Ekologie: Groenvinger-dominees maak hande vuil in grendeltyd

Blaai jy in grendeltyd deur van jou domineevriende se sosiale media-blaaie sien jy alles van ’n gespog oor handgrootte beet tot pragtige geel, groen en rooi tamaties. Jy sien oran­je wortels wat lyk of hulle ’n mens met twee bene is of oranje arms wat drukkies gee. Só het die inperkingstyd nie bloot ’n tyd van na-binne-leef vir ’n paar Kaapse dominees geword nie, maar ook ’n leef nader aan die grond, nader aan die skepping en ook nader aan die Skepper.

Ds Lou-Maré Denton sê tong in die kies haar gesin se wortels “lyk dalk na karakters uit ’n horror-fliek.” Foto verskaf

“Tuinmaak hou my grounded in ’n tyd waar alles chaos is,” vertel ds Lou-Maré Denton, predikant by NG gemeente Brackenfell, oor haar en haar gesin se stokperdjie wat reeds tydens die erge Kaapse droogte in 2017-2018 begin het. Die Denton-Clur-gesin het hulle grasperk in die tyd van waterbeperkings met “waterwys” plante en inheemse plante soos fynbos vervang. Die tuin het intussen tydens die grendeltyd ’n groentetuin-vertakking ryker geword en het ’n ruimte geword waar hulle as gesin tyd saam kan deurbring en gewoon ’n bietjie asem haal. Denton vertel dat sy graag op sosiale media hulle oeste deel wat nie perfek is nie. “Dis lekker om te lag vir die vrugte en groente wat so krom en skeef uitkom. Baie mense plaas die mooi en die perfekte uit hulle tuine, maar ek dink ’n mens moet die ander kant ook wys,” giggel Denton.

Ds Nioma Venter, ondervoorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, vertel die tuinmaakgogga het haar in grendeltyd behoorlik gebyt. Eers toe het sy besef hoe swak die kwaliteit van die grond by hulle huis in Bellville is. Sy en haar man Leon het besluit om in ’n bakkievrag kompos te belê en “toe het ek begin speel,” vertel Venter. Venter het selfs ’n blog begin waar sy oor haar tuinmaakterapie skryf. “Om bewus van die reuke, kleure en teksture te word praat met ’n mens se siel,” brei Venter uit.

Dr Nina Müller van Velden wys hoe sy en haar man, ds Wouter van Velden, in hul tuin woeker met handgrootte beet en kleurryke tamaties. Foto’s: Nina Müller van Velden

Ook vir die predikantsegpaar dr Nina Müller van Velden, postdoktorale navorser aan die Universiteit Stellenbosch, en ds Wouter van Velden, predikant by NG gemeente Welgemoed, het tuinmaak in lockdown ’n lafenis vir die siel geword. “Dis vir ons ’n stuk terapie,” vertel Müller van Velden. “Om te sien hoe goed groei. Die waarneem van die plante se vordering deur die loop van die dag, is merkwaardig. Die nader-aan-die-grond-leef het ons ook ’n nuwe waardering vir kos laat ontwikkel. Skielik wonder ’n mens in Food Lovers Market waar die groente of vrugte vandaan kom, hoeveel werk daar ingegaan het,” verduidelik Müller van Velden.

LEES OOK: Godsdiensbediening voorsien in daaglikse behoeftes van mense

Op Stellenbosch vertel ds Dolf du Plooÿ hoe sy groentetuin hom elke dag verras. “Jy kan plant wat jy wil en dink daar gaan opkom wat jy geplant het, maar dan verras die natuur jou en daar kom spanspek tussen die spinasie op,” vertel Du Plooÿ met ’n glimlag. Ek het geleer dat al saai ek wát in my lockdown-groentetuin, het die grond en die kompos ’n manier om my te verras.

Denton vertel dat daar vir haar community rondom tuinmaak is. “Die oopheid, vriendelikheid en vrygewigheid van gemeenskap rondom die vetplante en die speldekussings. Hoe mense mekaar raad gee, kontak hou en steggies aanbied, is wonderlik. En hoe mense sáám in afhanklikheid tot die natuur leef en met die grond connect. In tuinmaak is daar iets van terugkom na die ritme van die natuur toe. Die eenvoud. Die back to basics,” het Denton gesê.

  • Ons wil hoor van lidmate en leraars wat gedurende grendeltyd nuwe rituele ontwikkel het wat hulle met lesers wil deel. Stuur vir ons ’n e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za

Word 'n vriend van Kerkbode