Ná ’n inkeer agter tralies, leef Danny Arendse ‘nou vir versoening’

Hierdie gevangene het in 1982 in die tronk tot bekering gekom, maar sy vonnis was nog ver van klaar, berig JACOBIE M HELENA.


Danny Arendse raak met sy wysvinger liggies aan sy tong en maak die bewegings van ’n kruis op sy voorkop asof hy homself salf. Hy verduidelik dat dit presies is hoe ’n Anglikaanse predikant in 1982 op sy voorkop ’n kruis met sy vinger geteken het toe hy in die Drakenstein Korrektiewe Sentrum (voorheen die Victor Verster-gevangenis) tot bekering gekom het.

Danny onthou dié dag soos gister. Dit is die dag wat hy sy lewe totaal en al aan die Here oorgegee het. Die predikant het vir Danny gesê dat hy van daardie dag af op sy voorkop die teken van die kruis as kind van God dra. Dié teken is meer blywend in Danny se lewe as die vervaagde tatoeëermerke op sy arms, bene en nek wat van sy jarelange harde lewe gevul met misdaad, bendes en gevangenisse getuig.

“Mense sê soms dat ek in die tronk gebore is,” vertel Danny toe hy onlangs met Kerkbode gesels oor sy lewe en roeping buite die tronk. Fyn lesers sal dalk onthou dat Kerkbode al vantevore met Danny gesels het. Dit was in 2017 onder die opskrif “Bendeleier verruil tronk vir kerkraad”.

Dié keer vind die onderhoud in Bybel-Media se nuwe “Innovasiekamer” plaas op die tweede verdieping van die Fergusongebou op Wellington. ’n Videograaf is byderhand om Danny ook meer onbemiddeld aan die woord te stel.

Danny onthou sy grootwoordjare goed. “Ek was ’n kind wat drome gedroom het. Ek was baie lief vir my ma. ’n Regte mommy’s boy. En ek was baie lief vir die veld,” vertel Danny. Die Arendse-gesin moes weens die destydse groepsgebiedewette van die Apartheidsregering, toe Danny 10 jaar oud was, uit hulle huis in Bergstraat, Suider-Paarl, na die gevaarlike plek “waar die skollies is” anderkant van die Paarl-hoofstraat verhuis. Min het die toe nog gehoorsame Danny geweet dat hy self op die ouderdom van 16 ’n skollie, soos die bendelede in daardie tyd genoem is, sou word.

Danny was van 16-jarige ouderdom af in bendes betrokke en was tot die middel 1980’s in en uit verskillende tronke. Hy vertel: “As jy nie deel van ’n bende was nie, het jy geen aansien, geen sê en geen reg in die tronk gehad nie. My lewe het ’n ongoing purpose in die bendekultuur van die tronk gekry. Om in die tronk te wees het geen effek op my lewe meer gehad het nie. Tot ek in ’82 net daar in die sel deur die Here bewus gemaak word dat ek vir God kan kies. En ek het dáár in die tronk tot bekering gekom,” vertel Danny. Alhoewel hy na dié dag steeds die oorblywende twee tot drie jaar van sy vonnis moes uitdien, het die ondersteuning wat hy in die tronk as nuwe gelowige gekry het, hom daardeur gedra.

Danny onthou spesifiek die Nehemia-Bybelinstituut (NBI) se gevangenisbedieningkursusse wat hy in die tronk gedoen het. “Die NBI-kursusse het my baie gehelp om te verstaan wat God se wil eintlik vir my lewe is. Dit het my gedra om binne die tronk in die geloof te kan volhard. NBI se materiaal het my ook baie van vergifnis geleer. Spesifiek dat God my vergewe,” vertel Danny.

Danny Arendse. Foto: Robert Cable

Maar Danny se pad met NBI, ’n bediening van Bybel-Media, het nie in die tronk opgehou nie. Hy het ná hy die oorblywende tronkstraf na sy bekering uitgedien het, die sertifikaatkursus van die Church Leadership Development Program (CLDP) deur die Universiteit van Pretoria gedoen en so homself gekwalifiseer om die NBI-kursusse in tronke aan te bied.

“NBI se materiaal oor versoening pas ek tot vandag toe nog in my bediening toe. Om versoen te word met God, maar ook met jou omstandighede,” vertel Danny van die versoeningswerk wat hy al vir byna 15 jaar as bedieningshoof van NG gemeente Drakenstein se Versoenende Intensionele Sending (VIS) in die Paarlgemeenskap doen.

En só is die destydse teken van die kruis op sy voorkop as kind van God vandag in sy bediening nét so sigbaar vir Danny soos die tatoeëermerke op sy arms, bene en nek vir ander is. Maar met die jare het die tatoeëermerke vervaag en hou Danny steeds vas aan sy verhouding met die Here wat in 1982 in die tronk begin het.


Bybelse leermateriaal vir gevangenes

Ten spyte van die streng inperkings in tronke wat die koronaviruspandemie in 2020 tot gevolg gehad het, het NBI steeds honderde briewe van gevangenes ontvang om hulle behoefte vir kursusse uit te spreek, volgens Mercial Adonis, NBI se Gevangenisbediening-koördineerder.

 Nehemia-Bybelinstituut is ’n teologiese kursusontwikkelaar wat leermateriaal verskaf as ’n oorbruggingskursus tussen matriek en universiteit, vir leraars en kerkleiers op voetsoolvlakopleiding wat nog nooit die geleentheid gehad het om formele teologiese onderwys te studeer nie.

Gevangenisbediening is een van hulle fokusareas.

Tans is NBI se gevangenisbediening by ongeveer 228 gevangenisse landwyd betrokke en verskaf jaarliks rondom 10 000 gratis kursusse per korrespondensie. Die kursusse is in agt tale beskikbaar om gevangenes in hulle moedertaal te bedien.

Vir meer inligting, besoek http://nbi.bybelmedia.org.za/

Word 'n vriend van Kerkbode