Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Predikant-kunstenaar ds Marius Lourens (64) het na ’n kort siekbed aan Covid-19 in die St George-hospitaal gesterf.

Predikant-kunstenaar sterf aan Covid-19

Predikant-kunstenaar ds Marius Lourens (64) het Saterdag na ’n kort siekbed aan Covid-19 in die St George-hospitaal gesterf. Lourens het die afgelope 33 jaar by NG gemeente Vanstadensrivier in die Oos-Kaap bedien en het vroeër vanjaar 40 jaar in die kunstebedryf gevier. Lourens is bekend vir sy skilderkuns en beeldhouwerk.

Netwerk24 berig dat Lourens twee weke gelede in die St. George-hospitaal opgeneem is en vyf dae later na die hoësorgeenheid verskuif is. Sy familie is Vrydagaand toegelaat om van hom in die hospitaal afskeid te neem, volgens Netwerk24.

Ds Robert-John de Kock, predikant by NG gemeente Port Elizabeth-Nooitgedacht en ringskollega van Lourens, sê: “Ds Marius Lourens was ’n vriendelike, saggeaarde en liefdevolle mens. Hy was ook ’n man van vele talente. Sy skilderye was besonders en is op verskeie plekke uitgestal. Hy was baie lief vir sang. Hy het telkemale saam met kore, ook kinderkore, opgetree. Sy gesin was vir hom van onskatbare waarde. Die lidmate van NG Gemeente Vanstadensrivier is ook baie lief vir hom. Sy skielike heengaan is hartseer en laat ’n groot leemte.”

 

 

 

Die video-opname hierbo wys wyle Lourens, wat behalwe vir sy liefde vir skilder- en beeldhoukuns ook baie lief vir musiek was, in April vanjaar tydens ’n klavierkonsert ter nagedagtenis van die Covid-19-sterfgevalle. Min het hy geweet dat ook hy later die einste stryd teen Covid-19 sal voer en verloor.

’n Goeie vriend van Lourens en predikant by NG gemeente Citrusdal, ds Martin Steyn, beskryf Lourens as ’n kunstenaar van die lewe. Steyn verduidelik: “Marius was die tipe kunstenaar wat jou toegelaat het om oor die lyne in te kleur as jy jou lewe inkleur. Hy sou dan steeds gesê het dat dit mooi is. Hy het jou die opsies van verfpotkleure gegee en jy kon meng soos jy wil. En hy was dan altyd daar om net te kyk, terug te staan, te waardeer en te leer,” het Steyn oor sy vriend gesê.

  • Kerkbode het vroeër vanjaar ’n onderhoud met Lourens gedoen op die vooraand van ’n uitstalling op Franschhoek.

 

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top