Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Oor stereotipes en energie

Ter viering van dertig jaar van die vrou in die amp in die NG Kerk, het JACOBIE M HELENA hierdie ses dominees ’n paar vrae gevra.


[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/07/Liesel-Krause-Wiid.jpg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Liesel Krause-Wiid, NG gem Kameeldrif

Wat het Covid-19 jou geleer oor jou geloof en oor die kerk?
Die aaklige koronavirus het ons huis sy adres gemaak toe my 13-jarige seun po­sitief vir Covid-19 getoets het. Hy was vir ’n paar dae baie siek en hoewel sy smaak steeds aangetas is, is ons baie dank­baar dat hy vinnig herstel het. My eerste reaksie na ek die nuus gehoor het, was verslaenheid. Ek het onmiddellik op my knieë gesak en vir my kind begin bid en ’n kalmte het oor my gespoel.

Vir watter deel van die bediening het uni­versiteitstudies jou goed voorberei en watter dele moes jy heelwat “op die job” leer?
My studies het my geleer om verantwoordelik met die Bybel om te gaan. Dit is belangrik om elke Bybelboek se genre, kultuur, gebruike, taal en nog soveel meer in ag te neem.

Hoe sien die samelewing vrouedominees?
Ek dink die meerderheid van ons samelewing is baie gemaklik met vrouepredikante. Ek het nog net een keer vandat ek beroep is met iemand te doen gekry wat negatief was oor die vrou in die amp.


Tilana Meyer-Morkel, NG gem Paarl-Vallei

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/07/Tilana-Meyer-Morkel.jpg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Hoe sien die samelewing vrouedominees?
Ek is vasgevang tussen twee teenpole. Aan die een kant, is dit vir baie mense ’n “vars bries”, ’n “bewys oor hoe ver die kerk gekom het”. Aan die ander kant, is dit vir baie mense nog steeds onaanvaarbaar dat enige vorm van leierskap of gesag by ’n vrou hoort. Die hartseer van die twee teenpole is dat dominees, wat toevallig vroue is, as ’n “ding” gesien word. Dit is nog lank nie normaal nie.

Ervaar jy stereotipering in die werks­omgewing?
Daar is nog baie werk om te doen. Die groot uitdaging rondom stereotipering is dat dit op ’n baie onbewustelike vlak gebeur en op die slegste maniere na vore kom. Dit maak dit moeilik om pro­ble­me te “pin point”. Mense pleit vinnig onskuldig. Daar sal ’n diep, lang en moei­like pro­­ses van bewusmaking, aanvaarding en omhelsing binne-in ons gemeente moet plaasvind voordat daar ’n gelyke speel­veld vir my en my manlike kollega is.

Maar, we can do hard things. So, ek is baie hoopvol dat ons beweeg en treë vorentoe gee. Die lig in die tonnel is dat daar wel individue is wat nie op stereo­tipes reageer nie, wat nie vasklou aan patriargie nie en wat mense (punt) as gelyk ag, aanvaar en behandel. Ons het net méér van hierdie stemme in ons leierskap nodig.


Elsabe Horn, NG gem Windhoek

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/07/Elsabe-Horn.jpg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Watter deel van jou werk tap en voed jou as mens?
Ek hou niks van vergaderings, geld tel en somme maak nie. Strukture, ordes en “red tape” maak my lam. Ek voel vol as ek ’n preek moet voorberei en nuwe ontdekkings maak en is opgewonde as ek besef die preek was eintlik vir my. Dit voed my om mense in hulle worsteling, seer en soeke te ontmoet.

Ervaar jy stereotipering in die werks­omgewing?
Ek dink daar is waardering vir die ander dinamika wat vroue tot die bediening kan bring. Vroue spreek spesifieke behoeftes aan en die aanslag waarmee ons dit kan doen, is uniek. Ek wil nie as vrou gelyk behandel word as die mans nie, want ek is nie ’n man nie. Ek is anders en het ’n ander rol om te vervul. Ek dink die kerkomgewing moet daardie aanvullende rol omarm. Vroue behoort nie aangestel te word omdat hulle vroue is nie, maar oor die aanvullende bydrae en stem wat hulle kan bring.


Bianca van Graan, NG gem Kenhardt

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/07/Bianca-van-Graan.jpg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Wat het Covid-19 jou geleer oor jou geloof en oor die kerk?
Covid-19 het my geleer dat ons die klem in die kerk vir te lank op die verkeerde goed geplaas het. Die kerk kan in alle om­standighede oorleef. Ons as predi­kan­te en gemeentelede moet net bereid wees om aan te pas.

Watter deel van jou werk tap jou en voed jou as mens?
Die emosionele ondersteuning van men­se tap my as ek nie ’n ondersteu­ningsnetwerk het nie. Dit tap my om te sien dat al spandeer ek tyd saam met mense, aan my preke en aan my voorbereiding, daar soms steeds nie groei by mense plaasvind nie. Dit voed my om te sien dat mense in hulle geloof en in hul­le persoonlike lewe groei. Ek kry energie as ek sien hoe opgewonde tieners is om van geloof en die Bybel te leer.

Hoe sien die samelewing vrouepredikante?
Ek ervaar gemengde reaksies oor vroue­predikante. Daar is mense wat positief is oor vrouepredikante of wat bereid is om jou ’n kans te gee. Oor die algemeen ervaar ek dat jy konstant gemeet word aan manlike kollegas of voorgangers. Veral as jy die eerste vrouepredikant in ’n gemeente is, verwag die gemeente dat jy moet optree en maak soos wat die vorige manlike predikante gemaak en op­ge­­tree het. Dit veroorsaak baie spanning as jy jouself die heeltyd moet be­wys en steeds gekritiseer word omdat jy nie doen soos hulle gedoen het nie.


Ronél Meylahn, NG gem Universiteitsoord

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/07/Ronél-Meylahn.jpg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Wat het Covid-19 jou geleer oor jou geloof en oor die kerk?
Wat Covid-19 anders maak, is dat ek ontdek het wanneer mense sáám ly en saam ingeperk word, is daar groter deer­nis en sagter harte vir mekaar. Oor die kerk: Ek dink die kerk het dadelik begryp dat ons op nuwe, kreatiewe maniere moet kerk wees en dat ons nié gebind is aan ons geboue nie.

Watter deel van jou werk tap en voed jou as mens?
Die antwoord op albei vrae is dieselfde – pastoraat en prediking. Ek is altyd met huiwering pastoraal by mense betrokke, bewus daarvan dat ek op heilige grond staan, en baie bewus dat ek nie nood­wen­dig antwoorde het nie, maar terself­dertyd is dit vervullend, omdat dit in my saam reis met mense is waar ek die verrassende, heelmakende krag van God beleef. So ook met prediking, is ek altyd weer verstom oor die belewenis dat die Woord van God lewe skep, ruim­te skep vir nuut word en vir tot ver­haal kom, perspektief gee en geloof wek.

Ervaar jy stereotipering in die werks­omgewing?
Ek was in drie gemeentes tot nou toe en het altyd liefde en aanvaarding beleef. Ek het nooit ervaar dat mense my anders behandel as my manlike kollegas nie. Ek is jammer dat baie van my vroulike kollegas ’n ander belewenis gehad het en baie seergekry het.


Suléne du Toit, NG gem Fraserburg

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/07/Suléne-du-Toit.jpg” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Hoe het universiteitstudies jou vir die bediening voorberei en watter dele moes jy “op die job” leer?
Fraserburg staar die agtste jaar van uitmergelende droogte in die gesig. En nou word die land boonop nog in ’n ekonomiese krisis weens die uitbreek van Covid-19 gedompel. Ek het op universiteit geleer dat ek nie altyd al die antwoorde hoef te hê nie. Ek kan bloot net sáám luister, saam treur en saam met my gemeentelede probeer om steeds vir God, midde in die krisistyd, raak te sien. Verder het ek nie geleer om vir ’n kamera te preek of slegs ’n stemop­name met voice-recording preke op te neem nie. Ek moes vinnig leer om op my stem staat te maak en die rol van ’n radio-omroeper in te neem. Dit was wonderlik om te ervaar dat God slegs my stembande nodig het om die boodskap by sy geliefdes te kry.

Ervaar jy stereotipering in die werks­omgewing?
Alhoewel baie plattelandse gemeentes dalk nog neersien op vroulike predikante het Fraserburg-gemeente gewys dat hulle geen onderskeid tref nie. Sekere onvanpaste opmerkings het hoof­saaklik van nie-gemeentelede gekom en ’n mens kan dit oor die boeg van onkunde gooi. Maar ek steur my glad nie daaraan nie. Die uitdaging is veel eerder dat ek jonk is as wat dit ’n uitdaging is om vrou te wees.

Lees ook ‘Mag ons krag en moed vind?’

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top