Bendeleier verruil tronk vir kerkraad

“Die Here het my geroep en gesê: ‘Danny, dit wat jy soek sal jy nie in bendes kry nie. Jy sal moet kies. Die bendes sal na jou dood lei, maar Ek wil vir jou lewe gee.’”

Só vertel oud-bendeleier, Danny Arendse, oor die groot lewensveranderende oomblik in sy lewe. Dit was in 1982 in Pollsmoor-gevangenis.

Vandag dien Danny op NG gemeente Drakenstein in die Paarl se kerkraad as bedieningshoof van Versoenende Intensionele Sending (VIS). Hy werk nou voltyds vir VIS.

En byna geen fabriek, skool, hospitaal of plaas in die Paarl word nie deur Danny-die-sendeling besoek nie.

Danny Arendse bring met groot passie ’n boodskap aan mense by die TC Newman-hospitaal in die Paarl. Foto’s: Jacobie M Helena

Danny sê: “Ek bedien weekliks voorskoolse, laerskool- en hoërskool-kinders. Ek bedien verder ook kerklose mense en besoek mense by die TC Newman-hospitaal.”

Hy maak selfs Sondae ’n punt daarvan om “moeilikheidmakers in die polisieselle in die Paarl” te besoek en is ook by die tronk betrokke.

“Verder het ek ook ’n arbeidsbediening waar ek die Boodskap by fabrieke en plase in die Paarl-omgewing bring.

“Ek ontvang ook groente by van die plaasdiens­punte en maak op ’n weeklikse basis vir van die mense kos.”

Danny beskryf sy “vorige lewe” aan die hand van treffende oomblikke.

Danny was reeds van 16-jarige ouderdom in bendes. Hy is skuldig bevind aan medepligtigheid van ’n moord terwyl hy in ’n verbeteringskool in Tokai was. Hy was op daardie stadium deel van die leierskap van die een bende. Hy sê ’n outjie wou deel word van die bende en moes bloed stort, maar skiet toe iemand dood. En sê hy het dit geïnisieer.

Danny is toe uit die skool geskors en word toe ’n keuse gegee – óf sy ma kom haal hom en neem hom terug Paarl toe óf hy moes Pollsmoor toe. Sy ma het hom kom haal.

Maar na sy terugkoms in die Paarl het hy weer in bendes betrokke geraak.

Jare later tref ’n volgende slag Danny toe sy broer in Mei 1974 in bendegeweld op ’n bus doodgesteek is.

“Hulle het hom net daar uit die bus gegooi en hy is in die pad waar hy geval het oorlede.”

Na nog ’n oortreding is Danny weer Pollsmoor toe, waar hy in 1982 tot bekering gekom het.

“Ek was vir die eerste 22 maande na my bekering steeds in Pollsmoor. Ek het weekliks kerk toe gegaan, Bybel gelees en Bybelkor-kursusse gedoen. Ek wou meer van die Here wat my geroep het, leer.”

En so het sy pad met Louie Barry, ’n sendeling van Denneburg in die Paarl, gekruis. Danny vertel: “Oom Louie het my lewe verander. Hy was NG Kerk-sendeling in die tronk.”

’n Volgende invloedryke mentor en vriend is dr Pie­ter van der Walt, wat voorheen dominee by die Paarlberg-gemeente was.

“Pieter het my gehelp om my bediening tot waar dit vandag is, te vorm. Ons het onder andere ’n vredestuin op die been gebring waar die ruimte vir bendelede ge­skep is om weeksdae as vriende én vyande in ’n groen­te­tuin te werk,” vertel Danny entoesiasties.

“Dit is deur Louie en Pieter se invloed dat ek en my gesin steeds na 11 jaar lidmate van NG gemeente Dra­kenstein is. My drie kinders is in die NG Kerk gedoop en voorgestel,” vertel hy verder.

“Die mense vertrou my. Hulle moet hoor dat daar níks is wat te groot vir die Here is en waarmee Hy nie kan werk nie.”

Word 'n vriend van Kerkbode