Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

R1 miljoen om hongerpyne van kinders te stil

Kry so vinnig en prakties as moontlik kos by weerlose kinders terwyl die land deur die Korona-pandemie lamgelê word.

Dít was ’n anonieme donateur se doelwit toe hy/sy vandeesweek ’n skenking van R1 miljoen aan Little Seeds, die gesamentlike vroeëkinderontwikkelingsprogram van Badisa en Diaconia gemaak het. Badisa en Diaconia is onderskeidelik die gesamentlike welsynsorganisasie en diensgroep vir gemeentelike barmhartigheid van die NG Kerk en VG Kerk in die Wes-Kaap en Oos-Kaap (VGK).

“Met alle versorgingsfasiliteite en skole wat gesluit is, is daar ernstige kommer oor kinders se voeding, aangesien soveel kinders daagliks van die etes afhanklik is wat normaalweg by hierdie fasiliteite voorsien word,” sê ds Nioma Venter, wat aan die stuur van die Wes-Kaapse Sinode se barmhartigheidsarm staan, oor die ruim donasie.

Die donasie maak dit vir Little Seeds moontlik om vir 2 913 kinders vir die volgende agt weke kos te voorsien.

“Dis ’n wonderlike storie, want terwyl ons besig was om kop te krap oor hoe ons die kinders wat betrokke is by ons programme gaan kosgee tydens die inperkingstyd, het die Here met iemand ‘gesels’ wat toe besluit het om in die kinders se nood te kom voorsien,” vertel Christine Quickfall, hoof- uitvoerende beampte van Badisa.

Volgens Quickfall het hulle na die president se noodtoestand-aankondiging onmiddellik die VKO-sentrums, dagmoeders en SmartStarters se programme gestaak.

Venter verduidelik: “Die grootste gedeelte van die geld sal hetsy deur die beheerrade van VKO-sentrums of maatskaplikewerk-kantore en dagmoeders bestuur word. Verder is heelparty gemeentes direk betrokke en sal van die fondse ontvang en kanaliseer. Die belangrikste is dat ons al die sisteme in plek het om nou as kerk met ’n voetspoor in elke liewe gemeenskap, by kinders uit te kom.”

Hoewel die donateur verkies om anoniem te bly, het die persoon toestemming gegee dat die publiek uitgedaag moet word om ook van die kerk se strukture gebruik te maak om weerloses te help, het Quickfall gesê.

Sy het verduidelik dat hulle tans probeer om deur hulle dienssentrums vir bejaardes kospakkies aan bejaardes buite die sentrum uit te deel.

Indien jy betrokke wil raak is Diaconia se rampfondsbesonderhede: Diaconia, Nedbank, Rekeningnommer 1135900337, Takkode 198765, diaconia@kaapkerk.co.za

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “R1 miljoen om hongerpyne van kinders te stil”

  1. Jeanette Ferreira

    Verskaf asseblief ‘n selnommer of ‘n e-posadres sodat ontvanger kennis van ‘n inbetaling kan kry. Elektroniese oordrag vereis dit.

Comments are closed.

Scroll to Top