Jeanne van Niekerk, wat vir 15 jaar aan die hoof van Kerkbode se intekenafdeling gestaan het, gaan nou na haar onlangse aftrede meer tyd hê om te doen waarvoor sy lief is – om Suid-Afrika te verken.
Maar, vertel Jeanne, wat reeds met vakansie op Tietiesbaai aan die Weskus is nadat sy die tuig sowat twee weke gelede neergelê het, sy gaan stééds NG gemeentes in nuwe dorpe opsoek.
“Om met ’n gemeente te ‘praat’ en te weet waar in die land hulle is, was altyd lekker. Om te sien hoe klein van die dorpe is laat my verstaan hoekom hulle nie altyd kon inteken nie,” sê Jeanne.

Dit was juis tydens ’n kampvakansie by haar gunsteling-bestemming, Kgalagadi-Oorgrenspark, wat Jeanne ’n besonderse intekenaar op die Noord-Kaapse dorpie Mier gaan opsoek het.
“Gertruida Snyder is oor die 90 jaar, nie ’n NG lidmaat nie, maar sy wil weet wat aangaan in die NG Kerk. Aan die begin het sy haar intekengeld kontant in ’n koevert gepos. Ek het aan haar verduidelik dat dit nie meer betroubaar is nie. Daarna moes sy elke jaar ’n geleentheid Upington toe soek (’n afstand van meer as 300 km) om by die bank uit te kom vir ’n oorbetaling. Die boodskap was altyd: Moenie ophou om my Kerkbode en LiG te stuur nie, asseblief, ek sál betaal. En sy het elke keer betaal, al het dit party jare lank geneem,” lag Jeanne.

Die dag toe Jeanne Getruida op Mier gaan opsoek het, was dit ongelukkig sonder sukses. Gertruida was op daardie stadium nie op haar tuisdorp nie.
Volgens Jeanne was daar ook baie ander intekenaars met wie sy gereeld gesprekke gehad het. “Kerkbode se intekenaars is mense wat lief is vir die kerk. Hulle wil weet wat gebeur in hulle kerk. Besluite wat geneem word is vir hulle baie belangrik. Hulle liefde vir die kerk hoor jy in gesprekke. Hoe hulle tevrede of ontevrede is oor besluite. Daar was lang telefoongesprekke, want hulle het baie om oor te gesels. Ek het nie altyd antwoorde gehad nie, maar ek het geduldig geluister.”
Jeanne se gesprekke met die werknemers by die kerkkantore oor hulle intekening was vir haar baie spesiaal. Sy onthou: “Dit het baie keer op lang persoonlike gesprekke uitgeloop. Soms asof ons mekaar jare ken.”
Maar vir nou wil Jeanne deur ons land, en sy buurlande, reis en die mooi ervaar. “Dit laat my net besef hoe geseënd ek is om die Here se handewerk te beleef en te sien.”
