Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

30 jaar later: Vrou se pad na kansel steeds nie gelyk, wys data

Ná dertig jaar van vroue op die preekstoel is daar ’n groeiende getal vroue wat teologie swot, gelegitimeer word, en beroep word na gemeentes in al tien streeksinodes van die NG Kerk – in die stad én op die platteland. Maar data dui op tekens van ongelyke behandeling in die kerk, meen COBUS VAN WYNGAARD. “Vroue het ’n kleiner kans om beroep te word, ’n groter kans om deeltyds aangestel te word, en ’n groter kans om as proponente in die kerk te werk sonder dat hulle beroep word,” verduidelik hy op grond van onlangse navorsing van die Taakspan Navorsing. Kerkbode het hom uitgevra:

Is daar deesdae meer vroue wat teologie swot en predikante word?
Tussen 1990 en 2019 is daar ongeveer 1 350 persone in die NG Kerk gelegitimeer: 21% vroue en 79% mans. Die mans wat gelegitimeer is in hierdie tyd het ’n 73% kans gehad om beroep te word, en die vroue ’n 61% kans. Dinge het mettertyd verander. As ons slegs van 2010 af kyk, is 63% van gelegitimeerdes mans, en 37% vroue, terwyl 59% van vroue uit hierdie groepe al ’n beroep ontvang het, teenoor 69% van die mans. Uit diegene wat beroep is sedert 2010, het die mans ’n groter kans gehad om hulle eerste beroep binne twee jaar na legitimasie te ontvang.

Die kort antwoord is dus dat daar al hoe meer vroue is wat teologie studeer en gelegitimeer word, al hoe meer vroue­predikante is wat beroep word in gemeentes, maar dat vroue steeds moeiliker beroepe kry in die NG Kerk as hulle manlike eweknieë.

Hoe lyk die verspreiding van predikante tans?
Predikante bevind hulleself op verskillende plekke. Party is dosente, ander kapelane, en nog ander werk in ’n heel ander veld. Daar was teen 2019 sowat 1 335 predikante wat beroep is en aan gemeentes verbind is. Sowat 144 van hulle is vroue. Van hierdie 144 is 43% in tentmaker- of termynbepaalde poste, teenoor slegs 14% van mans. By predikante wat sedert 2010 gelegitimeer is, is 49% van vroue en 31% van mans in tentmaker- of termynbepaalde poste.

Maar doen vrouepredikante aansoek?
Ons hoor partymaal dat vroue nie aansoek doen vir poste nie. Daar bestaan nie ’n sentrale rekord van wie aansoek doen nie, maar in ’n vraelys wat deur ’n groot persentasie predikante (asook ’n aantal proponente) onder 40 ingevul is, dui slegs ongeveer 10% van beide mans en vroue aan dat hulle nie in die afgelope drie jaar enige aansoeke inge­dien het nie. Meer as 70% van beide mans en vroue dui aan dat hulle verder as 50 km van waar hulle tans bly, aansoek gedoen het. Beide jong vroue en mans wat beroepbaar is, is dus besig om aansoek te doen vir poste, en is bereid om te verhuis as hulle ’n beroep sou kry.

Word vrouepredikante na die platteland beroep?
Ander kere hoor ons dat jong predikante oor die algemeen, en vroue spesifiek, nie op die platteland wil aansoek doen nie. Beide jong mans en jong vroue dui aan dat hulle aansoek doen in kleiner dorpe op die platteland. Sowat 41% van vroue en 49% van mans onder 40 beskryf hulle huidige gemeente as deel van die platteland.

Dr Cobus van Wyngaard is ondervoorsitter van die Taakspan Navorsing, do­sent in Sistematiese Teologie by Unisa, en predikant van NG Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “30 jaar later: Vrou se pad na kansel steeds nie gelyk, wys data”

  1. Stefaan de Jager

    Daar is deur die jare baie geredeneer oor die vrou in die amp. Toe die kerk 30 jaar gelede vroue tot die amp van leraar toegelaat het, het die vreugdevure hoog gebrand.Tog is dit my oortuiging na al die jare dat ons nie by die Skrif kan verbykom oor hierdie saak nie. As besluite deur die kerk geneem word wat in stryd is met wat God vir ons in Sy Woord sê, sal die praktyk van daardie besluite altyd probleme optel. Kyk maar na die gesukkel oor vrouens wat nie tot hul “reg” kom as leraars nie, apartheid destyds, selfdegeslagverhoudings onlangs. Al sulke besluite lei maar iewers tot vasgelooptheid.

  2. Ronell Bezuidenhout

    Ek het weer geleer dat geen verknogtheid aan patriargie onveranderd kan bly nie. 30 jaar is maar ‘n druppel in die emmer en kyk hoe werk die Gees reeds met die verbrokkeling van weerstand teen inklusiwiteit…
    Soos Paulus kan elke vrou getuig van die “houe van weerstand’ en tog het ons in 1990 met tien vroue begin en vandag is daar 334.

Comments are closed.

Scroll to Top