Koronavirus: In die voorste linies

Terwyl ’n groot gros Suid-Afrikaners daagliks die binnekant van hulle huis nog beter leer ken, is daar talle mense wat blootgestel voortgaan met hulle werk en hulle deel in die koronastryd doen. ’n Tehuis­bestuurder, ’n supermarkwerknemer en ’n dokter het vir CONETTE LE ROUX ’n kykie gegee in dit waarmee hulle sedert grendeltyd besig is.


Yvonne Booysen (links) voor grendeltyd se “social distancing” ingeskop het.

‘Bejaardes hanteer die situasie met grasie’

“Ons pas steeds so ver moont­lik sosiale afstand toe, maar hoe versorg jy ’n verswakte inwoner op ’n afstand?”

So vertel Yvonne Booysen oor hulle uitdagings in ’n e-pos vanuit Silwerkruin-tehuis op Wellington waarvan sy die bestuurder is.

Terwyl talle Suid-Afrikaners tuis moet bly in grendeltyd, werk die personeel van Silwerkruin, soos die mees­te tehuise landwyd, onverpoos voort. Hulle grootste prioriteit nou is om hulle inwoners koronavry te hou.

Yvonne vertel sedert 26 Maart 2020, toe president Ramaphosa ’n nood­toestand afgekondig het, is Silwerkruin gesluit vir besoekers en mag inwoners nie die perseel verlaat nie.

“Skielik was ons gebombardeer met inligting vanuit alle oorde oor operasionele standaarde en werkwyses waaraan voldoen moet word. Proto­kolle moes opgestel word teen die spoed van lig. Inwoners, personeel en familie moes ingelig word oor die plan van aksie. Ons is intens besig en beslis nié met ons normale pligte nie,” sê Yvonne.

Volgens Yvonne vind personeel-siftingstoetse daagliks plaas voordat personeel toegelaat word om aan ­diens te kom. En daar is maatreëls in plek gestel wat inwoners en familie in staat stel om via telefoon- en video-oproepe kontak met mekaar te behou.

Daaglikse uitdagings wissel van die ontsmetting van medikasie, kos en ander voorrade wat hulle tehuis binnekom tot aandag wat geskenk moet word aan die psigologiese impak wat die situasie op inwoners het, sê Yvonne.

Die moeilikste, vertel Yvonne, is egter vir haar om kontak tussen baie siek of terminale inwoners en hulle familie, sonder fisieke kontak, te bewerkstellig.

Maar “die innerlike krag van ouer persone” maak haar nederig en gee haar krag om elke dag met positiwiteit voort te gaan, vertel Yvonne.

Yvonne brei uit: “Dit stem my ne­derig om te aanskou met hoeveel grasie hulle hierdie moeilike situasie hanteer. Die oorgrote meerderheid gaan onversteurd voort met hulle lewe. Daar is ’n groep wat help met huis­houdelike take. Ons koperware is met Brasso blink gepoets, handrelings word ’n paar keer per dag met ontsmet­tingsmiddels afgewas en suiker, meel, vullissakke en seeppoeier word in klei­ner pakkies verpak. Daar is ’n groe­pie wat middae help met die bak van koekies, muffins en Paasbolletjies wat saans om 20:00 by tee bedien word om te vergoed vir lekkernye wat tans nie van familie ontvang word nie.”

Goeie Vrydag, sê Yvonne, was vir haar “’n baie spesiale ervaring”. “Ds Bol Botha, ’n inwoner, het vir ons voor middagete ’n boodskap in die eetsaal gebring waar hy en die Bester-egpaar die leë graf en kruise in ’n rangskikking uitgebeeld het. Geen besige lang­naweek nie. Dit was rustig, afgesonderd, die atmosfeer byna heilig.”

Intussen stop almal by Silwerkruin elke oggend om 11:00 met dit wat hulle doen vir stil gebed.

“Elkeen bid vir dit wat op sy hart lê, vir ons wêreld, land, dorp en vir Silwerkruin. Dit was ’n inisiatief vanaf die personeel wat ek graag wil voortsit na Covid-19. Lesers wat in die gees by ons wil aansluit, is welkom,” nooi Yvonne.


‘Dankbaar én bang’

Die dag voor nasionale inper­king het Bernard Jarare 40 jaar oud geword. Terwyl hy sakke vol kruideniersware in my kattebak laai, vertel hy dat dit beslis die “vreemdste” verjaardag van sy lewe is. Maar, sê hy, ten minste het God dit reggekry om almal te laat “stil en rustig” raak.

“You don’t see anything about wars or violence on television anymore. Everything is about the coronavirus,” vertel Bernard terloops.

Sowat vier weke later help Bernard, beveilig met sy swart gesigmasker, weer fluks om my gesin se kosvoorraad in my motor by Pick n Pay te kry.

Bernard, oorspronklik van Zim­bab­we, sê dat hy baie dankbaar is dat hy steeds kan werk omdat hy tans die broodwinner vir ’n familie van ses mense is. Na ’n dag se werk wag sy vrou Barbara, twee seuns Creig en Collins, en sy broer Tarirayi en suster Nyari tuis.

Maar dan is daar die vrees wat die meeste essensiële werkers met ge­sin­ne ervaar. “My biggest fear is to be infected with the virus and not see my boys grow up,” deel Bernard, ­wat die afgelope sewe jaar by Pick n Pay werk.

Intussen gee sy familie en vriendelike klante by die supermark hom die krag om elke dag met positiwiteit voort te gaan, sê hy met ’n glimlag voor hy terugstap om nog ’n persoon te help.


‘Suid-Afrika is al deur meer as Covid’

Vra jy ’n dokter wat daagliks blootgestel word aan die koronavirus wat sy grootste vrees is, is sy antwoord eenvoudig.

Want as hy na ’n dag se blootstelling die hospitaal verlaat, wag ’n opgewonde kleuter vir hom by die huis.

“Ek het ’n 3-jarige en my vrou is 35 weke swanger. Natuurlik is dit my grootste vrees om dit huis toe te bring,” vertel Le Roux van der Merwe na hy die afgelope 24 uur op roep was by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.

Hy spesialiseer tans as internis en sy dagtaak behels onder andere om pasiënte wat positief vir Covid-19 getoets het, te behandel.

Voor Le Roux vanoggend by sy huis ingegaan het, het hy eers sy klere in sy garage uitgetrek en in die wasmasjien gegooi. Dan is dit reguit stort toe, vertel hy. “Ek gaan met ’n skoon stel klere werk toe en trek teaterklere daar aan. Na my skof trek ek weer my ‘skoon’ klere aan. Dit is nou behalwe om heeltyd maskers by die werk te dra en heeltyd my hande met alkohol en seep te was. My vel is al soos ’n bokkom uitgedroog.”

Le Roux verduidelik dat niemand nog presies weet hoe die verspreiding van die koronapandemie gaan uitspeel nie, omdat Suid-Afrika tans in die “gemeenskapverspreidingfase” is.

“Dinge word op hierdie stadium maar dag vir dag gevat. Dit is maar deurmekaar om ’n sisteem in plek te kry wat werk, siende dat niemand nog weet wat ons te wagte is nie. Tans help baie van ons in die sale waar ons Covid-positief bevestigde pasiënte het, maar die groter probleem is dié wat nog verdagtes is en getoets is/ getoets moet word. Hulle syfers neem tans baie toe omdat ons in die gemeenskapverspreidingsfase is. So heeldag gaan oor mense toelaat en om so vinnig moontlik uitslae te kry en dan ’n plan volgens die uitslag te maak,” sê Le Roux.

En, soos talle Suid-Afrikaners, is hy ook bekommerd dat ons gesondheidstelsel nie die kapasiteit sal kan dra as die aanvraag te hoog raak nie.

Boonop staan “Covid in die ry agter MIV en tuberkulose”, meen Le Roux.

Maar hy het steeds hoop.

“Ons as Suid-Afrikaners is al deur meer as Covid-19. Ons het genoeg intelligente mense en die wilskrag om dit te oorkom. En dit gee my hoop om te sien hoe almal by die werk planne maak en saamwerk om dit te oorkom,” vertel Le Roux.


Michael Mol ‘aanlyn’ in Covid-stryd

Michael Mol, dokter en televisiepersoonlikheid, sê dat hy wel nie in die voorste linies die koronapan­demie bestry nie, maar dat hy dit aanlyn probeer doen.

Hello Doctor”, die telemediese diens waarvan Michael die uitvoerende hoof is, lewer sedert grendeltyd aan alle Suid-Afrikaners ’n gratis diens wat deur die mediese fonds Momentum befonds word.

“Die hulplyn is in vyf tale beskikbaar en dokters bel pasiënte terug wat beteken daar is geen koste vir enige Suid-Afrikaner nie. Ons het ’n klein weermag van vrywillige dokters wat daarop fokus om mense te help om Co­vid-19 tuis te bestuur. Dit is hoe ons die pandemie beperk, die kurwe probeer afplat om seker te maak dat Covid-19 nie ons gesondheidstelsel en land verwoes nie,” verduidelik Michael.

Michael vertel hy is daagliks besig om met die regering te skakel asook om seker te maak die diens volg die jongste regulasies. Verder, sê Michael, is hulle besig om die ­diens ook na WhatsApp te omskep.

  • Die gratis hulplyn: *120*394#