God, geloofsfases en algoritmes

’n Span teoloë in ’n digitale stroomversnelling wonder of goeie teologie ook die taal van algoritmes kan praat, wat sê: You liked … you would also like …

Jy vul via ’n webskakel ’n lysie in met vrae oor hoe (eerder as wat) jy glo en dan draai die onsigbare ratte van die teologiese raamwerk waarop die FaithStyle-gids berus en siedaar, hy spoeg vir jou ’n visualisering uit wat met die eerste oogopslag lyk soos ’n kind wat met ’n koukie en ’n passer op ’n stuk papier gespeel het. Jy druk dit uit en gaan sluit jou aan by die mededeelnemers van ’n tweedagslypskool oor die waar­hede en moontlike waarde van hier­die nuwe benadering tot geloofsvorming.

Van nader beskou, is daar fyn orde en patrone. Die diagram voor jou is, pleinweg gestel, hoe jy tans oor geloofsgoed dink: God, jouself, ander en om­gewing.

Die teoretiese raamwerk waaier uit van klein na groot: 3 – 8 – 24.

Daar is drie perspektiewe.

Daar is agt ontmoetingspunte.

En dan 24 geloofstyle – oftewel wyses waarop mense tipies glo.

“Ons sit jou nie in ’n boksie nie,” skerm ds Anandie Greyling, medeaanbieder, vroegtydig en by herhaling. “Die basiese teorie is dit is verskillende per­spektiewe. Dink daaraan soos as jy verskillende lense opsit om na iets te kyk. Die een is nie beter as die ander nie. Ons is nie besig om ’n agenda te dryf nie,” sê sy. “Die hele ding agter die FaithStyles is om te kan sê: ‘Ek hoor en sien dat jy met ’n perspektief wat anders is as myne na iets kyk’,” verduidelik Greyling. Sy is op vryskutbasis deur Bybel-Media (BM) se hoof- uitvoeren­de beampte, dr Nico Simpson, betrek om die gids te help ontwikkel en op 13 en 14 Oktober die eerste slypskool van sy soort in die Fergusongebou op Wellington in die Boland aan te bied.

Elke deelnemer se antwoorde op die vraelys “plot” hulle dan individueel met betrekking tot bogenoemde “bakens” sodat jy kan sien watter van die perspek­tiewe by jou voorop staan:
Konvensioneel (Fokus op “teachings and texts”)
Reflektief (Fokus op indivuele interpretasie)
Paradoksaal (Fokus op die omar­ming van teenstrydigheid)

Simpson verduidelik dat die projek gewortel is in die akademiese werk van die teoloog James Fowler (1940-2015), op wie se bekende boek Stages of faith die nuwe raamwerk sinspeel.

“Fowler sê geloof gaan oor hoe jy ‘ultimate meaning’ skep,” het Simpson aan die klein groepie slypskoolgangers verduidelik. “Wat is die ding waarmee jy jou kop besig hou? Wat is die ding wat jy met jou geloofstyl probeer beantwoord?”

Vanuit die drie basiese perspektiewe beweeg die ontleding na die ontmoe­tingspunte, soos die handleiding dit beskryf: “In life and in faith there are 8 distinct ways in which you can encounter God, God’s coming into this world and God’s people. These 8 ways offer points of encounter, namely: Engage, Embody, Care, Centre, Accept, Flourish, Embrace and Nurture.” Hierdie punte skuif deur die loop van ’n mens se lewe en op jou geloofsreis, benadruk Simpson.

Die vergestalting van sterk bewussyn in elk van daardie punte vir al drie die geloofsperspektiewe lei daartoe dat daar sprake is van 24 geloofstyle. Dit wis­sel van “argetipes” soos Gids en Pelgrim (albei Paradoksaal maar met ander ontmoetingspunte) of Onderwyser en Kurator (albei Reflektief, maar met ander ontmoetingspunte) asook Vrywilliger of Evangelis (albei Konvensioneel, maar met ander ontmoetings­punte).

So, wat is die waarde wat BM probeer ontgin met hierdie benadering? wonder ’n mens onwillekeurig wanneer die opwinding oor die vars, interaktiewe aanwending van Fowler en ander se teorie gaan lê. “Ek wil hê BM moet deep grace uitdeel, nie cheap grace nie,” sê Simpson. Hy meen daar word onderspeel hoe­veel “shame” daar in godsdiens kan wees. Hier­die beskaming laat mense voel hulle is nie goed genoeg nie, bid nie genoeg nie, doen nie genoeg nie. Hy self het al so gevoel aan die ontvangkant van sommige preke, vertel Simpson. “Bid ons genoeg? vra die dominee. Natuurlik nie, want ek is ’n wurm,” sê Simpson meteens geanimeerd. “Maar gee net vir my ’n aanduiding dat jy sien ek probeer my bes!”

Simpson bring die FaithStyle-gids direk hierby in wanneer hy verduidelik dat hy vir mense wil sê: “Jy is vir God aanvaarbaar. Meer as wat jy kan dink.”

BM is, naas die uitgewer van Kerkbode, LiG, teologiese publikasies en ka­te­gesemateriaal, ’n maatskappy wat toenemend moet innoveer te midde van ski-helling-agtige afname in die verkope van haar dekadelange kernbevoegdheid: gedrukte media. Nou is die vraag of dieper insig in waar lesers op hulle geloofsreis is, van nut kan wees in die digitale inhoudsomgewing, waar algoritmes floreer op data wat gebruikers onderskei en inhoudskeppers toelaat om meer nommerpas te werk te gaan as in papierformaat. Kan Fowler en kie vir BM help om te weet watter soort ge­loofs­inhoud by lesers sal aanklank vind en kan nuwe tegnologie hulle toelaat om toepaslike reisgenote te koppel … byna op die manier wat Netflix vir jou voorsê watter reeks om volgende te kyk of YouTube vir jou aan inhoud bekendstel wat buite jou soekveld en tog binne jou belanstellingsveld val? Simpson en Greyling hoop so.

Op die laaste dag, voor die opsomming, onderstreep Simpson die waarde wat hy voorsien vir hierdie gids, wat kennelik nog in sy doeke is: “(Dit sê vir mense) waar jy is en hoe jy glo … daar is nie shame daarin nie.”