Lourens Bosman

PEILING: Hoe lyk die kerk se toekomstige teologiese rigting?

Die volgende vergadering van die Algemene Sinode (6-11 Oktober 2019) gaan nadink oor die rol en roeping van die kerk. Ons wil graag jou stem hieroor hoor. Ons plaas weekliks ’n vraag waarop julle kan reageer. Vandeesweek se vraag gaan oor die belangrikste teologiese sake waaraan die NG Kerk moet aandag gee.

Neem gerus deel by die peiling onderaan hierdie plasing en kliek op die webskakels hieronder vir die vier vorige peilings in hierdie reeks.

Peiling 1: Wat is die belangrikste eksterne veranderinge en uitdagings wat die NG Kerk moet hanteer?

Peiling 2: Wat is die grootste interne uitdagings wat die kerk moet hanteer?

Peiling 3: Hoe sien jy die roeping van die kerk in die samelewing?

Peiling 4: Wat is die belangrikste prioriteite en uitdagings vir die kerk se bediening aan en deur sy lidmate?

R3 m gesoek, maar … ‘Omgee is meer as geld’

Hoekom kry ons swaar en hoe help ons mekaar?

Die wrang werklikheid van kerkwees in soveel droogtegeteisterde gebiede op die Suid-Afrikaanse platteland is dat dit gelowiges leer om dieper oor swaarkry te dink asook om voortdurend te innoveer met meganismes van hulpverlening.

“Party dae moet die skape oopmond staan en wind sluk – so min weiding is daar,” sê ’n boer onlangs tong-in-die-kies aan ds Nioma Venter van Diaconia, ’n een­heidsbediening van die NGK en VGK.

Venter kén sulke stories van moedeloosheid maar ook stories van nuwe maniere van help.

Sy bedryf die insamel en uitdeel van die beplande R3 m droogtehulpfonds bestem vir sowat 30 landbou­gemeenskappe wat volgens haar inderwaarheid ge­trau­matiseer is deur rampspoedige watertekort. “Na intense tye van trauma moet mense twee keer so hard werk om hulleself weer sielkundig, emosioneel, geestelik op te bou,” verduidelik Venter, wat ook assessor is van die Sinode van Wes-Kaapland. “Trauma is ’n af­waartse spiraal, maar die een ding wat hierdie spiraal weer opdraai, is menslike nabyheid en meele­wing … koinonia in kerktaal.”

Venter beklemtoon dat dit oor meer as geld gaan en verwys na die getuienis van Abraham Lottering, ’n plaaswerker van Laingsburg in die Karoo, wat sê hy moet dikwels sy geloof saamvoeg by dié van sy werkgewer om dit te versterk wanneer hy diere in die veld sien honger ly. “My ervaring is dis hoe God my nog meermale en meermale leer. Om te sien hy straf my nie, hy roep my.”

Tussen September verlede jaar en Mei vanjaar het die eerste ronde van Diaconia se droogtehulp met een miljoen rand uitgereik na 40 gemeentes – met ’n tipe “kickstart”-bedrag van R20 000 per projek. Nou begin ’n volgende ronde van hulp met ’n korter lys van begunstigdes en selfs groter steun op die unieke vertrouensverhouding wat bestaan met kerkrade op elke dorp wat weet waar die grootste nood plaaslik heers. Die Diaconia-span werk met ’n opgedateerde weergawe van die omgeeplan.

Lorinda Maritz, ouderling van NG Moedergemeente Mosselbaai, het in ’n Diaconia-getuienisvideo wat by die streeksinode in Mei vanjaar vertoon is, vertel sy het deur hulpverlening in haar gemeenskap geleer “wat dit is om die gospel uit te dra”.
“Ek kon vir verskeie mense se die NGK stel belang in sy mense.”

  • Diaco­nia bedryf die insamel en uitdeel van die beplande R3 m droogtehulpfonds bestem vir sowat 30 landbougemeen­skappe. Die fonds sal uit donasies saam­gestel word. Die bankbesonderhede vir donasies om die R3 m te bereik, is: Bank: Nedbank, Nedbank universele takkode: 198 765, Rekeningnaam: NG Kerk in SA (Diaconia), Rekeningnommer: 1135 900 337, Verwysing: Naam en Van / Instansie / Gemeente + DROOGTE. Navrae oor droogtehulp: kontak Nioma Venter (PSD: Diaconia) by nioma@kaapkerk.co.za

Dra jy by tot patriargie?

Ek het aan die Weskus grootgeword met ’n pa wat lief is vir visvang. Visvang en kraaineste is sino­niem. ’n Kraaines vra baie geduld om los te torring. Dit raak egter ingewikkeld wanneer verskillende visserslyne in ’n boks verstrengel geraak het en jy nie kan sien watter lyn is watter lyn nie. Jy dink jy is met een lyn besig en dan is jy eintlik al die tyd met twee verskillende lyne besig. Of jy trek op een punt om dit los te kry, maar in die proses trek jy ’n knoop op ’n ander punt stywer.

Om oor geweld teen vroue en kinders te praat is soos om ’n kraaines met ’n mengelmoes van verskillende lyne te probeer lostorring. Jy kan nie een lyn trek sonder om terselfdertyd ook met die ander besig te wees nie.

Van die verskillende lyne betrokke in geweld teen vroue en kinders is patriargie, ras, klas, seksualiteit, gender, godsdiens, armoede, gebrekkige infrastruktuur, werkloosheid, kultuur, strafregtelike prosesse, groepsdruk, ’n kultuur van geweld, nalatenskap van apartheid, kolonialisme, ekonomie, polisiëring, MIV/Vigs, dwelmhandel, dwelm- en alkoholmisbruik, familiestrukture, geestesversteurings en die onderwysstelsel.

Lees ook: ‘PATRIARGIE IS SIEKTE VAN DIE SIEL’ – TEOLOË PAK OORSAKE VAN GEWELD TEEN VROUE

Saam skets dié lyne die ineengestrengelde kompleksiteit van geweld teen vroue en kinders. Elkeen van hierdie lyne is opsigself ’n hele kraaines wat ontrafel moet word.

As ’n mens sekere lyne ignoreer is dit maklik om jouself te verontskuldig: Dit is booswigte wat sulke goed doen, nie ek nie. Dit is ’n regeringsprobleem. Ons strafregtelike proses moet uitgesorteer word.

Rigters 19 is ’n ontstellende, maar nodige verhaal om mee te worstel en beeld iets uit van die kompleksiteit van geweld teen vroue. In die Nuwe Afrikaanse Vertaling eindig die teksgedeelte met die woorde: “Ons moet dit ter harte neem. Ons moet ’n plan maak. Ons moet praat!”

En dit los ons met die vraag: Wat kan ons doen?

As kerk is die een “lyn” wat ons in gemeen het godsdiens. Prof Sarojini Nadar, van die Desmond Tutu-leerstoel vir ekumeniese teologie en sosiale transformasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is een van die vele stemme wat glo ons kan nie godsdiens se bydrae tot die geweld teen vroue en kinders ignoreer nie. Nie in ’n land waar amper 80% mense bely dat hulle Christene is nie, sê sy. Die probleem is nie net dáár nie, maar ook híér, in hoe ons die Bybel lees, interpreteer en verkondig.

Die Bybel het in patriargale kontekste neerslag gevind. Patriargie beteken die heers (arché) van die vaders (pateres) en is ’n denksisteem waar mans oor vroue heers. Wanneer ons die Bybel onkrities lees trek ons die patriargale denksisteem deur na vandag toe.

Patriargie is oor die jare meer ver­teerbaar gemaak. Dit maak dit egter nie minder gevaarlik nie. Die vrou word nie meer gesien as die man se besitting soos in die Bybel nie, maar die man word dikwels nog verkondig as die hoof van die huishouding of dat hy die leiding moet neem in die gesin. Daar doen ge­reeld op Facebook ’n diagram die rondte wat God bo sit, dan die man en onder hom die vrou – as Godgegewe hiërargie. So, wat gebeur nou as die vrou nie optree na die man se wense nie, as sy nie onderdanig is nie? Sy word op haar plek gesit – met woord of daad. En natuurlik vat alle mans dit nie so ver nie, maar as ons die teologie en sisteem in stand hou wat die ruimte hiervoor bied, is ons nie ook aandadig nie?

Patriargie is die status quo en ons taal en gewoontes hou dit in stand. Wanneer ons nie doelbewus let op ons woorde en gedrag nie, handhaaf ons dit. Dra jou teologie, jou taal, jou gewoontes, jou woorde, jou voorbeelde, jou grappies, jou staaltjies by tot die handhawing van patriargie en geweld of daag dit die status quo doelbewus uit?

“If you are neutral in situations of injustice, you have chosen the side of the oppressor,” het emeritusaartsbiskop Desmond Tutu gesê. Watter kant kies jy?

  • Ds Lou-Maré Denton is leraar by die NG gemeente Brackenfell en lid van die Gendertaakspan van die Wes-Kaapse Sinode.

Die vrae waarmee Mugabe ons laat

Wat is die erfenis wat die pas oorlede oudpres Robert Mugabe in Zimbabwe en Suider-Afrika agterlaat? LEOPOLD SCHOLTZ tas na ’n antwoord.

Robert Gabriel Mugabe, gebore op 21 Februarie 1924, is ’n goeie voorbeeld van ’n Afrika-nasionalis. As gelowige Rooms-Katoliek opgevoed, student aan Fort Hare in Suid-Afrika, het hy ’n haat-liefde-verhouding met die Engelse taal en kultuur gehad.

Enersyds het hy die koloniale bewind van sowel die Britte as die wit minderheidspremier Ian Smith met ’n passie gehaat. Andersyds het hy Engels deurgaans met ’n geaffekteerde Oxford-aksent gepraat en groot gewig geheg aan die eregraad wat hy in 1984 van die Universiteit van Edinburg gekry het.

En toe dit in 2007 weens sy menseregtevergrype teruggetrek is, het hy dit in reaksie “’n vernedering en skande” genoem wat hom diep in sy siel gekrenk het.

Mugabe was tipies van die Afrika-nasionaliste (Nelson Mandela van Suid-Afrika, Kwame Nkrumah van Ghana, Kenneth Kaunda van Zambië en Jomo Kenyatta van Kenia was ander voorbeelde) wat in Engelse skole opgevoed is, maar daar van die vernedering van kolonialisme bewus geword en daarteen in opstand gekom het.

By Mugabe het daar egter nog iets bygekom. In sy diepgaande studie Kingdom,Power, Glory kom Stuart Doran tot die gevolgtrekking dat Mugabe reeds in die jare sewentig ’n kille meedoënloosheid geopenbaar het. Geweldpleging was nie iets waarmee hy sy eie hande vuilgemaak het nie, maar hy het dit as ’n koue, rasionele middel tot sy doel – die politieke alleenheerskappy – aangewend.

Dié geweld wat hy destyds toegepas het, was nie slegs teen die wit minderheid gemik nie, maar ook teen sy swart mededingers. Dié neiging het hy ná sy bewindsoorname in 1980 voortgesit.

Hy het besef dat dit hom sou benadeel om sy stryd teen die wit kolonialiste voort te sit asof niks gebeur het nie. Dus het hy die oorgangsbepalings van die Lancaster House-ooreenkoms aanvanklik nougeset nagekom en daarmee nie alleen potensiële wit sabotasie geneutraliseer nie, maar internasionaal groot krediet gekry.

Terselfdertyd het hy – grotendeels agter die skerms – ’n ongeëwenaarde terreurveldtog, bekend as die Gukurahundi, teen die Matabeles van stapel gestuur. Sy eie Zanu se etniese ondersteuningsbasis het op die Masjonas berus; dié van die mededingende Zapu op die Matabeles.

Dus het hy sy berugte Vyfde Brigade, wat deur Noord-Koreaanse instrukteurs opgelei is, op Matabeleland losgelaat om massamoorde op ongekende skaal te pleeg. ’n Omvattende ondersoek van die Zimbabwiese Katolieke Kerk en ’n regstudiegroep het bevind dat maklik 20 000 mense in die tweede helfte van die tagtigerjare genadeloos vermoor is, en dat nog veel meer gemartel, mishandel en verkrag is.

Maar daardeur het Mugabe wel die Matabeles as politieke krag uitgeskakel.

Toe dit teen die eeuwending blyk dat sy politieke steun begin afneem, het hy kil en klinies die gevoelens teen die wit grondbesetters opgejaag. Bendes het die wit boere verdryf en hul plase verniel. Die groeiende swart opposisie is met geweld geïntimideer.

Zimbabwe se voedselproduksie het in duie gestort en die ekonomie daarmee saam. Maar Mugabe het sy doel bereik: Sy politieke mag is beveilig.

Uiteindelik het die weermag hom twee jaar gelede uitgedwing. Maar die nuwe president, Emmerson Mngagwa, sit Mugabe se geweldskultuur onveranderd voort.

’n Mens vra jou af of Mugabe se Christelike opvoeding geen verskil gemaak het nie. Blykbaar het dit nie. Ook diktators soos Adolf Hitler en Josef Stalin kom uit ’n Christelike agtergrond en het skrikbewinde soos min gelei.

’n Mens sou na aanleiding daarvan kon vra: Wat soek die kerk dan nog in die wêreld?

Maar is dit die kerk se skuld? Of is dit maar die individue wat so verdorwe is?

Dis ’n vraag wat teoloë al eeue besig hou. Sonder antwoord.

Xenofobie: Gebruik die veilige ruimtes van julle dienste só, vra SARK

“Ons soek nie na ’n passiewe vrede nie, maar ’n aktiewe vrede wat homself bemoei met die uitdagings wat almal beleef.” 

Só het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) in ’n verklaring gesê waarin leiers ook vrees uitspreek dat Suid-Afrikaanse burgers in ander Afrika-lande geteiken mag word as wraak vir die xenofobiese aanvalle wat die afgelope paar dae in en rondom stede soos Pretoria en Johannesburg gepleeg is. 

“South African churches like the Zion Christian Church, the Methodist Church and others, have no borders, they are in all neighbouring countries. South African church members will be bussed to other countries for their conventions. Are we ready for a trans-border conflict? We think not! That, is a no win conflict,” luidens die verklaring wat in die eerste week van September in die naam van Biskop Malusi Mpumlwana uitgereik is. 

Kerke is goed geplaas om ’n positiewe rol in die konflik te speel, meen SARK-leiers. Suid-Afrikaners en nie-Suid-Afrikaners aanbid immers saam in ons kerke, het Mpumlwana gesê. SARK-leiers het voorts ’n beroep gedoen op gelowiges om juis hierdie ruimtes te gebruik as luisterposte en plekke waar kreatiewe oplossings vir die probleem van vreemdelinghaat gevind kan word.

Mpumlwana het ook daarop gewys dat ’n baie groot aantal van die buitelanders wat in Suid-Afrika is, op wettige wyse hier woon en werk; ook as asielsoekers of politieke vlugtelinge, “iets wat Suid-Afrikaners maar al te goed ken,” meen hy.

VIDEO: ‘As jy dié tipe motivering het …’

ʼn Pa se brandende behoefte om vir sy gestremde dogter ʼn bietjie vryheid te gee, het gelei tot die eerste bekostigbare looprame in Suid-Afrika.

Hy is nie ʼn ingenieur of industriële ontwerper nie. Wanneer hy begin gesels besef jy hy is net ʼn pa wat sy dogter die geleentheid om te stap gun.

“Wanneer jy dié tipe motivering het, léér jy om goed met jou hande te wees,” sê Derek Boshard terwyl hy na sy 7-jarige dogter, wat op ʼn helder blokkieskombers op die vloer lê, wys. 

Dis nie elke dag wat jy die nuus haal en dít boonop omdat jy iets positiefs gedoen het nie.

Dié nuusmaker het onlangs via ʼn video-insetsel op kykNET se e-Nuus ʼn draai gemaak as gevolg van ʼn unieke loopraam wat hy vir kinders met ʼn fisiese gestremdheid maak.

Nie net is die raam van PVC-pyp ʼn eerste van sy soort in Suid-Afrika nie. Dit is boonop bekostigbaar, vertel die 40-jarige Derek in sy sitkamer in Panorama, Kaapstad.

Om met sy hande te werk was glo nie voorheen op sy prioriteitslys nie.

Derek Boshard en sy 7-jarige dogter Erin. Erin is net na haar eerste verjaarsdag met ʼn rare genetiese afwyking gediagnoseer. Foto: Denshir de Koker

Erin is net na haar eerste verjaarsdag met ʼn rare genetiese afwyking gediagnoseer. Daarom kon sy nie op die ouderdom van een jaar soos ander kinders haar eerste treë gee nie, vertel Derek. In kort het Erin vertraagde verstandelike en fisiese ontwikkeling. Haar intellektuele vermoë word met dié van ʼn 10 maande oue baba vergelyk.

“Toe Erin so twee en ʼn half was het ek gesien sy het ʼn behoefte om mobiel te wees. Ek is baie lief vir bergklim, draf, surf en ek gun dit vir haar om ook te kan beweeg. Ek het begin navorsing doen en besef daar is nie so iets in Suid-Afrika beskikbaar nie. Na baie navorsing het ek uiteindelik die ideale ‘walker’ in Ierland gevind. Maar dit sou ons R69 000 kos! En daar is nie eens ʼn rekenaar in die loopraam nie,” skerts Derek.

Hy vertel verder: “Dit was omtrent slegs metaal. As jy vir jou kind sy eerste fiets koop moet dit darem mooi wees! En kyk, ek is boonop baie prakties. Dis vir my dieselfde met tekkies. Ek gaan nie vir ʼn groeiende kind Nike-tekkies koop nie. Die prys moet sin maak.”

“Toe Erin so twee en ʼn half was het ek gesien sy het ʼn behoefte om mobiel te wees. Ek is baie lief vir bergklim, draf, surf en ek gun dit vir haar om ook te kan beweeg. Ek het begin navorsing doen en besef daar is nie so iets in Suid-Afrika beskikbaar nie,” vertel pa Derek. Foto: Denshir de Koker

Sy vrou, Tracy, wys toe vir hom ʼn basiese PVC-raam op pinterest wat iemand gemaak het vir ʼn gestremde om op die strand te kan staan.

En so besluit Derek hy gaan ook probeer om iets te maak wat Erin kan help om te stap.

“Ek het aanvanklik dun, goedkoop PVC-pyp gebruik. Maar dit is te bros.”

Vandag gebruik hy pyp wat hoë druk kan weerstaan en wat vir besproeiingdoeleindes gebruik word.

Derek het na baie ure in die garage daarin geslaag om ʼn geskikte loopraam vir Erin te maak. Hy rits die vereistes van so ʼn loopraam een vir een af. Dit moet gemaklik, duursaam én ekonomies wees. Dit moet maklik deur ʼn deuropening kan gaan en dit moet boonop uitmekaar kan haal vir vervoerdoeleindes. Dit moet ook 100% veilig vir die gebruiker wees.

Derek het ʼn video van ʼn gelukkige Erin wat self stap op sosiale media gelaai. En skielik begin versoeke vir ʼn “Freedom Walker”, soos hy sy handewerk gedoop het, instroom.

Die tweede Freedom Walker was vir ʼn kollega se gestremde kleinseun.

Die aanvraag na dié bekostigbare looprame is so groot dat Derek vandag al sy tyd na-ure hieraan spandeer. Hy werk steeds bedags by ʼn elektriese ingenieursmaatskappy om die pot aan die kook te hou.

Só lyk die patent in aksie. Skermgreep: Verskaf.

Maar om al my vrye tyd aan Freedom Walkers te spandeer is ook nie regverdig nie, sê Derek. “Na-ure werk ek aan walkers terwyl ek eintlik by my kinders moet wees.

“Oor die jare het mense as vrywilligers probeer om my te help om die walkers te maak. Maar ek moet elke stap oorsien en op die ou end neem dit net so baie van my tyd,” verduidelik Derek.

Dan is daar die feit dat hy sonder twyfel wil hê Freedom Walkers moet bekostigbaar wees. Freedom Walkers word ook spesifiek vir elke individu volgens sy unieke spesifikasies – wat van sy lengte, gewig en meer afhang – gemaak.

“Ek móét ʼn manier vind om dit voltyds te kan doen. Ek wil nie hê daar moet enige gestremde kind in Suid-Afrika wees wat nie die vryheid van loop kan ervaar nie.”

En boonop, sê Derek, voel dit vir hom asof hy nou sy roeping in die lewe gevind het.

“Ek het vir jare ná Erin se diagnose op ʼn klein skaal ʼn bietjie soos Job gevoel … Nou het ek ʼn doel in die lewe gekry wat werklik ʼn verskil kan maak.”

‘Ons lewe was op sy kop gedraai’

Vir die Boshards was dit baie swaar om te hoor dat hulle dogtertjie gestremd is. Veral ook omdat dit ʼn rare sindroom is en daar nie baie inligting daaroor in Suid-Afrika beskikbaar is nie.

“Ons lewe was op sy kop gedraai. Maar as gelowiges het ons vasgeklou aan die dun draadjie wat steeds met God verbind was. Dit was swaar en ons was baie depressief omdat ons bekommerd was oor ons dogtertjie.”

Erin was aanvanklik op die oog af ʼn normale baba.

“Op die ouderdom van ses maande het haar pediater voorgestel sy moet vir verdere toetse gaan omdat haar spiertonus baie laag was. Ons het elke liewe toets onder die son laat doen. Eers na sewe maande het ons toevallig uitgevind wat fout is. Ons neuro-pediater was na ʼn simposium oor genetiese afwykings en het daar van Dup15q-sindroom gehoor.

“Hierna het ons vir ʼn rukkie verlig gevoel want ons het gedink nou wéét ons waarmee ons te doen het. Maar toe begin ons ons weer bekommer oor wát dit werklik is waarmee ons te doen het. Dis ʼn baie ingewikkelde sindroom,” sê Derek.

En, sê Erin se pa, hulle weet nie tot hoe ʼn mate sy ooit sal ontwikkel nie. Of sy ooit sal praat of op haar eie sal loop nie.

Op 7-jarige ouderdom dra Erin steeds doek en word alles vir haar gedoen, verduidelik Sibongile Chimangeni, wat haar reeds die afgelope vier jaar voltyds tuis versorg terwyl haar ouers werk. “Maar sy is nie moeilik om te versorg nie. Sy is regtig so sweet,” sê Sibongile.

“Dis nog ʼn ding – die regering doen baie min vir erg gestremde kinders. Daar is ook nie baie skole vir hulle nie. Hulle is dikwels vasgekluister by die huis,” sê Derek.

En daarom wil hy vir sulke kinders ʼn bietjie vryheid gee, verduidelik Derek.

Derek vertel dinge het effens beter begin gaan nadat hulle ʼn simposium oor Dup15q oorsee kon bywoon. “Dit was wonderlik om met ouers van nog sulke kinders te gesels en meer kennis daaroor te kry.”

Kort hierna het hulle ook uitgevind dat die Boshard-gesin nog ʼn lid ryker gaan word. Hulle was aanvanklik bang om nog kinders te hê, maar na vele toetse het hulle bevind dat dit nie hulle gene was wat Erin se sindroom veroorsaak het nie. Dit was bloot ʼn genetiese vloekskoot, vertel hy.

Vandag het Erin ʼn vyfjarige sussie. “Raine was en is vir ons soos druppels vreugde reguit uit die hemel,” sê Derek.

Derek sê behalwe hulle dogters se geluk is dit vir hom en Tracy baie belangrik om mense wat nie Freedom Walkers kan bekostig nie, te help. “Ek het báie dinge die afgelope paar jaar geleer. Een daarvan is dat mense in ʼn minderbevoorregte omgewing byvoorbeeld nooit R3 800 vir ʼn loopraam sal kan betaal nie. Ook dat daar báie enkelma’s is wat self hulle gestremde kinders grootmaak.”

Daarom het hy en sy vrou, ʼn paar vriende en ʼn paar besighede elkeen onlangs ʼn Freedom walker gefinansier vir ʼn sentrum vir kinders met spesiale behoeftes in die Emfuleni-nedersetting buite Kaapstad.

“Tracy word binnekort 40 en sy het besluit sy gaan R40 000 insamel vir die Freedom Trust, binnekort ʼn Artikel 18A-organisasie. Dié geld is spesifiek vir behoeftige gestremde kinders.”

“Die behoefte is regtig gróót,” sê Derek. Volgens Derek is mense veral opgewonde omdat dit ʼn bekostigbare oplossing is.

“Ek sal graag binnekort wil uitgaan en gestremde kinders met ʼn behoefte aan ʼn Freedom Walker, maar wat minderbevoorreg is, wil identifiseer. Die doel is om dié kinders dan te ‘pas’ by groot organisasies wat bereid is om geld hiervoor te skenk.”

Die behoefte blyk ook verder as die grense van Suid-Afrika te wees. Hy het selfs ʼn vrou van Amerika presiese instruksies gegee om self ʼn PVC-loopraam vir hulle kind te bou want dit sou te duur gewees het om een van sy Freedom Walkers soontoe te stuur.

In die agtergrond hoor jy skielik vir Erin vrolik lag. “Dis heerlik om daardie geluid te hoor,” sê Derek. Sibongile het klaar vir Erin haar middagete gevoer en nou speel hulle op ʼn bank op die stoep.

Derek sê: “Erin is ons CEO. Soos ek die looprame verbeter plaas ek haar daarin en ons loop om die blok. Sy keur die produkte, want jy kan baie vinnig sien of sy tevrede is.”

“Dit voel op ʼn vreemde manier of ons wêreld weer regop gedraai is …”

  •         Tans wissel die pryse van Freedom Walkers tussen R3 800 en R4 500 afhangende van die grootte van die kind.

Raak betrokke: Besoek www.freedomwalkers.co.za of stuur na derek@freedomwalkers.co.za ’n e-pos.

Peiling: Hoe lyk die toekoms van die NG Kerk?

Ons is bemoedig deur terugvoer op laasweek se vraag wat gehandel het oor die eksterne uitdagings wat die NG Kerk moet hanteer.

Met die aanloop tot die Algemene Sinode van 6 tot 11 Oktober vanjaar wil ons graag jou stem hoor oor sake wat by die vergadering bespreek gaan word.

Hierdie week se vraag gaan oor uitdagings wat van binne die kerk self kom. Wat is die grootste interne uitdagings wat die kerk moet hanteer? Dink aan uitdagings wat gemeentes raak soos veroudering, finansies of relevante prediking. Op breë kerklike vlak is moontlike uitdagings die verskillende teologiese strome in die Kerk en hoe ons die Bybel verstaan, hofsake tussen lidmate en die sinode of die publieke beeld van die kerk.

Neem gerus deel by die peiling of kommentaarafdeling hieronder en hou kerkbode.co.za dop vir die volgende vrae wat ook hier gepubliseer sal word.

‘Ons onthou prof Jannie vir sy nederigheid, opregtheid’

Die hartseer nuus oor prof Jannie du Preez se heengaan bring ook baie en mooi herinneringe.

Jannie is op 16 Augustus 1927 in die Suid-Kaap gebore – sy gedenkdiens en begrafnis vind dus op sy 92ste verjaarsdag plaas.

Na sy legitimasie op Stellenbosch in 1951 word hy na die Transkeisending beroep en in 1952  op Umtata  in ’n drieledige pos bevestig: Leraar van die Ned Geref Kerk in Afrika gemeente Decoligny, leraar van die NG Sendingkerk werkkring Umtata, dosent by die Evangelisteskool, Decoligny, net buite Umtata.

In 1954 word hy bevorder tot hoof van die Evangelisteskool. Later word hy professor en rektor van die opgegradeerde Teologiese Skool, ’n posisie wat hy beklee tot met sy aanstelling in 1975 as senior lektor en sedert 1982 as professor aan die teologiese fakulteit op Stellenbosch, ’n pos wat hy tot met sy aftrede einde 1992 beklee.

In die Transkei het hy ’n aanvallige sendingwerkster, Tinka (Hendrika) Burger ontmoet en spoedig lui die huweliksklokkies. Vier kinders word uit die huwelik gebore: Henriëtte, Lettie, Gert en Roelien.

Ons pad saam kom ook van ver af. Toe ek nog op die Kweekskool student was (1961-1964) en daarna tot 1967 was  hy en my pa saam dosente by die Decoligny Teologiese Skool. Daar het ek hulle as gesin al goed leer ken en ook meermale daarna weer gesien. Vanaf 1983 tot 1992 was ons weer saam op Stellenbosch by die teologiese fakulteit. Na sy emeritaat  het hy van tyd tot tyd nog weer uitgehelp met aflosklasse.

Hulle verhuis mettertyd na die Strand en woon die laaste paar jaar in Serenitas waar Tinka hom ontval. Maar hy bly steeds besig met skryfwerk en publiseer in hierdie tyd vier kosbare boeke. By die CLF verskyn Bring my die ou-ou tyding; Sout en peper (grepe uit sy herinneringe); Dit vloei voortdurend voort (verdere herinneringe); en sopas by Barnabas Uitgewers: Die Bybel – onskatbare skatboek.

Prof Jannie sal onthou word vir sy nederigheid en opregtheid, sy passie vir die Woord en veral vir die Openbaringboek (sy proefskrif het gehandel oor sendingperspektiewe in Openbaring). As uitdrukkking van gelowiges se getuienistaak en op sy inisiatief het ons byvoorbeeld by geleentheid vir maande lank weekliks ’n gesprek gevoer met ’n imam uit Stellenbosch. Daar is saam gebid, saam gesels oor ons onderskeie geloofsbeskouinge en uiteindelik saam ’n boek opgestel waarin twee denkbeeldige vriende, ’n Moesliem en ’n Christen oor en weer met mekaar korrespondeer en uitvra en deel oor wat hulle glo.

 Ons eer prof Jannie se nagedagtenis.

  • Prof Jannie du Preez se gedenkdiens is Vrydag 16 Aug 2019 om 09:30 by Serenitas aftree-oord, Strand.

Op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

Ek kom pas terug van my voorganger by die Universiteit van Pretoria (UP), prof Flip van der Watt, die bekende kerkhistorikus, kerkleier en gelowige (10/8/1937-8/8/2019) se dankdiens na sy skielike afsterwe verlede week. Hy was ’n mens wat diep spore op baie plekke getrap het: in die kerk, teologie en in die samelewing. Hy was natuurlik ook ’n gewilde dosent by beide die UP en die Universiteit van Stellenbosch (US)  wat ’n besondere liefde vir die kerkgeskiedenis by sy studente wakker gemaak het.

Twee indrukke tydens en na die diens sal my lank bybly. Aan die een kant die soberheid van die dankdiens waarin primêr verwys is na Van der Watt wat telkens na ons Gereformeerde tradisie verwys het en diep bewus was van God se groot genade in ons almal se lewe – in lewe en in sterwe. Aan die ander kant ten tye van die verversings sê prof Flip Smit (een van die prominente voormalige rektore aan die UP) aan André Bartlett en aan my in ’n terloopse ligte opmerking waarin daar dalk nogal heelwat waarheid steek: “Miskien moes die komende Algemene Sinode se eerste deel eerder by Dwaalboom in Limpopo plaasgevind het. En die tweede deel by die ander Limpopo-dorp, Soekmekaar!”

Ek as ’n oud teologie-dosent (wat hoegenaamd nie ’n fundamentalis is nie) wat 35 jaar se ervaring by Unisa, UP, en die Universiteit van die Vrystaat (UV) en in die buiteland het, voel deurgaans sterk oor voortgaande vernuwing. Ek is egter iemand, soos prof Flip van der Watt, met groot ontsag vir God en sy Woord. Ek beweer dat daar miskien dwarsdeur ons geskiedenis – maar nou ook weer – genoeg rede is vir ’n omvattende kerklike en teologiese selfondersoek deur die NGK mbt sy teologiese opleiding.

Ek persoonlik bly deurentyd oop vir vernuwing in teologiese insigte en die bevordering van die teologiese wetenskap. Soos ook maar verder terug in die verlede het daar ook onlangs en veral sedert die 1990’s bepaalde vreemde en hier en daar selfs vrysinnige klanke hoorbaar begin word binne die teologiese fakulteite: Dit behels kwessies soos twyfel oor Skrifgesag, die ontkenning van bepaalde Bybelse waarhede en soms ook die Ou en Nuwe Testament-lyne, twyfel oor Christus se verheerlikte maar historiese opstanding, en die oordrywing van die selfdegeslag-debatte. Dis my oortuiging dat waar die gesag asook ’n nie-verantwoorde interpretasie van die Bybel in die NGK in gedrang kom, ’n deeglike selfondersoek ingestel moet word voor dit soos ook in die verlede soms te laat is.

Die onlangse geskiedenis waarmee beide ek en prof Flip besig was, het jammer genoeg drie dinge bewys naamlik eerstens dat NGK-lidmate tans erg verward is en al meer verdwyn uit die NG Kerk, soms ook agv verwarring wat deur kerklike teoloë en kerkleiers gesaai word. Tweedens dat die NGK-opleidings dit soms moeilik vind om gebalanseerd binne ’n gesonde ekumeniese verband ook kerkspesifieke behoeftes aan te spreek. Dit wil soms van buite gesien lyk of die belydenisskrifte van die kerk as deel van ’n mode-verskynsel, nie meer orals van wesenlike belang in teologiese opleiding is nie. Die vraag moet inderdaad gevra word hoeveel van ons dosente nog hul legitimasie-eed waarin hulle die Bybel en die belydenisskrifte as basis aanvaar, kan of wil honoreer. En watter weg word afgestudeerde jong predikante gewys as dit die oortuiging van heelwat van hul dosente is, want die ou spreuk bly maar waar: “dat wiens brood men eet, wiens woord men spreek”. Derdens dat sommige kuratoria (kerklike toesigliggame) van fakulteite moontlik bang of geïnhibeerd begin raak het om sommige teologiese dosente in liefde maar met erns oor hul teologiese beskouinge en moontlike eensydighede aan te spreek.

Dis my oortuiging dat die NGK en veral sy Algemene Sinodale Moderamen ook nou weer spoedeisend selfondersoek na hierdie verskynsels moet instel en by die eerskomende Algemene Sinode in Oktober reeds dringend verslag daaroor moet doen. Hierdie proses moet dus pro-aktief aangepak word, in plaas van om een van die skynbaar byna 200 beswaarskrifte te wees wat by die komende sinode ingedien gaan word. Die groot vraag sal dus juis ook in erkenning aan prof Flip van der Watt se nagedagtenis gevra moet word: Waar staan ons mbt die diepgrypende goddelike genade-boodskap van die Bybel en die Reformasie, en waar bevind ons onsself op die pad tussen Dwaalboom en Soekmekaar?

  • Prof JW (Hoffie) Hofmeyr, emeritus-professor aan die UP en die Evangeliese Teologiese Fakulteit (Leuven, België).

Landbouers het nou beskerming nodig

Ek was bevoorreg om die afgelope aantal weke in verskillende gebiede in ons land besoek te bring en was telkens onder die indruk van die  buitengewone boerderypraktyke in elke streek van ons land. Die wyse waarop die winste van die natuurwetenskappe ingespan word om elke plaas te optimaliseer as ’n produksie- en winseenheid is merkwaardig. Die noukeurigheid en netheid daarvan is indrukwekkend.

Suid-Afrika is immers ’n land met diverse landbouomstandighede. Elke area bied sy eie uitdagings en nie twee plase is identies nie. Elke landbouer moet dus sy of haar unieke geleenthede en uitdagings ken en benut om die beste resultate te behaal. In die Noord-Kaap kon ek sien hoe boere in die moeilikste omstandighede steeds goeie weiveldbestuur toepas en hulle diere op individuele basis monitor. In Kwazulu-Natal het ek die mooiste en besbestuurde Nguni-kuddes gesien wat met die mees verfynde voedingsmetodes en inentings- en teelprogramme geoptimaliseer word. Op ander plekke het ek gesien hoe daar in die sagtevrugtebedryf met die buitengewone noukeurigheid na bome omgesien word met klimaat- en grondspesifieke besproeiingsmetodes en die bestuur van die plante se blootstelling aan die son en ander elemente. As ’n mens hierby in ag neem dat landbouers ook kenners moet wees van verpakking, vervoer, bemarking, menslike hulpbronne bestuur, finansiële bestuur en oor talle ander vaardighede moet beskik om sukses te behaal, is dit duidelik dat nie enigeen sommer net kan boer nie. Daar is immers oneindig baie op die spel. Dit gaan in die eerste plek oor 55 miljoen mense wat gesond moet kan eet. Dit gaan ook oor die verdienste aan buitelandse valuta en ’n gesonde handelsbalans. Dit gaan ook in ons land oor werkverskaffing, ’n kwessie waaroor ons bykans nie genoeg woorde het om die belangrikheid daarvan vir almal te beskryf nie.

Die regering doen nie genoeg om die boere van hierdie land te beskerm nie.   Plaasaanvalle en -moorde hou ’n reuse-bedreiging in vir die voortsetting van ons lanboubedrywe. Moord is ’n verskynsel wat alle mense en gemeenskappe in Suid-Afrika raak en bedreig. Boere en hulle werknemers is egter ’n sagte teiken vanweë die die feit dat hulle plase en wonings afgeleë is. Dit help nie om te sê dat die moordsyfer bv op die Kaapse Vlakte ook hoog is nie en dat die boere nie op voorkeurbehandeling kan aanspraak maak nie. Landbougemeenskappe moet deur die staat optimaal beveilig word soos wat die landbouomgewing dit vereis. Die Kaapse Vlakte en ander residensiële gebiede vereis weer ʼn ander soort beveiligingsmetodes wat ook 100 keer meer effektief geïmplimenteer moet word. Die veiligheid van ons landbougemeenskappe is ’n plig wat die staat nie op die oomblik effektief nakom nie. Wat dit egter erger maak, is die swye van politieke leiers oor die aangeleentheid. Elke politieke leier in Suid-Afrika behoort in hierdie dae by elke geskikte geleentheid hulle volgelinge op te roep tot die beskerming van die mense van hierdie land, en behoort alles in hulle vermoë te doen om aan hulle ondersteunende uitsprake gevolg te gee. Al die kwesbares behoort genoem te word en vir almal behoort daar beter planne te wees as wat tans in werking is. Die landbougemeenskap hoort saam met ons vroue en kinders op die lys van mees kwesbare mense. Spesiale eenhede vir spesialis-beveiligingswerk kan nie langer soos ’n politieke speelbal hanteer word nie. Natuurlik is dit so dat landelike polisiëring besondere uitdagings aan die staat stel. Die antwoord lê waarskynlik, soos met soveel ander aspekte van die lewe in ’n gesonde staat, in die samewerking tussen die burgerlike samelewing en die staat met sy groter operasionele en strategiese vermoë. Die regering en staatsdiens se koppige onwil om saam met die burgerlike samelewing te dink en werk, haal ons nou op talle gebiede in.

Voeg by die gewelddadige moorde op ons plase, die onwettige grondbesettings van die afgelope tyd, die onsekerheid oor grondhervorming, die droogtes en klimaatsverandering, die gebrek aan beskerming en ondersteuning van landbouprodukte in kompeterende internasionale markte, en die druk op ons landbougemeenskappe raak bykans ondraaglik.

Terloops, die NG Kerk en ekself, is en was nog altyd gekant teen die onteiening van grond sonder vergoeding en teen die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet.  Ons het hieroor ’n omvattende en deeglike voorlegging aan die toepaslike parlementêre komitee gedoen. Grondeienaarskap is ’n emosionele saak. Meer grond moet vir residensiële ontwikkeling beskikbaar gestel word. Die oordra van titelaktes aan bewoners van “staatshuise” moet versnel word. Die 4000 plase wat reeds deur die staat gekoop is met die oog op grondhervorming moet beter benut word en oorgedra word aan eienaars. Grondhervorming moet egter gemeenskapsgebaseerd aangepak word. NG Kerk lidmate wat boer, en talle ander boere in bykans elke streek van ons land, het hulleself al oor en oor bereid verklaar om opkomende boere te help en nuwe boere op landbougrond te help vestig. Trouens, daar is talle en talle voorbeeld waar ons lidmate suksesvol en volhoubaar gehelp het om swart boere te vestig en ondersteun. Maar solank die staat sentristies met grondhervorming handel, sal hy bly sukkel om sukses te behaal en sal die politieke dromme van rassevooroordeel, verdeeldheid en agterdog al wees wat oorbly om geslaan te word.

Uit talle gesprekke met landbouers en landbou-organisasies weet ons wat landbouers se gesindheid is. Duisende landbouers in Suid-Afrika is ook toegewyde lidmate van ons kerk. Ons landbouers is geestelike en emosionele sterk mense. Anders sou hulle nie in die uitdagende omstandighede oorleef nie. Hulle is ook intelligente mense met ondernemingsgees wat verder dink as eie belang. Hulle kan en wil ’n bydrae maak tot die sukses van ons land. Maar hulle het nou beskerming nodig, polities, ekonomies, persoonlik op die gebied van veiligheid. Hulle het nou ons geestelike ondersteuning nodig. In gemeenskap na gemeenskap kom landbougemeenskappe byeen by die begrafnisse van mede-landbouers wat vermoor is. Dit raak en vat diep. Ons gemeentes en gemeenskappe word intens daardeur geraak. Kom ons ondersteun ons landbougemeenskappe geestelik. Maar kom ons plaas ook saam druk op ons leiers om op te staan en aksie te neem om nou ons landbouers se hande te vat. Hulle is vriende van die staat en die land, nie teenstanders nie.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

Dominee oor Comrades: ‘Dis ’n geestelike reis’

Die uitdaging is wêreldberoemd: Atlete spring om 5:30 in Durban weg en het dan 11 uur 59 minute en 59 sekondes om sowat 90 km tot in Pietermaritzburg te hardloop.

En nou het ’n groep gelowiges in Kaapstad hul laaste stukkie voorbereiding vir die Comrades-padwedloop ingesit nie met ’n ligte drafsessie nie, maar met ’n koffie, ’n koeksister en ’n stewige skeut lof en aanbidding.

“Daar was meer as 100 atlete. Saam met die families en ons eie lidmate was daar 300 mense in die kerk,” het ds Theo Swart van NG gemeente Parowvallei-Oos oor die “Comrades-erediens” wat op 2 Junie gehou is, gesê.

Hierdie diens het al ’n instelling in voorstedelike Kaapstad geword. Dit word jaarliks gehou op die naweek voor die Comrades wat vanjaar weer derduisende deelnemers en ondersteuners na KwaZulu-Natal sal lok voor die wegspringgeweer op Sondag 9 Junie klap.

“Ek het gepreek uit Psalm 121 en die 5 groot bulte wat op die Comrades roete is gebruik as voorbeelde van hoe die Here elke tree van die pad met ons is. Ons moet die bulte kruis (“Cross Training” is hiervoor nodig) en ons hoef nie op te kyk na die bulte nie, maar na die Here wat ook die bulte gemaak het. Ek het veral aandag gegee aan Polly Shortts – die laaste en ergste bult so 8 km van die einde af en gesê dat die Here juis beloof dat Hy elke tree, van die wegspring tot die einde, ons Bewaarder sal wees. Dit geld nie net vir die Comrades nie, maar ook vir die ‘bulte’ in ons lewe,” het Swart oor sy boodskap gesê.

Atlete daag gewoonlik in hulle spesiale Comrades-T-hemde op by hierdie geleentheid waar koffie en Parowvallei-Oos se dames se beroemde koeksisters geniet word, het die leraar gesê. Hy het benadruk dat die gemeente inklusief is. “Alle eredienste en veral dan ook die Comrades-diens, is tweetalig sodat almal dit gemaklik verstaan,” aldus Swart, wat ook self die Comrades 27 keer voltooi het en steeds gereeld aan wedlope deelneem. “Elke atleet weet dat hardloop en veral ’n ultramarathon van 90 km ’n groot uitdaging is. Ons weet dat dit ’n geestelike reis ook is wat ’n mens net aanpak met die beste moontlike voorbereiding en ondersteuning. Die atlete het almal ingestem dat die Here in hierdie geestelike ervaring onontbeerlik is. Ek hardloop nog so vyf keer per week en dit bly vir my die manier om my kop skoon en my voete op die grond te hou – letterlik en figuurlik.”

Moreleta oor drie opsies

“Ons gee erkenning daaraan dat die NG Kerk oor baie dekades heen ’n groot rol gespeel het in die vestiging en uitbou van die Christelike geloof in die land. Daar is egter tans tendense en besluite in die NG Kerk tov van Skrifgesag en -interpretasie wat vir ons kommerwekkend is, en ons laat besin oor die rol en posisie van MPG binne die NG Kerkverband.”

Só lui ’n uittreksel uit die jongste verklaring wat Moreletapark Gemeente in Pretoria teen einde Mei op sy webwerf publiseer het. ’n Kerkraadvergadering vind nou op 13 Junie plaas ná ’n aantal ontmoetings met kerkleiers – ook op streeksinodale vlak – reeds gehou is. Kerkbode publiseer hier ’n uittreksel uit die verklaring soos die makrogemeente van die opsies vir die pad vorentoe aan hul webgebruikers verduidelik:

“Die Kerkregdiensgroep het MPG adviseer dat hierdie aangeleentheid binne die kerkverband op die volgende drie moontlike maniere hanteer moet word:

  1. Die eerste is om uit die NG Kerk te tree. Kerkordelik kan ’n gemeente dit egter nie as gemeente doen nie. Die Leraars sal moet bedank uit die NG Kerk waarna ’n nuwe onafhanklike gemeente gestig sal moet word met die lidmate wat ook dieselfde proses volg. In dié geval is die leraars se bevoegdheid, MPG se geboue en die bankrekening in gedrang. Laasgenoemde twee bly binne die NG Kerk terwyl die leraars hulle bevoegdheid binne die NG Kerkverband verloor en nie verder binne die NG Kerk aansoek kan doen vir ander poste nie.
  2. Die tweede is waar ons as gemeente doleer. Dit beteken dat MPG binne die NG Kerk bly, maar in ’n staat van treur gaan oor wat in die NG Kerk aan die gebeur is en daarmee ’n dispuut verklaar. Formele gesprekke word aan die gang gesit waarin ons die sake wat ons bekommer, aanspreek. Die NG Kerk moet dan aandui of hulle daaraan aandag gaan gee of nie. Die besluit of ons uit die NG Kerk tree kan dan later geneem word. In dié geval kan ander gemeentes, wat met ons saamstem, by ons aansluit en saam met ons doleer.
  3. Derdens kan ’n buitengewone Oostelike Sinode Sitting geroep word waartydens slegs hierdie een saak in camera hanteer word. Al die gemeentes in die Oostelike Sinode se verteenwoordigers word dan uitgenooi om die Sitting by te woon. In dié geval kan die Oostelike Sinode een van drie besluite neem nl:
    1. Hulle hoor MPG maar stem nie saam nie en gaan aan soos wat hulle tans doen. MPG gaan dan voort om onafhanklik van die ander gemeentes binne die sinode ’n besluit te neem oor die gemeente se toekoms.
    2. Die Oostelike Sinode kan besluit om te doleer. Hierdie situasie sal meer gewig dra in verdere gesprekke as wanneer net een gemeente doleer.
    3. Die Oostelike Sinode kan besluit om uit die NG Kerk te bedank en die hele Oostelike Sinode en die gemeentes onder hulle skuif dan uit die NG Kerkverband uit. In die laaste twee gevalle kan die gemeentes wat nie met die Oostelike Sinode saamstem nie, by ander Sinodes aansluit, indien hulle sou verkies, aangesien die hele proses op ’n meerderheidstem-basis werk. Hierdie proses kan lank neem en is ons onseker teen wanneer dit afgehandel sou kon wees. Ons gaan egter nie afsien van ons bekommernisse nie en die pad stap om by ’n oplossing te kom, wat uiteindelik sou kon beteken dat ons die NG Kerkverband verlaat.”

Hier volg die volledige verklaring.

Bybelvertalers meen dié teks dalk te ‘onverbiddelik’

In die hersiening van die Nederlandse Bybelvertaling – waaraan tans gewerk word – kan die tweede van die Tien Gebooie anders geformuleer word.

Die tweede gebod verbied die aanbidding van afgodsbeelde. Daarop volg dít (Eks 20:5) in die Nederlandse Bybelvertaling: “Voor de schuld van de ouders laat ik de kinderen boeten, en ook het derde geslacht en het vierde, wanneer ze mij haten …”

In die Afrikaanse vertaling (1983) staan: “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde verslag van dié wat My haat …”

Dr Matthijs de Jong, hoof van die afdeling Vertaalwerk aan die Nederlandse Bybelgenootskap (NBG), wil egter dié vertaling wysig.

In die huidige vertaling staan dat die nageslag gestraf word vir die sondes van hulle ouers. In ’n onderhoud met die oggendblad De Volkskrant sê De Jong baie mense het beswaar teen dié idee. “Hulle het moeite met die onverbiddelikheid wat daarin verwoord word, en hulle vra hulleself af of die Hebreeus geen ruimte bied vir ’n minder streng vertaling nie.”

Luidens die berig in De Volkskrant het ’n kollega van De Jong, dr Jaap van Dorp, Ou-Testamentikus in diens van die NBG, pas ’n artikel in die vaktydskrif Met Andere Woorden daaroor geskryf. Hy behandel veral die uiteenlopende maniere waarop die Hebreeuse woord pakad vertaal kan word.

Sy voorstel is om die Nederlandse “te laten boeten” te vervang met “ter verantwoording roepen”. Luidens die koerantberig was dit nie die bedoeling om de “God der Wrake” uit die Bybel te skryf nie, want die God van die Ou Testament wás nou eenmaal streng. Dié strengheid word in die ou geskrifte weerspieël.

Van Dorp sê in die Hebreeuse bronteks het die vertalers ’n “agterdeurtjie” gevind na ’n sagter vertaling: “Die gedagtegang is dat God die nageslag op die matjie roep vir die foute van die ouers. Maar straf is daarby nie die eerste middel waarna God gryp nie, maar die uiterste. Daar is altyd die moontlikheid tot inkeer waardeur die verbondsverhouding tussen God en mens herstel kan word. Daarom is ‘ter verantwoording roep’ ’n goeie alternatief.”

’n Woordvoerder van die NBG, Peter Siebe, meen die kwessie is aktueel: “Of dit nou gaan om die repatriëring van Islamitiese-Staat-kinders, om ons omgang met slawerny of die dekolonisasieoorlog in Indonesië, die huidige geslag dra die gevolge van wat die ouers verkeerd gedoen het. Dit wys hoe aktueel die diskussie oor dié Bybelvers eintlik is.”

Hemelvaart: Randfonteiners hou gemeenskapsviering

Gelowiges van Randfontein gaan Hemelvaart as ʼn gemeenskap tydens ʼn ekumeniese diens vier.

“Dit beteken baie vir die eenheid van ons dorp,” vertel ds Henning Rademeyer, leraar van die gasheergemeente.

“Ons verwag so 400 mense by NG Randfontein-Noord,” het Rademeyer voor die diens, wat op 30 Mei om 19:00 plaasvind, gesê.

Die tema vir vanjaar se “Hemelvaart-gemeenskapsviering” is “Die Koning wat opgevaar het”.

Volgens Rademeyer behoort verskeie kerke van verskillende denominasies in Randfontein aan die Ekumeniese Leierskring. Dié gemeentes werk dan jaarliks saam om gesamentlike dienste te hou en vanjaar was Hemelvaart weer op hulle kalender.

“Ons stel byvoorbeeld ʼn band uit al die gemeentes saam wat saam oefen en vanaand die praise and worship gaan lei. Ek het met dié lede gesien hoe baie dit vir hulle beteken om weer te beleef hoe ons een liggaam van Christus is,” het Rademeyer gesê.

Rademeyer het ook saam met ds Brett Smitsdorff van die Randfontein Baptist Church ʼn preek rondom 1 Petrus 3: 18-22 gemaak. “Brett gaan die Engelse gedeelte hanteer en ek gaan dele van die preek in Afrikaans doen,” aldus Rademeyer.

Behalwe vir lof en aanbidding en die tweetalige preek sal daar ook ʼn afsonderlike jeug- en kinderprogram aangebied word, het ds Edwin van Wyk van NG gemeente Randpoort, wat in 2018 die gasheergemeente was, gesê.

‘God roep my’

Julius van der Wat is ʼn kerkraadslid, sportman, kunstenaar en werk by ʼn naskoolsentrum. Hy is ook serebraal gestrem.


Julius van der Wat se storie begin toe hy en sy tweelingbroer, Koos, 41 jaar gelede op 11 Junie twee maande te vroeg gebore is. Weens ’n suurstoftekort het Julius breinskade opgedoen wat serebrale gestremdheid veroorsaak het.

“Gelukkig is my breinskade beperk tot die dele in my brein wat die spiere beheer. Daar is niks met my intellek verkeerd nie.” Julius sê dit nie sonder rede nie. “Dis ’n algemene aanname van die samelewing. As hulle iemand in ’n rolstoel sien wat so erg gestrem is soos ek, neem hulle outomaties aan jy is ook intellektueel gestrem.”

Ds Rudi Swanepoel (links aan tafel op die foto hierbo), leraar van die NG gemeente Andrew Murray, sê hy het ontsettend baie by Julius geleer. “Meestal oor vooroordeel: nie net teenoor gestremdes nie, maar ook van enige groep teen­oor ’n ander groep. Julius het my ook geleer om direk met ‘n gestremde mens te kommunikeer en dat jy nie skaam of bang hoef te wees om te vra wat die aard van iemand se situasie is nie.” Foto: Herman Verwey

Koos, vertel hy, is “sogenaamd normaal”. Sogenaamd, want Julius hou nie van die woord “normaal” nie. “Jy kan tien mense vra wat dit beteken en dan gaan jy tien verskillende antwoorde kry. Vir my is jou huidige omstandighede normaal.”

Vir Julius is dit normaal om ’n permanente assistent te hê wat hom bystaan met take wat die meeste mense uitvoer sonder om eens daaraan te dink. Hy skilder op sy rekenaar met ’n pen wat aan ’n helm op sy kop gemonteer is. Hy het sy skoolloopbaan in spesiale skole voltooi en reeds in gr. 2 vir die eerste keer op ’n rekenaar gewerk. Julius sê hy weet van kleins af hy is anders, maar hy verkies om sélf sy andersheid te defi­nieer. Sy lewensleuse is: “I have cerebral palsy. Cerebral palsy does not have me.”

Hy het grootgeword in die NG Kerk en het die Here in sy tienerjare baie be­vraagteken, tot een aand in die koshuis toe hy in sy bed gelê en ’n duidelike stem gehoor het. “Mense kan maar van my verskil, maar ek glo dit was die Here se stem,” sê hy. Die boodskap? “Hoekom bevraagteken jy my so baie? Ek het ’n doel met jou soos jy is in die rolstoel. Wanneer dié doel gedien is gaan ek jou opvat na die hemel en jy gaan loop.”

In Maart vanjaar is Julius van der Wat, hierbo met sy assistent Jafta Morudu, as ouderling in die kerkraad van die NG gemeente Andrew Murray in Johannesburg bevestig. “Ek dink dis tyd dat die ander gemeentes en die kerk mense met gestremdhede omarm en intrek,” sê Julius. Foto: Herman Verwey

Van daardie oomblik af het Julius totale berusting gehad. Dit beteken nie sy dae is maklik nie. Party dae is veral swaar­der, maar Julius sê hy is gelukkig om ’n goeie ondersteunersnetwerk te hê.

Die feit dat hy berusting het oor sy ge­stremdheid is juis een van die kern­aspek­te van gestremdes se ervaring van die kerk wat ’n mens herhaaldelik teë­kom. Want ánder gelowiges het nie noodwendig dieselfde berusting nie … Inteendeel, die dringendheid waarmee sommige mense gestremdes beter wil bid is een van die groot redes waarom soveel gestremdes vervreemd raak van die kerk en van geloof.

Julius sê hy is al deur twee sulke “geloofsbeproewings”. Hy is telkens genooi vir Bybelstudie. Een keer is daar vir hom gebid en hy is hande opgelê. “Onder gebed is die bande wat my vas­hou losgemaak en ek is gesê ek moet opstaan …” Toe hy nie kon nie, moes Julius hoor sy geloof is te min. Nie stérk genoeg nie. By ’n ander geleentheid is daar vir hom gesê dis nié die Here se wil dat hy in ’n rolstoel is nie en dat hy sal loop as hy net “hard genoeg en met genoeg oortuiging bid”.

“Andrew Murray (gemeente) maak nie onderskeid tussen mense nie,” sê Julius. “Dit het regtig vir my ’n tuiste geword … Ek staan op dieselfde voete as ander lidmate, ek gebruik net wiele.” Foto: Herman Verwey

Die ervarings het sy geloof en die vaste wete dat die Here ’n dóél het met hom net versterk, sê Julius. “Ek glo Hy gebruik my oor en oor.”

Julius sê hy glo alle vorme van geloof moet gerespekteer word. “Die probleem kom in wanneer mense hul geloof op my wil afdwing en sê my manier van glo is verkeerd.”

Hy weet van ander gestremdes wat heeltemal van die kerk weggedryf het weens kerkmense se knaende behoefte om hul gestremdheid weg te bid. Dit is wat gebeur wanneer gestremdes nie déél word van godsdiensoefening nie, maar as ’t ware ’n objek daarvan.

Na Julius op ses maande met serebrale gestremdheid gediagnoseer is, was die dokter se raad aan sy ouers om hom in ’n tehuis te plaas, van hom te vergeet en aan te gaan met hul lewe. “Deur die Here se genade het hulle nie geluister nie. Met baie liefde en deur moeilike tye sit ek vandag hier.”

Sy verhaal was die inspirasie vir ’n kinderboek. Sy ervaring as toeskouer van die 2010 Sokkerwêreldbeker is in ’n gedenkboek opgeneem. Hy is ’n Loslit­dag-ambassadeur. Hy het onlangs by die nasionale boccia-kampioenskap (’n balsport vir gestremdes) ’n bronsme­dal­je gewen. Saam met ’n vriendin bedryf hy ’n webwerf oor serebrale gestremdheid. En in Maart is hy as ouderling in die kerk­raad van die NG gemeente Andrew Murray in Johan­nesburg bevestig – die eerste serebrale gestremde kerk­raadslid in dié gemeente se bestaan van 53 jaar.

“Ek dink dis tyd dat ander gemeentes en die kerk mense met gestremdhede, ongeag fisiek of intellektueel, moet omarm en intrek in die gemeente en hulle moet gebruik. Ons is almal hier met ’n doel,” sê hy.

“Mense staar,” sê Julius. “Dan staar ek gewoonlik terug!” Foto: Herman Verwey

Want gestremdes word steeds gemarginaliseer. Soms so onsigbaar, dat mense jou ignoreer. Ander kere weer só sigbaar … “Mense staar,” sê Julius. “Dan staar ek gewoonlik terug!” Hy besef dis omdat mense nie weet hóé om op te tree nie. “Maar hulle kan net kom vra. Hulle moet heel eerste probeer om ’n gesprek met ons aan te knoop. Dit frustreer my eindeloos as ek na ’n restaurant toe gaan en die kelner vra my assistent wat ek wil eet. Ek kan dit nie verstaan nie. Maar dis omdat mense nie kennis het nie.”

Kennis, sê hy, is mag. “As jy wéét kan jy berge versit.”

Net so met bouprojekte, waar daar soms ’n oprit gebou word vir toeganklikheid, maar dan is dit so steil dat dit in elk geval ’n gesukkel afgee. “Hulle moet net vooraf met ons praat,” sê hy.

Andrew Murray se kerkgebou het nie 18 jaar gelede ’n oprit gehad nie. Toe vra Julius – vir homself, maar ook vir ma’s met stootwaentjies en vir bejaardes. Selfs die pastorie, wat voorheen as ’n sentrum gebruik is, het ’n oprit.

Erna Möller is al 32 jaar ’n maatskaplike werker by die Sending aan die Melaatse. Dié organisasie het sewe jaar gelede begin met RampUp, ’n projek wat fokus op mense wat meestal uit die samelewing gesluit word. Möller is RampUp se projekkoördineerder en het vir haar mees­tersgraad navorsing gedoen oor die erva­ring van gestremdes in geloofs­ge­meenskappe. Möller sê baie gestremdes word nié ingesluit by kerke nie, omdat die kerklike lewe vir hulle ontoeganklik is. “Hulle word as ‘anders’ beskou en dikwels nie ingesluit in aktiwiteite of gekies as kerkleiers nie. Hul geestelike gawes word dus nie aangewend nie. Daar word aannames gemaak dat hulle nie in staat is om enigiets te doen nie. Die kerklike gemeenskap verstaan dikwels nie genoeg van die leefwêreld van mense met gestremdhede nie.” Boonop word gestremdhede in sommige kerklike kringe geassosieeer met “straf op sonde”, verduidelik Möller. Haar raad aan gemeentes wat gestremdes tuis wil laat voel, is eenvoudig. “Vra hoe hulle wil deelneem en maak dit moontlik deur toeganklikheid van aktiwiteite en geboue.” Besoek www.rampup.co.za vir nóg praktiese wenke. Foto: Herman Verwey

“Andrew Murray maak nie onderskeid tussen mense nie,” sê Julius. “Dit het regtig vir my ’n tuiste geword  … Ek staan op dieselfde voete as ander lidmate, ek gebruik net wiele.”

Hy sê die leraar, ds Rudi Swanepoel, verwys gereeld daarna dat hulle ’n ge­méénskap is en nie ’n blote gemeente nie.

Julius staan ook sy plek in die res van die gemeenskap vol, met die hulp van sy assistent, Jafta Morudu. Hy beskryf ge­stremdes se persoonlike assistente as “engele, direk van die Here af” en sê Jafta is sy skaduwee. “Sonder hom kan ek nie. Ons is soos broers.”

Julius beskryf ge­stremdes se persoonlike assistente as “engele, direk van die Here af” en sê Jafta is sy skaduwee. “Sonder hom kan ek nie. Ons is soos broers.” Foto: Herman Verwey

Sedert 2002 werk hy smiddae by Helpmekaar Kollege in Johannesburg waar hy leerlinge by die naskool in die rekenaarsentrum met skoolwerk help. Hy sê die gr 8’s is eers maar skrikkerig, maar teen die derde week word hy soos enige onderwyser behandel. Hy glo die kinders het ’n voordeel omdat hulle bloot­gestel word aan ’n gestremde. Sodat hulle nie eendag as volwassenes sal staar óf maak of jy onsigbaar is nie.

Sy raad vir kerke om gestremdes tuis te laat voel, is om nié aannames te maak nie. Om nié gestremdes te gebruik vir eie gewin of roem nie. Om gestremdes nie te dwing om betrokke te raak nie.

“Praat net met ons.”

En in daardie interaksie met Julius van der Wat sal jy ’n kykie kry in die lewe van iemand wat ’n vér pad gekom het. “Nie ondanks serebrale gestremdheid nie,” keer hy. “Mét serebrale gestremdheid.”

Redelinghuys: Rampfonds vir kerk gestig

ʼn Paar stoele, ’n staalkabinet en ʼn stapel dokumente.

Dit is al wat gered kon word nadat die NG gemeente in Redelinghuys se kerkgebou op 9 April in puin gelê is.

“’n Brand het vroegoggend in die toring van die kerk uitgebreek, waarna die dak ingeval en die hele gebou afgebrand het,” sê ds Nioma Venter, predikant in sinodale diens vir Diaconia – die diensgroep vir barmhartigheid in die Wes-Kaap.

Lidmate en lede van die gemeenskap het gered wat hulle kon tot die brandweer op die toneel opgedaag het.

Volgens Venter is die gemeenskap verslae. “Ons dink aan hulle en bid vir hulle. Die gemeente het nie tans ’n leraar nie nadat ds Jan van Schoor onlangs geëmiriteer het. Ds Gert Kok van Eendekuil is die konsulent,” aldus Venter.

Van Zyl van der Merwe, voorsitter van die kerkraad, het almal bedank wat reeds kontak gemaak het en vir al die boodskappe van voorbidding wat ontvang word. 

  • Eredienste sal voortgaan in die aangrensende kerksaal wat ongeskonde gelaat is. Hulpverlening kan via Diaconia se ramphulpfonds verleen word: Diaconia, Nedbank, 1135900337, 198765 (takkode), Verwysing: Naam van individu/gemeente + RAMPFONDS Redelinghuys.

Dominee vertel: Hulle wag toe vir die klok om te val

Toe ds Martin Steyn van die NG gemeente Citrusdal van nog ʼn brandende NG kerkgebou hoor, het hy op sy motorfiets geklim en self gaan kyk.

Hy sê: “My vrou wys ’n Facebook-foto van Redelinghuys se kerkgebou wat brand. Ek dink eers dit is weer vals Facebooknuus. Nou die dag Maitland, nou Redelinghuys? Ek sukkel om dit te glo en na ek die kinders by die skool afgelaai het, klim ek op die motorfiets en ry soontoe net om seker te maak en self te kyk. Dalk het hulle hulp nodig.

“Toe ek by die dorp indraai, hang daar ʼn effense rokie in die lug. By die kerk aangekom, of wat nog daarvan oor is, staan ’n paar mense verslae rond. Die brandweer is daar, die vuur is geblus. Almal kyk net op, toring toe. Wat nou? Dit is seker dom om te vra: Wat het gebeur? Dit is heel duidelik, die kerk het afgebrand. Die balke in die toring smeul nog. Hulle wag vir die klok om te val. Dit gaan ’n groot slag wees. Ek vra: ‘Waar is die dominee?’ Hulle wys my waar staan die dominee van jare wat onlangs geëmeriteer het. Hy staan daar saam met ’n ouderling en ander. Papiere in die hand. Dalk iets wat hulle gou kon red uit die kantoor? Dit laat my weer dink aan die vraag: ‘As jou huis afbrand, wat red jy?’ Ek sien swartgebrande papiere in die lug optrek en wonder: Was dit ’n Liedboek of dalk die Kanselbybel? Die kantoor brand nog … Die saal staan darem nog. Hulle kan nog daar kerk hou, dink ek.

“As ek so rondom my kyk, sien ek ’n verskeidenheid mense. Nie net kerkmense nie. Mense wat hier gedoop en getroud is. Die kerk het iets vir hulle betéken.”

  • Lees ook: Kerkbode het ook vroeër vanjaar berig oor die Maitland Gemeenskapskerk wat afgebrand het.