Karoo-dorp se mense oor reën, seën en kommer

Blydskap oor ’n reënbui, maar ook kommer oor die swaarkry wat nog nie verby is nie, was op die modderpaaie te vind toe Kerkbode op Britstown in die Karoo gaan kuier het. Jacobie M Helena en die videograaf Robert Cable doen verslag.

“Ek het die afgelope paar jaar vir myself gesê dié droogte gaan my nie breek nie. Maar dit het baie moeilik geword. Ek het vir die eiendomsagente gesê: ‘Dis my prys, ek kan nie meer nie. Ek gaan my plaas verkoop. Dis nou verby,’” het Gerhard Strauss by hulle padstal buite die Karoodorp Britstown, wat sowat 700 km van groot stede soos Johannesburg en Kaapstad geleë is, vroeg in Maart vanjaar aan Kerkbode vertel. Hulle het ’n plaas buite Britstown en hulle plaas by Kenhardt, Vyfbeker, lê sowat 300 km verder.

En toe reën dit 38 mm op Kenhardt en 58 mm op Britstown oor die einste paar dae van Bybel-Media se besoek aan hierdie dorre dele om ’n storie oor die droogte en swaarkry te doen. “Dit voel onwerklik. Dit voel soms ek moet myself knyp,” het Strauss vertel van die oomblik toe sy vrou Wilma na hom in die veld aangestap kom en die foto’s kom wys wat ’n werker op hulle plaas by Kenhardt geneem het. “Wilma wys vir my die boodskap van die plaaswerker wat sê dat dit 38 mm gereën het. Ons het daar en dan mekaar omhels. Dit is die meeste reën wat die afgelope twee jaar op die plaas geval het. Ek was so emosioneel. Jy vra so lank vir reën en dis moeilik om hoop en geloof te behou alhoewel die Here ons verseker dat Hy sal voorsien. En wanneer ek dit die minste verwag – daar reën dit!” vertel Strauss. En in ’n ommesientjie verander ook die Bybel-Media-span se storie van een oor min hoop na een van ’n biejtie verligting.

“Jy bid, pleit en smeek vir jare vir reën en die reën kom nie. En dán wonder jy of die Here nie maar tog van jou vergeet het nie.”

So het Strauss al vele kere gevoel in die omgewing wat soos vele plaasgemeenskappe in die Noord-Kaap en Oos-Kaap die afgelope vyf jaar deur die aanhoudende droogte op hulle knieë gedwing is.

Die kerkgebou van die NG gemeente Britstown waar ds Estian Mentz sedert Augustus 2019 die leraar is. Skermgreep: Robert Cable.

Attie Blomerus, voorsitter van die Britstown-landbouvereniging, verduidelik die ramp op sy manier. “Die getalle wys dat die drakrag van die grond in die omgewing van 16 108 na 11 285 skaap verminder het. Altesaam het die boere in die Britstown-omgewing 28 900 skape tot op hede verloor. Dít beteken ’n totale verlies van R34 miljoen in die 2020-2021 seisoen,” verduidelik Blomerus.

Ds Estian Mentz, wat in Augustus 2019 as leraar by die NG en VGK gemeentes in Britstown bevestig is, sê hy het in die gemeente begin toe die droogte op sy ergste was. “Dit was ’n krisispunt in die gemeenskap. ’n Mens het agtergekom dat die gemoed van die gemeenskap baie laag is. Ek het baie met die boere gesels en moeite met gesprekvoering gedoen, maar in baie gesprekke het die vrae herhaal: ‘Dominee, wanneer kom die reën? Dominee, het die Here ons vergeet? Dominee, is die Here kwaad vir ons?’ Maar dit is ongelooflik om die afgelope agt maande te beleef hoe ’n brose gemeenskap van gebrokenheid na ’n gemeenskap groei wat jubel en juig oor die reën. Tydens die droogtetydperk het die gemeenskap kenmerkend baie nader aanmekaar gegroei.

Strauss se buurman, Deon Oberholzer, vertel dat hulle nooit gedink het dat hulle ooit in rye vir kos of voer sal moet staan nie. “Maar ewe skielik het die droogte almal gelykgemaak, want die droogte het almal in die omgewing diep geraak.” Jasper Visser, wat op ’n plaas 60 km van Britstown af boer, beaam: “Mense het bydraes en pakkies van regoor die land vir ons gemeenskap gestuur. ’n Mens wil eintlik hartseer raak as jy besef mense wat jou nie eens ken nie stuur vir jou iets in pakkies. Jy lees die briefies wat die vroue saamgestuur het en dan besef jy jy is nie alleen nie.”

Swaarkry nog nie verby

Oberholzer vertel dat daar vanjaar alreeds 200 mm teenoor verlede jaar se 16 mm geval het. “Ons is baie dankbaar vir die reën, maar as jy dieper gaan kyk, worstel boere steeds met hulle finansies.” Hy vertel dat die grootste probleem is dat mense in die stede die persepsie het dat as dit gereën het alles skielik weer reg is. “Natuurlik is ons baie dankbaar vir die reën. Maar wanneer dit reën, reën dit verligting, maar dit reën nooit geld nie. Hierdie boere het alles verloor.” Hy vertel mismoedig verder dat die boere finansieel nie net van voor af moet begin nie, maar met ’n agterstand. Boere in die Noord-Kaap kan nie meer hulle kinders in skole hou nie. Waar boere op ’n plaas 1 200 ooie gehad het, het hulle nou 300 oor. “Ek verduidelik die ramp wat ons getref het altyd so: “Neem jou salaris en deel dit met twee-derdes. Verdubbel jou uitgawes en kyk die verlies wat jy maak. Dít is hoekom ons dit ’n ramp noem,” sê Oberholzer.

Alhoewel boere in die Britstown-omgewing onlangs reën ontvang het, is dit steeds baie droog by Jasper Visser en Attie Blomerus se plase waar hulle 60 km buite Britstown met skape boer. Skermgreep: Robert Cable.

Vir die kleinboere Colette en Dawid Vaast het die droogte byna ál hulle diere uitgeroei. Hulle het 25 jaar terug met twee ooie begin. Die afgelope dekade het hulle kudde na 46 skape en 16 beeste gegroei. Ná die droogte het hulle géén skape nie en slegs 9 beeste oor. “Ons probeer kop bo water hou met die oorblywende beeste wat ons het, maar die afgelope drie jaar se droogte was ’n baie groot verlies. My man tel in die week scraps op om te verkoop dat ons die diere die nodige medisyne kan gee om sterker te word.”

Lees ook: ‘Berg op’ saam Britstown

Is daar enigsins ’n ligpunt in ’n verpletterde gemeenskap? Oberholzer vertel dat die gemene faktor in Britstown beslis is dat die droogte die gemeenskap nader aan mekaar gebring het. “Daar is nie meer groot- en kleinboere nie. In die verlede het ons verby mekaar gelewe, maar nou sê ons vir mekaar hoe dit gaan. Die droogte het gemaak dat ons al hoe nader aan mekaar begin groei het en vir mekaar omgegee het. Ons het mekaar gehelp waar ons kan. Ons was verenig in totale afhanklikheid. Maar die Here het deur alles vir ons gesorg. Hy het dalk nie elke dag reën gegee nie, maar het altyd gesorg dat ons beslis kos gehad het,” vertel Oberholzer.

Visser brei uit: “Wanneer mense moedeloos is en op die punt staan om hulle geloof te verloor oor die knellende droogte wat net nie wil ophou nie, is daar een ding wat ons laat aangaan – hoop. Soos daar in Romeine 5:5 staan: ‘Die hoop beskaam nie!’” getuig Visser. So 20 km buite Britstown is ’n dam met ’n volume van soveel as 38 000 Olimpiese swembaddens. Die dam is tans 1 persent vol. “Ek het al foto’s gesien van mense wat op hierdie dam ski. Dis my droom,” vertel Mentz hoopvol.


Boeketroos: ’n Bietjie reën 

Op 21 Februarie het Bybel-Media ongeveer 1 700 kopieë van die boek ʼn Bietjie reën aan 17 gemeentes, waaronder Britstown, in die droogtegeteisterde Noord-Kaap gestuur. Die projek het in Maart gegroei en ongeveer 2 800 boeke is na boere en plaaswerkers in droogtegeteisterde plaasgemeenskappe in Suid-Afrika en Namibië versprei, volgens ds Leon Venter, die voormalige uitvoerende hoof van BM. Die doel is om óók na die geestelike welstand van die boere en plaasarbeiders om te sien te midde van die droogte wat soveel in ons land steeds raak.

ʼn Bietjie reën, wat deur dr Willem Pretorius saamgestel is, is geskryf deur predikante wat besorg is oor die geestelike impak wat die droogte op die boere en die hele landbougemeenskap het.

Jasper Visser lees uit die boek, ’n Bietjie reën, wat Bybel-Media einde Februarie aan talle boere in droogtegeteisterde gebiede geskenk het. Visser, op wie se plaas nog nie baie reën geval het nie, is opgewonde oor die boek omdat daar verskeie temas in die boek is wat hoop gee. Foto verskaf.

Die boeke het op die laaste dag van Bybel-Media se besoek aan Britstown by die NG gemeente se kerkkantoor aangekom. Mentz sê hulle is baie opgewonde om te sien watter impak die boek in die Britstown gemeenskap sal hê. “Ek is opgewonde oor só ’n boek wat geloofsgewoontes vir boere gaan leer en hoe om weer op te staan en ’n pad met God te stap,” sê Mentz.

Intussen het Oberholzer en Visser laat weet dat ʼn Bietjie reën vir hulle pitkos vir die siel is. Oberholzer en sy vrou Gerda lees elke aand tydens hulle stiltetyd saam uit die boek. “Die boek is ’n oomblik van ‘koffiedrink’ vir jou geestelike lewe. Die vraag: ‘Wat hoor jy?’ in die boek het my persoonlik baie uitgedaag. Ek is elke dag in die veld en het opnuut besef dat ek vir God se stem dáár moet luister.” Die boek het vir Oberholzer as ’n bevestiging van ’n plan gedien om ’n paar van die kampe op sy plaas vir boere wat nog nie reën soos Britstown gekry het nie oop te maak dat hulle vee op sy plaas kan kom wei. Visser vertel dat die boek hom konfronteer om sy persoonlike verhouding met Christus te ondersoek en dat die boek die moedelose boere en plaaswerkers bemoedig om op te staan en tot die einde te volhard terwyl hulle oë op hulle Skepper gerig is.