Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die uitstalling getiteld “Stasies van die Kruis” is van 13 Maart tot 12 Junie by die NG gemeente Franschhoek se kerkgebou te sien.

‘’n Kreatiewe grootmens is ’n kind wat survive het’

Kuns is vir hom ’n leef­wyse, ’n roeping selfs, vertel Marius Lourens, ’n predikant-kunstenaar van Port Elizabeth, aan Jacobie M Helena op die vooraand van die uit­stalling van ’n reeks van sy beelde wat vir Paasfees by die NG Kerk Franschhoek te sien sal wees.


Kerkbode (KB): Vertel bietjie meer oor jou loopbaan as leraar tot dusver en die verhouding tussen predikant-wees en kuns.

Marius Lourens (ML): Aangesien ek linker- en regter-brein georiënteer is, glo ek dat ek dit kon regkry om die gedissiplineerde lewe van die bediening en die hartsgedrewe wêreld van die kunste met mekaar te kon versoen … en komplementerend teenoor mekaar in werking te kon stel. Die riglyn vir albei gebiede is dieselfde: om binne die konteks van die tyd relevant te wees … en te interpreteer. Alhoewel ek ’n hartsgedrewe mens is, is ek ook baie georganiseerd. Dit was nog altyd my redding!

KB: Jy sê graag dat kuns jou roeping is. Hoe is dit met jou geloof verbind?
ML: Predikant-wees en kunstenaar-wees … is albei ’n gelowige roeping. Wat beteken: Albei is ’n passie in jou lewe … en as jy getrou is aan jouself, kan jy nie anders as om albei te beoefen nie. Dit is onmoontlik vir jou om dit nie te doen nie … anders sal jy nooit volledig mens wees nie. Die belangrike is egter om ’n gesonde balans tussen die twee te vind … an­ders val jy uit die bus uit. Na 40 jaar in die kunswêreld en 33 jaar in die bediening, dink ek ek het dit (amper) reggekry!

KB: Daar is dikwels Bybelse figure en geloofsaspekte in jou kuns, nie waar nie?
ML: Eers het ek dit as my roeping gesien om ’n rol te speel dat kuns met gods­dienstige temas weer sy regmatige plek ook in die gereformeerde kerke terug kry. My siening het intussen verander. Die wêreld kan somtyds ’n vreemde plek wees om in te leef, en dan het ons ons geloof … en die kunste … en humor nodig om dit spesiaal in te kleur … om weer van iets groter as onsself bewus te raak.

KB: Jy het vanjaar ’n Paasuitstalling op Franschhoek. Hoekom spesifiek hier­die projek?
ML: Die Stasies van die Kruis-reeks (sien beeld regs) wat ek by NG Kerk Franschhoek uitstal, is meer in ’n klas­sieke ikoniese styl. In die musiekwêreld word klassieke godsdienstige werke soos die “Matteus-passie” van JS Bach en die “Messias van Handel” nog steeds uitgevoer. In dieselfde idioom voer ek graag die “Stasies van die Kruis” uit. Omdat dit ’n duur skeppingsproses is, is die reeks nie volledig nie. Maar dit is ’n opdrag aan myself, wat ek graag wil voltooi. Hierdie is maar net die begin. Aangesien dit ook as ’n reisende uitstalling gesien kan word, sal dit interessant wees om te sien waarheen dit op pad is.

KB: Watter boodskap en ervaring wil jy vir mense met hierdie uitstalling gee?
ML: Om opnuut weer bewus te raak van iets groter as jyself: God se onvoorwaardelik liefde vir ons as sondaar-mense, wat ’n hoogtepunt aan die kruis op Golgota bereik het … sodat ons volledig kan leef! 2 020 jaar gelede het God sy hart op my en jou verloor. Met ’n uitstalling van so ’n aard probeer ’n mens ’n bydrae lewer om die ingry­pende verhaal van Paasfees ’n groter werklikheid te maak.

KB: Waar kry jy die inspirasie vir jou kuns?
ML: Die lewe is my inspirasie. Toe die Here my geroep het om ’n predikant te word (ek was in Graad 10) het ek regtig gedink die Here het van sy kop af geraak. Dit was die laaste iets wat ek ooit wou doen. Ek wou altyd kuns gaan studeer en dit my loopbaan maak … So het dit dan uitgewerk dat ek eers kuns gaan studeer het. Ek was ’n top-kunsstudent. Tog kon ek nooit my roeping as predikant afskud nie. Daarom het ek na vier jare van kunsstudies in Kaapstad, teologie op Stellenbosch gaan studeer. Dit het goed gegaan. Tog, omdat ek nooit kon versoen met die “image” van ’n dominee nie, het ek nooit gedink dat ek so lank in die bediening sou bly nie. Die Here het my egter in die perfekte gemeente geplaas … waar elkeen aanvaar word vir wie jy is, met al jou foute en al, met tonne liefde en omgee wat gedeel word. Hulle het ons huis en ons familie geraak. Ek is getroud met Mariana en ons drie kinders is al uit die huis uit. Hulle almal saam is my inspirasie.

KB: Dié aanhaling van die Oostenrykse kunstenaar Hunderdwasser is vir jou belangrik: “Only creativity brings us closer to heaven: Only those who think and live creatively will survive this life and the hereafter. The colourful, the abundant, the manifold, is always better than mediocrity and uniformity”. Kan jy meer hieroor sê?
ML: Onlangs het ek gelees: “’n Kreatiewe grootmens is ’n kind wat survive het”. Dit is so van toepassing op my lewe. ’n Mens leef net een keer… en ek glo dit moet volledig wees. Kreatiwiteit was nog altyd my heel beste bate. Dit laat my waarlik leef en maak dit hemel op aarde. Vir my is die skeppingsproses ’n gebeure om my siel skoon te maak, om weer bewus te raak van die groter prentjie. Dit maak nie altyd saak wat die eindproduk is nie. Sou iemand daarin betekenis vind, dan is ek verskriklik bly.

KB: Buiten die Franschhoek-uitstalling open jy ook jou eie Beeldetuin in Port Elizabeth?
ML: Ek is vanjaar 40 jaar in die kunsbedryf en ek wil dit graag volledig vier. Met hierdie beeldetuin wil ek graag die speelse kant van my lewe ten toon stel. Daarom gaan dit prettig, uitbundig, en kleurvol wees. Soos Hunderdwasser dit so mooi stel: The colourful, the abundant, the manifold, is always better than mediocrity and uniformity”.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top