Die heilige klanke, nuwe geleenthede en moeilike besluite wat ou orrels vir moderne gemeentes bring

Vir sommige is dit heilige musiek. Ander vermy eredienste waar dawerende orrelklanke die sang begelei ten gunste van ’n kerkband se byderwetse aanslag. Maar die orrel is nog lank nie stil nie, berig Jacobie M Helena.

Ds Bernard Malherbe sien twee uitdagings met orrelmusiek in sy gemeente. Dit is vir hulle amper onbekostigbaar om die orrel in stand te hou. En hy vrees dit sal in die toekoms toenemend ’n uitdaging wees om orreliste te kry wat die orrel goed kan speel.

LEES OOK: ‘Spoegwolf se Danie du Toit oor God, kerkmusiek en angry emails’

Hierdie leraar by die NG gemeente Paarlberg is stellig nie die enigste wat al ernstig moes improviseer rondom hierdie roemryke instrument wat dikwels lidmate se musieksmaak verdeel en af en toe gemeentes se bankrekenings ’n behoorlike knou toedien nie. Trouens, Werner Hurter sal jou vertel dat orrelprobleme ’n goeie besigheidsgeleentheid skep. Hy is die eienaar van ’n maatskappy genaamd Pyporrels. Met kennis wat Hurter met opleiding in Nederland opgebou het, bied sy besigheid gespesia­liseerde orrelboudienste in Suider-Afrika, waaronder stemming, onderhoud en opgradering van pyporrels. Maar met sy tegniese agtergrond van die me­ganika, elektronika en argiteksont­werp van orrels, hoor ’n mens ook dat Hurter meer as orrelinstandhouding doen. Hy wil innoveer.

Werner Hurter. Foto verskaf

Maar die orrel is nie vandag se kind nie. Die oudste bespeelbare een ter wêreld is in die Basilika van Valère in Sion, Switzerland, skryf prof Theo van Wyk in ’n onlangse bydrae op die web­werf “The Conversation”. Dit dateer uit 1435. “Tot die Industriële Revolusie was die orrel en die horlosie die wêreld se twee mees ingewikkelde en komplekse mensgemaakte artefakte,” skryf Van Wyk, die hoof van die Kunstedepartement aan die Universiteit van Pretoria.

En praat jy ’n slag self met ’n kenner oor hierdie instrument besef jy gou presies hoe indrukwekkend baie van hierdie instrumente is. In Suid-Afrika is die orrel met die meeste pype (meer as ­6 000) in Pretoria se stadsaal. Die grootste orrelkas staan 14 m hoog en 10 m breed in die Veremarksaal, Gqeberha, volgens prof Albert Troskie, emeritusprofessor en voormalige hoof van die Musiekdepartement aan die Nelson Mandela Universiteit. Die twee oudste orrels in SA is volgens hom in die Genadendal Museum (1825) en in die Wesleyaanse kerkie op Grahamstad (1832), terwyl die grootste kerkorrel (met elektriese aksie) in die Groote Kerk, Kaapstad, te hoor is. Die grootste kerkorrel met meganiese aksie is weer by Somerstrandkerk in Gqeberha, aldus Troskie, die skrywer van twee boeke oor pyporrels in Suid-Afrika, Pyporrels in Suid-Afrika (1992) en The pipe organ heritage of South Africa (2010).

Maar die ware toets en maatstaf van die instrument is tog seker gewoon die klank wat al hierdie pype en kaste voortbring, nie waar nie?

Prof Theo van Wyk. Foto verskaf

Hester Ackermann raak maklik liries oor orrelklanke. “(Dit) het ’n heilige klank,” sê dié orreliste van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria. “Orrelmusiek vat vir my die almag en goedheid van God vas. Dis ’n manier om vir God te verheerlik. As ek voor die orrel inskuif, doen ek dit tot eer van die Here,” vertel sy.

Maricus le Grange, die musiekleier en orrelis by die NG gemeente Stella­straat, ook in Pretoria, stel dit in soortgelyke taal: “As jy ’n massa mense kry wat saam sing, is daar iets heiligs aan orrelmusiek in die kerk,” meen Le Grange.

Tog deel alle lidmate, leraars en mu­siekleiers uiteraard nie Ackermann en Le Grange se geesdrif vir orrelmusiek by eredienste nie. Daar woed plek-plek steeds na-trillings van die sogenaamde “worship wars” in sommige gemeentes waar musiekleiers kies om ’n ander ­koers in te slaan. In die vroeë 2000’s is die spanning in die breë kerk oor die verskeie vorme van aanbidding tydens eredienste deur Thomas Long onder die soeklig geplaas. Dié Amerikaanse akademikus se boek Beyond the worship wars: Building vital and faithful worship het ook plaaslik met lesers geresoneer.

In die NG Kerk het dié einste spanning rondom orrelmusiek in eredienste en die gebruik van ander instrumente as die orrel immers ook kop uitgesteek. Dit het onder andere gelei daartoe dat ver­skeie gemeentes gewoon twee ere­dienste begin hou het. ’n Tradisionele diens waar die orrel gespeel word en meer informele dienste waar ander instrumente soos kitare, baskitare of klaviere in ’n band-formaat gebruik word.

Dié gesprek is nog nie afgehandel nie. Dit moet trouens deur jongmense hervat word, meen Le Grange. “Aan die een kant is daar die debat om ander musiek, as orrelmusiek, in die kerk te speel. Ons hoor dat dit die mense kerk toe sal lok. Maar ek weet nie. Waar is die bewyse vir daardie stelling?” Le Grange voel dat in die dienste waar die orrel gespeel word die kerkgangers die beste sing en dit ook die dienste is wat die beste bygewoon word. “Die arme orrel kan nie gekruisig word omdat daar ander musiek bestaan nie,” sê Le Grange.

Maricus le Grange. Foto verskaf

Ackermann voel sterk daaroor om steeds die orrel in eredienste te gebruik. Sy vertel dat in hulle gemeente alleenlik van die orrel tydens aanbidding gebruik gemaak word. “Ons hou net tradisio­nele dienste met die orrel. Persoonlik voel ek dat ander musiek in die kerk afbreuk aan die diens doen. Ander tipe musiek in die kerk as orrelmusiek is ’n vervlakking in musiek,” meen sy.

Ds Jandré Viljoen, predikant by die NG gemeente Ceresvallei, verskil van Ackermann. Viljoen, wat jare lank al in verskeie kerkbands speel, bevraagteken gesprekke waar orrelmusiek teenoor ander tipes musiek in die kerk gestel word. “Dit gaan vir my oor die inklusiwiteit van alle vorme van kerkwees. Óók wanneer dit by musiek kom. Die vraag is hoe maak ’n mens ruimte vir alle tipes musiek in die kerk. Wat bands nie verstaan nie, is dat ’n band nooit al die frekwensies en spektrum van ’n orrel kan speel nie. Die orrel is ’n unbelievable gift,” meen Viljoen.

LEES OOK: Kanniedood karretjie hoop alles, verdra alles, glo alles

Hierdie ‘gawe’ word ook wyer as net in kerkkringe geniet, meen Van Wyk, wat ook sekretaris is van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorreliste­ver­eniging (SAKOV). In Jazz, Rock en selfs in die klankbane van Hollywood-gruwelfilms, kan die orrel gehoor word. ’n Jonger generasie het SAKOV begin vernuwe en bring hulle energie na SAKOV, aldus Van Wyk. Hy sê SAKOV, wat uit byna 1 000 lede bestaan en in 1980 ge­stig is, word toenemend inklusief.

Intussen, in die Paarl, moet Malherbe steeds moedig musiekplanne maak. Hy vertel dat hulle klavierspeler al voor ’n erediens orrelklanke op ’n elektriese klavier getoets het om te sien hoe die kerkgangers reageer. Op dié ma­nier kan hulle die tradisionele orrel­klanke in die toekoms deel van die erediens maak vir die dag wanneer hul gemeente die pyporrel in die kerkgebou moet groet. Wen-wen? Of verloor-verloor?


Lekker gelees? Kliek op die voorbladfoto hierbo om uit te vind hoe jy ons joernalistiek kan ondersteun deur ’n Vriend van Kerkbode te word.

Word 'n vriend van Kerkbode