Godsdiensbediening voorsien in daaglikse behoeftes van mense

Covid-19 het beklemtoon hoe belangrik volhoubare voedselvoorsiening is. Ons het besef dat die uitdeel van kospakkies nie juis volhoubaar is nie, ons wou mense bemagtig om hulle kos te produseer, en daarom het ons begin sade uitdeel.”

Só vertel dr Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en voorsitter van die Hoop en Versoening Trust. Hierdie organisasie sonder winsbejag wil hoop versprei en fokus op vroeëkinderontwikkeling as­ook landelike ontwikkeling.

LEES OOK: LUISTER: Die NG dominee wat verkies om te kerk in Kulkutta

Een van die organisasie se hoofprojekte tans, is die #GROEI-projek, in samewerking met Diaconia en Groen­span (Getuienisaksie), waar groentesaad in gemeenskappe uitgedeel word om hulle in staat te stel om hulle eie groentetuine te begin. Dié projek is ty­dens die Covid-19-pandemie van stapel gestuur.

“Versoening kan maklik ’n ‘afgesaag­de’ woord word, en dáárom het ons besluit om dit in iets tasbaar te omskep.”
Annelie Brits, die admin-koördi­neerder van die Sentrum vir Publieke Getuienis en een van die bestuurders van die #GROEI-projek, vertel die doel met die projek is om gemeenskappe te probeer help om meer selfonderhoudend te wees.

“Ons het ’n hele reeks saadpakkies, van wintergewasse tot somergewasse, wat maklik groei. Die saadpakkies kan ’n gesin die hele jaar van groente voorsien.”

Brits vertel dat 45 instansies, onder andere kerke en skole, al betrokke ge­raak het by die projek deur te help met die verspreiding van die sade. Oor die 417 individue en gesinne in die Wes-Kaap-omgewing het al saadpakkies ontvang om hulle groentetuine mee te begin. Die #GROEI-projek is ook genooi om met die Departement van Landbou se Ontwikkelings- en Opleidingstaakspan saam te span om sowat 2 000 gesinne te identifiseer wat ’n ge­skenkpak (onder meer toerusting, saailinge, kompos, en wortel- en blaarvoeding) ontvang na afloop van ’n opleidingsessie.

“Wat hierdie projek spesiaal maak is die feit dat almal betrokke kan raak. Jy het nie ’n graad of spesiale vaardighede en opleiding nodig nie. Dit is bekostigbaar, en kan deur jonk en oud geniet word,” meen Brits.

“Die projek help ons om nader aan God, die natuur, die grond en volhoubaarheid te beweeg. Dit help ons herwin, gesond eet, en voed nie net ons lyf nie, maar ook ons siel,” vertel Hanekom.

LEES OOK: Hoe gemaak met twyfel?

“Die Hoop en Versoening Trust het begin as ’n inisiatief om mense bymekaar te bring en te bemagtig,” vertel Hanekom. “Die armoede op die platteland is baie erger as wat mense besef, daarom is landelike ontwikkeling van kardinale belang.”

Mnr Herman Bailey, een van die trustees van die trust en dryfkragte agter die landelike ontwikkelingskomponent, beaam dit. Bailey was destyds onder meer betrokke by die tot stand bring van die Landelike Stigting, en is ook ’n voormalige burgemeester van Wellington in die Boland. Dit is juis as gevolg van sy ervaring in landelike ontwikkeling dat hy betrokke geraak het by die trust.

“As gevolg van armoede is daar ’n groot agterstand op die platteland. Wan­neer ’n mens iets doen om dáárdie mense se lewenskwaliteit te verhoog, sien jy die verskil in die mense se uitkyk oor die lewe,” vertel Bailey.

“Daar is soveel mense wat om verskeie redes hulle lus vir die lewe verloor. ’n Mens sien baie drank- en dwelmmisbruik in landelike gebiede as gevolg van hopeloosheid en wanhoop. Ons wil dus vir mense geleenthede skep en nuwe visie gee.”

Die trust is by verskillende projekte betrokke in dorpe soos Kleinmond, Ceres, Beaufort-Wes, Victoria-Wes en Sutherland. Projekte sluit in die bou van gemeenskapsentrums, die opknapping van huise, vaardigheidsopleiding onder die jeug en volwassenes, en ook inisiatiewe in vroeëkinderontwikkeling.

’n Projek wat vir Hanekom uitstaan, is die verfraaiing van huise op Sutherland, waar 25 huise geverf en opgeknap is. “Dit is nie altyd moontlik om huise te bou nie, vanweë die ernorme koste daarvan. Deur egter huise te verf en op te knap, maak ’n mens reeds ’n verskil aan mense se gemoedstoestand en menswaardigheid.”

So is daar talle projekte wat Hanekom na aan die hart lê, en kan hy nie sommer uitgepraat raak nie. Die Wa­makers-Opleidingsentrum, in die Wa­ma­kersvallei, is ’n voorbeeld van een van die trust se projekte, waar vaardigheidsontwikkeling bo-aan die lysie is. Werklose mense word opgelei om ge­skoolde werkers of entrepreneurs te word as versorgers, kokke en haarkappers.

Hanekom vertel hulle sit nie ’n oomblik stil nie en is altyd op die uitkyk vir maniere om gemeenskappe by te staan. Die werk van die trust is immers vir hom van die “lekkerste” werk waarby hy al betrokke was.

LEES OOK: Historiese gemeente wil ‘Huis van vrede’ wees

“Die Here voorsien goed vir ons. Ons kry een of twee groot skenkings, maar ons het besef ’n mens benodig nie miljoene rande om ’n verskil te maak nie. Met ’n paar rand kan jy óók ’n groot impak in mense se lewe maak, dit hang af hoe jy die fondse gebruik,” meen Hanekom.

“Die Here werk met konsepte soos die mosterdsaadjie, ons weet dus met die genade van die Vader kan ons ’n eksponensiële verskil maak.”

Hanekom meen dit is belangrik om vennootskappe te smee met die gemeenskappe wat deur die trust se projekte geraak word, en volgens Bailey is dít juis wat vir hom ook uitstaan van die trust.

“Ons fokus op menseverhoudings. Wat vir my uitstaan van hierdie inisiatief is dat dit ’n kerkgedrewe program is, maar dat dit nie net oor godsdiensbedie­ning gaan nie, maar om werklikwaar die daaglikse behoeftes van mense aan te spreek,” vertel Bailey.

“As ons almal op dieselfde bladsy kom, en dieselfde doel voor oë het, sal ons makliker kan versoen. Ek glo ’n vorm van versoening is ook om dit wat jy het te deel met ander, om hulle lewe sodoende te verryk. Is dit nie ons roeping om uit te gaan en te dien nie?”