Chirurg geroep om soos ’n daisy te dien – eenvoudig, maar besonders

“As die Here jou roep, moet jy nie ongeduldig raak nie.”

Só verduidelik dr Lizann Victor, algemene chirurg by die Karl Bremer-staatshospitaal in Bellville, oor hoe die Here haar geroep het om die Daisy-projek, ’n organisasie sonder wins­bejag, saam met haar man en twee vriende in Junie 2018 te stig. Die organi­sasie dien die hospitaal op uiteenlopende wyses, van elektiewe chirurgie tot tuinwerk. Dit het deursettingsvermoë gekos om hierdie punt te bereik, vertel sy. En al is deure vele keer in haar gesig toegemaak, het sy geleer dat God mense voorberei. As hulle die eerste keer “nee” gesê het, beteken dit nie dat hulle nie die derde of vyfde keer “ja” kan sê nie, sê sy.

“Ek kom uit ’n sending- en evangelisasiehuis,” vertel Victor, steeds in haar vlootblou scrubs en bont scrub-cap geklee na sy pas met ’n operasie klaargemaak het, aan Kerkbode tydens ’n Zoom-onderhoud. “My ma en pa is albei voorbeelde van mense wat vir die Here en vir mense lief is en wat hulle lewe daarvoor opgeoffer het. My pa, Pie­tie Victor, was ’n NG predikant wat in die middel-1960’s Straatwerk in die middestad van Kaapstad gestig het. Hy is in 2003 in Durbanville vermoor toe hy die buurvrou tydens ’n huisroof wou help. Juis oor ek uit só ’n huis kom, was die idee van roeping nog altyd vir my belangrik. Ek glo ek is geroep om ’n dokter te wees. Maar ook dat elke be­roep ’n roeping is. Of jy nou ’n onder­wyser, skoonmaker of petroljoggie is, jy is geroep waar jy die Here se koninkryk laat kom,” verduidelik Victor.

Victor vertel die spesiale storie van hoe God haar roeping as dokter bevestig het. Toe sy op skool was moes sy tussen argitektuur, medies of ingenieurs­wese as studierigtings kies. Sy het vir haarself gesê sy sal eerste vir medies aan­soek doen omdat dit ’n keuringskursus is. Sy vertel verder: “Ek het gehoor ek het keuring gekry en daardie tyd moes jy ’n deposito van R400 betaal. Twee verskillende mense het op daardie stadium na my gekom en gesê hulle het by die Here gehoor dat hulle vir my R200 vir my studies moet gee. Dít was vir my ’n bevestiging van my roeping as dokter,” sê sy.

Sy beskou haarself as ’n Jack of all trades omdat sy van verskeidenheid hou. “Dit is seker hoekom ek dit so geniet om ’n algemene chirurg te wees, want ’n mens het die geleentheid om ’n bietjie van alles te doen. Bietjie galblaas, bietjie trauma, bietjie kolon, bietjie onkologie ensovoorts,” verduidelik sy met handgebare.

En toe kry ek onverwags Covid-19 …

Victor vertel dat daar by die hospitaal ’n groot afwagting vir die Covid-storm was. Die personeel het tydens die inperkingstyd hulle voorberei vir wat op pad is. Hulle moes hulle kop opnuut instel oor hoe chirurgie anders gaan lyk, want skielik moet hulle anders as ooit tevore in die hospitaal funksioneer. Daar was streng nuwe maatreëls wat hulle in plek moes kry. Hulle kon ook nie meer pasiënte in persoon sien nie, so hulle moes telefonies met die pasiënte in verbinding tree. Maar, vertel Victor, hulle was so reg as kan kom.

Dr Lizann Victor, algemene chirurg by die Karl Bremer-hospitaal in Bellville, leef haar roeping by die hospitaal met vreugde uit. Sy vertel dat sy as dokter geroep is om soos ’n daisy eenvoudige, maar besonderse werk in die Here se koninkryk te doen.

En toe word sy self siek. Covid-19. “Dit was vir my ongelooflik erg. Ek het aanvanklik nie gedink ek het Covid nie, maar ek moes myself laat toets. Ek kon nie meer die vormpie invul met geen ticks by die lys van simptome nie. Dit was vir my ’n geweldige skok. Ek het snot en trane gesit en huil en was ongelooflik onseker. Op daardie stadium was al die mense wat ek geken het wat Covid gehad het regtig siek. Die suster wat ek van Tygerberg-hospitaal af geken het, is oorlede. Hier is van die perso­neellede in die hospitaal oorlede. Jy het daardie geweldige vrees dat hierdie dalk nou die einde is. Ek moet sê dit was vir my werklik ’n geestelike ervaring,” verduidelik sy.

Sy vertel dat sy gedink het sy kan doodgaan. Sy het haar testament in orde gekry. Covid was vir haar ’n werklikheid. Sy verduidelik hoe sy vir die Here gevra het hoekom sy dit gekry het. Sy vertel dat dit tydens die isolasie vir haar besonders was om te weet dat al is sy geïsoleer, is sy nie alleen nie. Sy vertel van God se tasbare teenwoordigheid een aand tydens haar isolasieperiode. “Die een aand wat ek met die Here geworstel het, het Hy dit so duidelik gemaak dat Hy hier is en dat die engele my omring. God het my verseker dat Hy my alles sal gee wat ek nodig het om hierdeur te kom. Watter kant toe ook al, maar dat Hy ook na my mense sal kyk. Dit was vir my ’n baie definitiewe geloofsoomblik,” getuig Victor.


Die Daisy-projek: Hiér dien ons

Die Daisy-projek fasiliteer vrywilligers om die pasiënte en personeel van die Karl Bre­mer-staatshospitaal in Bellville deur ’n reeks projekte te ondersteun. Die “Daisies” het in 2018 afgeskop met die eerste Daisy-dag waar chirurge hulle tyd en vaardighede gegee het om elektiewe chirurgiese operasies op pasiënte te doen wat tot twee jaar moet wag om operasies te ontvang. Die Daisy-projek administreer ’n ekstra chirurgielys om dié pasiënte te opereer. Maar, herinner Victor, die hospitaal het ook in die projek ingekoop en voorsien die dokters van beddens en toerusting om die operasies te kan doen. Hulle betaal die susters wat dié Saterdae by die operasies betrokke is.

Victor vertel dat hulle sedert die eer­ste Daisy-dag 129 ope­rasies gedoen het en al tot 60 vrywilligers op ’n Saterdag verwelkom het. Sy sê dat hulle saam met die hospitaal werk om in die behoeftes van die pasiënte en perso­neel te voorsien. “Behalwe vir die geld wat ons insamel om van die projekte te finansier, wil ons ’n platform skep waar mense uit die gemeenskap met hulle gawes kan dien. Tydens die Daisy-dae het vrywilligers al in die hospitaal se tuine gewerk en nuwe plante geplant, die kindersaal geverf of met data-insameling in die rekordsafdeling gehelp. Die projekte is baie divers en gebaseer op die behoeftes wat in die hospitaal is,” vertel Victor.

Sy sê dat alhoewel die laaste Daisy-dag op 14 Maart weens die Covid-ontwrigting plaasgevind het, het die organisasie steeds voortgegaan om behoeftes in die hospitaal aan te spreek. “Die grootste behoefte aan die begin van die inperking was om die personeel en pasiënte van persoonlike beskermingstoerusting te voorsien. Ons kon in die Covid-tyd tot 900 visors aan die hospitaal skenk. Verder het organisasies koekies geskenk wat ons aan die personeel kon uitdeel. Die Daily Coffee Shop het elke Vrydag ’n ‘Frontliner-Friday’ gehou en vir die personeel koffie gebring. Wat vir my die kosbaarste is, is om vir verskillende personeellede die geleentheid te gee om die koekies of koffie uit te deel. Dit is ongelooflik watter positiewe invloed die uitdeel op die individue het, ” vertel Victor.

En vanwaar die naam Daisy-projek? “My pa het altyd ’n storie vertel dat ’n madeliefie (daisy) ’n eenvoudige blom is wat eintlik die heeltyd misgekyk word. Maar as jy na die daisy op ’n ander manier kyk word dit ’n besonderse blom. Die hele gedagte is dat ons gewone mense is wat iets besonders vir ander met ons gawes kan doen. Dat eenvoudige goed, soos ’n daisy, ’n besonderse impak kan hê,” vertel Victor glimlaggend.