Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Riaan Gerber met sy dogter, Anchen. Foto: Verskaf

Leraar verdrink toe seestroom hom vat

“Passievol en eg met ʼn sin vir humor.”

Só beskryf dr Wollie Grobler sy vriend, dr Riaan Gerber, wat Dinsdagoggend (24 Maart) in die see by Margate verdrink het. Gerber, wat die afgelope 20 jaar predikant by NG Moedergemeente Vrede was, was saam met sy gesin met vakansie aan die Natalse Suidkus toe hy en sy dogter deur ’n stroom meegesleur is, berig Netwerk24.

“Dit is vir my verskriklike nuus. Dit is steeds onwerklik. Ek het gisteraand só gehuil dat my vrou my moes troos,” vertel Grobler van die oomblik toe hy die nuus gehoor het. Hy beskryf Gerber as ’n veelsydige mens met ’n toewyding vir die lewe.

Dr Carin van Schalkwyk, skriba van die Sinode van die Vrystaat, beskryf Gerber as ’n goeie gemeentedominee en pastor wat ’n mooi pad met die gemeenskap van Vrede gestap het.

Lees ook: In Memoriam

Ds André Barlow, emerituspredikant wat saam met Gerber by die Vrystaatse sinodale sentrum vir predikantebegeleiding betrokke was, sê Gerber het ’n besonderse rol by die sentrum gespeel. “Hy was ’n kosbare en besonderse begeleier én, moet ek byvoeg, ek het al heerlike whiskey saam met Riaan gedrink. Hy was ’n kenner op die gebied van whiskey. Hy het my só baie van verskillende whiskeys geleer en altyd name genoem wat ek nie eens geweet het bestaan nie,” vertel Barlow.

Prof Fanie Snyman, emeritusprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat, sê Gerber is een van sy studente wat ’n vriend geword het. Snyman onthou Gerber vir sy goed voorbereide preke en sy helder teologiese denke. “Riaan was ’n pastor wat naby aan die gemeenskap van Vrede geleef het. Hy was ongelooflik lojaal aan die hele gemeenskap van Vrede. Riaan was ’n gesinsman wat lief was vir mense. Ons het ’n geliefde en gerespekteerde dominee verloor,” sê Snyman.

Van Schalkwyk sê begrafnisreëlings is nog nie bekend nie omdat die Sinode nog wag op inligting oor die maatreëls vir begrafnisse wat tydens die staat van inperking nagekom moet word. 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top