Historiese gemeente wil ‘huis van vrede’ wees

By Groote Kerk se eerste gebou-erediens vir 2021, tref Kerkbode ’n gemeente aan met vredesplanne wat terugstrek na Krotoa.


Marthie Schoeman rig op ’n helder Sondagmôre die liggaamstemperatuurmeter skouerhoogte voor haar uit en vir ’n oomblik lyk die gryskop met haar swart masker en verstandige plakkies meer soos iemand by ’n skietoefening op ’n weerbaarheidskamp as hoofouderling van die oudste NG gemeente in Suid-Afrika.

Hierdie ruim aanbiddingsplek handhaaf “sosiale afstand” eintlik al jare danksy dalende lidmaatskap en bywoning in die middestad. Foto: Le Roux Schoeman

Dan sien ’n mens egter haar wapen van voorkeur: die sogenaamde “smize” (kort vir smile with your eyes) … Daardie allerbelangrike vaardigheid vir maskerdraers regoor die wêreld wat ’n tikkie medemenslikheid wil oordra te midde van die perke en voorskrifte wat Covid-19 meegebring het. “Welkom,” sê twee blou oë.

Lees ook: Profiel | Die prof in die ongemakstoel

Binne die kerkgebou dreun die grootste orrel in die suidelike halfrond reeds. Roucher du Toit het sy violetblou dubbelknoopbaadjie uitgetrek en werk nou die instrument se sake soos hy die afgelope 30 jaar reeds as orrelis hier by Groote Kerk in Adderleystraat, Kaapstad, doen. En soos stellig min ander mense kan.

Die voorspel borrel via die pedale en die konsole met sy 102 registers uit by die pype, waarvan die langste 9,5 m is en daal via die pleisterplafon benede op vandag se klein gehoor, 19 all told.

Marthie se man, Nico, kom nader om haar by die kerk se ingang by te staan met die nuwe soort mini-liturgie wat aanbiddingsplekke, nes werkplekke, kroeë en eetplekke moes baasraak: sanitasie, inteken, temperatuurmeting aanteken.

Ds Riaan de Villiers hou vir ’n wyle sy masker op wanneer hy Anton Anreith en Jan Jacob Greeff se enorme, leeuaangedrewe preekstoel bestyg. “Dis inderdaad ’n tyd van verlies … wat lê op verskillende vlakke,” sê die donkerkop leraar. Foto: Le Roux Schoeman

Hierdie paartjie het sowat vyf jaar gelde uit Pretoria in die Kaap kom vestig en Nico, wat die koster hier is, maak effens verleë verskoning vir hoe min mense die oggenddiens bywoon. “Ons het darem besig gebly in lockdown, ons het drie begrafnisse gehad, volgende maand is daar ’n troue,” vertel hy.

Lees ook: Ná die sinode | Vir sommige, ’n lang pad huis toe met dié besluit

Dit is die eerste Sondag na president Cyril Ramaphosa op 1 Februarie aangekondig het dat eredienste mag hervat na ’n tweede piek in Covid-infeksies geloofsaamtrekke ’n groot risiko in die oë van reëlmakers gemaak het. Ramaphosa het tydens die uitsending aangekondig dat die eerste entstofbesendings vroeër dieselfde dag in Suid-Afrika aangeland het en dat die doelwit van die reuse-inentingsveldtog nou bevolkingsimmuniteit is. Te laat vir meer as 46 000 mense in Suid-Afrika, maar ’n bron van hoop vir veel meer.

Ondanks die lewensverlies en vernietigende ekonomiese agteruitgang weens inperkingsregulasies was daar volop meningsverskil oor hoe toepaslike versigtigheid lyk – ook in kerkgeledere. Op gemeentevlak moes honderde NG gemeenteleiers en derduisende geloofsleiers regoor die land al vir maande verskillende variasies op dieselfde balanseertoertjie probeer uitvoer – tussen verantwoordelikheid en oorversigtigheid. Tussen wetsgehoorsaamheid en roepingsgetrouheid. Organisasies soos Freedom of Religion South Africa (FOR SA) het kort voor Ramaphosa se rede ’n dringende aansoek by die Johannesburgse Hooggeregshof gebring om die verbod op geloofsgebaseerde byeenkomste op te hef. Die NG Kerk het by monde van dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris, van FOR SA se benadering verskil.

Lees ook: God, geloofsfases en algoritmes

Nico en Marthie Schoeman, iets van ’n ‘power couple’ by Groote Kerk. “Sy is die power, ek die couple,” skerts Nico as ’n mens hom daaroor uitvra. Foto: Le Roux Schoeman

Vanoggend is dit alles van akademiese belang. Hier, in hierdie ruim aanbiddingsplek, wat sosiale afstand eintlik al jare beoefen danksy dalende lidmaatskap en bywoning in die middestad, mag 50 mense volgens wet nou doodluiters saam aanbid.

Ds Riaan de Villiers hou vir ’n wyle sy masker op wanneer hy Anton Anreith en Jan Jacob Greeff se enorme, leeuaangedrewe preekstoel bestyg. “Dis inderdaad ’n tyd van verlies … wat lê op verskillende vlakke,” sê die donkerkop leraar, wie se eie gesin vanoggend ’n stewige persentasie van die kerkgangers uitmaak waar hulle alleen in een van die historiese kerk se kenmerkende boksbanke met toesluitdeurtjies sit. Die leraar merk op dat die aankoms van die entstof vir Covid-19 “inderdaad ook ’n antwoord op ons gebede is.”

Daar is geleentheid vir kerkgangers om tot voor in die kerk te stap en ’n kers aan te steek vir vriend of familielid wat oorlede is.

Lees ook: Prominente oudleraar karteer pad wat hom na ‘anderkant’ God lei

Die teksgedeelte is Lukas 10, ’n Bybelboek geskryf deur ’n geneesheer. Maar die tema waarop De Villiers fokus in hierdie tweede aflewering van ’n preekreeks is vrede (in die hart, huis en wêreld). Dit is nou die holistiese verstaan van die woord vrede, soos wat ’n mens dit in die Bybeltale aantref, verduidelik hy. As dit kom by vrede in die huis, praat hy van oikos, die Griekse woord vir huis, wat nie net na die gebou verwys nie, maar ook die wyer begrip van wie daarin woon en boonop nie net die kerngesinnetjies wat ons maar in die laaste eeu of so in huise begin pas het nie, maar die uitgebreide verbande van diegene wat saam onder een dak gewoon het.

Die orrelspel borrel via die pedale en die konsole met sy 102 registers uit by die pype, waarvan die langste 9,5 m is.

Dit is ook die stamwoord wat herken kan woord in ander Afrikaanse woorde soos ekonomie, waar dit met die Griekse woord vir wet of reël (nomos) werk om die huisreëls uit te spel. In so ’n ekonomie moet daar regverdigheid wees vir vrede om te heers, preek De Villiers. As sy kinders sjokolade kry, word daar vir een gesê, “jy kies” en vir die ander, “jy deel”. Dán breek daar vrede uit, skerts hy. So ook met die breër “huis” waarin ons leef. “Uiteindelik help regverdigheid dat vrede seëvier.” Só ’n huis wil Groote Kerk wees. ’n Huis van vrede … ’n sentrum waar genesing kan plaasvind, vertel De Villiers en gaan draai dan op verrassende wyse by Krotoa (alias Eva), wat in die sewentiende eeu as tolk vir Jan van Riebeeck en sy amptenare opgetree het. “Krotoa is hier begrawe op ons kerkterrein,” het De Villiers vertel. “Sy het probeer om as tolk op te tree en vrede te bewerkstellig. Op ’n manier kan sy as vrou vir ons as inspirasie dien.”

Die gemeente se eerste fisieke erediens vir 2021 loop ten einde. Roucher du Toit skuif gereed agter sy orrel vir die afsluitspel en die gemaskerde lidmate beweeg uit die kerkbanke – húiswaarts. 


Word 'n vriend van Kerkbode

One thought on “Historiese gemeente wil ‘huis van vrede’ wees

  1. Ernie du Preez says:

    Baie dankie Le Roux Schoeman vir hierdie besondere beeld-artikel van die Groote kerk. Jare gelede (1968) was my vrou en ek lidmate van hierdie besondere gemeente. Koshuis kinders het die galerye volgesit deel van `n groot familie met drie leraars of was dit 4? Japie Malan was die orrelis. Ons dogter was daar gedoop.

Comments are closed.