Die leiklip met die Apostoliese Geloofsbelydenis op het al die jare in Pa se studeerkamer gehang.
Ná sy dood in 2010 het ek dit van die muur gehaal en saam met van sy ander persoonlike goed in ’n trommel gepak: telegramme en briewe, ou sakboekies, ’n stapel rooirug Croxley-aantekeningboeke waarin hy elke preek met die hand neergeskryf het, foto’s, koerantknipsels.
Onlangs het ek die trommel weer oopgemaak. Heel onder was daardie klip, toegedraai in ’n ou handdoek, asof ek dit vir myself wou wegsteek.
LEES OOK: ‘My lewe is in ’n oogwink verander,’ skryf oorlede man voor sy dood
Dit is ’n sware, plat stuk ding: Pa het dit by iemand op Daniëlskuil gekry – in daardie koppies rondom die dorp is baie leiklip – en vir Oupa geneem toe ons een Desember-vakansie na hom en ouma Myra toe is. Natal toe. Suidkus toe.
Oupa Danie was ’n anderster man, wat stories vertel het van hoe hy kamma vir lank in ’n snuifmyn in Siberië gewerk het. Hy het homself leer klavier speel en het beelde van sement gemaak en hy kon mooi teken. In sy hart was Oupa ’n kunstenaar.
Maar hy moes jonk-jonk die huis verlaat. Hulle was baie arm en hy moes help geld verdien. Hy het ’n motorwerktuigkundige geword en het later ’n bietjie met piesangs geboer. Op sy oudag het hy in die telefoonsentrale op Umzumbe naby Port Shepstone gewerk.
Oupa het slegs nagdiens gewerk, en dis dáár, in die geboutjie langs die poskantoor op Umzumbe, waar hy snags gesit het met ’n skerpbektangetjie en ’n rol dun koperdraad terwyl hy tussendeur die sentrale moes beman en mense se oproepe na die regte nommers moes deurskakel. Hy het die draad in kort stukkies geknip en die letters van die Geloofsbelydenis een vir een met die tangetjie tot die regte vorm gebuig en met koue lym op die leiklip geplak: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde …
LEES OOK: Word ’n vriend van Kerkbode
Lettertjie vir lettertjie, elkeen presies gevorm, asof hy dit met ’n pen op die klip geskryf het. “En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here …”
Hoeveel nagte dit Oupa geneem het om daarmee klaar te kry, weet ek nie. Ek was in standerd 6 toe hy oorlede is. Ek onthou net toe ons ná die vakansie terugry Daniëlskuil toe, was die klip weer in die motor, met die Geloofsbelydenis daarop.
Ek is van altyd af bewus van die Geloofsbelydenis, nes ek nog altyd van die Bybel bewus is. Jy is ses of sewe jaar oud en is op ’n Sondagoggend in die kerk, dan sê jou pa, die predikant, julle moet opstaan en die woorde agter hom aan sê: “Ek glo in God die Vader … wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria. Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is en ter helle neergedaal het …”
Jy is nie mooi seker wat presies jy alles sê nie, maar jy weet jy moet net glo wat jy saam met die ander agter jou pa aan herhaal, anders doen jy sonde wat jou in die hel kan laat kom.
In die katkisasie leer jy ook van die Geloofsbelydenis en hoe jy moet glo wat daar staan as jy geloofsekerheid wil hê.
Nou, hoeveel jaar later, is dit nie vir my maklik om te erken ek sukkel om alles te glo wat in die Geloofsbelydenis staan nie. Het God die hemel en die aarde sommer net so geskape? Wat van evolusie? En was Maria werklik ’n maagd toe Jesus gebore is?
Ek sê vir myself: Glo dit net, glo dit net, glo, glo, glo. Glo. Maar as jy party dinge eers ontglo het, is dit moeilik, byna onmoontlik, om dit weer te glo.
Ek kan nie meer soos ’n kind glo nie al wil ek ook.
LEES OOK: Bybelkor/Bybel-Media is 50!
Miskien wou Oupa Danie vir my iets daaroor probeer sê toe hy my van die wit perd vertel het. Hy was ’n wyse man, Oupa, al het hy byna altyd kaalvoet geloop en het party mense gedink hy is mallerig.
Ons het die dag Port Shepstone toe gery in sy Datsun-bakkietjie, net ons twee. In die verte, doer voor, was elektrisiteitskabels – ’n kraglyn – hoog oor die pad gespan, soos ’n mens oral kry.
“Wanneer ons onderdeur daai kraglyn ry,” het Oupa gesê, “kan jy enigiets wens, en daai wens sal waar word – mits jy nie aan ’n wit perd dink nie.”
Ek het aan allerhande wense gedink wat ek wil hê waar moet word hoe nader ons aan die kraglyn gekom het. Dat die vakansie vir ewig moet aanhou. Dat ons ook by die see moet kom woon, soos Oupa-hulle, dat …
“Maar, onthou, jy mag nie aan ’n wit perd dink nie,” het Oupa my herinner toe ons naby die kraglyn is.
En toe ons onderdeur die kraglyn gaan, kry ek nie iets gewens sonder om aan ’n wit perd te dink nie. Hoe meer jy dink om nie aan ’n wit perd te dink nie, hoe meer dink jy aan ’n wit perd.
Oupa het sy hand vir ’n paar oomblikke op my skouer laat rus, asof hy my wou troos.
Is dit nie met geloof ook ’n bietjie só nie? As jy eers oor party belangrike sake begin twyfel, is dit soos daardie wit perd waaraan jy nie kan ophou dink wanneer jy weet jy moenie daaraan dink wanneer jy onder ’n kraglyn deur ry nie.
Ek is ’n onseker, twyfelende gelowige wat glo aan God, die Groot Misterie, en soms sy teenwoordigheid in die toevallighede van my lewe ervaar.
Ek steur my aan die sekerhede van die wetenskap, maar dit maak nie vir my die Misterie minder nie.
Soms wonder ek oor Oupa. Hy het nie gereeld in die kerk gekom nie. Miskien was dit omdat hy moes skoene aantrek, of miskien was hy ook ’n twyfelaar, nes ek. Miskien was die Geloofsbelydenis wat hy op die klip geskryf het, lettertjie vir lettertjie, altesame 598 van hulle, elkeen perfek na sy eie handskrif gebuig, vir hom ’n soort boetedoening.
Wanneer ek weer dorp toe gaan, moet ek tog onthou om by die hardewarewinkel aan te gaan om goed te kry om die klip teen my muur op te hang.
Dink bietjie hoeveel werk het in daardie Geloofsbelydenis ingegaan. Sou hy dit gedoen het as daar twyfel was.
Ek is in die Sendingveld in die Ooste van,nou Zambië gebore.Ouers en in besonder ‘n Vader wat vir sy God geleef het. Ons is deur die smeltkroes van streng Kerklike opvoefing rn Kategese. Duidelik hoor ek iemand nou vertrl
” dis hoekom ek nir meer Kerk toe gaan nie”
Verkeerd…jy bereik daardie stadium van
Volwassenheid wasr jy jou rie keuse maak.
Jou opvoeding was net die fondament later
Word dit net God rn jy….niemznd anders nie
He/she who doesn’t doubt has not even start to believe. To me doubt is the oxygen of believing. Thank you Dana for sharing your doubt.
Jy praat waar, Sarel. Sou Oupa dit gemaak het as daar twyfel was… Net jy en God. Ek stem saam. Mooidag! Dana.