Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vir vele bied begrafnisdienste ’n plek van laaste troos en afskeid, soos hierdie aangrypende toneel wat verlede jaar by die diens van dr Hugo van der Linde in Kemptonpark geneem is, aantoon. Maar nou, met nuwe afsonderingsbepalings, is dié gedrag ontoelaatbaar, vertel ds Karlien Becker. Foto: Herman Verwey

Begrafnisse: Groet sonder die troos van omhelsing

Hoe verduidelik jy aan ouers dat hulle nie ’n “gewone” begrafnis vir hulle oorlede baba kan hê nie?

Dit is maar net een van die uitdagings waarvoor leraars soos ds Karlien Becker van die NG gemeente Nuwerus tydens nasionale inperking te staan kom. Lidmate in haar gemeente het onlangs hulle seuntjie aan die dood afgestaan.

Die roudiens sal komende Vrydag (3 April) op dié plattelandse dorp in die noorde van die Wes-Kaap plaasvind.

“Dit was moeilik om aan die familie te verduidelik wat die reëls is, in ’n tyd wat reeds swaar vir hulle is. Hulle sou graag ’n gewone begrafnis vir hulle kind wou hê, saam met almal wat hulle in die laaste paar weke (tydens die seuntjie se siekbed) in die plaasgemeenskap ondersteun het,” vertel Becker.

Nuwe wetgewing steek egter ’n stokkie voor troos waaraan Suid-Afrikaners hulle lewe lank gewoond was. “Tydens die begrafnis moet die reëls van distansie ook gehou word, hande moet voor en na die tyd gewas word en mense moet ver uitmekaar sit. Maar ek weet nie hoe ek hulle gaan keer om mekaar te troos met ’n drukkie nie,” sê Becker hieroor.

Die wet vereis verder dat die begrafnis deur slegs 50 uitgenooides, wie se name en kontakbesonderhede op ’n lys aangebring word, bygewoon mag word. En dat daar geen verversings na die tyd geniet sal word nie.

“Vir ’n boeregemeenskap, wat wil saam tee drink, is dit baie swaar,” verduidelik Becker.

Met dié reëls, sê Becker, het die begrafnisondernemer Gielie de Kock haar baie gehelp. Ook om die reëls aan die familie oor te dra.

Volgens Becker het, behalwe die begrafnisondernemer se hulp, die riglyne rondom begrafnisse wat vanaf die Algemene Sinode gekommunikeer is, baie gehelp.

Lees ook: Dominees krap kop oor begrafnisse

Becker sê verder: “Gelukkig het ek voor die tyd al ’n briefhoof en vorms van essensiële diens by my gemeente se skriba laat invul en uitgedruk met bewys van huisadres ens. Die vorm is soos ’n permit en was in die Staatskoerant.”

Becker moes ook ’n verdere vorm invul wat die begrafnis wettig maak.

Volgens Becker was nog ’n uitdaging die feit dat sy nie die ouers by hulle huis pastoraal kon gaan ondersteun nie, maar dit oor die telefoon moes doen.

“Maar ’n mens is maar gespanne oor die feit of net 50 mense by die begrafnis sal opdaag. Ek hoop almal bly gesond,” aldus Becker.

  • Netwerk 24 het intussen berig dat ’n private troosdiens op Maandag 30 Maart vir dr Riaan Gerber, leraar van die NG gemeente Vrede wat by Margate verdrink het, se gesin gehou is. ’n Gedenkdiens sal later in die kerkgebou van die Moedergemeente op Vrede gehou word waarna sy as in die gemeente se gedenkmuur geplaas sal word.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top