‘Ek het die kerkbanke een vir een gewas’

Daar is die versorging van die kerkterrein, geboue en toerus­ting … En wanneer daar ’n nag­maal, troue, begrafnis of kerkfunksie is, moet jý die voorbereiding help doen. Want jy is die koster van die gemeente. Só dien jy die Here.

Maar hoe gemaak as ’n pandemie die wêreld op sy kop draai en eredienste en ander sosiale byeenkomste word verbied? Kerkbode het ’n paar NG gemeen­tes se name uit die hoed getrek en op die foon geklim om uit te vind hoe grendeltyd kosters se werk en lewe ge­raak het.

LEES OOK: Ekologie: Groenvingerdominees maak hande vuil in grendeltyd

Vir Dries de Jager was die hele spul ’n bietjie vinnig op hom. “Toe die gras te lank begin raak en die tuindienste ook in lockdown was, moes ek maar my tekkies aantrek en my rugbysokkies hoog optrek en self met die grassny inspring,” vertel hy laggend. Dit was vir De Jager, van NG gemeente Parys-Wes, uitdagend toe die eredienste weer begin, want daar was skielik soveel nuwe maatreëls. Die kerkbanke moes afge­sper word om sosiale afstand tussen die kerkgangers daar te stel. Reinigings, re­gisters … “Dit was regtig baie anders. Wat jy as koster nog altyd gedink het jou werk is, het skielik handomkeer ver­ander. Dit is ’n baie groter verantwoordelikheid. Mense se gesondheid en die handhawing van die reinigingsmaatreëls is op jóú,” vertel De Jager.

Uit KwaZulu-Natal vertel Wiekie Son­nekus sy het drie geliefdes in 2020 aan die dood afgestaan. Hierdie koster en skoonmaker by NG gemeente Dun­dee vertel sy is nietemin dankbaar vir die Here dat sy nog ’n volle salaris deur die jaar kon ontvang.

Vir Annatjie du Toit, koster by NG gemeente Sannieshof in Goudland Sinode, was dit ’n tyd van stilte en stilraak. “Ons het die banke een vir een gewas. Dié skoonmaak was goed vir my siel. As ek so alleen in die kerkgebou tussen die banke skoongemaak het, het ek ongelooflike tye van stilte met die Here ervaar. Dit was vir my ’n tyd van gebed,” vertel sy.

By NG gemeente Elliott, vertel Thinus Bossa weer dat misdadigers hulle ongelukkig nie laat inperk het tydens die grendeltyd nie. Diewe het hierdie Oos-Kaapse gemeente se spreiligte gebuit.

Die impak was ook groot op studentekerke, soos NG PUK-Kandelaar op Potchefstroom. Waar die meeste universiteite slegs aanlyn-klasse in 2020 aangebied het, was kosterwees vir Dawid van der Walt, ’n vierdejaar ingenieurswesestudent, ’n heel ander storie. Hy het nie werk gehad nie. Van der Walt vertel hoe sy lewe verander het en hy persoonlik tot stilte geroep is: “Dit was vir my ’n ongelooflike groot aanpassing. Waar ek voor die koronaviruspandemie vier dae per week vir maklik 20 ure by die kerk besig was, was daar skielik niks. Ek het regtig left out gevoel. Ek het die grootste deel van my tyd as student aan die kerk toegewy en was betrokke by die kerk. Ek was só commited. Nadat eredienste weer hervat is, voel dit steeds nie soos dit voorheen was nie,” het Van der Walt gesê. Hy vertel dat dit selfdissipline geverg het om op sy eie kerk te hou en rustig by die Here te raak. Hy is opgewonde dat hy homself in dié ge­dwonge tyd van stilte weer kon vind en stokperdjies beoefen. Máár hy wil terug kerk toe. “Ek het ’n honger om weer met die bands te werk en die kerk vir die erediens gereed te kry. Die ware bediening van die Here te doen en te help met die bediening van die Woord.”


Word 'n vriend van Kerkbode