VERSOENING: Om ’n dag op sy baadjie te takseer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Dit is weer een van daardie weke waar ons as landsburgers in mekaar se hare was, met die een groep meer ontstoke as die ander. Die slagofferolimpiade speel uit voor ons oë en bitter min leiers weet hoe om die rasdiskoers vorentoe te neem. Bitter min slim mense weet hoe om óns vorentoe te neem uit die doodloopstraat van daardie ons en hulle. ’n Predikantkollega vra my: “Waar begin ’n mens?” “Eenvoudig …” antwoord ek, voor ek nog kon dink: “16 Desember, broer, 16 Desember is waar ons praat begin.”

Die benaming van 16 Desember as óf Geloftedag óf Versoeningsdag, is ’n simboliese handeling wat die Afrikaner-Christen dissekteer en ontbloot. Ons begrip van en sentiment rondom hierdie dag sny deur murg en been. Die geskiedenis van ’n volk en die geskiedenis van ’n kerk word jaarliks in gesprek gebring wanneer opregte mense probeer verstaan hoe hulle oor 16 Desember moet dink. Kan ons dankbaar wees vir ’n laer wat destyds uitgehou het, terwyl ons die laer vandag reg ruk en oop ruk? Op ’n manier lees ons Bloedrivier op dieselfde wyse waarop ons die Bybel lees: Party van ons lees hom trots, soos hy staan en bly daarby, woord vir woord. Ander soek weer betekenis binne konteks en lees hom ín vandag in.

Die verskil tussen die implisiete en eksplisiete sentimente jeens Versoenings- of Geloftedag maak draadsit onmoontlik. 16 Desember noop ons om ons verstaan duidelik en eerlik te artikuleer. Die ding wat ons verseker weet is dat die God van die gelofte groter is as die gelofte. Ons verstaan dalk nie alles nie en ons het nie in 1838 geleef nie, maar ons weet wel dat ons belewing in 2020 ons dankbaar maak dat ons nie ons naaste met ’n geweer hoef te skiet nie. Ons voel soms verdwaal en ontuis, maar ons weet ons kan innooi eerder as uithou. Soos ons reflekteer oor Zoeloes en Samaritane leer ons wie ons naaste is, wie ons susters en broers is. Ons grootword-antwoord is nie dieselfde antwoord as die verstaan wat ons nou laat grootword, volwasse word nie.

Die spanning tussen gelofte en versoening is op die oog af verstaanbaar en aan die lelike kant voel sekere laertrekkers juis dit is die post 94-‘vyand’ wat ons dag kom steel het en versoening in ons kele afdruk. Die begeerte om met integriteit te leef bring die meer gematigdes voor ’n vraag: Hoe hou ons vas aan ’n gelofte en hoe hou ons vas aan die boodskap van Christus? Ek sukkel om ’n antwoord te artikuleer wat nie oor tyd praat nie.

2000 jaar terug, selfs as ek Bybel lees, blyk dit slawerny was nie ’n te groot probleem nie, vandag is dit ’n ondenkbare sonde. Ons kan nie mense van toe op waardes van vandag beoordeel nie. Net so wil ek nie die gebeure rondom Bloedrivier se strafkommando in twyfel trek nie. Soos hulle dinge moes uitpluis, moet ons uitpluis wat ons vandag te doen staan. Ons wil die wonderwerk sien van hoe ons regering se benaming van Versoeningsdag profeties gesond maak en innooi, op ’n manier wat drup met die evangelie.

Versoeningsdag kan gesien word as ’n polities-korrekte aanpassing van ’n plofbare kultuurviering, of Versoeningsdag kan gesien word as ’n ironiese vervulling en eerbetoning aan die God van die Gelofte. Om vandag met erns na God se wil te vra of soos die tieners sou sê: ‘What Would Jesus Do’? Ons leer oor tyd en ons leer God eer oor tyd.

Ons gaan weer laer trek dié jaar in die township. Ons nuwe gelofte lees: “Nooit weer sal ons uithou, wegjaag of skiet dié wat ingenooi, gerespekteer en liefgehê kan word nie. Die vyand is nou binne, die vyand is nou vriend.”

Hierdie is nie ’n sosiale stelling nie, dit is teologies; ’n verstaan van die Drie-enige dans wat almal innooi. Loer gerus na Betereinders se Facebook-blad. Daar kan jy sien hoe ons laasjaar gekuier het, jy kan sien hoe ons prakties nuut dink oor wat God vandag sou vra. Ons dien ’n Lewende God, nie ’n gelofte nie. Ons soek God op die beste manier wat ons kan, binne ’n bepaalde tyd. Jesus is die Meesterversoener, nie Mandela nie. Om volgens Matteus 25 by Jesus te kuier, iets saam te drink, kos te deel, by Hom as vasgevangde te kuier, Hom as weerlose te vertroos; dít is ons prentjie van versoening.

Die eindpunt is nie bloot om as skaap eerder as bok beoordeel te word nie, die doel is om met integriteit die twee groot gebooie uit te leef: liefde vir ’n liefdevolle God en liefde vir geliefde naastes. Versoening beteken die laer word oopgetrek en afgebreek. Gasvryheid se innooi vloei diep in ons are, partykeer vergeet ons net dat alle gaste welkom is en dat ons ook welkom is. Jy moet iets proe om dit te proe, jy moet dit in jou mond sit, ervaar sodat jy dit kan ken en geniet. Hierdie woorde geld vir koeksisters, Bybelverse, braaivleis en versoening.

  • Schalk van Heerden is predikant by NG Fontainebleau Gemeenskapskerk en voorsitter van Betereinders, ’n gemeenskap wat hulle vir versoening beywer.
Word 'n vriend van Kerkbode