Na Bybel-Media se besoek aan Britstown vroeg in 2020, het Kerkbode weer met een van die boere, Jasper Visser, gesels om te hoor hoe dit nou by hom op die plaas Schilderspan gaan.
“Ons het in Januarie 40-50 mm reën oor ’n deel van die plaas gekry. Só dankbaar!” laat Visser via ’n WhatsApp-boodskap hoor. Hy vertel verder: “Op die oomblik gaan dit goed op die plaas in terme van weiding. Ons is dankbaar vir goeie reën wat in Januarie oor die helfte van die plaas geval het. Die weiding is daar regtig mooi. Verder is daar ’n kwart van die plaas wat redelike weiding het en op die laaste kwart is dit nog so swartdroog soos wat dit voorheen met julle besoek was. Maar tans stoei ons ook met ’n sprinkaanplaag van ’n ernstige skaal,” beskryf Visser die omstandighede op Schilderspan. Die sprinkaanplaag is tans besig om verwoesting oor groot dele van die Noord-Kaap te saai, het Netwerk24 op 21 Februarie vanjaar berig.
Maar die sprinkaanplaag is tydelik en hanteerbaar, laat Visser vinnig hoor. “Jy weet dit gaan eindig op ’n tyd, maar met die droogte weet jy nie wanneer dit gaan eindig nie. Dit is nie so aanhoudend soos die droogte nie,” verduidelik hy.

Ná ’n jaar van knellende droogte en ’n bietjie verligting hier en daar hou Visser steeds vas aan Romeine 5:5 waar daar staan dat die hoop nie beskaam nie. “Die onlangse reën bring verligting, maar ek het gewonder hoekom die Here op sekere plekke dit laat reën en nie oral op die plaas nie. Maar toe ek en my vrou, Ideka, die 28ste Januarie Kaap toe gery het, het ek gesien die groen veld stop eintlik maar by Vosburg. Daar is een kolletjie weiding van 8 km tussen Carnavon en Williston, maar in die res van die gedeelte van Britstown tot by die Ceres-Karoo is daar geen weiding nie. Dit is swartdroog by daardie mense. En dit het my net laat besef om vir die Here net dankie te sê. Dankie dat ons wél reën gehad het, al is dit nou nie op die hele plaas nie. Ten minste is daar verligting vir ons. Dís net genade, het Visser gesê.
