Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Die droogte het ons weer nader aan die Here gebring. Ons gemeenskap staan ook weer saam, soos in die ou dae,” sê Ben Raath, lidmaat van die NG gemeente Britstown wat die dryfveer agter ’n Vasdag op 26 Oktober is. Foto verskaf

Droogte: ‘Berg op’ saam Britstown

Die NG gemeente Britstown nooi gelowiges om Saterdag 26 Oktober van 6:00 tot 18:00 saam met hulle “berg op te gaan”. 

Die bedoeling, verduidelik lidmaat Ben Raath, is om “jouself af te sonder en met die Here te praat en net stil te wees in sy teenwoordigheid” terwyl jy vas. Wanneer jy honger of dors het, moet jy tot die Here bid.

Aldus Ben is die konsep “berg op” geleen vanaf Jesus wat op teen die berg is om met sy Vader te praat toe sy dissipels na hom gesoek het.

“Ons Karooboere is volgens rekords in die ergste droogte in ’n tydperk van 100 jaar. Wanneer jy voer uitry, is dit net jy en die Here voor in die bakkie. My geestelike lewe en emosies het deur verskillende stadiums gegaan. Wanneer jy dooie skape kry en ooie wat net lam en opstaan, of ooie wat gaan lê en nie kan opkom, breek dit ‘n mens. Jy is immers rentmeester oor daardie diere! Ek het baie met die Here gepraat en soms geworstel.

“Die Heilige Gees het vir my gewys ons as Britstown-gemeenskap moet vas. Maak nie saak watter kerk jy is nie  – ons moet weer bymekaarkom. Ons moet onsself afsonder, ons sondes bely en hierdie saak voor die Here se voete lê en by Hom pleit vir uitkoms. Ek het dit ook telkemale in die Woord raakgelees. Dieselfde oomblik sê die duiwel: ‘Jy kan dit nie doen, daar het nog nooit so iets in Britstown gemeente gebeur nie. Wat gaan die mense sê?’” 

Maar toe Ben, na wie leraar Estian Mentz as “voorloper vir komende Saterdag se Vasdag” verwys, dit uiteindelik met die kerkraad gedeel het, is dit dadelik aanvaar.

Na afloop van die 12 uur se vas op 26 Oktober kom gelowiges by die gemeente se kerksaal bymekaar. Gelowiges kan hulle getuienisse deel, nagmaal sal bedien word en daarna is ’n spitbraai. 

Vas – vreemde konsep?

Volgens Ben Raath ervaar hy dat baie mense dink vas is ’n vreemde konsep. “Ekself het ook nog nooit gevas nie. Jesus het vir 40 dae gevas. Daniël, Elia, Moses, Esegiël en Paulus het ook gevas. Dit is dus nie vreemd nie,” sê Ben.

Jesus stel net een voorwaarde met vas – “opregtheid”.  Daar is verskillende maniere van vas:

  1. Algehele vas  – om vir ‘n periode geen voedsel of vloeistof in te neem nie.
  2. Gewone vas – om vir ‘n periode geen vaste kos in te neem nie en net water te drink.
  3. Gedeeltelike vas – om vir ‘n periode sekere voedselsoorte uit te skakel, bv lekkernye of net brood te eet en water te drink.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top