“Toe die kaptein sê ek moet omdraai, was daar nie regtig stry en baklei in my oor nie. Ek glo die Here het ook ingegryp en my kalm gemaak. Daar het net ’n gevoel van ‘aanvaar’ oor my gekom. Dit was God se wil. Daar was letterlik niemand op die N7 op pad terug Kaap toe nie. Ek het net met God en my ma gepraat. Toe ek sien was ek terug in die Kaap, voor my huis.”
So vertel Hanno Coetzee, tot onlangs grafiese ontwerper by Bybel-Media op Wellington, nadat hy sowat 420 km afgelê het om sy pa te gaan bystaan na sy ma se dood. Coetzee, wat in Sonstraalhoogte in Durbanville woon, moes egter 140 km voor sy ouers se tuisdorp in die Noord-Kaap omdraai.
Op 28 Maart het Coetzee die tyding van sy ma Hannatjie Coetzee se afsterwe ontvang, en wou dadelik ry om sy pa Willie in Springbok te gaan bystaan.
Maar, midde in grendeltyd, het hy besluit om eers sy naaste polisiestasie te kontak. Volgens Hanno het ’n polisieman hom by sy huis kom besoek en gehelp met die nodige dokumentasie om te reis sowel as ’n beëdigde verklaring dat sy ma oorlede is.
Coetzee het sowat 16:00 by sy huis weggetrek en is die aand 21:00 by ’n padblokkade voorgekeer, wat hom toegelaat het om verder te ry. Tien kilometer later is Coetzee egter weer voorgekeer, maar dié keer is hy verhoed om verder te ry en moes sonder enige slaap weer die 420 km na sy huis terugry.
“Ek was in daardie stadium fisies redelik moeg van die ry, maar emosioneel was ek ook baie uitgeput,” sê hy oor waarom hy nie eens die polisie se byna onredelike bevel bevraagteken het nie. “Die kaptein wat my voorgekeer het, was baie simpatiek, maar het verduidelik dat ek volgens wet nie op die oomblik na ’n ander provinsie mag reis nie,” sê Coetzee.
Volgens Coetzee neem hy nie die polisieman, wat gehelp het met sy reisdokumentasie, kwalik nie. Daar was duidelik onsekerheid oor die wetgewing hier rondom, meen Coetzee.
Coetzee sê dat sy pa tans deur vriende ondersteun word en dat hy aan die herinneringe van meer as 48 jaar se huwelik en “ware liefde” vashou.
“By tye is my pa okay, maar vanoggend was hy weer baie hartseer. Dan praat ek maar mooi. Hy het ook gesê: ‘Ek gun haar die rus en ek weet dat God se liefde haar omring. Ek weet eendag is ek weer by haar,’” aldus Coetzee.
Intussen het die Staatskoerant op 2 April berig dat persone wel na ander provinsies mag reis vir, onder andere, ’n ouer se begrafnis.
Coetzee vertel hulle het sy ma, wat aan hartversaking oorlede is, laat balsem en verkies om die begrafnis eers na die grendeltyd te hou.
“Ek weet ons kan nou wel vir haar begrafnis Springbok toe gaan, maar ons wil rustig wees wanneer ons dit doen. Ons wil nie voel die weermag en polisie hou jou dop wanneer jy vir ’n laaste keer totsiens sê nie,” het Coetzee verduidelik.
