Spoegwolf se Danie du Toit oor God, kerkmusiek en ‘angry emails’

Met die woorde van Lied 464 uit die Liedboek sluit die bekende Afrikaanse band Spoegwolf hulle jongste album Wind af. “O Heer my God, as ek in eerbied wonder en al u werke elke dag aanskou. Die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou.” Jacobie M Helena het ’n paar vrae aan die energieke hoofsanger Danie du Toit gestel.


Die liedjie “Slot van die Paarl” op julle nuwe album, Wind, klink of dit so reg uit ’n NG Kerk-erediens kom?

Dit is ’n NG Kerk liedjie uit ’n erediens! Ons het dit in die NG Kerk record terwyl ons besig was om op te warm. Dit was impromptu en so lekker en ’n lekker manier om die album mee af te sluit.

Jou oupa is ’n NG emerituspredikant. Hoe sou jy jou pad met die NG Kerk en geloof beskryf?

My oupa is steeds ’n aktiewe predikant en preek op die oomblik by die NG gemeente Strooidakkerk in die Paarl. Hy is ’n groot inspirasie vir my. Ons verhouding het baie te doen met my geloofspad.

Daar word gereeld in Spoegwolf se musiek na God verwys. Wie is God vir jou en hoekom sluit julle gereeld vir God in julle lirieke in?

Daar is nogal baie verwysings na God in ons musiek. Ek weet nog nie presies wie God is nie. Ek dink nie enige iemand weet presies wie God is nie, maar God is iets wat ’n groot tema in my lewe is. Oor hoe ek dink. En ek dink jy moet skryf hoe jy dink.

Julle was familievriende met wyle teo­loog en joernalis dr Gerrit Brand. Speel hy nog ’n rol in jou siening oor geloof, teologie en digkuns? Wat het jy by hom geleer wat jy met jou saamdra?

Gerrit was ’n groot inspirasie vir my en is steeds vir my op baie maniere ’n kompas oor hoe om te dink, om te skryf of hoe om jouself aan mense oor te dra. Hy was net vir my die definisie van ’n gentleman.

Watter boek lê langs jou bedkassie?

Langs my bedkassie lê daar ’n paar boeke deur JD Salinger. Hy was nog altyd my gunstelingskrywer.

Indien al die inperkingsmaatreëls opgehef word, waarheen sal jy eerste oorsee wil reis?

Ek sal baie graag Londen toe wil gaan. Ek was laasjaar daar saam met (my meisie) Marguerite en dit was so ’n spesiale tyd en ek sal dit baie graag weer wil doen.

As daar een ding is wat jy in Suid-Afrika kan verander om vrede te bewerk­stellig, wat sal dit wees?

Ek dink nie dit is moontlik om met een ding vrede te bewerkstellig nie. Ek dink vrede is iets wat ’n lang tyd vat en stukkie-vir-stukkie opgebou moet word. Dit is nie iets wat sommer vinnig gebeur nie. Ek sou wou hê mense moet oor die algemeen meer saam aan vrede bou.

Wat doen jy om laf te wees?

Om laf te wees reply ek op angry ­e-mails. As mense een of ander waarskuwing vir my stuur of net sê dat ek geld skuld êrens of net ongeskik is dan laat dit baie beter voel om vir mense dan ’n e-pos terug te stuur en hulle te herinner hoe hulle e-posse aan mense stuur.

Word 'n vriend van Kerkbode