Ná die sinode: Vir sommige, ’n lang pad huis toe met dié besluit

’n Jong, bebaarde dominee staan op en spreek die sinode toe. Hy is benoud dat die kerk vir hom ’n spreekwoordelike hospitaal-pass gegee het … Dit was nie sy woorde nie, maar dis basies wat hy gesê het. Want hy moet eersdaags op sy eentjie terug Namibië toe en vir sy gemeente op Outjo, so drie ure se ry buite Windhoek, gaan verduidelik hoe die gay-ding nou staan. So, dit herinner wel ’n bietjie aan daardie soort aangee in rugby waar jy die bal kry om mee te hardloop, maar met ’n spul verdedigers wat op jou afpyl om jou te lyf te gaan. Hierteen sien hy op, hoor ’n mens duidelik. En daar is begrip hiervoor – as medeluisteraars se gesigsuitdrukkings ooit heeltemal leesbaar is. Sy presiese woorde was: “Ons benodig hulp. Want soos die voorstel (rondom selfdegeslag-verbintenisse wat die NG Kerk op 8 Oktober aanvaar het) nou op die tafel lê, is dit ongelooflik mooi. Ek kan nie fout vind met die voorstel nie. Maar hy kort ’n praktiese sy.”

Wat ds Leon Fourie vermoedelik wil weet is hoe hy nou hierdie teologiese standpunte rondom menslike seksualiteit aan die kerkraad en lidmate gaan verduidelik? Prakties nou.

Klaar baklei

Hierdie vraag is een van dié wat dr Frederick Marais in sy bydrae oor die nuwe besluit – en die teologie daaragter – aangespreek het vroeër en later die aand. “Wat vat ons terug na ons gemeentes toe?” het hy aan sy medeleraars gesê-vra. “Ons gaan ophou om ’n geveg (oor selfdegeslagverbintenisse) te voer,” was sy antwoord hierop. “Ons gaan mekaar se verskillende besluite hieroor respekteer. Ons gee vir mekaar ruimte. En ons gaan voort om geloofsonderskeidend met mekaar te praat.”

“Diversiteit, verskillende standpunte lyk soos ’n verleentheid, (maar) een van die sprekers het gesê dis ’n gawe,” aldus Marais. “Elke sinode en gemeente het die reg om ’n eie standpunt te formuleer. Ons weet waarop ons eenheid gebou is.”

Dit is moontlik steeds ’n lang pad van Benoni na Outjo, maar daardie woorde van die ouer leraar aan ’n jonger een wat opreg na hulp en leiding vra, was ’n opvallende oomblik in ’n aand waarop die meerderheid van die 200 lidmate van die NG Kerk wat dit tot by hierdie besluitnemingsoomblik aan die Oos-Rand gemaak het, wou koers kry met ’n kerkgesprek wat “vasgeloop” het.

Erns in die ‘wit ruspe’

Toe die byna 200 afgevaardigdes by die sitting van die NG Kerk se Algemene Sinode teen 14:15 op die derde uit ses dae van vergader die gesprek rondom selfdegeslagverbintenisse bereik, was die atmosfeer een van stille fokus. Die “stakes” was hoog, kon ’n mens aanvoel. ’n Baie publieke en duur hofsaak met jou eie lidmate het kennelik selfs die mees roekeloses in die kerk daarvan oortuig. Die gesprekke en maniere van vergader maak sáák. As waarnemer is dit moeilik om die gesprek in isolasie te beskryf. Soos ’n ry boeke binne twee boekstaanders, was die selfdegeslagverhoudingsgesprek ook deur sang, gebed en ander gesprekke oor ander onderwerpe “geraam”. Daar was ook ’n byna mantra-agtige herhaling van “respek vir mekaar”.

’n Mens kon die erns op ’n myl bespeur – versigtigheid selfs. “Grandstanding” was daar nie. Maar die tentstruktuur waarin die geleentheid plaasvind – wat soos ’n wit reuse-ruspe hier in ’n industriële deel van die Benoni-, Kemptonparkomgewing lê, het ook op letterlike wyse baie ruimte vir verskil toegelaat. En daar was verskillende standpunte. Dit is immers juis dié wat kerkleiers soos Marais ge-rebrand het as ’n gawe eerder as ’n verleentheid. Daar is geluister na stemme soos dié van Ernst Coetzee, ook van Namibië. “Die meerderheid van gemeentes in Namibië is nie ten gunste van selfdegeslagverhoudings nie,” het hy gesê. “Vir ons is die Skrif die belangrikste. Ek kan nie myself vereenselwig met hierdie voorstel nie.”

‘Ek kan nie saamstem’

Dr Riaan van Zyl van Bethlehem het weerloos gepraat: “Ek praat vanaand met ’n rein hart. Ek wil teen die voorstel praat as ewe-mens, nie as medemens nie. Ons is deel van ’n liggaam van Çhristus. Wanneer een lid ly, ly die hele liggaam. Ek was self op die markplein in die lewe. Christus het my uitgegryp uit my vorige lewe. Ek is deel van mense van die Weg wat met my eie hartseer en probleme worstel … As ek na die voorstel kyk, kan ek nie saamstem met die voorstel nie.”

Dr Gys Loubser van Boksburg was weer van mening dat die nuwe besluit “min of meer so versigtig is soos ’n mens kan wees” en dit ondersteun.

‘Vasgelooptheid’: Toe en Nou

Dr André Bartlett, moderator van die Hoëveld-sinode, het gewaarsku dat die Benoni-gangers nie te uniek moet voel nie. “Ons is nie die eerste Christene wat by so ’n situasie kom nie. In Romeine 14 was daar ook ’n vasgelooptheid. Hoe verstaan ons die wil van die Here? Geloofskwessies oor eetgebooie. Paulus sê nie vir die gemeente om dit uit te sorteer nie. Hy sê aanvaar die een wat swak in sy geloof is. Moenie die een wat net groente eet verag nie. Want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel. Sy eie werkgewer sal hom oordeel. Aanvaar mekaar soos Christus julle ook aanvaar het.”

“Vasgelooptheid” was ’n bietjie van ’n lae-frekwensie gonswoord dwarsdeur die verrigtinge. Die voorsitter van die vergadering, ds Nelis Janse van Rensburg, het reeds in die maand voor die sinode gesê dit is tyd vir “aanbeweeg”. Hier in Benoni het hy aan die media ’n groter prentjie geskets: “Ek dink ons is op die punt waar ons ’n nuwe teologiese punt op die tafel sit: ‘Wat doen jy as geloofsgemeenskap as jy substantief van mekaar verskil?’ Dit is ’n nuwe stuk teologie wat jy hier moet ontwikkel … waar vind ons nou ons energie?” Janse van Rensburg was egter nie voorsitter vir hierdie belangrike deel van die sinode nie. Hy het homself met die aanvang van die sessie tydelik onttrek omdat hy voorsitter was tydens die 2015-sinodesitting wat nou weer onder bespreking sou kom. Die voorsitterskap is oorgeneem deur ds Nioma Venter, ’n dominee en maatskaplike werker wat wye erkenning in die kerk geniet vir die werk wat sy as predikant in sinodale diens verrig by Diaconia, ’n eenheidsbediening van die NG Kerk en VGK. Sy is slegs die vorige dag as ondervoorsitter verkies – die NG Kerk se eerste vroulike assessor van die Algemene Sinode.

Die proses het ’n gladde verloop geneem en teen 21:00 is die uitslag van die stemproses bekendgemaak. Die besluit is digitaal gepubliseer op die NG Kerk se afdeling vir Amptelike besluite. Dit is 556 woorde lank.

Nou is dit terug na gemeentes toe met dié besluit. Na Outjo, Bellville, Stellenbosch en Bethlehem. – Met bykomstige verslaggewing deur Conette le Roux