En wie versorg die versorgers?

Covid-19 en die inperkingsmaat­reëls het ons opnuut herinner hoe belangrik die werk van versorgers/verpleegkundiges is. ’n Oud-verpleegkundige en do­sent het met CONETTE LE ROUX gesels oor die belangrike eienskap­pe waaroor dié versorgers moet beskik en hoe sy haar passie om versorgers te bemagtig steeds uitleef.


Wanneer jy die 75-jarige Huibrecht McDonald vra watter eienskap kan ’n verpleegkundige of versorger eenvoudig nie sonder nie, onthou sy die woorde van ’n mentor: “Iemand wat nie deernis met siekes het nie, moenie verpleging of versor­ging as beroep kies nie.”

LEES OOK: Chirurg geroep om soos ’n Daisy te dien – eenvoudig, maar besonders

Dié oud-verpleegkundige dink toe skielik terug aan ’n destydse storie op TV oor die ongelooflike deernis van ’n kleindogter vir haar siek ouma wat haar vandag steeds bybly. “Die houtbord was ’n TV-verhaal wat ’n groot indruk op my gemaak het. Die ouma was al oud. Sy kon nie meer so goed sien of hoor nie. Sy kon nie meer so netjies eet nie. Sy het iets maklik laat val sonder dat sy dit so wou. Maar haar kleindogter was grensloos lief vir haar. Sy het graag na al haar ouma se stories geluister selfs al het sy dit al dikwels gehoor. Die ouma se dogter daarenteen moes immers jaag om by die werk te kom of inkopies te doen. Gevolglik was sy maar ongeduldig met die ouma. So skaf sy toe ’n houtbord aan vir die ouma om uit te eet. Dan kan dit mos nie breek as ouma dit laat val nie. Uiteindelik sterf die ouma. Die kleindogter is ontroosbaar hartseer. Maar haar ma is eintlik half verlig. Toe hulle Ouma se kamer uitsorteer en by die houtbord kom, sê die ma die kleindogter kan dit maar weggooi. Hulle het dit nou nie meer nodig nie. Maar die kleindogter antwoord: ‘Nee, gee dit vir my. Ek wil dit bêre. Ma gaan ook mos oud word.’

“Ja, ons gaan almal oud word, nê?” sê Huibrecht, wat opgelei is as verpleegkundige, op haar sagte manier vanuit haar huisie in die Groenkloof-aftree­oord op George via ’n Zoom-gesprek.

Huibrecht, wat jare klasgegee het vir verpleegkundiges, verduidelik “deernis” beteken om innig jammer vir siek mense te voel. “’n Omgee wat op dade uitloop, vir die bemoediging, gesondheid en geluk van die pasiënt, en waarmee jy met vrymoedigheid aan God rekenskap sou kon gee,” sê sy.

Huibrecht het na haar opleiding in sendinghospitale gewerk en ook verpleegpersoneel opgelei. Later het sy as geestelike werker onder verpleegpersoneel gewerk. Eers in die Transkei en later in Zimbabwe.

“My groot passie is die bemagtiging van die versorgers,” vertel Huibrecht McDonald, oud-verpleegkundige en dosent van George. Foto: Leonora van Tonder

Sy het ook ’n boek saam met medeskrywers – onder meer ’n matrone, dokters, ’n gesondheidsvoorligter, teo­loë en die plaaslike predikant – op haar kerfstok. Die boek Helping people to good health is in 1979 gepubliseer en het die belangrike lewensvrae waarmee ’n mens in die gesondheidsberoep te doen kry probeer beantwoord. Volgens Huibrecht is die boek daarna spesifiek vir verpleegstersopleiding gebruik en het sy dit baie jare later “met groot vreugde” by die Morgenstersendingstasie se op­leidinghospitaal aangetref. Haar sendelingman is in 1991 na die kweekskool by dié sendingstasie in die suide van Zimbabwe beroep.

“My groot passie is die bemagtiging van die versorgers. Terwyl die familie nie by hulle geliefdes kan kom nie, is die versorgers elke dag by hulle. Dink net hoe belangrik dit dan is dat hulle moet weet wat om te sê, hoe om te help. En hoe die versorger haarself moet versorg om gesond te bly,” sê Huibrecht.

LEES OOK: ‘House of Mercy bied halte aan sterwendes’

Na die McDonalds se aftrede op George is haar man in 2014 skielik aan ’n hartaanval oorlede. Haar verhuising in 2017 na Groenkloof-aftreeoord het nuwe moontlikhede gebring. Sy het as vrywilliger vir die versorgers van die oord begin “lesings” aanbied. Hiervoor het sy Helping people to good health sowel as nuwe bronne en navorsing gebruik met die hulp van ds Hannes Pretorius, die plaaslike predikant. Haar persoonlike verlies van haar man het gelei tot verdere inhoud vir opleiding. “Raad vir die treurende,” het sy geskryf om treurendes deur hulle rouproses te lei. “Kwelvrae” poog weer om mense te help met die waarom-vrae soos: Waarom slegte goed met goeie mense gebeur?

En toe die inperking in 2020 aanbreek het sy dit “benut” deur ’n reeks lesse spesifiek oor geestesgesondheid te skryf. Die vorige sorgeenheidbestuurder by Groenkloof-aftreeoord het gehelp deur ’n lys vrae, wat die meeste deur versorgers en pasiënte by Groen­kloof aan haar gevra word, vir Hui­brecht te gee. ’n Mediese dokter en oud-dieetkundige, het die lesse met mediese inhoud nagegaan en nodige voorstelle gemaak. Sy vertel ook oud-verpleegkundige inwoners het waardevolle wenke gegee en Michiel Burger, wat deel van die oord se bestuur vorm, het haar aangemoedig om die skryfsels te laat publiseer. Daarna het sy dit boonop in Engels vertaal en is die teks deur haar Engelssprekende buurvrou versorg.

Inperking het juis die belangrikheid van versorgers en verpleegkundiges opnuut beklemtoon. Volgens Huibrecht is die versorgingsoord waar sy woon se sorgeenheid “nog op slot” en is kontak met die buitewêreld nog beperk.

Daarom is geestelike versorging juis vir haar so belangrik. Vir Huibrecht is dié belangrikste lesing wat sy ooit vir verpleegkundiges gee oor die onder­werp “Genesing begin by vrede met God”. Dit vorm ’n hoofstuk in Helping people to good health en sy het dit intussen ook bygewerk. Sy vertel sy het self “jare met geloofsekerheid gesukkel” tot ’n prediker vir haar die nodige wysheid tydens ’n preek gegee het. Sy vertel: “Elke keer as ek bewus was van iets wat ek verkeerd gedoen of gesê het, het ek gedink: So, eintlik is ek nog nie ’n kind van God nie. Tot een diens waar die prediker 1 Johannes 1:9 gelees het: ‘As ons ons sonde bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sonde te vergewe …’ Die woorde ‘Hy is getrou’ het meteens soos in letters van vuur verskyn en my onsekerheid eens en vir altyd laat ver­dwyn.

“Jare later op Morgenster in Zimbab­we kon ek dieselfde teks aanhaal vir ons tuinier wat sterwend was. Hy was nie seker of die Here hom sou kon vergewe nie al het hy nou al met soveel berou oor en oor bely. En ek kon hom verse­ker: ‘You never need to doubt God’. Jy kan Hom vertrou.”

Word 'n vriend van Kerkbode