“Te midde van al die paniek rondom my ervaar ek die president se mooi, kalm toespraak, en ons dierbare kerkleiers se vinnige reaksie om kerk in die sitkamer moontlik te maak, as kalmerend.”
So vertel Laetitia Louw, lidmaat van Wellington-Moedergemeente nadat president Cyril Ramaphosa op 23 Maart totale inperking vanaf middernag op 26 Maart tot middernag op 16 April aangekondig het.
Talle voel ook dit is ’n gedwonge tyd van stilte om na God te luister.
Zelda van Zyl van die NG gemeente Bonnievale vertel: “Ons het nog nooit so iets beleef nie. Dit is ’n tyd waarin ons na Hom moet luister en ook dankbaar moet wees. Dit is ook tyd vir medemenslikheid en omgee, nie net te verkondig nie, maar daadwerklik te dóén.”
Ook Elsie Nüss, lidmaat van die NG gemeente Roodekrans in Roodepoort, voel dit is tyd vir stilword. “Ek koester nou my God se stem wat ek probeer hoor en deel maak van my. Ek deel my versoekings met Hom soos Hy dit gedeel het in sy woestynervaringe met sy dissipels. Ek bid aanhoudend vir my geliefdes en die wêreld se veiligheid want ek vertrou sy groot plan wat Hy het. Ons gaan almal baie negatief getref word, maar ’n mens sien reeds hoe die natuur daarby baat,” sê sy.
“Vir my persoonlik is die afsondering ’n tyd om by myself uit te kom. Ja, ek het my ook bekommer soos almal, maar ek ervaar ook ’n algehele vrede, rustigheid en kalmte. Ons moenie net die absolute verwardheid rondom ons raaksien nie, maar hierdie tyd gebruik om rustig te raak en kalm te raak. En op ’n ligte noot gaan ons boonop geld spaar as ons net tuis kan bly,” het Louw verder gesê.
