Prominente oudleraar karteer pad wat hom na ‘anderkant’ God lei

Seun word groot op ‘sendingveld’, studeer teologie, doen diensplig as jong man tydens die Grensoorlog, word gemeentedominee, lees wyd, kry later etiket van kritiese dominee/teoloog, verloor weldra geloof in God se bestaan, skryf daaroor om die “konseptuele trajek” te verskaf in hierdie boek wat gelowiges op verskillende wyses en vir uiteenlopende redes sal uitdaag.

Ben du Toit het in sy lewe en loopbaan op die kansel gewroeg met sekerlik van die moeilikste goed waarop ’n mens die verstand kan loslaat: Vrae rondom God se bestaan en wil. Nou beskryf hy ’n “godvrye lewe” vir homself en die oortuiging dat die rede en noodsaak vir God by baie mense besig is om te verdwyn.

Lees ook: ‘Ek is opnuut geïnspireer om te getuig’ sê leraar oor Du Toit se boek

Die ouddominee trek hierdie breër verband vanuit sy eie belewenis van die afwesigheid van ’n hoër mag deur aan te sluit by denkers wat religie in geheel beskryf as deel van die evolusionêre ontwikkeling van Homo Sapiens – iets wat ons sou doen vir psigiese sekuriteit en voordelige dinge soos troos, antwoorde, groepsgevoel ens. Laasgenoemde breërmaak van die argument is wat die boek onderskei van ’n eng afgebakende persoonlike glo-storie en wat – tesame met Du Toit se jarelange prominensie as teoloog binne die NG Kerk – bydra tot die aktualiteit en nuuswaardigheid van die publikasie daarvan.

“Ek is daarom vandag al meer oortuig dat godsdienste in die balans van sake meer sleg as goed inhou. Godsdiens is nie goeie nuus nie,” skryf Du Toit op bl 165.

Dit is onder meer op hierdie punt dat sommige lesers in die debat rondom die boek, wat laat verlede jaar gepubliseer is, gereageer het. “Ben du Toit se goed gedokumenteerde reis van behoudende gelowige en postmoderne teoloog tot post-teïs en volslae ateïs word kenmerkend van al hoe meer NG Kerk-teoloë,” skryf Bernhard Ficker in ’n lesersbrief wat in Januarie op Netwerk24 gepubliseer is. Hierdie “Dis-nie-net-Ben-nie”-argument sal waarskynlik nog ’n ruk talm in die NG Kerk, wat nie tans ’n tekort het aan spanning rondom teologiese opleiding en Skrifhantering nie. (Dit sou ironies wees dat juis ’n boek deur Du Toit ’n anti-intellektuele stroming in die NG Kerk in die hand werk).

Lees ook: God, geloofsfases en algoritmes

Hoekom mense glo in God, is een laag van die boek. ’n Ander laag is meer persoonlik en dit is waar ’n mens ook frustrasie en emosie (veral in Du Toit se “laaste preek uit die Bybel”) hoor. Die boek word beskryf as ’n bevrydende reis, maar dit het deurgaans hierdie leser laat dink aan die sêding uit ’n David Foster Wallace-skryfsel: “Everything I’ve ever let go of has claw marks on it.”

Dit is immers nie asof Du Toit te midde van ’n persoonlike oorgang na aftrede of aangevuur deur frustrasie oor kerkdebatte wat op Groundhog Day-agtige wyse nooit regtig afgehandel word nie nou die kleinlettergod van rompslomp en notules vaarwel roep ter wille van een of ander dieper spiritualiteit nie. Dis die hele metafisiese boksemdais waarmee hy klaar is wanneer hy praat van post-teïsme.

Die wyse waarop die boek ontvang is, het reeds bewys dat dit vir diegene wat Du Toit se loopbaan in die kerk gevolg het en veral vir oudkollegas wat steeds in die NG Kerk is, problematiese leesstof is. Sy felste kritiek oor die kerk wat hy agterlaat is oor dié se onvermoë om die Belydenis van Belhar te aanvaar en oor die feit dat die 2019-besluit rondom selfdegeslagverbintenisse gays volgens Du Toit steeds “onderwerpe van bespreking en oorweging vir volle aanvaarding van hulle menswees” maak.

Die konteks waarin hierdie uitsprake verskyn, mag dit vir sommige na ’n hol oorwinning laat klink. Ander mag die punte op meriete beoordeel.

  • Le Roux Schoeman is redakteur van Kerkbode.

Word 'n vriend van Kerkbode