Op Sutherland staan Jan Mankopaan by sy gedaan Nissan 1400-bakkie. “Hier’s darem nie te veel verkeerd nie,” sê hy en wikkel die enjinkap oop.
Jan se bakkie se enjin is ’n stillewe in olie en desperaatheid. Geen lugfilter nie. Geen vonkverdeler nie. Die battery verweerd.
“Eintlik moet ek nou maar net sy tyd stel.” Jan glimlag moedig. Daar is beslis meer om te doen as om net die tyd te stel.
Maar Jan is ’n man van geloof. Jy moet dit wees as jy so ’n ou ryding het.
Ek hou van tyd tot tyd by manne soos Jan Mankopaan stil en gesels met hulle oor hulle rygoed. Ek het ’n ding, noem dit maar ’n liefde, vir sulke ou bakkies en karre. Rammelkaste. Skedonke.
Die townshipmense praat van so ’n sukkelkar as ’n skorro-skorro.
LEES OOK: Dana Snyman: Om die binne-chaos te verdryf
Jan wil nie regtig teen 63 km per uur op die N1 in hierdie bakkie aan skorro-skorro nie. Hy wou ook nie regtig daardie boete van R850 gehad het wat hy anderdag by Touwsrivier gekry het vir te gladde bande en ’n flikkerlig wat nie werk nie. Maar Jan, ’n draadspanner en gewillige arbeider oor die algemeen, het die bakkie vir R4 000 by ’n Schoeman-kêrel gekoop – en dis al wat hy kan bekostig.
’n Bakkie soos Jan Mankopaan s’n staan dikwels in diens van ’n gemeenskap. Daardie Opel Ascona vol mense wat duskant Ermelo voor jou aankruie, met ’n oliewolk agterna, is dalk met drie sillinders onderweg na ’n kliniek of ’n pensioenbetaalpunt. Daardie bleekblou Isuzu met die een geel deur en die bibberende voorwiel by Mbombela gaan dalk vir mense op een of ander gehuggie meel en suiker en ander nodige goed koop.
Jan was onlangs weer na ’n begrafnis op Ceres, meer as 200 km hiervandaan, met hierdie bakkie, met ’n klompie mense agterop om vir laas van ’n ouma te gaan afskeid neem. In dié wêreld is nie juis betroubare openbare vervoer nie.
“Dis maar ’n neukery,” sê Jan as jy hom vra waar hy onderdele vir die bakkie koop.
’n Skorro-skorro se onderdele is nie vrylik beskikbaar nie, veral nie op die platteland nie. Dit maak die manne kreatief. Op Brandvlei het ’n kêrel my vertel hoe sy negentien-voertsek-Mazda 323 eintlik ’n mengsel is tussen die 323, ’n Corolla en ’n Tazz. Die 323 se enjin het op allerhande verdrietige maniere gegroet, toe bou hy ’n Corolla se enjin daar in, en ’n Tazz se ratkas.
In daardie einste baster-Mazda het sy vrou glo geboorte geskenk aan hulle seun, op pad na die hospitaal op Calvinia.
LEES OOK: Gesinne kan herenig – selfs na groot trauma
Op Vosburg het oom Awie Smit, ’n plaaslike werktuigkundige, vertel hoe ’n ou in die Kalahari ’n driedoringstok gevat het toe sy vonkpropdrade onklaar geraak het. As daardie driedoring vol water is, werk dit glo soos ’n bom. Water gelei mos elektrisiteit. Hy weet ook van ’n man wie se kar se een suier aan die onderkant ingegee het, toe sny hy ’n ander uit sy velskoen se sool.
Jan Mankopaan se vriend, Gert Jafta, alias Gurries, ook hier van Sutherland, het ook ’n 1400-bakkie, ’n rooie, met ’n storie wat ek nie wou glo totdat Gurries dit self vir my vertel het nie.
’n Paar jaar gelede het ’n fratsvloed in die omgewing sy pa en ma en broer in ’n rivierloop meegesleur terwyl hulle in die rooi 1400 was. Byna ’n week later is die drie se liggame uit die bakkie onder ’n vrag modder gehaal. Gurries en ’n werktuigkundige het ná die begrafnis die 1400 uitgesleep en begin ontmodder.
Deesdae ry Gurries weer die wêreld vol in die rooi 1400.
’n Mens kan maklik ’n ander een se eenvoud en armoede verromantiseer, maar die liefde wat Jan Mankopaan vir sy 1400-bakkie het, is ware liefde, anders as die soort vertonerige, jaloerse, opgeblase verhouding wat party mense met hulle motors het.
Jan se Nissantjie is lankmoedig, oor hom kan nie grootgepraat word nie, hy hoop alles, verdra alles, glo alles.
Natuurlik word ’n mens soms kwaad vir sulke bakkies en skedonke op die pad, veral as jy haastig is. (Asof hulle nie ook haastig is nie.) Dikwels is ’n statige oom soos Jan Mankopaan agter die stuur, in ’n deurgeskifte baadjie, met ’n ouer vrou met ’n kopdoek langs hom. Jy sal sweer hy snel teen 180 km per uur voort: Hy is die ene konsentrasie, albei hande om die stuurwiel geklem … terwyl hulle aankruie.
Hierdie bestuurders se onvoorspelbaarheid is baie voorspelbaar, het ek al geleer. As dit lyk of hulle voor jou gaan indraai, dan gáán hulle.
Jan staan my stil en bekyk terwyl ek om sy bakkie stap. Hy het die bakkie al vier of vyf jaar. Die kappie is met toue agterop die bak geanker.
“Ek is baie heilig op hom,” sê hy.
Ek neem ’n foto van Jan by sy bakkie, en later ook een van Jan en Gurries by Gurries se rooi 1400, wat onder die modder begrawe was. Ek het in die laaste jaar of wat al maklik vyftig, sestig sulke bakkies en hul eienaars afgeneem.
Jy steek allerhande grense oor wanneer jy met die eienaars van sulke ou rygoed gesels. Armoede ken nie ras nie. Armoede is nie volmaak nie en bedek nie alles nie.