Hattingh lewer diens in barmhartigheid, kerkreg en finansies

17 Oktober 1926 –  3 April 2020


Dr Dirk Hattingh (94) het op 3 April 2020 gesterf in Huis Silwerkruin te Wellington. Hy was tot die einde toe betreklik gesond en kon gelukkig saam met sy kinders en kleinkinders die laaste jare geniet. Hierdie geliefde oud-leraar van Stellenbosch het diep spore in die Eikestad en in die Sinode van Wes-en-Suid Kaapland getrap. Diederik Johannes Hattingh is op 17 Oktober 1926 as boerseun in die distrik Heilbron gebore en begin sy skoolopleiding in die plaasskool Blesbokfontein. Hy is later in Villiers op skool en in 1942 word hy leerling aan die Hoërskool Vrede, waar hy in 1944 matrikuleer en leiding neem as hoofseun. Hy voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1945 na Stellenbosch waar hy die BA- en die MA (Filosofie)-grade behaal en in 1948 student word aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Hy behaal ook die MTh-graad in 1951 en word aan die einde van die jaar gelegitimeer as proponent van die NG Kerk.

Daar kom ’n skerp draai op proponent Dirk Hattingh se lewenspad toe tering by hom gediagnoseer word, destyds ’n ernstige siekte. Hy is 17 maande lank siek en neem sy intrek in die afgesonderde Nelspoort Sanatorium naby Beaufort-Wes in die Groot-Karoo. Dit was ’n donker tyd van afsondering en beproewing vir almal wat daar aangesterk het weens tuberkulose. In die tyd is mej Willemien Appel ook ’n pasiënt in die hospitaal te Nelspoort, waar sy telkens nuwe krag kry deur die verbeeldingryke lens van God se teenwoordigheid. Na haar genesing doen sy kerklike dienswerk en word later hoof- uitvoerende beampte van die NG Kerk in Oos-Kaapland se Vrouediens. Prop Dirk Hattingh beleef moeilike tye en op ’n besondere wyse word hy deur die Here God voorberei vir ’n lang dienstyd in die NG Kerk. Hy leef nog 28 jaar lank na sy aftrede, om as man van God mense te bemoedig en te versterk. In 1953 word prop Dirk Hattingh aangestel as hospitaalleraar te Nelspoort en hy trou op 18 Julie 1953 met mej Christerine Rossouw. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Johan, Irene, Chris en Dirkie.

Dr Dirk Hattingh.

Dr Dirk Hattingh. Foto: cke.christians.co.za

Ds Dirk Hattingh word op 14 Mei 1955 leraar van die NG gemeente Cedarville in die skilderagtige landboudorpie naby Kokstad. Cedarville is in 1912 gestig en is geleë by Cedarberg, die suidelike ingang tot die vallei van die Mzimvuburivier. In sy dienstyd word ’n nuwe kerkgebou en skoolkoshuis gebou. Op 3 Desember 1960 word hy leraar van die NG gemeente Standerton-Wes, waar hy betrokke is met die bou van ’n tehuis vir bejaardes. Hy word op 15 Februarie 1963 medeleraar van die NG gemeente Heidelberg (Transvaal), terwyl sy bejaarde ouers ook sy bevestiging kon bywoon. In die tyd skryf hy in vir sy doktoraal aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO en behaal in 1970 die DPhil-graad in Filosofie. Sy proefskrif is: “Kerkregtelike advies na die probleem van persvryheid: Kerkregtelike advies en praktiese wenke vir kerkraadslede, leraars, teologiese studente en lidmate”. In die herfs van 1965 kom ’n beroep na die Eikestad as leraar van die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen, waar hy op 29 Augustus 1965 bevestig word as eerste predikant van die gemeente. Daar is slegs 604 belydende lidmate en onder sy leiding groei die gemeente vinnig en word ’n eie kerkgebou en pastorie gebou en feestelik ingewy. In hierdie gemeente werk hy 27 jaar lank met verskeie leraars saam tot eer van die Here. Die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen is ’n baken van geloof, hoop en liefde aan die buitewyke van Stellenbosch, op pad na die Strand.

Dr DJ Hattingh aanvaar in 1992 op 65-jarige leeftyd sy emeritaat te Stellenbosch. Sy vrou Christerine word onthou vir die leidende rol wat sy in die vroueaksie van die kerk gespeel het. Na sy aftrede word hy ’n bemarker by Sanlam met opdrag beleggings. Hy is voltyds op kantoor en behaal groot sukses in die finansiële wêreld en ontvang verskeie toekennings vir prestasies en mikpunte wat hy behaal het.

Dr Dirk Hattingh se koms na Stellenbosch is ’n groot aanwins vir die Kaapse Kerk. Oor dekades heen dien hy in talle kerklike kommissies en lewer groot diens op die terreine van barmhartigheid, kerkreg, finansies en pensioene. In die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland dien hy as aktuarius en van 1988 tot 1991 is hy moderator van die Wes-Kaapland-Sinode. Hy neem tydens die jare van apartheid ’n gematigd-kritiese houding in, destyds ’n tipiese “Kaapse” posisie. Hy en enkele ander leiers van die NG Kerk, help met onderhandelinge, sodat aartsbiskop Desmond Tutu, dr Allan Boesak en pres FW de Klerk tot ’n vergelyk kon kom. So word die eerste vreedsame anti-apartheid-massa-optog aan die einde van 1989 in Kaapstad toegelaat. Op universitêre vlak dien hy as voorsitter van die Hugenote Kollegeraad op Wellington en is ook lid van die Universiteitsraad van Stellenbosch.

Lank na sy aftrede het dr Dirk Hattingh in 2010 begin publiseer, vier digbundels met die laaste in sy negentigste lewensjaar. Dr Fanie Marais, oud-leraar van Wellington en ’n kunstenaar in eie reg, skryf oor oom Dirk se vierde digbundel: “Die laaste draai dek ’n verskeidenheid temas: oor skryfwerk, natuur, verbeelding, eenvoud, integriteit, brein, onderbewussyn, plaaslewe, aftrede en sterfte. Die digter vind sy onderwerpe in sy onmiddellike omgewing. Hy was ’n plaasseun en dig daarom oor boerderysake. Hy lees koerant en lewer digterlike kommentaar oor aktuele sake. Hy woon in Huis Silwerkruin op Wellington en dig oor die uitsig vanuit sy venster, of die val en seerkry van oumense. Dít is wat die gedigte laat slaag. Dis gestroopte, onpretensieuse meditasies oor sintuiglike ervarings waarmee ek my heelhuids kan identifiseer. Die digter is hiperbewus daarvan dat sy tyd uitloop. Maar as gelowige het hy vrede met sy eindigheid.” Die gedig “Natrossies” ontroer en is verruklik.

Dr Dirk spreek die wens uit dat na sy dood sy as gestrooi sal word “in die bedding van die Witrivier / in Bainskloof, waar die witwinterwaters eeue lank / aan die grofste klip bly skuur / totdat almal spierwit is …” Op 3 April 2020 het die laaste draai vir Dirk Hattingh gekom en beleef hy ’n wonderlike oorstap na die Vaderhuis met sy baie wonings.