’n Onderhoud via webkamera en Zoom doen twee goed. Dit dwing jou eerstens om ’n bietjie minder te sien. Stroop die gesprek van die tipe konteks wat nuuskierige mense nodig ag: Is dit vanoggend koel daar in die Natalse Middellande? Hoe ver is hierdie huis waarbinne ons die spreker aantref van Howick se bekende waterval? Hoe oud is daai hond wat op die agtergrond blaf? Hoe lyk die uitsig buite die venster agter die spreker se linkerskouer? Wat is die uitsig wat jou gespreksgenoot sou sien wanneer sy ná hierdie uurlange sitsessie – praatsessie – miskien sal opstaan en dalk vir ’n oomblik by haarself mag wonder: Wat op aarde gaan die Kerkbode-joernalis van al hierdie konsepte, staaltjies en mededelings maak? Gaan hy reg laat geskied aan my binnelewe as student in die laat negentigs aan die kweekskool op Stellenbosch? Wat hoor hy as ek sê ek is toe vort na Nederland net om terug te keer en toe vir vyf jaar as gemeentepredikant op Grahamstad te gaan werk? Weet hy hoe uitputtend maar opwindend – transformerend dalk – dit was toe ek in ’n soort drieluikbediening beland het tussen gemeenskapskerk (Maitland), navorser by Inclusive & Affirming Ministries (IAM) en as akademikus aan my alma mater besig om M-studente te help dink oor gender en godsdiens? Kon hy hoor dat ek in 2017 KwaZulu-Natal toe geskuif het vir die “vibrancy” van die akademiese en godsdienstige omgewing en om te kan journey met studente uit Kenia, Uganda; vir breër gesprek?
Dit mag jou gespreksgenoot alles staan en wonder terwyl sy moontlik ’n hond se kop streel en moontlik na die Howick-waterval staar. Of dalk nie. Zoom weerhou die antwoorde op hierdie vrae van ons.
Meer nog, dink sy dalk: As ’n mens Foucault aanhaal, hoe “land” dit deesdae by ’n middeljarige manlike joernalis en hoe land dit dan by lesers van hierdie koerant namens wie hy my nou wil uitvra oor die hemelbreë onderwerp van vroue in die bediening? Foucault met sy filosofie oor ontwrigting van diskoers. Die Franse filosoof wie se denke ons gespreksgenoot help lei het tot die punt dat daar ’n taboewoord in haar klasse is. Wanneer hierdie mede-prof opstaan voor haar meestal nagraadse UKZN-studente, moet jy liefs nie hierdie een gebruik nie: Normaal. “Foucault het gesê wat ons as normaal en stabiel en onbevraagtekenbaar ag, is bloot konstruksies. En die klassieke vraag hierop is, is dit die waarheid vir almal? Is dit almal se realiteit? Dit roer die water waarin ons swem.”
Lees ook: Vrou se pad na kansel steeds nie gelyk, wys data
Aan die woord is Charlene van der Walt. Wawydwakker oë agter ’n opvallende bril. ’n Engelse dagblad sou haar voorkoms stellig “owlish” noem.
En daar is ’n tweede ding wat ’n onderhoud via webkamera en Zoom doen: Dit laat jou toe om ’n bietjie meer te sien. Huiwering voel nader. Maar ook selfvertroue en oortuiging is meer voorop wanneer ’n mens iemand so gerekenaarraam onder vier oë neem, dan nie?
Van der Walt is iemand wat die juiste woord soek, of dit nou Engels is of Afrikaans. “My day job is om ’n program oor gender en religion te manage, wat interessant is nou, jy weet, met die gender within the pandemic … gender-based violence, weerlose bevolkingsgroepe. Dis ’n groot navorsingsarea vir ons.”
Oorspronklik van Johannesburg. Pa gewerk by Eskom, ma betrokke by skool en kerk. ’n Paar wenkbroue het gelig toe sy die nuus breek dat sy gaan teologie studeer en, synde die eerste in haar familie om ’n graad te vang, het sy vergoed daarvoor deur ’n hele paar te vang. Haar navorsingsgebied: Contextual and Intercultural Bible Reading, Feminist and Queer Interpretation of the Bible, Intersection Gender, Health and Theology, Sexuality and Queer Studies.
Sy’s pretensieloos oor haar profskap, veral met die akademiese jaar “in limbo”, soos sy dit beskryf, weens Covid-19. “Gewoonlik voel jy asof jou werk is om inhoud aan mense oor te dra.” Nou moet sy meer langs haar studente loop en saam met hulle probeer sin maak van wat aan die hand is, vertel sy, en lag. “In die akademie verwag mense mos dat jy die antwoord het op goed. Dis die punt. Dis hoekom jy ’n professor is. En tans is dit eintlik ’n beautiful tyd waar jy kan sê, just like everyone else I don’t know.”
Lees ook: Oor stereotipes en energie
Haar studente is dikwels ouer. Dominees, veral Metodiste, maar ook mense wat in die NGO-landskap werk, of sielkundiges. Sy stel dit so: “Dis mense wat sê, jô, ek kom agter as ’n mens gender en sexuality navigate is religion nogal ’n groot component. Practitioners voel hulle kan nie regtig mense help as hulle nie gedink het oor religion nie.”
So waarmee help hierdie oud-gemeentedominee sielkundiges? Twee goed, blyk dit: Om mense te help om taal en woordeskat te ontwikkel om te praat oor issues soos gender, seksualiteit, religion, culture. En tweedens om mense so ’n klein bietjie te help om vaardighede te kry om sistemiese realiteite te analiseer.
“Dit help nie om te dink in my gemeente is daar hierdie gesin … ek meen dis belangrik om te dink in my gemeente is daar hierdie gesin en geslagsgebaseerde geweld vind hier plaas en hoekom is dit die geval, maar daar is ’n klomp sisteme wat daardie goed in stand hou: patriargie en heteronormatiwiteit en daardie goeters en hoe kom ons uit by daardie realiteite wat hierdie goed onderlê?” Dit is soms einste godsdiens wat hierdie goed in die hand werk, meen sy. “It props it up.”
So hoe sien sy haar rol?
“Die groot shift wat ons probeer maak, is om meer holisties te dink oor seks, seksualiteit en gender. Die valse teenstelling wat tussen liggaam en siel ontwikkel is. Van der Walt sê dit sluit aan by “classic feminist understanding” wat sê: “Kom ons verander die rigting van die gesprek en ons begin by die beliggaamde realiteite van mense in bepaalde kontekste. Ons sê OK, ons kom sê nie vir jou watter intervensies moet plaasvind in jou konteks nie, ons kom luister in die eerste plek na jou.” Haar refrein is: Just slow down your judgement.
Dit is amper ’n filosofie of teologie selfs van hokaai, stadig oor die klippers wat ’n mens by haar hoor. Sy probeer wrywing skep op die glyplank van See-Judge-Act wat sy meen ook in die NG Kerk dikwels baie glad gebaan is. Haar betoog: “Bou net ’n pouse in voor jy begin antwoorde gee. Kom ons probeer ’n thick description kry van wat werklik aangaan.”
Makliker gesê as gedaan, vertel sy op innemende wyse aan die hand van foute wat sy al self begaan het. In ’n poging om “survivors” van geslagsgebaseerde geweld in te sluit by ’n onlangse konferensie, het hulle inderwaarheid die teenoorgestelde reggekry en moes deeglik daarvan hoor. Die survivors se punt was: Hulle moet kom om hulle “pain te perform” sodat die res kan voel wat aangaan, maar dan doen die groep nog steeds wat hulle goeddink. Dit was ’n les wat Van der Walt ter harte geneem het.
Lees ook: ‘Mag ons krag en moed vind’
“Op ’n meer beliggaamde manier voel ek dieselfde oor seksuele diversiteit. Ek dink die kerk invite ons nog elke keer en sê, ok boys, kom sê vir ons hoe dink julle oor die goed en dan draai hulle om en hou ’n private party om te dink oor wat hulle nou gaan implementeer. Ek melk jou vir jou ervaring, maar jy is nie eintlik included in die conversation nie. Ek dink daai proses, van hoe ervaring infeed in die bedryf van ons teologie of akademiese proses – moet gebeur.”
Ons is, uiteraard, terug by Foucault. “Ek gaan nie opdaag by die tafel nie, want dis steeds ’n tafel wat deur jou gedek word. Ek moet deel wees van die dek en nooi.”
Waar dit mag klink na ’n houding van voorwaardelikheid, hoor ’n mens ’n gretigheid om aan tafel te wees by Van der Walt. ’n Akademikus se geesdrif en verwondering vir die Bybel as – in die woorde van haar kollega prof Gerald West, ’n “site of struggle”. “Die teks praat met verskillende stemme en dit is ’n komplekse interne gesprek. Maar dan wil ons goed wat ons as stabiel beskou, beskerm,” veruidelik sy. Dis is ’n oortuiging wat sy navors maar ook as leraar gepreek het. Dit was haar standaard “line” op Grahamstad: “Mense, hierdie teks (die Bybel) is nie vanoggend geskryf en as faks onder die deur geskuif nie. Dit kom uit ’n ander landskap en ons werk is om die waarde van die teks te vertaal na ’n radikaal ander konteks vandag.”
’n Hond blaf in die agtergrond.
Van der Walt praat oor ’n artikel wat sy geskryf het met die titel “Why reading alone is bad for you”. Sy praat oor die belang van kontekstuele lees, wat sê daar is “iets dinamies wat gebeur as ons die Bybel tesame met ander mense lees – juis mense wat anders is as jy. “En bitter min mense steek hand daarvoor op. Ons wil dit doen met mense wat eners is, tee drink en huis toe gaan,” sê sy.
Ek dink aan hoe sy op ’n kol in die gesprek genoem het dat hierdie tipe goed – groepwerk – vir haar as introvert regtig moeilik is. Maar dat sy glo ’n mens moet terugleun; dieper in die ongemak.
