Die versoeking met ’n mylpaal soos die een wat ons in hierdie uitgawe bespreek – 30 jaar van vroue in die amp – is dat ’n mens nalaat om vorentoe te kyk. En te droom. Kerkbode het vier leraars uitgenooi om presies dit te doen.
‘Ons volg, Here’
Marlize Malherbe
“Ek is nou regtig óór hierdie Korona-virus!” sê ’n tiener.
Ai, as dit maar so maklik was! Maar helaas … dit gaan duidelik nie so eenvoudig wees nie. Wat die virus en die hele inperking in my en dalk baie ander se monderings kom uitwys het, is die feit dat ons toe nou nie só in beheer is as wat ons gedink, geglo en gehoop het nie. Ook nie die kerk nie! In die jaar wat ons die 30ste herdenking vier vandat die vrou in die amp toegelaat is, is dit egter ook die jaar wat ons op allerhande vlakke uitgedaag word om núút en uit die spreekwoordelike boks te dink – of jy nou wou of nie!
So, wanneer daar gevra word oor hoe die kerk oor 30 jaar van nou af gaan lyk, het ek nie die vaagste benul nie! Maar ek dink wel ons het mans en vroue as leiers in die kerk nodig wat kans sien (en dalk belangriker – lus is!), om anders te kyk en te dink, nuut te beplan, praat en doen en só die volgende 30 jaar storm te loop.
Daarom droom en bid ek van ’n NG Kerk waar:
- Mans én vroue hulle Godgegewe roeping, talente en gawes (predikante, ouderlinge, diakens, gemeentelede) op alle plekke ten volle sal kan uitleef sonder vrees of angstigheid.
- Eerlike(r) gesprekke oor moeilike sake, selfs seer ‘topics’ rondom ronde tafels sal plaasvind. Waar mense met mekaar in liefde sal praat, respekvol na mekaar sal luister om te hóór … en nie om te veroordeel of selfs antwoorde te gee nie. Waar beide partye bereid is om jammer te sê en sáám as ’n span die onseker pad vorentoe aanpak.
- Ons mekaar se integriteit sal beskerm en mekaar sal vertrou – dit vat guts.
- Ons gedurig op soek sal wees na dinge wat ons aan mekaar bind en nie net kyk wat ons van mekaar skei en weghou van mekaar nie.
- Ons die magswaarde sal neerlê en ons diensvoorskote sal aantrek …
- Ons meer oor “ons” sal praat as oor “hulle”.
- Ons sal besef ons het mekaar nodig – regtig nodig om nie net te oorleef nie, maar om te kan groei en te floreer.
- Waar ons nie #-hashtags op mekaar plak en waar nie net “black lives matter” nie, maar “all lives matter”.
Gaan my drome en gebed waar word? Ek weet nie. Maar wat ek wél weet is dat Gód ’n plan en droom vir sy kerk het – en dit is genoeg vir my.
Mag ek en jy in die volgende 30 jaar, omring deur onsekerhede, ons monderings wat al hoe meer duike in kry en waar ons aanhoudend “buite beheer” gaan voel, al hoe sekerder raak in die EEN IN WIE ONS GLO!
Mag ons ons krag en moed vind in die bekende woorde van Andrew Murray (Absolute surrender): “God has a plan for his Church upon earth. But alas! We too often make our plan, and we think that we know what ought to be done. We ask God first to bless our feeble efforts, instead of absolutely refusing to go unless God go before us.” Gaan voor ons uit, Here! Ons volg …
▶ Ds Marlize Malherbe is leraar by NG gemeente Richardsbaai.
Ons godsbeelde moet verruim
Carin van Schalkwyk
Sisteme skuif nie oornag nie – dit vra dat almal sal inkoop om ongemaklike gesprekke te voer.
Hierdie opdrag het my nogal diep laat nadink: Van watter kerk droom ek? Hoe moet die kerk lyk oor dertig jaar, nie net vir vroue nie, maar vir almal? ’n Mens kan maklik in die strik trap om daarop te hoop dat daar iewers ’n towerstaf geswaai gaan word en dat alles veilig en idillies gaan wees. Ek is egter meer nugter in my benadering.
Dertig jaar gelede was dit verskriklik moeilik vir vroue om beroepe na gemeentes te kry. Hulle name is van kortlyste verwyder, want hulle kan nie alleen huisbesoek by mans doen nie, hulle kan nie alleen op plaaspaaie ry nie en wat gebeur as hulle swanger raak en kinders kry? ’n Mens sou wou glo en hoop dat dit nie meer vandag die geval is nie. Dit is egter nie waar nie. Hierdie redes word steeds aangevoer om vroue uit te sluit.
Die eerste prys vir my sal dus wees dat ons oor dertig jaar nie meer hierdie redes moet aanhoor oor hoekom vroue uitgesluit word nie. Ek is egter bevrees dat dit nie sommer sal gebeur nie. As daar nie ’n skuif in die loop van dertig jaar oor hierdie saak gekom het nie, sal dit ook nie in die volgende dertig jaar gebeur nie. Sisteemteorie leer ons dat ’n stelsel nie sommer verander of skuif nie. Die teendeel is eerder die geval: Hoe meer die stelsel bedreig voel, hoe meer is die stelsel geneig om verdedigingsmeganismes in plek te plaas en die status quo te beskerm.
Die stelsel waarvan hier gepraat word is patriargie. Of ons dit wil weet of nie, die kerk is ten diepste ’n patriargale stelsel. Die stelsel word in plek gehou met patriargale godsbeelde en interpretasies van die Skrif. Dit is nie iets wat oornag geskuif word nie, want dit is in ons almal se DNS ingeprent. Indien ons enigsins kan hoop op ’n beter toekoms vir vroue in die bediening, is daar ’n diepgaande gesprek nodig oor die invloed van patriargie op ons denke, dade en oor hoe ons die Skrif lees en verstaan.
Dit is ook nodig dat daar ernstig gekyk sal moet word oor ons metaforiese spreke oor God. Dit is hierdie spreke oor God wat ons godsbeelde vestig en definieer. Hierdie godsbeelde help tans om die patriargie in stand te hou. Dit is nodig dat ons ons godsbeelde moet verruim en onderbenutte metafore oor God uit die Bybel meer moet benut en gebruik tot ’n meer veelvuldige verstaan van God.
Binne hierdie gesprek sal daar fyn geluister moet word na groepe se stemme wat tot nou toe nie gehoor is nie – dit sluit nie net vroue in nie, maar alle groepe wat tot nou toe uitgesluit is om welke rede ookal. Dit gaan van die ooms en tannies in die kerk wat vasgevang is in patriargie vra om dapper te wees en om hulle oop te stel vir eerlike gesprek. Dit gaan vra dat mag gedeel word en dat ons oop moet wees om deur God verras te word om nuwe metafore oor God te ontdek.
Mag ons in die komende 30 jaar dapper genoeg wees om hierdie gesprek met mekaar op ’n luisterende manier te voer.
▶ Dr Carin van Schalkwyk is predikant op Philippolis en skriba van die NG Kerk in die Vrystaat.
Beter, nie bitter
Norma Rossouw
Ek deel vandag ’n stukkie van my hart. In 1996 op pad na die PUK om ’n rekenmeester te word, het die Here my planne radikaal verander. Van die politiek van vroue in die kerk, het ek maar bitter min geweet, van hulle stryd nog minder. Al wat ek geweet het, is dat die Here my roep om as vrou in die bediening te staan. En elke dag is dit waaraan ek steeds vashou, dat die Here van sy kerk my geroep het om Hom te dien wanneer en waar Hy my ookal stuur.
So stap ek in by die Fakulteit met baie vrae en ek loop my vas in prof Fika van Rensburg. Daardie dag het ek besef dat God se geskenk vir die kerk, sy Woord en sy mense is en ek glo dat dit ook vir die volgende 30 jaar in die NG Kerk waar sal wees. In my studies en bediening het die Here vir my wonderlike vriende gegee, saam met wie ek kon lag en huil, saam kon bid en saam kon worstel en ek glo dat een van die grootste uitdagings vir die toekoms van die kerk sal wees dat ons nie in “gender” teen mekaar sal opstaan nie, maar dat ons saam met mekaar sal kan hande vat en die kerk en die wêreld kan bedien met die evangelie en liefde.
Ek dink dat een van die grootste uitdagings nou en in die nabye toekoms die verskillende teologiese strominge in die NG Kerk is, hoe ons die Bybel vertaal en verstaan en watter gesag die Bybel in ons lewe en in ons gemeentes het. Hoe die gesprekke gevoer word en wat die uiteinde gaan wees gaan na my mening die impak en die gesag van die NG Kerk in ons land bepaal.
Een van die belangrikste rigtinggewers as ons nog kerk wil wees vir die volgende 30 jaar is dat Jesus die Hoof en die Here van sy kerk is en dat Hy omdat Hy die Koning is sy kerk regeer deur sy Woord en Gees. Daarom is dit so belangrik dat ons leiers in die kerk met integriteit, vertrouenswaardigheid en die waarheid sal lei.
Ek dink ook vir die kerk om vir nog 30 jaar ons land te bedien, gaan veral leiers onder mekaar, maar ook lidmate, moet leer om te vergewe, selfs as jy verraai, verloën en seergemaak is. Soveel keer sien ons hoe bitterheid en onvergewinsgesindheid mense versmoor sodat hulle die volheid van die bediening heeltemal kan mis. Dit maak dat die kerk vasval in die verlede en as slagoffers en verontregtes vorentoe probeer beur. Deur Jesus se kruisdood en opstanding is ons vrygemaak.
Kom ons maak ons los van wat agter is en strek ons uit na wat voor ons is. ’n Kerk wat bekend staan as Vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Daar is die gesegde wat sê :”Let your past make you better and not bitter”. Mag die verlede ons help na ’n mooier toekoms in die NG Kerk.
▶ Ds Norma Rossouw is leraar by die NG Kerk Vaalrivier in Vanderbijlpark en ’n voormalige moderator van Sinode Goudland.
‘Ek is dominee. Punt’
Angelique Ghall
Ek droom oor ’n kerk waar vrouepredikante nié as vrouepredikante gesien word nie, maar as volwaardige predikante. As mense, wat predikante is, in hulle eie reg.
Ek is opnuut aan die ongelykheid, wat steeds onder predikante in die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) en waar ek bedien, herinner toe daar ’n ou onderhoud van prof Mary-Anne Plaatjies-van Huffel met haar afsterwe in Mei vanjaar uitgesaai is. Sy het in die onderhoud, wat oorspronklik in 2015 opgeneem en uitgesaai is, gesê dat die teologie rondom vroue in die bediening nog verskuif moet word. Hoewel ’n mens in die jonger generasie se manlike predikante, wat gewoond is aan vroue wat saam met hulle studeer, meer van ’n openheid oor vroue in die amp sien, is dit nog glad nie die geval by ouer manlike predikante nie. By die ouer predikante moet daar nog ’n teologiese verskuiwing kom waar hulle nie vrouekollegas sien as mense wat hulle moet beskerm of as vaderfigure voor moet optree nie. Hulle moet besef dat ons vroulike kollegas ons werk net so goed kan doen soos mans dit doen.
As vrou in die bediening moet jy heeltyd aan lidmate bewys dat jy net so goed is soos jou manlike kollegas. Jy moet bewys dat jy objektief kan optree en dat jy ’n vergadering soos ’n man kan bestuur. Jy moet bewys dat jy keuses en leiding soos ’n man kan gee. Dit is so moeilik. Ek is ’n vrou en ek hoef nie ’n predikant te wees soos ’n man nie. Ek kom met my eie unieke manier van dinge doen en nie omdat ek ’n vrou is nie, maar omdat ek in my menswees anders is. Mense verskil van mens tot mens.
My grootste droom is dat ’n vrou haar regte plek in die bediening sal inneem en dat daar weg beweeg kan word van die term “vrouedominee”. Ek is ’n dominee. Punt. Stop. Klaar. My geslag het niks te doen met die amp wat ek vul nie. My geslag het niks te doen met my roeping nie. Ek droom oor ’n dag wat ons as vroue gemaklik in die roeping wat God vir ons gegee het, kan loop. Ons hoef nie terug te staan nie.
▶ Ds Angelique Ghall is leraar by VGKSA Vanrhynsdorp.
- Lees ook Oor stereotipes en energie

Interessant. Ek wonder hoe jul ervaring verskil / nie, van die vroulike leraars in die NHK?
Hoe stem die toekomsverwagting ooreen/nie, van manlike kollega’s in die susterskerke?
Seënwense & mag jul werklik in gehoorsaamheid Sy lig en liefde leef.