Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Shirley Coetzee (links) en Thembi Mabitsela skep kos vir die pasiënte van House of Mercy in. House of Mercy is ’n hospies wat, in samewerking met NG gemeente Goedemoed, weerlose siekes in die Secunda-omgewing versorg. Foto: Illse Cooper

‘House of Mercy’ bied halte vir sterwendes


Toe Shirley Coetzee twee jaar gelede die helfte van haar huis vir sterwendes oopgestel het, was dit grootliks vir een rede: Om te verseker dié mense se laaste dae op aarde is vol vrede.

Dit is nou sowat twee jaar sedert Shirley Coetzee van Secunda die helfte van haar en haar man Deon se huis in Secunda ingerig het om weerlose siekes in die omgewing te versorg.

“Elke mens verdien om met menswaardigheid te sterf. En ék wil help om elke sterwende mens by te staan om reg te wees wanneer hulle by die Vaderhuis ingaan,” vertel Shirley Coetzee van House of Mercy-hospies wat terminale mense in die Secunda-omgewing versorg. Coetzee help vir “Ouma” Rina Jonker stap terwyl Hester Oosthuizen sit en toekyk. Foto: Illse Cooper

“Ek het ’n huis. Hoekom nie die helfte ’n hospies maak nie?” was ’n vraag wat by haar opgekom het na ’n uitreik saam met die kerk na straatmense.

“Ek het die nood van die kankerpasiënte in die gemeenskap gesien. Baie van die terminale kankerpasiënte in ons gemeenskap kan nie versorging tot hulle afsterwe bekostig nie. Ek het toe besluit om die helfte van ons huis as ’n versorgingseenheid vir kankerpasiënte, ou mense en ander terminaal siekes in te rig,” verduidelik Shirley wat ’n betrokke diaken en werknemer van die NG gemeente Goedemoed in Secunda is.

LEES OOK: ‘Ek het voor ʼn kruispad gestaan’

Shirley bedryf nou sedert 2018 die hospies House of Mercy in samewerking met die NG gemeente Goedemoed, wat vir haar ’n salaris vir die bestuur van die hospies betaal.

Ds Anton Knoetze, predikant by die Goedemoed-gemeente, beskryf Shirley as ’n juweel. “Sy moet eintlik die predikant wees,” vertel Knoetze. Hy verduidelik dat sy iets verstaan van hoe gelowiges vir mekaar moet lief wees en die nood in die samelewing moet raaksien.

Dié roeping om kankerpasiënte te versorg kom al van kleins af, vertel Shirley. “Ek het baie familie gehad wat aan kanker oorlede is en het van kleins af geleer hoe om spesifiek kankerpasiënte te versorg. Kanker is ’n snaakse siekte. Maar wat kanker wél vir pasiënte gee is ’n tweede kans, die geleentheid om jou siel reg te kry en met mense vrede te maak voor jy sterf,” vertel Shirley.

 

LEES OOK: Ná ’n inkeer agter tralies, leef Danny Arendse ‘nou vir versoening’

Sedert die koronaviruspandemie en die inperkings wat daarmee saamgegaan het, was dit vir die pasiënte baie moeilik omdat hulle nie besoekers kon ontvang nie. Shirley vertel: “Dit was so moeilik, want hulle vergeet baie vinnig. Hulle voel verstoot en vra hoekom niemand vir hulle kom kuier nie, maar dan vergeet hulle binne 10 minute wat ek van die koronaviruspandemie verduidelik het en vra weer dieselfde vrae. Dan verduidelik ons maar weer,” vertel sy. “Ons wil met House of Mercy die Here dien. Dat wanneer mense sterf hulle met vrede na die Vader kan gaan en weet it is well with my soul,” vertel Shirley.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.