Dominee oor ‘masker-troue’

“Ek en almal by die troue was baie gemaklik onder die omstandighede – daar was ’n gesellige atmosfeer en almal teenwoordig was goed ingelig oor die maatreëls wat geld,” vertel ds Corné Kemp, leraar van die NG gemeente Hermanus, wat seker een van die laaste huwelikseremonies voor totale inperking behartig het.

Volgens hom is daar onder andere geen alkohol bedien nie en handontsmettingsmiddels is oral tussen gaste geplaas by die troue wat op 21 Maart by Murasie buite Gansbaai plaasgevind het.

Intussen het president Cyril Ramaphosa gisteraand (23 Maart) totale inperking vanaf middernag op 26 Maart tot middernag op 16 April aangekondig, wat ’n stokkie voor enige verdere sosiale byeenkomste soos dié steek.

Sonja Walker van Captured Photography, wat die fotograaf by die Murasie-troue was, het ook ’n bespreking vir komende naweek vir ’n troue gehad.

“Ek het net geweet dit (totale inperking) gaan kom. Ek het probeer om al my gewone sessies in te druk voor dan, maar ek gaan uit ordentlikheid eers vanmiddag my bruid (wat die naweek sou trou) kontak. Sy het eers tyd nodig om aan alles te dink. Ek dink sy het dit ook verwag. ’n Mens moet maar mekaar bystaan,” sê Walker.

Volgens Walker sal sy geen verdere troues in die volgende agt weke fotografeer nie.

One thought on “Dominee oor ‘masker-troue’

  1. Sarel Strydom says:

    Ek waardeer die reelings van die Kerk om steeds die boodskap te vetkondig deur van Elektroniese Media gebruik te mask. Ek is net bekommerd oor twee aspekte nl.
    1. Staan die steeds tanende Kerkbywoning en dus samekoms van Gelowiges nie nou die kans om heeltemaal te verdwyn nie.
    2. Nerens word genoem dat die Kerk ‘n dag van gebed of verootmoediging uitgeroep het nie terwyl ek weet van skole waar dit plaas gevind het.

Comments are closed.