Jacobie M Helena

Dié hoofstad gee hoendervel

Rome is ’n toeristemagneet – veral vir geskiedenisliefhebbers: Om elke hoek en draai word besoekers verras met kuns en kerk. Maar vir dié PhD-student in Nuwe Testament het die volgende paar plekke met ’n onlangse besoek aan die Italiaanse hoofstad uitgestaan.


Ek kan nie anders as om die Ro­meinse Forum, Colosseum en die Titus-Triomfboog saam te bespreek nie. Dié drie bekende bakens is minder as 5 minute se stap van mekaar geleë. Máár moet nie onder die indruk verkeer dat ’n mens nie ten minste ’n halwe dag daar kan vertoef nie.

Colosseum

Die ontsaglikheid van die Colosseum het my onkant betrap. Dié enorme amfiteater is tussen 72 en 80 nC deur Jood­se gevangenes gebou. Die Colosseum is ovaalvormig en 187 meter op sy hoogste. Wanneer ’n mens op die boonste verdieping van die Colosseum staan en die omvang daarvan beleef, is dit geen wonder dat dié baken die simbool en lewe van antieke en moderne Rome weerspieël nie. Die doel van die Colosseum, ’n plek waar vermaak verskaf word, is baie dieselfde as wat ons in die moderne tyd by ’n groot stadion sal vind. Die tipe vermaak verskil egter hemelsbreed. Een van die bekendste vermaaklikheidsaktiwiteite vir die on­ge­veer 50 000 toeskouers was die gladia­torgevegte. Die gladiators was opgelei om tot die dood teen mekaar, ander mense en wilde diere te veg. Tydens die inlywing van die Colosseum is daar tot 9 000 wilde diere in slegs 100 dae dood­gemaak. Die amfiteater is ander tye weer met water gevul waar daar dan skeepsgevegte plaasgevind het. Die Colosseum moet beslis beide in die daglig en aand besoek word.

Die Colosseum moet beslis beide in die daglig (bo) en aand (onder) besoek word.

Romeinse Forum en Palatine-heuwel

Slegs 40 meter van die Colosseum lei ’n straatklippaadjie jou na die Romeinse Forum. Dié antieke handelsentrum was die hartklop van ekonomiese, politieke en godsdienstige aktiwiteite van antieke Rome. Die reghoekige forum bestaan uit vele oorblyfsels van winkels, standbeelde en tempels. Die forum is in die vallei tussen die Palatine- en Capitol-heu­wels geleë. Dit is die beste om die Romeinse forum van die immergroen Palatine-heuwel se kant te benader. Die heuwel is ’n boom- en blomryke gebied wat beslis ’n besoek werd is. Bekende keisers het hulle paleise op dié heuwel gebou en die oorblysels is steeds sigbaar. As ’n mens oor die heuwel stap lê die oorblyfsels van die Romeinse Forum voor jou uitgestrek.

Titus-Triomfboog

In die suidoostelike rigting van die Romeinse Forum, op die Via Sacra-pad wat na die Capitol-heuwel lei, staan die Titus-Triomfboog. Die Via Sacra-pad, die hoofstraat van antieke Rome, loop na verskeie godsdienstige geboue van die Romeinse Forum asook na die Kolos­seum. Ek sal voorstel dat besoe­kers die klipperige Via Sacra-pad aandurf om die merkwaardige boog te aanskou. Dié boog is na keiser Titus se dood in 82 nC opgerig ter ere van sy verskeie oorlogsoorwinnings, onder an­­dere die vernietiging van Jerusalem in 70 nC. Indien jy Rome soos ek op ’n snikhete somersdag besoek, moet asseblief nie die kraan met gratis yskoue suiwer water onder die koelteboom reg oorkant die triomfboog miskyk nie.

Panteon

Die Panteon, wat “al die gode” beteken, is beslis ’n besoek werd. Dié Roomse baken het die klassieke voorkoms van ’n antieke Romeinse tempel. Alhoewel die tempel as een van die bes behoue antieke bakens in Rome voorkom, is die gebou meer as 2 000 jaar gelede totaal deur ’n brand verwoes. Die gebou wat van voor af vierkantig voorkom, is in die binnekant halfsirkelvormig. Die koe­pelvormige binnekant is versier met beeldhouwerke, kleurvolle geverf­de mure en antieke pilare. Toegang tot die Panteon, wat net ’n hanetreetjie van die bekende Trevi-fontein geleë is, is gratis.

San Clemente Basilika

Dit was ’n ongelooflike ervaring om al hierdie bekende antieke bakens te besoek, maar die een wat my altyd sal bybly is die besoek aan die minder bekende San Clemente Basilika slegs 550 meter se stap van die Colosseum. Die huidige basilika is in 1200 nC gebou. Wanneer ’n mens die kerk binnestap besef jy nie met die eerste oogopslag watter geskiedkundige juweel dié basilika is nie. By dié bestemming, kry jy drie vir die prys van een. Die basilika, wat opgedra is aan St Klemens, bestaan uit drie vlakke uit verskillende periodes in die geskiedenis. Met die intrapslag word jy verras deur die mooi beelde, kuns en mosaïek. Dié huidige basilika op grondvlak is egter reg bo-op die eerste basilika gebou wat in die vierde eeu opgerig is. Dié vierde-eeuse basilika is weer bo-op ’n huis gebou wat uit die eerste eeu dateer. Die huis is redelik groot met verskeie ka­mers en moes waarskynlik aan ’n Ro­mein­se edelman behoort het. Die huis het ook vir ’n ruk as ’n aanbiddingsplek vir Jesusvolgelinge in die eerste eeu en vir Mitras-aanbidders tydens die twee­de eeu gedien. Ongelukkig mag daar slegs by die huidige basilika foto’s geneem word. As Nuwe-Testamentikus het dit my hoendervleis gegee om in ’n eer­ste-eeuse huis rond te loop en te besef dat die mense van wie ek elke dag in my PhD skryf werklike vlees-en-bloed men­­se was en wat op die plek waar ek nóú staan óók gestaan het. Wat ’n voorreg was dit nie!

Kerk wil lei met ‘nee’ vir plastiek

“Die mens, sogenaamde kroon van die skepping, het die verwoester van die skepping geword,” het ’n taakspanleier vir ekologie aan afgevaardigdes by die vergadering van die Sinode van Wes-Kaapland gesê.

Ons huidige geslag is besig om die lewe van ons kinders en kleinkinders te steel, het dr Kobus Odendaal op Dinsdag (14 Mei) gewaarsku.

Die Taakspan vir Ekologie het sinodegangers by Goudini uitgedaag om duidelik néé te sê vir plastieksakke, strooitjies en plastiekstokkies in hulle alledaagse lewe.

Die sinode sal ook die Departement van Omgewingsake versoek om alle ligte plastiekwinkelsakke te verbied.

Odendaal het tydens die sessie namens die kerk ’n belydenis gemaak: “Here, ons bely wat ons aan die aarde doen. Ons het skuld. Ons almal dra gróót skuld.” Die sinode het op hierdie belydenis gereageer deur Aanbeveling A135, §7.5 te aanvaar.

Vanaf die openingsteks uit Genesis 1 tot die sessies oor ekonomie is die belangrikheid van die ekologie en die skepping Dinsdag beklemtoon. “Ons is nie heersers oor die skepping nie, maar rentmeesters van die skepping,” het prof Piet Naudé ook tydens ’n sessie oor ekonomie gesê.

Steeds geroep

Elna Mouton: Nuwe rol by nuwe sentrum

Ná sy reeds in die 1970’s ’n diploma in Christe­like dienswerk by die Hugenote Kollege voltooi het, is Elna Mouton terug op Wellington.

Die 67-jarige Mouton het vandeesmaand by die nuwe Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in die hart van dié Bolandse dorp ingeval, waar sy voorts die kapelmees­ter genoem sal word wanneer die sentrum amptelik op 24 Februarie geopen word.

Die posbeskrywing mag haar vir oningelyfdes soos ’n tipe heilige faktotum laat klink, maar dit verg stellig ’n Elna Mouton om dit sy volle betekenis te gee.

“Dit was vir my so deel van God se humorsin dat ek aan die einde van my formele lewe genooi word om hierdie baie belangrike rol in te neem. Die plek waar ek vertrou word met die begeleiding van leiers, van predikante, van lidmate –’n hele spektrum van mense. Alles waarmee ek besig was; al was dit nie formeel vir die kerk nie, besef ek nou hoe God besig was met ’n groter prentjie wat my voorberei vir dié pos.”

In die koelte van ’n seminaarkamer by Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie waar Mouton op haar dag dekaan was, het dié emeritusprofessor in Nuwe Testament onlangs op ’n warm somermiddag met Kerkbode gesels oor haar ‘tuiskoms’ na Wellington en die aard van haar nuwe werk.

Prof Elna Mouton

“Ek beskou hierdie roeping as ongekwalifiseerde genade,” vertel Mouton. “Ek kan as ’n soort spilpunt my lewenservaring met verskillende kerke, verskillende bedieninge en die akademie éffektief in my nuwe pos gebruik. Die samewerking met baie verskillende kerke werk soos ’n collage mee tot die taak waarvoor die Here my nou roep. Die ongewone verhaal van my legitimasie begin nou sin maak,” voeg sy by met verwysing na die feit dat Mouton op relatief gevorderde leeftyd gelegitimeer is. Trouens, laasjaar eers.

Sy was jare lank, terwyl sy deel van die akademiese establishment op Stellenbosch was, versigtig daarvoor. “Ek wou myself identifiseer met diegene wat nie deel van die hoofdiskoers op Stellenbosch is nie,” aldus Mouton. “Toe kom die groot verrassing vir my aan die einde van 2018 waar die kuratorium vir my nader en vra of ek beskikbaar sal wees om gelegitimeer te word.”

Sy lê klem op die kuratorium se motivering vir dié stap: “Eerstens was dit om my rol in opleiding van teo­logiese studente te vier en tweedens as ’n regstelling teen­oor vroue wat nie regmatige geleentheid gehad het om in die predikantebediening tot hulle reg te kom nie. My legitimasie beteken dat ek nou self oor ’n wyer veld beskikbaar kan wees in die bediening. Dit was in hierdie konteks vir my ’n aangename verrassing toe die verteenwoordigers van Sinodale Taakspan vir Toerusting vir my vra of ek beskikbaar sal wees om by Wellington hier­die nuwe sentrum as ’n gasvrou, kapelmeester en begeleier van geloofsvormende prosesse betrokke te raak.”

Die historiese geboukompleks op die Samuel-kampus op Wellington.

En nou dink die fiere prof met die verstandig-kort geknipte kapsel terug oor haar pad tot kapelmeesterskap op ’n spogperseel wat oor die Hawekwaberge uitkyk. Mouton is vroeg in haar lewe na die Transkei ge­roep en sy wou haar so goed as moontlik vir dié taak voorberei. “Ek wou kruiskultureel werk en dit het my toe op die ou einde by Wellington gebring. My tyd (hier) was ’n goeie verlengstuk van die BA-graad wat ek by die Universiteit van Stellenbosch gedoen het. Ek besef vandag dat my pad deur Stellenbosch, Wellington, die Transkei en deur ander Afrikalande soos Malawi, Zimbabwe, Mosambiek, Angola, Kenia, Ghana en Zambië vir my in ’n spiraal van denkwyses, drome, kritiese vrae en diskoerse gebring het waar ek nie anders kon as om ernstig na te dink oor die rol en relevansie van die kerk in Afrika nie,” vertel Mouton.

Mouton moes koes om onderdeur verwer Richard Fortuin se leer deur te stap en te wys hoe die eenvoudig dog stylvolle kamers lyk waarin altesaam ongeveer 33 gaste sal kan tuisgaan.

Sy sê die vier verskillende tersiêre instansies waar sy studeer het (Universiteit Stellenbosch, Hugenote Kollege, Universiteit van Port Elizabeth, Universiteit van die Wes-Kaap) is ’n sterk fondament vir haar nuwe rol. “Wanneer ek nou terugkyk op my lewe dan besef ek dat ek ’n karakter in ’n groter verhaal is,” meen Mouton. “God het die choreografie fyn beplan.”

“Kerk moet meer headlines maak met sy naasteliefde”

“Jesus se lewe was baie omstrede. Ek wens die kerk kan bietjie meer omstrede wees met sy liefde vir mense.”

Só het akteur en musikant Bouwer Bosch onlangs tydens ʼn optrede by die Durbanville Moedergemeente gesê.

Hy en kunstenaars Almero Welgemoed en Danie du Toit, oftewel Reënwolf, het op 20 Januarie daar opgetree.

Bouwer glo dat die kerk omstredenheid by kunstenaars kan leer. “Almal ken die storie van die sondige vrou wat Jesus se voete gewas het. Die storie is ’n voorbeeld van hoe brutally intens Jesus se liefde vir stukkende mense was. Ek dink die kerk moet meer headlines maak vir die manier waarop hulle liefhet,” het hy gesê.

Hy meen ook: “Kunstenaars kan spesifiek help om op hierdie manier te disrupt. Net soos kunstenaars gemeenskappe en denke disrupt moet die kerk ook denke vir die regte redes disrupt.”

https://www.youtube.com/watch?v=gzgdmdh8F38

Ds Wynand Breytenbach, predikant by Durbanville gemeente, sê die “Kerk en Kreatiwiteit”-geleentheid het ontstaan om die verhouding tussen die kunste en die NG Kerk te probeer bevorder. “Die kunstenaars het uit die NG Kerk gevlug en ons probeer ’n plek skep waar die kruis en kuns weer kan ontmoet.” Almero vertel dat hy al baie mense in die kerk teëgekom het wat voel daar is nie plek vir kunstenaars in die kerk nie. Hy sê egter dat die kerk eintlik uit kunstenaars bestaan. “Wanneer ’n predikant ’n preek maak is hy of sy kreatief. Dis ’n vorm van kuns om tekste te neem en dit met praktiese leefwyses te verbind.”

e-CKE maak ’n skat van inligting beskikbaar

“Volledig? Nee. Maar betroubaar, ja!”

Só beskryf die hoofredakteur, dr Frits Gaum, die Christelike Kernensiklopedie (CKE) se nuwe elektroniese weergawe. Die bekend­stel­ling van die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (e-CKE) het op 16 November in die kapel by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch plaasgevind. Die e-CKE word deur Bybel-Media uitgegee.

Gaum vertel dat die konsep van ’n Christelike kern-ensiklopedie in Afrikaans sy oorsprong het by die Ne­derlandse Christelike Ensiklopedie wat in die 1960-1970’s uitgegee is. Dié uitgawe is egter te uitgebreid met veelvoudige volumes. Die gedrukte Afrikaanse weerga­we wat in 2008 uitgegee is, het daarom gefokus om op kernagtige, saaklike en op die punt af manier sekere kern Christelike waarhede en feite oor te dra. Die ­e-CKE is ’n uitbreiding van 2008 se gedrukte volume.

Hoewel ’n ensiklopedie maklik verouder, word dit met die elektroniese weergawe moontlik om die inlig­ting voortdurend op te dateer en relevant te hou. Ds Leon Venter, uitvoerende hoof van Bybel-Media, vertel dat daar ongeveer 160 medewerkers by die projek betrokke is. Dié groep sluit onder andere teoloë, filosowe, siel­kundiges, letterkundiges, historici en joer­naliste in.

Die e-CKE beskik tans oor ongeveer 3 500 trefwoor­de met kort en kragtige beskrywings. ’n Diverse groep mense vanuit verskillende kerklike tradisies het aan die projek deelgeneem. Daar is skrywers van ongeveer tien verskillende kerklike tradisies. Maar alhoewel daar ook sekere bydraes vanuit ’n Katolieke oogpunt geskryf is, is die meerderheid van die bydraes vanuit ’n Protestants-gereformeerde perspektief geskryf.

Wat die ensiklopedie uniek maak, is dat elke outeur die redaksionele vryheid het om sy of haar mening in die beskrywing van die onderwerp te lug. Die medewerkers se name word by die beskrywings gevoeg en hulle is dus verantwoordelik vir wat geskryf word.

Die e-CKE-webtuiste laat verder ruimte dat die gebruikers op die webtuiste kommentaar op die betrokke beskrywings kan lewer. Die beskrywings is nie in goud gegiet nie en kan selfs na gelang van die kommentaar van die publiek aangepas word. Die ruimte wat gegee word vir kommentaar en opinies dra by tot die relevansie van dié dinamiese projek. Gaum beskryf die e-CKE as ’n lewende kern-ensiklopedie.

Gaum sê die doel van die e-CKE is om kortliks en op ’n bondige manier inligting te verskaf oor kernsake en -persone wat in die geskiedenis die Christendom op ’n bepaalde wyse beïnvloed het. Daar is beskrywings oor mense wat ’n bepaalde rol in die teologie en in die kerk gespeel het. Die doel van die e-CKE is om duidelikheid oor kernkonsepte aan teoloë, teologiese studente en gelowiges te gee. Temas soos geloof, twyfel en die uitverkiesing word onder andere bespreek.

Die e-CKE bevat nie net inligting oor persone soos Karl Barth en Dietrich Bonhoeffer nie, maar selfs ’n beskrywing oor hedendaagse invloedryke persone soos Jacob Zuma. Dit is vir ons belangrik om die e-CKE voortdurend op datum te hou, uit te brei en nuwe konsepte in te sluit,” vertel Gaum.

Belangstellendes kan gratis die e-CKE by http://cke.christians.co.za/ lees.

Die reis met Familiekerk Bottelary is ’n geloofsverhaal

Enel en Francois Lambrechts is vanaf Januarie 2018 die ­leraars by die nuwe gemeente Familiekerk Bottelary wat in 2017 deur die NG gemeente Vredelust geplant is. Dit het hulle onder meer geleer om in afhanklikheid van God te leef. JACOBIE M HELENA het na hulle geloofsverhaal geluister.


“Baie mense het die wanindruk dat die plant van nuwe kerke in die NG Kerk lidmate van bestaande gemeentes weg­neem. Dít is allermins die geval. In die nuwe gemeentes bedien ons mense wat nié by NG gemeentes ingeskakel is nie.”

Só gesels Enel en Francois Lambrechts oor hul roeping van kerkplanting in die NG Kerk.

Enel vertel sy en Francois het albei teologie studeer en is onderskeidelik in 2010 en 2011 gelegitimeer. Sy is haar legitimasie na die NG gemeente Dalpark in Brakpan beroep en Francois het sy gemeentejaar daar gedoen.

“Ons loopbane was nog altyd vir ons ’n geloofstorie, want dis ’n uitdaging om as predikante albei werk in dieselfde dorp te hê. Ons het ses jaar lank by twee verskillende gemeentes in Brakpan bedien. En alles het baie goed met ons gegaan.”

In 2014 het hulle pad met dié van Vredelust en ­dr Leon Oosthuizen, predikant van Vredelust, gekruis. Vredelust het ’n mentorskapprogram vir jong leraars gehad en Enel en Francois het begin 2014 ’n pad met Vredelust begin stap. “

Maar weens die geboorte van hulle dogtertjie kon hulle eers weer in 2017 by die mentorsprogram inskakel,” vertel Enel.

In 2017 het hulle ’n byeenkoms van die Assemblies of God in Durbanville bygewoon.

“Dis waar die Pinksterkerke se pastore en geestelike leiers van die land bymekaar kom. Dis basies die Pinksterkerke se sinode. Hulle het verskillende internasionale en plaaslike sprekers gehad,” vertel Enel.

Aanbidding by Familiekerk Bottelary.

Een spreker het die gehoor gevra om vir hulleself af te vra wat hulle moet doen wat hulle weet die beste vir die koninkryk gaan wees. Wat is dit wat hulle weet wat hulle moet doen, maar wat hulle nog nie die moed het om te doen nie? Hy het gevra: “Hoekom stel jy dit uit? Hoekom doen jy dit nie nou nie?”

Enel vertel sy het in ’n boekie aantekeninge gemaak en neergeskryf dat sy en Francois by een gemeente saam moet werk. Sy het dit omkring, vir Francois ge­wys en hy het dadelik instemmend geknik.

“Ons het daardie aand met mekaar gepraat en verskillende opsies oorweeg, want ons het gevoel dat ons gelei word om dié geloofstap te neem,” vertel Enel.

Saamstap

Francois sê dit was nog altyd ’n droom van hom en Enel om saam in een gemeente te bedien.

“Ons het ’n gesamentlike huiskerk gehad en saam beleef dat dit vir ons beter is om saam te werk. Ons het ongelooflike groei in ons huiskerk ervaar en toe net besef dat waar ons saam in die bediening is, daar werklike groei plaasvind.”

Enel beaam Francois se woorde. “Ek en Francois het al lankal gesê wanneer ons sáám in ’n bediening is, gaan dit baie beter as wat ons apart is. Dit is nie net vir een van ons so nie, maar vir beide van ons,” vertel sy glimlaggend. “Ons het lankal gesien dat wanneer ons saam in ’n bepaalde bediening is, is dit soveel meer effektief.”

Die logiese ding vir hulle sou wees om hierdie gesamentlike stap eers in 2020 te neem, want dan sou hulle finansies agtermekaar gewees het. Maar, verduidelik Enel: “Dit is asof die Here met ons gepraat het om dit nóú te doen en nóú die geloofstap te neem. Ons bid toe en ons ervaar vrede daaroor dat die Here vir ons sê dat ons in Januarie 2018 saam by een gemeente gaan wees. Maar die énigste manier wat dit moontlik sou kon wees is as ons vir een salaris werk.”

Enel vertel meer: “Ons bid toe daaroor en vra vir die Here wie van ons twee moet bedank. Dit was ook kompleks met die ringsverhoudinge in Brakpan. Die een gemeente waar ons was, is meer welaf en die ander een is ’n armer gemeente. Ons het nie geweet hoe om die situasie te hanteer nie.”

In April 2017 het Enel en Francois albei sabbatsverlof gehad en hulle het besluit om in daardie tyd by verskillende gemeentes te gaan kuier.

Jaco Bronn (links) en Antuan Nel dra hulle deel as vrywilligers by deur parkeerplekke aan te wys by Familiekerk Bottelary. Vrywilligers speel ’n belangrike rol in dié gemeente.

“Ons gaan toe Doxa Deo in Pretoria toe en ons het daar ’n week saam met hulle gereis. Ons besluit toe ons gaan ook Vredelust-gemeente toe kom en ook vir ’n week saam met hulle werk. En ons nooi toe my kollega van Brakpan saam, want ons wou hê hy moet sien hoe dit hier werk. Ons het by Vredelust gekyk hoe doen hulle jeugbediening en hoe werk selgroepe en so die verskillende bedieninge ondersoek.”

Die laaste aand wat haar kollega daar is, sê Leon dat hulle ’n leiersvergadering by Familiekerk Bottelary het en dat hulle dit moet kom bywoon. Familiekerk is in 2017 geplant en is toe nog net ’n paar maande oud.

“Ons sit toe hier in die gebou waar ons nou sit en hulle deel die storie van Familiekerk.”

Die leraarspan het besef dat Familiekerk ’n gesig moet kry. In daardie stadium was Familiekerk die verdeelde pligte van die predikante van Vredelust. So, as iemand van die span se program op ’n Sondag oop was, het daardie persoon by Familiekerk gaan bedien. Hulle het besef dat die behoefte daar is aan iemand wat Familiekerk eet, slaap en droom, anders gaan dit nie werk en momentum kry nie.

“Ons kollega van Brakpan sê toe dat hy weet wat moet gebeur. Hulle moet vir my en Francois aanstel. Ek en Francois het so vir mekaar gekyk. My hart het vinnig geklop, want ons is toe besig met hierdie beslui­te en weet nog nie wat ons gaan maak nie. Ek wonder toe: Is dit nou die stem van die Here? Is dit nou ons volgende stap? Francois was meer skepties. Ek het gevoel ons moet voluit deel van dié kerkplanting word. Maar die volgende maande was dit maar ’n gewik en geweeg, want daar was reeds planne vir Francois by Dalpark en hulle het al begin praat oor wat sy rol daar sou wees. Ons sou daar ook by kerkplanting betrokke wees,”Enel.

“By Doxa Deo en by Vredelust het die moontlikheid van kerkplanting vir ons baie duidelik geword en ons het geweet dit is wat ons moet doen. Toe Leon by Vredelust vir ons sê dat hulle nie genoeg geld het om vir ons albei ’n salaris te betaal nie, was ons reeds ge­reed om te sê dat ons vir een salaris sal werk. En ons kan tot dusver net van God se oorvloed en voorsie­ning getuig,” vertel Francois.

Enel vertel hoe alles in plek geval het. “Vredelust het nie geld gehad vir nog ’n volle salaris nie en die sinode betaal nou die een helfte en die ander helfte word deur Vredelust betaal. Ons sou ook nie behui­sing kon bekostig nie, maar ons behuising word ook deur iemand betaal wat ons daarmee wil seën. Die hele ervaring is werklik ’n geloofsreis,” getuig Enel in verwondering.

Vrywilligers en verhoudings

Begin 2018 het Enel en Francois baie hard in Familiekerk gewerk om strukture in plek te kry. Vredelust-gemeente en Familiekerk steun baie sterk op die gebruik van vrywilligers en die skep van huiskerke. Al Familiekerk se lidmate is in huiskerke wat elkeen hul eie struktuur en leierspan het. Die groei is nou so goed dat hulle nie kan voorbly met huiskerkleiers nie, vertel Francois.

Enel vertel dat hulle van die begin af baie aanklank gevind het by Vredelust se styl. Daar is baie maniere van kerkwees wat hulle wou uitleef, maar hulle het nie geweet hoe om dit te doen nie.

“Ons het maniere gesoek om die vernuwing wat ons by Vredelust gesien het, uit te druk. Die hart van Vredelust-gemeente was nog altyd evangelisasie. Ek dink die rede hoekom Vredelust besig is met kerkplanting is omdat hulle sterk fokus op evangelisasie. Daar is ’n groep mense wat voorheen dalk NG lidmate sou wees, maar wat tans nie bereik word nie. Dis ’n nuwe groep binne die Afrikaanse konteks, wat multikultureel is, en ons voel geroepe om daardie groep te bereik en by hulle lewe betrokke te wees.

“Evangelisasie is nie vir ons iets wat jy in ’n ander land of ’n informele nedersetting gaan doen nie. Dis om na die mense in jou eie gemeenskap uit te reik,”Enel.

“Die afgelope jaar was werklik ’n jaar van leer en van oop wees voor God sodat Hy vir ons wys wat die volgende stappe is. Ons was op soveel plekke totaal en al uit ons gemaksone. Om die Here te volg het die afgelope jaar vir my tot ’n eenvoudiger lewe gelei. Dis ’n eenvoudiger lewe van in afhanklikheid van die Here lewe.

“Ek gee my hele lewe vir Hom. God voorsien vir elke dag. Ek het geleer om nie meer oor al hierdie groot goed bekommerd te wees nie, want God voorsien werklik. God gee vir ons elke dag wat ons nodig het,” getuig Enel.

Francois dink na oor 2019. “Ons het die afgelope jaar baie hard gewerk om die strukture van Familiekerk te vestig, maar ons doel vir 2019 is om die breër gemeenskap te bereik. Ons het verlede week ’n braai gehou en bloot mense aan mekaar voorgestel. Ons doel was nooit om mense na ’n kerk toe te nooi nie, maar om bloot te fokus daarop om verhoudings en netwerke in ons gemeenskap te bou.

“Ons ervaar verder ’n groot behoefte aan ’n bedie­ning vir enkelouers in Brackenfell. Ons wil in 2019 spesifiek ’n enkelouerbediening op die been bring omdat dit ’n groot realiteit in ons konteks is. Die bou van verhoudings in ons onmiddellike gemeenskap is ons hoofdoel vir 2019,” vertel Francois.

Geloof is ’n geskenk van God, sê prof Jaap

“My finale analise is dat geloof ’n geskenk van God is.”

Só sê prof Jaap Durand by die be­kend­stelling van sy jongste boek, In awesome wonder – Faith and doubt: A continual dynamic tension. Die bekendstelling het op 19 Oktober in die United Church in Stellenbosch plaasgevind.

Durand vertel waarom hy die boek geskryf het: “Ek het aan die einde van my skryfloopbaan gekom en vir myself afgevra wat in my loopbaan alles gebeur het en wat my daardeur gedra het. Ek het opnuut besef dat Jesus Christus my aangeneem het. Ek staan aan die einde van my loopbaan in verwondering oor die genade van God wat breër en groter is as wat ek óóit kan verstaan. My geloof en wat ek glo is ’n wonderwerk,” sê Durand.

Durand brei uit: “Ek het geleer dat twyfel deel van die proses van die lewe is. Dié boek gee die idee dat geloof nie van onsself kom nie, maar as ’n geskenk van God. God is getrou. Dít is hoekom ek hierdie boek geskryf het. Die boek is vir mense wat twyfel.”

“Daar was baie oomblikke van twyfel in my loopbaan. Daar is hierdie konstante spanning tussen geloof en twyfel. Ek het deur my lewe besef dat geloof broos is. Maar God het my geloof vir my gehou. Ek is nie in staat om geloof te hou nie. Nés Jesus vir Petrus gebid het en sy geloof lewendig gehou het, só bid Jesus ook vir ons. Ons het ’n raadsman in Jesus wat ons geloof lewendig hou in moeilike lewensomstandighede.”

“Ons moet nie voorbarig wees en dink óns weet hoe God werk nie. Ons moet nie God beperk met wat ons dink God kan doen of nie doen nie. Wie God kan red en wie nie. Ons moet dit aan God oorlaat en daarmee tevrede wees. Wat ons wél weet is dat God wonderbaarlik is,” sê Durand.

Feesbundel is ’n ‘dankie’ aan Elna

Ons wil met dié bundel dankie sê vir die voortdurende impak wat Elna Mouton se werk steeds in die breër akademie en op studente het. Elna inspireer ons om voortdurend die Bybelse skrifte eties rég te lees.

Só sê prof Jeremy Punt by die amptelike oorhandigingsgeleentheid van die feesbundel Reading writing right: Essays presented in honour of prof Elna Mouton. Dié verrassingsbekendstelling het op 18 Oktober in die kapel van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) plaasgevind.

Punt verduidelik wat met die titel van die bundel bedoel word. “Reading writing right” gaan oor meer as net ’n aantreklike titel. Die titel kommunikeer vir ons iets van die manier waarop Elna Bybelse tekste eties benader. Ons wil met dié bundel Elna se besorgdheid en verbintenis met haar hermeneutiese handeling van Bybelse tekste vier. Elna stel die voorbeeld om op ’n toepaslike manier die transformerende potensiaal van Bybelse tekste te ontsluit. Ons eer Elna vir die manier waarop sy verbande tussen Bybelse tekste en etiek trek.

Prof Nico Koopman, viserektor aan die US, het die bundel aan Mouton oorhandig. Hy sê: “By die universiteit het ons ’n nuwe visie geformuleer. Die 2040-visie lig onder andere een baie belangrike waarde uit – deernis. En ons wil vandag vir jou, Elna, dankie sê dat ons die waarde van deernis nog altyd in jou lewe kon sien. Profetiese krag wat met deernis gepaard gaan. Jy beliggaam priesterlike deernis.”

Prof Denise Ackermann het vir Mouton bedank vir haar kollegaskap en haar vermoë om altyd die waardigheid in ander raak te sien. “Ek word herinner deur die woorde van Immanuel Kant oor wat dit werklik beteken om die menswaardigheid van mense te erken. Kant sê: ‘This ability never to treat an other as an object or a means to an object, but to treat the other as a means in him or herself.’ En ek het hierdie definisie in jou deur die moeilike en makliker tye gesien. Elna, ek wil vir jou dankie sê,” sluit Ackermann af.

Diepgewortelde Christene kan saamwerk met ander

Hoe lyk intergodsdienstige samewerking met die oog op transformasie?

Só vra prof Klippies Kritzinger ty­dens die eerste werkwinkel van die Centre for the Interpretation of Authoritative Scriptures (CIAS) wat in Stellenbosch gehou is. Kritzinger se praatjie het oor ge­saghebbende Skrifte en transformasie gehandel. (Lees ook CIAS gee eerste treë.)

Kritzinger het gevra hóé die navorsing wat CIAS doen tot intergodsdienstige samewerking, om transformasie te bevorder, in die praktyk gaan lei.

Kritzinger het by navraag oor sy teorie vanuit ’n Christelike perspektief uitgebrei oor hoe gelowiges van verskillende en diverse geloofsgemeenskappe saam transformasie kan nastreef. Hy verduidelik: “As ’n Christelike geloofsgemeenskap behoort ’n gemeente in die eerste plek hulle diep in die boodskap en verhale van die Bybel gewortel te hou. Hulle moet deur al hulle aktiwiteite byvoorbeeld die manier van aanbidding, die beplanning en met die begroting op hul medemen­se ingestel wees. Die geloofsgemeenskap moet in die stroom van die Jesusbeweging, wat die Heilige Gees aan die gang sit, transformasie nastreef.

“Terselfdertyd behoort hulle ook hulle vlerke te sprei en met gemak sáám met mense wat van hulle verskil, saam te leef. Dit sluit ook mense van ander gods­dienste in. Hoe dieper ons wortels in Christus groei, hoe sterker word ons vlerke en die omgekeerde. Wanneer ’n gemeente hulle wortels en hulle vleuels tegelyk met ewe veel toewyding en vreugde beaam en bevorder, groei hulle in geloofsvolwassenheid,” sê Kritzinger.

Kritzinger stel drie maniere voor wat geloofsgemeen­skappe kan help om transformasie in intergodsdiens­tige kontekste te bevorder.

“’n Lewenshouding van geloofsvolwassenheid maak ons bereid om eerstens skouer-aan-skouer met mense van ander godsdienste saam te werk. Dié tipe same­werking is vir die beswil van die breër gemeenskap. Wan­neer ons sáám aan die sosiale, ekonomiese en po­li­tieke probleme kan werk, laat dit ruimte vir transformasie. Dié intergodsdienstige samewerking is vir die koms van God se ryk van vrede, liefde, gereg­tigheid en wedersydse respek.

“Wanneer ons daaraan gewoond raak om in die breër gemeenskap saam te werk, dan ontstaan daar ook geleenthede om saam te ontspan. Dít is wanneer ons tweedens van aangesig-tot-aangesig met mekaar kan praat. Gelowiges moet met mekaar deel wat elk­een van hul eie geloof motiveer, dra en lei in die uit­lewing van ons verskillende vorme van geloof. Dit beteken ook om wedersyds teenoor mekaar te getuig oor wat ons glo en hoe dit aan ons lewe rigting en vreugde gee.

“Derdens beteken só ’n lewenshouding dat ons rug-teen-rug getrou bly teenoor mekaar. Wanneer daar die wedersydse vertroue wat ons sáám opgebou het heers, moet daar in elkeen se eie geloofskonteks met lojaliteit teenoor die ander opgetree word. Ons kán dan nie meer agter mekaar se rûe in ons preke of kategesemate­riaal onwaarhede of halwe waarhede oor mekaar se gods­dienste versprei nie,” sê Kritzinger.

Kritzinger stel voor dat gelowiges van verskillende gelowe met die oog op transformasie moet saamwerk. Hy sê Joodse, Islamitiese en Christelike gelowiges moet mekaar se onderskeie waardige teologieë ondersoek en evalueer om sodoende intergodsdienstige verhoudinge te bou en transformasie in Suid-Afrika na te streef.

‘Exorcist of Apartheid’ dra ’n boodskap van versoening

’n Dokumentêr, Exorcist of apartheid, wat oor die lewe en boodskap van versoening van Johan Heyns handel, is onlangs in Johannesburg en Kaapstad bekendgestel. Die vervaardigers van die dokumentêr is Adam Heyns en Willem van den Heever. JACOBIE M HELENA het met hulle gesels.


“My oupa was ’n man wat tydens ’n besonders moeilike tyd in ons land ’n baie belangrike rol gespeel het en die hoogste prys daarvoor betaal het.” Só sê Adam Heyns, die kleinseun van prof Johan Adam Heyns, wat in November 1994 in ’n sluipmoordaanval vermoor is.

Johan Adam Heyns is in 1928 in Tweeling-distrik gebore. Hy het ’n BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit voltooi en het daarna teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy was onder andere klasmaats van Willie Jonker, David Bosch en Nico Smith.

Heyns het sy doktorsgraad aan die Vrije Universiteit van Amsterdam onder die leiding van prof GC Berkouwer voltooi. As predikant van die NG Kerk het hy in sy leeftyd by die NG gemeentes Ysterplaat en Rondebosch bedien. Hy het daarna in 1966 by die Universiteit van Stellenbosch begin doseer. Heyns is in 1971 by die Universiteit van Pretoria as professor in dogmatiek en etiek aangestel.

Heyns het nie net op akademiese gebied óf in die praktyk ’n invloedryke rol gespeel nie, maar het op beide gebiede deur sy lewe belangrike rolle vertolk. Hy is bekend vir veelvoudige akademiese publikasies, maar hy is verál bekend vir sy betrokkenheid as kerkleier in die NG Kerk. Hy was moderator van die Noord-Transvaalse streeksinode en het ook van 1986 tot 1990 as moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien.

’n Berig uit die Cape Times net ná die verkiesing van prof Johan Heyns as moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode in 1986.

Die NG Kerk was tot die jare 1980’s bekend daarvoor dat hulle op morele en teologiese vlak apartheid ondersteun het. Johan Heyns het in 1980 vir die eerste keer op ’n publieke forum sy teenkanting van die NG Kerk se ondersteunende standpunt van apartheid uitgespreek. Hy het óók ’n invloedryke rol gespeel in die totstandkoming van die beleidsdokument Kerk en samelewing, waarmee die NG Kerk begin het om sy rug op apartheid te draai. Die eerste weergawe van dié dokument is in 1986 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk aanvaar. Die besluit van die Algemene Sinode het daartoe gelei dat duisende NG lidmate uit protes die kerk verlaat het en die Afrikaanse Protestantse Kerk gestig het. Heyns word ook onthou vir sy preek op Geloftedag in 1988.

Proff Conrad Wethmar en Cas Vos skryf in 1988 in die voorwoord van Heyns se feesbundel, ’n Woord op sy tyd, dat Heyns ’n besonderse brugbouer was. Hy het nie net as akademikus die gawe gehad om brûe te bou tussen die teorie en praktyk nie, maar het in sy leeftyd ook brûe tussen mense en groepe van diverse standpunte, wat meestal teenoor mekaar gestaan het, gebou.

Dertig jaar later haal prof Piet Meiring vir Heyns aan waar Heyns homself as ’n brugbouer beskryf: “As jy ’n brug probeer wees, moet jy verwag dat mense oor jou gaan loop. Hulle gaan op jou trap! As dit nie gebeur nie, is jy nie ’n effektiewe brug nie,” het Heyns gesê.

Johan Heyns was op die aand van 5 November 1994 besig om met sy vrou en drie kleinkinders kaart te speel. Hy is toe, terwyl sy vrou en kleinkinders rond­om hom gesit het, deur ’n sluipmoordenaar doodge­skiet.

Dié storie van prof Heyns is vir Adam ’n persoonlike storie. En dit het hom daarby gebring om die dokumentêr te maak.

“Ek het nog altyd van die legende van my oupa gehoor, maar ek het eintlik min geweet. Ek was moeg vir advertensies maak en fiksie versprei. Ek was op soek na iets ég. Ek het in ’n stadium met my eie ‘white privilege’ begin geworstel en worstel steeds daarmee. Ek het die behoefte ontwikkel om uit te vind waar ek vandaan kom.

“Dié dokumentêr het net soos die regte ding gevoel om te doen. Ek wou aanvanklik met die dokumentêr ondersoek instel oor wie my oupa vermoor het. Ons het met ’n paar groot geeste, soos FW de Klerk, Pik Botha en my ouma Renée Heyns, gaan praat. Die beeld­materiaal was oorweldigend en hoe meer ek afgeneem het, hoe meer deurmekaar het dit my laat voel.

Prof Johan Heyns in sy studeerkamer.

“Maar tóé gee my ouma vir my die boks met die VHS-kassette. Ek het besef my oupa se hele storie is in dáárdie boks en dís waar ek moet begin,” vertel Adam.

Willem is ook op ’n unieke manier aan die storie van Johan Heyns gekoppel: “Adam het ’n paar jaar gelede vir my die storie van sy oupa vertel. Hy het genoem dat hy besig is met navorsing oor sy oupa en dat hy dit moontlik in ’n dokumentêr wil verwerk. Ons is albei in die filmbedryf en ek het onmiddellik belang gestel om by die projek betrokke te raak.

“Ek het van my kant af uitgevind dat my pa vir prof Heyns goed geken het en selfs by hom klas gehad het. Ek het my pa oor prof Heyns uitgevra en hom van die projek vertel. Die projek het stilgestaan en ek het Adam begin moed inpraat om dit af te handel.

“Ek was kort daarna vir twee maande in die buiteland. In dié tyd het Adam dit oorweeg om van Gau­teng na Kaapstad te verhuis en het in daardie tyd by my ouers loseer. Interessant genoeg is my pa, dr Johan van den Heever, tans predikant in NG gemeente Rondebosch waar Adam se oupa ook destyds predikant was. My ouers woon in dieselfde pastorie waar hy jare lank gewoon het en waar Adam se pa grootgeword het. Die verwikkelinge het weer vuur in die projek geblaas en ek is dankbaar dat ek as medevervaardiger die projek kon help afhandel,” vertel Willem.

Adam brei uit: “Ek het nooit my oupa werklik geken nie, want hy is dood toe ek vyf jaar oud was. Dit was daarom vir my belangrik om, met die vervaardi­ging van die dokumentêr, met hom kennis te maak. Dit was vir my verstommend om my oupa op die skerm te sien leef en praat toe ek die eerste VHS-kasset in my woonstel in Hillbrow gekyk het – veral sy preek op Geloftedag in 1988.”

Dié dokumentêr se boodskap is beslis vir die ouer én jonger generasies. Adam merk op dat baie ouer mense in die kerk sy oupa nog sal onthou en dat dit vir hulle waardevol sal wees om die boodskap van versoening wat sy oupa gepreek het, opnuut 30 jaar later, te hoor.

Willem vertel dat hulle met die dokumentêr spesifiek óók vir jong mense meer van die geskiedenis wil leer. “Ons wou spesifiek die kern van die boodskap van versoening aan veral die jonger ‘no-care’-geslag kommunikeer en hulle weer geïnteresseerd in ons geskie­denis kry. Ons hoop die dokumentêr sal vir jonger mense perspektief gee oor hoekom ons, as ’n land, is waar ons vandag is. Ons sal vir die jonger gene­rasie meer lig wil werp op waardeur ons in die land gegaan het en dat ons ten spyte hiervan wél beter af is.

“Dié dokumentêr wil vir mense wys dat daar tog helde was wat sáám met Nelson Mandela en Desmond Tutu vir ’n beter Suid-Afrika geveg het. Dit laat ’n mens dan ook met die vraag oor waar ons helde van­dag is. Waar is die helde wat alles opgeoffer het? Waar is die mense wat selfs hul lewe vir ’n beter toekoms sal prys gee?” vra Willem.

Hulle hoop dat die boodskap van versoening deur die dokumentêr gesien kan word en dat dit vrae by mense sal wakker maak. Willem brei uit: “Ek hoop mense begin met nuwe oë na ons land en medemense kyk. Mag die dokumentêr mense saam in ’n vertrek kry om ongeag hulle geloof, ras of ouderdom met mekaar te kan praat, vrae te vra en dalk selfs begrip by mekaar te ontwikkel. Ons hoop is dat die dokumentêr positiwiteit by mense sal kweek.”

’n Spotprenttekenaar van The Daily News se indruk van die hervormingsrol wat prof Johan Heyns destyds gespeel het.

Willem kon deur die vervaardigingsproses van die dokumentêr die evangelie van versoening by prof Heyns sien. “Ek dink die kernvisie waarvoor die ‘vryheidsvegters’ soos Mandela en Tutu gestaan het, was versoening. En ongeag prof Johan Heyns se uitsprake oor die NG Kerk en sy eie mense, wat hy kon sien besig was om verkeerd op te tree, kon ek steeds die boodskap van versoening by hom sien. Een van die eerste dinge wat sy familie hulleself oor uitgespreek het na sy moord, was dat hulle geen wraakgevoelens koester teen­oor die moordenaar nie en dat hulle met hom wil versoen,” sê Willem.

Exorcist of apartheid het ook ’n belangrike boodskap binne én buite kerke vandag. Willem vertel: “Ek dink dit is belangrik dat dié boodskap van versoening binne en buite die kerk gewys word. Ons wil nie net vir die koor preek nie.

“Máár as ek uit my eie ervaring praat, het ek self nie belydenis in die NG Kerk afgelê nie. Ek het al oor ’n bestek van ’n paar jaar reeds probleme met van die doen en late van die NG Kerk. Dit is die kerk waarin ek grootgeword het. Dit het vir my begin voel dat die NG Kerk besig is om die pot mis te sit en die kern van wat ’n kerk moet wees begin vergeet het. Béslis as dit by veroordeling kom.

“As ons kyk wat die laaste paar jaar rakende die gay-debat aangaan, dink ek dis nie veel anders as die apartheiddebakel destyds nie. Dit lyk tóg of die NG Kerk maar net weer dieselfde foute maak.

“Juis dáárom dink ek dis belangrik dat hierdie dokumentêr in die NG Kerk gewys word, want daar kan baie van versoening geleer word. Ek wonder wat sou iemand soos prof Johan Heyns vandag gesê het? Sou prof Johan Heyns, die sogenaamde ‘meneer NG Kerk’ nog in die NG Kerk gewees het?” vra Willem.

CIAS gee sy eerste treë

Die eerste werkwinkel van die beoogde Centre for the Interpretation of Authoritative Scriptures (CIAS) het vanaf 13-14 September 2018 in Stellenbosch plaasgevind. Dié sentrum, wat in die volgende drie jaar tot stand sal kom, fokus hoofsaaklik op akademiese navorsing rakende die aard en interpretasie van Christelike, Islamitiese en Joodse gesaghebbende Skrifte, beide in antieke en kontemporêre kontekste. Die stigterslede van die sentrum is proff Louis Jonker, Jeremy Punt, Marius Nel, Xolile Simon en drr Ntozakhe Cezula en Peter Nagel.

Jonker sê hy het besef dat daar by Stellenbosch Universiteit (US) geen sentrum bestaan wat spesifiek op die studie van godsdiens gefokus is nie. CIAS wil hierdie tekort aanspreek aangesien daar op nasionale vlak in Suid-Afrika óók nie werklik sentra bestaan wat spesifiek op die verhouding en verband tussen godsdienste gefokus is nie. Dié institusionele sentrum beoog daarom om navorsing rondom inter-godsdienstige dialoog van die drie monoteïstiese godsdienste in Suid-Afrika te doen.

Navorsingstemas en fokusasreas van CIAS sluit die volgende in: die aard van interpretasie, wat met gesaghebbende Skrifte bedoel word, gesaghebbende Skrifte en sosiale kohesie, opvoeding in Suid-Afrika, metanarratiewe, intergodsdienstige gesprekke binne geloofsgemeenskappe, transformasie, die media, sosiale geregtigheid en gender. Die sentrum bied meesters-, doktorale en post-doktorale beurse aan studente wat op dié relevante gefokusde temas navorsing wil doen.

Jonker sê die werkwinkel het ’n inklusiewe ruimte vir die gesprek oor die drie godsdienste se interpretasie van hul gesaghebbende Skrifte geskep. “Die klem het daarop geval om ’n teoretiese basis te vind waarbinne die hermeneutiek van hierdie gesaghebbende Skrifte akademies bestuur kan word,” sê Jonker.

Prof Eugene Cloete, die vise-rektor vir navorsing en innovasie aan die US, het sy volle steun aan die sentrum gegee. Hy sê dat dié sentrum spesifiek bydra tot die US se doel om ’n navorsingintensiewe universiteit te wees wat ook ’n sosiale impak maak.

Jonker brei uit: “Ons wil deur middel van die navorsing wat ons lewer, ’n samelewing help vorm wat op ’n verantwoordelike manier met hulle heilige tekste omgaan. Gelowiges gaan in ons kontekste met tekste om wat hulle as gesaghebbend beskou en dit veroorsaak dikwels konflik. Ons wil ’n rol kan speel dat dit eerder sosiale kohesie veroorsaak. Die rol wat ons wil speel is om ’n tree binne ’n akademiese omgewing terug te gee om goed oor die gesaghebbende Skrifte na te dink en dit dan vir geloofsgemeenskappe aan te bied om self mee te handel. Ons probeer op die navorsingsgebied ’n rol speel tot opbou van die samelewing en nie tot afbreek daarvan nie. Ek is volledig oortuig dat deur bloot hierdie navorsing te doen, ons klaar besig is om hierdie grense tussen gelowe te oorskry en teenoor mekaar te staan en te sê dat ons eerder sáám ’n bydrae tot die samelewing wil lewer.”

Nel sê CIAS kan óók ’n opbouende rol in die NG Kerk speel. “Ek dink dat die navorsing van CIAS uiters belangrik is om geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk te help om op ’n deurdagte en konstruktiewe wyse deel te neem aan debatte en prosesse in die Suid-Afrikaanse samelewing soos om byvoorbeeld by die kwessie oor godsdiens in die skole, wat alle gelowe raak, betrokke te raak,” sê Nel.

In SA het armoede ’n vroulike gesig

“#pinktax: hoekom moet ons omgee?”

Dít was die tema van die weeklikse kapeldiens op Woensdag, 8 Augu­stus, by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Prof Nadine Bowers-Du Toit verduidelik dat “pink tax” ’n wêreldwye weerstandsbeweging is wat klem lê op die feit dat vroue 13% meer vir persoonlikesorgprodukte as mans betaal. “Die vraag is hoekom vroulike produkte duurder as dié van mans is?” vra sy.

“In ’n Suid-Afrikaanse konteks het armoede ’n gesig en dit is ’n vroulike gesig. Wanneer daar oor pink tax in die Suid-Afrikaanse konteks gepraat word gaan dit allermins net daaroor dat vroue meer as mans vir dieselfde produkte moet betaal. Dit is omdat hierdie kwessie die armste van die armste vroue raak. Arm vroue het baie minder toegang tot sanitêre produkte. Jong vroue wat nie toegang tot die nodi­ge sanitêre produkte het nie, kan nie skool toe gaan nie. Skoolmeisies mis ongeveer 90 dae van skool per jaar omdat hulle nie toegang tot sanitêre produkte het nie,” sê Bowers-Du Toit.

Ds Nobuntu Penxa-Matholeni het die prediking uit Markus 5 waargeneem. Die Skrifgedeelte handel oor die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het. Penxa-Matho­leni sluit met haar boodskap by die sentrale vraag van die kapeldiens aan – wie gee om?

Penxa-Matholeni brei uit: “Die vrou in die teks is ’n gesiglose en naamlose vrou wat aan bloedvloeiing ly. Wie gee om? Sy word deur die samelewing verstoot en met sonde vereenselwig. Haar stem word onderdruk. As vroue van Suid-Afrika, ervaar ons dieselfde onder­drukking. Ons moet veg vir ons stem om gehoor te word. Ons word stilgemaak. In dié verhaal kry ons egter hoop uit Jesus se optrede. Jesus het omgegee. Jesus het toegelaat dat hierdie vrou se stem gehoor word. Hy kon haar geïgnoreer het, want dit was baie makliker. Maar Jesus het haar intensioneel aangeraak en haar bemagtig,”Penxa-Matholeni.

Volgende verduidelik Ilze Amos, student en lid van die Teologiese Studentekomitee van die fakulteit, hoe die studente by die pink tax-inisiatief betrokke kan raak. Die komitee het tydens Augustusmaand ’n boks in die voortportaal van die fakulteit geplaas waar studente sanitêre produkte kon skenk vir die vroulike gevangenes van die Pollsmoor-gevange­nis. Amos brei uit dat die ondersteuning van die pink tax-inisiatief die menswaardigheid van alle vroue en spesifiek arm vroulike liggame, erken.

Dr Nina Müller van Velden, liturg by die kapeldiens, gee praktiese wenke oor hoe gemeentes aktief by pink tax-kwessies betrokke kan raak. “Gemeentes kan spe­sifiek betrokke raak by sogenaamde ‘pad drives’ (die invordering van sanitêre produkte) vir meisies en vroue wat in armoede leef. Dit is waarskynlik die eenvoudigste korttermynprojek wat ’n gemeente kan aanpak. Só ’n projek is ’n ideale geleentheid om bewusmaking oor die saak te bevorder. Dit kan op klein skaal by die tienerbediening wees, maar veral ook in die groter gemeentelike konteks tydens ’n erediens ingestel word. Die gemeentes kan hiermee die lidmate spesifiek oor die gender-aard van armoede bewus maak en hoekom ons ook dáároor moet praat, bid en nadink,”Müller van Velden.

Waarom sou die kerk diskrimineer? vra studente

“Hoekom diskrimineer?”

Dít is die vraag wat die nuwe beweging #whydiscriminate vir kerke vra. Dié beweging is onlangs gestig deur drie teologiestudente van die Universiteit Stellenbosch – Farren Watt, Ashwin Thyssen en Stefan de Klerk.

Die beweging het vinnig bekendheid verwerf deur die foto’s wat hulle van mense in #liefdeisliefde-hemde op Facebook en Instagram geplaas het. Die foto’s word vergesel van die slagspreuk “Ek staan in solidariteit”.

Farren vertel: “Ons het besluit om die slagspreuk ‘Ek staan in solidariteit’ by die foto’s te plaas omdat die mense teen wie gediskrimineer word, juis alleen staan en alleen voel. Dit is ons manier om te wys dat ons saam met hulle staan en dat hulle nooit alleen hoef te wees nie. Dis ’n bewys dat mense werklik omgee. Daar is soveel mense wat in solidariteit met die onderdruktes staan en hierdie is ’n bewys daarvan.”

Die huidige hofsaak tussen ’n aantal lidmate en die NG Kerk het ’n beduidende rol in die stigting van die beweging gespeel.

“Dit is die invalshoek van die beweging, maar ons het spesifiek die hutsmerk #whydiscriminate gekies omdat ons wil beklemtoon dat ons nie een onderdrukking groter as die ander wil maak nie. Alhoewel die klem tans op die diskriminasie teen mense in selfdegeslagverhoudings val, gaan #whydiscriminate in die toekoms ook op ander soorte diskriminasies soos rassediskriminasie fokus.”

Ashwin sê dat hulle spesifiek die kerk wil uitdaag met die behandeling van mense wat in ooreenstemming is met die alles-insluitende evangelie van Jesus Christus.

Farren vertel verder: “Ek dink om op te staan vir die onderdruktes is definitief ’n geloofsopdrag. Dit is wie Jesus was en wie Jesus is. Jesus was saam met die siekes, Hy was saam met die weduwees, Hy het langsaan onderdruktes in die gemeenskappe gestaan en saam met hulle geveg. Ek dink dis elke Christen se opdrag om saam met die onderdruktes te staan.”

Stefan beklemtoon dat die beweging glo aan en hoop het vir die toekoms van die kerk.

Prof Retief Müller, professor in kerkgeskiedenis, ondersteun die beweging. “Diskriminasie oor die algemeen is onchristelik, maar in hierdie spesifieke geval dink ek dit gaan daaroor dat as ons as kerk sou sê julle is in en julle ander is uit dan is ons besig om mede-gelowiges se eie geloofsbelydenis te verwerp en dít is vir my onaanvaarbaar.”

Dr Nadia Marais, dosent in sistematiese teologie sê: “Ek ondersteun die #whydiscrimnate-veldtog omdat dit na die hart van ons probleem in die NG Kerk deursny. Ons wíl diskrimineer. Die evangelie is egter baie duidelik daaroor: Christus staan aan die kant van mense wat ons nie wil hê nie. Die veldtog daag ons uit om eerlik te wees oor ons eie vooroordele en aannames oor diegene wat ons buite die kerk probeer hou. As ons vermoed dat ons LGBTQI+-persone ongelyk aan heteroseksueles in die kerk behandel word, moet ons dalk maar eerlik wees en erken: Ons het ’n probleem. Ook óns diskrimineer.”

Louwtjie Bouwer wil vredeplase help vestig

“Die evangelie veréis transformasie en versoening op plase in Suid-Afrika,” sê afgetrede veranderingsbestuurder van Nedbank en voormalige kapelaan, Louwtjie Bouwer. Louwtjie het onlangs, in samewerking met AgriSA, ’n projek begin wat sosiale transformasiewerk op Suid-Afrikaanse plase doen. JACOBIE M HELENA berig.


Die klem wat die evangelie op vrede plaas, lê Louwtjie al ’n geruime tyd op die hart.

“Ek het in verskillende Afrika-lande as kapelaan in die oorloë gedien. Ná die oorlog het ek met baie vrae rondom die evangelie geworstel.

“Ek ontdek toe die doktors­proefskrif uit 1970 van professor Jan-Harm van Wyk. Die titel van die doktorsgraad is ‘Etiek van vrede: ’n teologies-etiese evalue­ring van die Christenpasifisme’. Die proefskrif het baie vrae oor vrede in my gemoed na vore gebring. Ek het besef dat niks van die oorlog evangelies is nie. Mense het die Bybel gebruik om die oorloë te regverdig. Daar was nie een troep wat nie gedink het die Here is aan óns kant nie. Ons het geglo ons deelname in die oorlog is ons werk. Ek het dit met groot entoesiasme en toewyding gedoen,” sê Louwtjie.

Maar ná die oorlog het daar ’n draaipunt in Louw­tjie se lewe gekom oor sy nuwe verstaan van die evangelie van vrede. Hy het as kapelaan uit die kerk en uit die weermag, bedank.

“Op 2 Augustus 1989 het ek vir die bevelvoerder gesê ek bedank. Ek is klaar met die oorlog. Die kolonel wou my ’n hoër posvlak van hoofkapelaan van die leer aanbied met die verse­kering dat ek ’n kapelaan-gene­raal gaan word. Ek het die aanbod van die hand gewys. Ek sit toe sonder werk. Ek moes na dié geloofsprong besluit wat ek gaan doen.”

Louwtjie lag en vertel verder: “Die Here stuur my volgende in die rigting van veranderingsbestuur. Ek sien toe daar is ’n leierskapskonferensie wat Nedbank geborg het en besluit om dit by te woon. Die hoof- uitvoerende beampte van Nedbank het in ’n gesprek gehoor hoe ek oor leierskap dink en vir my gesê om hom te kom sien. Ek gaan sien hom en hy besluit daar en dan om my by Nedbank aan te stel as veranderingsbestuurder. Ek was daarna vir die volgende 20 jaar in beheer van enige verandering wat in die maatskappy plaasgevind het.”

In 2015 was nog ’n groot draaipunt in Louwtjie se lewe. “Ek het binne drie dae ’n groot hartaanval en beroerte gehad. Ek kon nie sluk, loop of praat nie. En hier sit ek vandag. As die Here jou een keer gevat het dan los Hy jou nie weer nie.

“Interessant hoe mense steeds gedurig vir my vra, ‘Louwtjie, is jy nog in die bediening?’ Ek meen wat is dié bediening? Die kerk is nie vir my bediening nie. Ek het my eie konsep van die bediening rondom versoe­ning ontwikkel. Daar is baie vlakke aan ’n bediening van versoening, maar die belangrikste is dat versoe­ning en transformasie opoffering vereis,” sê Louwtjie.

Vandag help Louwtjie AgriSA om versoening op plase te bewerkstellig.

“Die plek in Suid-Afrika waar transformasie die broodnodigste is, is op die plase. Daarom het ek met AgriSA gesels en ons is besig met ’n projek om vredes­plase daar te stel. Daar is ’n baie sterk persepsie dat alle Suid-Afrikaanse plase sentrums van dehumanisering en rassisme is. Maar daarteenoor is daar plase wat dit anders doen. Hulle is vredesplase.

“Die eerste kenmerk van ’n vredesplaas is ’n doel­bewuste besluit om vrede na te streef. Die boere en die werkers op die plase moet besluit om na versoe­ning te werk. Bloot omdat die evangelie dit van ons vereis. Die krag van die evangelie is ’n goue draad in die geskiedenis van versoening en ons moet hierdie voorbeelde plaaslik ontgin. Daar is boere wat dit reeds doen. Ek ken sulke boere.”

“Die tweede kenmerk van ’n vredesplaas is dat die boere ook wetlik inskiklik moet wees. Daar is sekere ver­eis­tes van trans­formasie waaraan die boe­re moet voldoen. Boere móét bereid wees om opofferings te maak. Die plan is om navorsing te doen oor die plase waar boere reeds transformasie leef en te kyk watter metodes van transformasie geïmplementeer is. Ons wil suksesvolle modelle ontwikkel om dit op ander plase te implementeer,” sê Louw­tjie.

Watter rol kan die NG Kerk in plaastransformasie en versoening speel?

“Die NG Kerk moet aktief betrokke raak met die transformasie op plase. Dit is ’n keuse wat ’n persoon moet maak om hulle toe te wy aan transformasie in Suid-Afrika. ’n Mens moet bereid wees om op te offer.

“’n Groot probleem is dat die boere nie eens hul mense ken nie. ’n Essensiële deel van die proses van transformasie op plase gaan wees dat die boere die mense wat vir hulle werk, leer ken. Die plaaswerkers het name en stories en die boer moet dit ken.

“Ek dink nie die NG Kerk besef watter belangrike rol die kerk in boere se bewussyn van transformasie kan speel nie. Ons kan nie niks doen nie. Die evangelie vereis dit.”

‘Ek wou wéét wat Maria se storie is’

Maria is deur die kerk gekeer om in kraam te gaan.”

Só sê dr Lisel Joubert op 30 Mei by die bekendstelling van haar boek, Mosaïek van Maria, Miriam van Nasaret: Ingeweef in God se verhaal, by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Die sentrale vraag wat agter dié boek lê is wat met die Maria van die Bybel deur die eeue gebeur het. Joubert vertel: “Ek het gewonder hoekom Maria in die Protestantse spreekwoordelike kas beland het. Ek wou verstaan wat met hierdie karakter wat nie vir haarself kan praat nie, gebeur het. Ek wou wéét wat Maria se storie is.”

Lisel Joubert met haar boek oor Maria. Foto: Jacobie M Helena

Joubert het ongemaklik gevoel met die storie van Maria wat deur die eeue vertel is. “Daar is soveel komponente van haar lewe wat bloot geïgnoreer is. Ek het gevoel die prentjies wat van haar geskets is, het ’n bepaalde verstaan van die inkarnasie, seksualiteit, liggaamlikheid en hoe God werk, onderstreep. Ek kon myself nie met dié prentjies vereenselwig nie. Ek het die behoefte gehad om terug te gaan na die storie van Maria in die kerk en dié storie te dekonstrueer. Ek wou vrae oor die prentjies wat my gepla het vra. Die interessantheid van die storie van Maria is dat daar nie net één storie is nie, maar duisende. Daar is nie net één Maria nie,” vertel Joubert.

Mense het deur die eeue Maria op verskillende maniere beleef. Joubert brei uit: “Ek wou aan die een kant krities wees oor die storie van Maria wat die inkarnasie, seksualiteit en liggaamlikheid ondermyn, maar aan die ander kant wou ek ook geregtigheid laat geskied aan die ervarings wat mense van Maria gehad het. Ek het probeer om ’n balans te vind tussen krities-wees oor die narratief en die ervarings van mense vir wie Maria ’n werklikheid is.

“Al wat ek geweet het, is dat al is daar al duisende en duisende dinge oor Maria deur die eeue geskryf, is daar nuuskierige gelowiges wat niks van Maria se storie weet nie. Daar is mense in my gemeente; mense met gesigte, wat meer oor Maria wil weet. Ek het met hierdie boek probeer om die kern van die storie van Maria weer te gee. Maria het deur die eeue haar naam verloor. Sy het die maagd en moeder van God geword en na 2 000 jaar weet ons nie regtig wie sy is nie. Ek dink ons is beter af in die Protestantse tradisie omdat ons nie ’n storie van Maria het nie. Ons kan haar van vooraf leer ken,” sê Joubert.

Joubert sê dat Maria ’n belangrike rol in vroue se lewe in die moderne samelewing kan speel. “Maria kan ’n baie bevrydende figuur vir hedendaagse vroue wees. In die kerklike tradisie is daar hoofsaaklik op haar beeld as moeder en maagd gefokus, maar sy was óók ’n dissipel en profeet. Sy het ’n baie sterk roeping gehad. Hoe ons oor Maria nadink is hoe ons oor God nadink. Maria wys vir ons hoe God wérk,”
sê Joubert.

Kontemplasie help om konflik te hanteer

Kontemplatiewe spiritualiteit kan mense help om konflik beter te hanteer.

Dit was die boodskap van dr Wilhelm Verwoerd, navorser by die Beyers Naudé Sentrum, by vanjaar se Winterskool.

Dr Wilhelm Verwoerd. Foto: Jacobie M Helena

Verwoerd deel uit sy ervaring as fasiliteerder van groepe mense wat in konfliksituasies verkeer, dat blote dialoogvoering en die vertel van stories in groepe nie die proses van versoening diep genoeg laat infiltreer nie. Verwoerd verbind in sy toespraak, spesifiek van-uit ’n wit persoon se perspektief, kontemplatiewe spiritualiteit in die proses van versoening en vredeswerk.

“Dit is wetenskaplik bewys dat kontemplatiewe spiritualiteite ons brein herprogrammeer. Dit verskuif die plek in die brein waarvan ons reageer wanneer ons met konflik gekonfronteer word. Gewoonlik reageer ons uit die agterkant van die brein met die veg-of-vlug-reaksie, maar kontemplatiewe spirituele rituele verskuif die fokus in die brein na die voorkant. Wanneer ons uit die voorkant van die brein reageer, reageer ons met empatie, insig en verbeelding,” sê Verwoerd.

Verwoerd sê dat kontemplatiewe spiritualiteit help om gelowiges bewus te maak van die feit dat hulle as mense verbind is aan mekaar en met mekaar in verhouding staan. “Ware kontemplasie laat die individu toe om oor te gaan tot aksie. Dit laat ’n mens toe om meer van jouself te gee en vanuit ’n dieper plek van jouself oor te gaan tot ’n dieper vorm van aksie. Dit help jou na ’n dieper proses van versoening wanneer jy die spreekwoordelike ‘ander’ ontmoet.”

Gelowiges moet egter waak daarteen dat dit nie ’n modegier word nie. “Die gebruik van kontemplatiewe spiritualiteit in die proses van versoening kan nié net individueel en slegs in wit spasies gebruik word nie. Dit moet in ’n spasie gebeur waar mense uit hulle gemaksones geneem word en met die realiteite van mense se behoeftes gekonfronteer word. Dis daarom belangrik om vir jou eie individuele spirituele lewe die kontemplatiewe rituele te doen, maar óók saam in situasies met die spreekwoordelike ‘ander’.

“Wanneer ’n persoon deur die proses van kontemplatiewe spirituele rituele gaan, berei dit ʼn mens op ’n besondere manier voor vir prosesse van versoening. Nie net dwing dit ’n mens om in ongemak in die spreekwoordelike donkerheid te sit nie, maar ook om van die onvoorwaardelike liefde van God in die diepste wese bewus te word. Hierdie proses van diep versoening, vanuit die perspektief van ’n wit mens, help ons om bewus te word van die historiese, politieke, institusionele en strukturele ongeregtighede in ons land.

“Dit help wit mense om afstand te doen van die verwagting van vergifnis van mense van kleur. Dié rituele skep ook veilige ruimtes vir wit Suid-Afrikaners om met die trauma van die oorloë en die verlede in aanraking te kom en dit te verteer. Kontemplatiewe beliggaming kan ons as Suid-Afrikaners help om ons vermoë te versterk om met ons hele wese met oopgevoude hande na die pyn van die ander te luister,” sê Verwoerd.