondiging van die eerste inperking was daar ’n sterk besef van ons interafhanklikheid en relasionaliteit. Sosiale media was vol mooi prentjies wat wyd en syd gedeel is: Ons bly by die huis, nie omdat ons noodwendig hoë risiko is nie, maar ter wille van ander. Die behoeftes van die kwesbaarste rondom ons is bo ons eie begeertes gestel. Hoe langer daar van ons gevra word om ander in ag te neem, hoe moeiliker blyk dit vir ons te wees. Ons het mos klaar gedink aan ander, outonomie beteken dat ons nou aan onsself kan dink.

As geskape wesens het die mens nie ’n onafhanklike bestaan nie. Ons bestaan en ons voortbestaan is alleen deur die genade van die Skepper. As geskape wesens is ons ook onlosmaaklik deel van die skepping. Die woord “ekologie”, wat van die Griekse term oikos afgelei word, beteken “huis”. Daarom dat eko-teoloog Ernst Conradie gereeld verwys na ekoteologie as nadenke oor die huishouding van God. Ons is nie die enigste inwoners in God se huishouding nie, en saam met die klem op ons verhouding met die Skepper en die res van die skepping, dwing die Covid-19-pandemie en nou ook die entstof ons om opnuut na te dink oor ons verhouding met ander mense.

Lees ook: Predikant-kunstenaar sterf aan Covid-19

Stanley Hauerwas dui aan dat die mediese wetenskap die kerk nodig het. Die taak van medici, dui hy aan, word gekenmerk deur hulle toewyding om in die teenwoordigheid van diegene met pyn te wees. Om te leer hoe om teenwoordig te wees op ’n wyse wat bemoediging en vertroosting bring het ons voorbeelde van hierdie gedrag nodig, en die kerk is ’n voorbeeld van so ’n gemeenskap. Die kerk kan ook ’n voorbeeld wees van die praktyke en gebruike wat nodig is om te leef met omgee vir ander, die besef van ons interafhanklikheid. Terwyl ons wag vir die beskikbaarheid van die entstof, is hierdie gedagtes waaroor ons gerus meer gereeld kan nadink.

  • Dr Manitza Kotzé is senior lektor in Dogmatiek en Etiek aan Noordwes-Universiteit.