VERSOENING: ’n Nuwe band ná die tou gebreek het

Oral in die media hoor, sien en lees ons van rassespanning en vyandskap tussen die inwoners van hierdie land. Te midde hiervan is dit so nodig om die Kgosi Mampuru-storie te hoor. Hierdie storie illustreer hoe die Here werk om vrede te bring waar daar vyandskap was, wonde te heel en nuwe verhoudinge te skep. Dit is sulke verhale wat hoop en moed gee vir ons land en vir ons tyd se probleme. Dit is ’n verhaal soos hierdie wat wys dat God steeds deur sy Gees versoening begeer.

Die meeste van ons weet min van wie Kgosi Mampuru is. Sommige weet dalk wel dat hy as koning van die Bapedi’s deur Nelson Mandela vereer is as die eerste leier wat gepleit het vir ’n verteenwoordigende regering in ons land. Sommige weet dalk ook dat die Sentraal-gevangenis in Pretoria na hom vernoem is soos ook die straat waarin die gevangenis is.

Ek was self ook totaal onkundig toe ek die eerste maal gehoor het van die geskiedenis van die ou Transvaal en wat met Koning Mampuru II gebeur het. Omtrent ’n jaar gelede het “aartsbiskop” Lazarus Selahle na my gekom en vertel van die gemeente wat hy in Sekhukhuneland geplant het. Hier het hy die hoofman Koning Mampuru III en die koninklike gesin van die Bapedistam leer ken, en ook die koninginmoeder wie se gesin Christene geword het. Hierdie koninklike familie het die Here gedien en die koning het selfs al in Lazarus se kerk gepreek.

Lazarus het in sy noue verhouding met die koningshuis verneem dat hulle baie ongelukkig voel oor wat in die verlede met hulle voorvader gebeur het. Dit wat destyds gebeur het pla hulle steeds, maar hulle het nou ’n begeerte om vry te kom van die woede, haat en wraakgedagtes oor hierdie verlede. Hulle hart het verander en hulle soek nou vrede en versoening met die Afrikaners teenoor wie hulle al vir jare lank ’n grief en ’n wrok omgedra het.

Ek en Lazarus ken mekaar al vir meer as 25 jaar en ons het jare lank saam gedien op ’n forum in Pretoria waar kerkleiers gereeld saamgebring is om vir die stad en die munisipale leiers te bid. Lazarus het my vertel van die geskiedenis van die Bapedi’s en genoem dat hulle graag vrede wil maak met die Afrikaners oor wat jare gelede aan hulle koningshuis gedoen is. Hy het ook vir my ’n pak dokumente gegee waarin die geskiedenis en die onreg van 22 November 1883 beskrywe is.

Daar was in die verlede aksies van die staat en die regering wat sekere van hierdie gebeure en stryd in die verlede hanteer het. Daar was selfs ’n gedagte om ’n standbeeld vir Mampuru II op kerkplein regoor Paul Kruger se standbeeld op te rig. Hulle behoefte en spesiale versoek was nou egter dat die kerk van die Afrikaners moes reageer.

Lazarus het vir my vertel hoe hy met die Here hieroor geworstel het en hoe hierdie versoek van die koninklike familie swaar op sy hart gerus het. Hy het die koninklike familie verseker dat hy ’n goeie verhouding met van die Afrikaanse kerkleiers in Transvaal het en dat hy met my hieroor sal praat.

Die Bapedi’s het in die destydse Transvaal gewoon en regeer van die Limpopo tot by die Vaalrivier. Ek het daarom met hierdie versoek na die leiers van die Oostelike en Noordelike Sinode gegaan. Hierdie leierskap van die twee sinodes het vir my as voorsitter van die Oostelike Sinode en vir ds Paul Grobler as direkteur van die Noordelike Sinode afgevaardig om vir Koning Mampuru III in sy huis in Sekhukhuneland te gaan besoek om versoening te probeer bewerkstellig.

Op 21 November 2020 het ek, Paul en Lazarus die vier ure lange rit onderneem om namens die kerk van die Afrikaners verskoning en vergifnis te gaan vra.

Wat het op 22 November 1883 gebeur? President Paul Kruger was in daardie tyd president van die Suid-Afrikaanse Republiek en het regeer oor Transvaal. Hierdie Transvaalse Republiek het vir Kgosi Mampuru II gedagvaar omdat hy geweier het om hutbelasting aan hulle regering te betaal. Mampuru het homself verweer dat hy al die jare hier bly en aan niemand belasting hoef te betaal nie. Generaal Piet Joubert is opdrag gegee om vir Mampuru te arresteer. Daar was ook ’n klag dat Mampuru sy broer wat die troon wou gryp om die lewe gebring het. Vir baie lank was Mampuru ’n voortvlugtige en kon die Boeremagte hom nie vang nie. Uiteindelik is twintig kommando’s opgeroep en het 2 000 soldate vir Mampuru in die Mapochgrotte vasgekeer en uitgehonger tot hy homself oorgegee het.

Na sy gevangenisneming is hy skuldig bevind aan rebellie en moord en na Pretoria se Sentraal-gevangenis oorgeplaas waar hy as ter dood veroordeelde gehang sou word. Sy teregstelling het egter nie soos gebruiklik in die privaatheid van die gevangenis gebeur nie, maar het buitekant die tronk op ’n openbare terrein plaasgevind. Daar is ’n put gegrawe en ’n galg opgerig oor die put. Daar is tweehonderd gaste, wat vroue en kinders ingesluit het, genooi om hierdie teregstelling te aanskou. Mampuru se medegevangenes is ook genooi.

Mampuru is kaal uitgetrek en so voor almal aan die galgtou vasgebind. Toe die galgdeur wegval, het die tou egter gebreek. Hulle moes toe in die gat afklim om die tou weer om sy nek vas te bind. En so is hy uit die gat opgehys. Na hy dood verklaar is, het hulle sy lyk verwyder wat tot vandag toe nog gesoek word. Niemand weet waar hy begrawe is nie. Die familie se grootste wens is dat sy beendere gevind sal word en dat hy in eerbied in die koninklike begraafplaas te ruste gelê sal word.

Toe ons by die koning se huis aangekom het, was die hele erf en tuin van die huis volgepak met kapteins, hoofmanne en verteenwoordigers van die Bapedistam. Die koning in sy tradisionele drag het op ’n groot stoel gesit en ek en Paul is as eregaste weerskante van hom laat sit.

Na ’n vier ure lange erediens is die gebeure van 22 November 1883 vertel en is ek daarna gevra om te praat. Ek het aangesluit by die geskiedenis van Jesus se kruisiging. Ek het gepraat oor die reaksie van die Romeinse offisier wat in bevel was van Jesus se teregstelling en hoe sy hart en gesindheid verander het daar by die galghout van die kruis.

As verteenwoordiger van ons Afrikanervoorvaders het ek vertel hoe my hart ook verander het by die kruis van Jesus. Ek het vertel van die Romeinse offisier wie se wrede, harde hart deur Jesus verander is sodat hy na die teregstelling sy geloof en oorgawe aan Jesus bely het.

Dit is Jesus se sterwe en offer aan die kruis wat gesindhede verander, sonde wegneem en vergifnis bring. Christus het my hart skoongemaak en verander. Daarom wil ek met my nuwe hart verklaar dat ek van nou af mense net met liefde en respek wil behandel. As mense verneder en seergemaak is en in die openbaar met disrespek behandel is, wil ek sê dat ek jammer is. As daar ’n muur van skeiding voor God by die koninklike familie gekom het, wil ons as nasate vra: Vergewe ons, spreek ons vry en kom ons vat hande vir die pad vorentoe.

As Christus ons lewe oorneem bind Hy ’n nuwe band van liefde, aanvaarding en eenheid tussen mense, sodat ons as gelowiges nou met vergifnis en vrede saam kan leef. In Kolossense 3:11 lees ons dat dit nie meer tel of ons Jood, Griek of anderstalig is nie, want Christus is nou alles in almal. Versoening is die boodskap van Christus se kerk, dat ons mekaar sal vergewe en vryspreek en met nuwe harte vol van Jesus se kruisliefde in hierdie land sal saamwoon en -werk.