Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Kerkgebou op ’n weeksdag: "’n Mens raak altyd eerste bewus van die lig in so ’n kerkgebou. Of die gebrek aan lig, want sulke kerke het dikwels loodglasvensters of gekleurde rui­te. Soos dit behoort te wees," skryf Dana Snyman in sy rubriek hieronder. "Party mense sê dit is te somber vir hulle in so ’n kerk, te ouwêrelds, te styf en formeel. Dit voel soos ’n museum. Ek is juis op soek daarna. Die donker plek­ke binne-in my soek juis so ’n effense skemerte, wat ruik na meubelolie en op­gegaarde stof in orrelpype en genade en swaeltjieneste onder die dakkappe." Foto: Dana Snyman

Dana Snyman: Om die binne-chaos te verdryf


Wanneer ek op die langpad is, hou ek soms by kerke stil. Op dorpe en in die stad. Veral ou kerke, met ’n toring en ’n sipres of twee in die tuin. Afrikaanse kerke. NG kerke.

Meestal is die gebou gesluit as dit ’n weeksdag is, en dikwels is daar ’n tralieheining rondom die kerkterrein, maar gewoonlik is daar ’n koster of ’n werker wat vir jou sal oopsluit as jy mooi vra.

LEES OOK: Gebed van ’n woedende man

Die koster sal miskien saam met jou by die deur ingaan, en ’n bietjie hier verduidelik en ’n bietjie daar verduidelik, en jou dan alleen los om jou gang te gaan.

Dit is asof ’n mens meer respek vir ’n ander een se siel in so ’n ou kerkgebou het, selfs op ’n doodgewone Dinsdag­og­gend. Daarom maak ek seker ek los my selfoon in die bakkie wanneer ek uitklim.

Die lig. ’n Mens raak altyd eerste bewus van die lig in so ’n kerkgebou. Of die gebrek aan lig, want sulke kerke het dikwels loodglasvensters of gekleurde rui­te. Soos dit behoort te wees.

Party mense sê dit is te somber vir hulle in so ’n kerk, te ouwêrelds, te styf en formeel. Dit voel soos ’n museum. Ek is juis op soek daarna. Die donker plek­ke binne-in my soek juis so ’n effense skemerte, wat ruik na meubelolie en op­gegaarde stof in orrelpype en genade en swaeltjieneste onder die dakkappe.

En die stilte – die byna formele stilte in ’n skemer kerkgebou laat jou nie toe om te vergeet dat jou siel ’n baie ou ding is nie, maklik net so oud soos Adam en Eva self.

Eers sal ek ’n draai deur die kerk stap, al weet ek min of meer presies wat ek gaan aantref. In die konsistorie altyd die foto’s van die gemeente se vorige leraars wat teen die mure hang. Die voorva­ders. Ek het al soveel keer van hulle, hier­die voorvaders, probeer afskeid neem, maar hulle vind ’n mens altyd maar weer.

Tydsaam sal ek deur die gebou stap: In die moederskamer ’n teddiebeer op een van die banke, op die galery die orrel met ’n spieëltjie bo-op waarin die orrelis kan sien wanneer die predikant en die ouderlinge en diakens instap. In die portaal ’n tafel met ’n Bybel of ’n liedboek of twee daarop wat iemand vergeet het, en die vorige Sondag se gedrukte afkondigings: Jeugaksie Woensdagaand om sewe. Kermis op 7 Augustus.

So ’n kerk het byna altyd ’n houtvloer, ’n vlamblink blokkiesvloer, en voor die preekstoel staan die nagmaaltafel en die doopvont op ’n wynrooi tapyt. En op die kanselkleedjie die belofte: “Die Here kom.”

Dan sal ek op een van die voorste banke gaan sit. Party dinge lê so diep in jou jy word soms self daardeur verras. Die oomblik wanneer ek daar voor in die kerk gaan sit, is dit asof my kop vanself vooroor buig en dan gaan my oë toe vir ’n gebed, nes ek van jongs af gesien het die grootmense doen wanneer hulle voor die diens in die kerk kom sit.

Ek weet nooit mooi wat om in sulke oomblikke vir die Here te sê nie. Meestal vra ek maak asseblief net al die deurmekaar gedagtes in my kop stil.

LEES OOK: Podsending: Roelf Meyer oor die uitdagings van vredemaak

“As soon as we are alone inner chaos opens up in us,” skryf Henri Nouwen iewers – en dis waar, so waar. “This chaos can be so disturbing and so confusing that we can hardly wait to get busy again.”

Vir ’n hele ruk sal ek dan net stil daar sit en stil probeer toelaat dat die stilte stil by my insypel.

Dit was nooit deel van ons Afrikaanse kerklike tradisie om op ’n weeksdag vir ’n ruk stil in ’n kerkgebou te vertoef nie, alleen, of saam met enkele ander, soos in kerke en katedrale in Europa en op ander plekke. Dit is jammer.

Op soveel dorpe en in woonbuurte staan kerkgeboue ses dae van die week toe, die deure gesluit. Party kerke is besig om nutteloos te raak, veral in gemeentes wat sukkel.

Dit kon anders gewees het: ’n plaasboer op pad na die koöperasie wat eers by die kerk stilhou en daar instap, alleen, met sy hoed in die hand. ’n Vrou wat van die poskantoor af oorstap, by die kerkgebou ingaan en iewers ’n kers aansteek. ’n Man wat met ’n effense nadors ná ’n laatnag by een van die voorste banke gaan kniel.

’n Waardige plek van stilte in hierdie lawaaierige tye. Stemme, stemme, stem­me. Ipads. Iphones. Facebook. Twitter. Zoom. Teams. Motors. Masjiene.

Natuurlik kan ’n mens die Groot Misterie se teenwoordigheid deur die stilte in jouself op enige plek opsoek. In jou bakkie. In die veld. Waar ookal.

Maar daar is iets daarin om op ’n doodgewone Dinsdagoggend uit ’n skemerige kerk op Steynsrus of Colesberg of Vanrhynsdorp te kom en ’n bietjie nader aan jouself te voel terwyl jy terug die helder son in stap.



Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Dana Snyman: Om die binne-chaos te verdryf”

  1. Ek en Connie besoek n paar katedrale in Italie. Duidelik is daar kennisgewings moet asb nie fotos neem nie. Die toeriste steur hul nie daaraan nie. Daar word hard gepraat fotos geneem en die atmosfeer heeltemal versteur.
    Op n klein kusdorpie is daar n klooster hoog teen nie berg. Kan sleg met n voetpad bereik word. Toeriste te lui om te stap. Ons betree die klooster alleen. Die stilte die atmosfeer is Heilig. Hoer op is die graftombe. Datum van 1200 tot 1300. Jy kan net nederig en stil dit gadeslaan.
    Later stap ons af. Skielik weerklink n klokkespel helder met weerklank oral om jou. Hoendervel mooi. Daai ondervinding beleef jy net een maal in jou lewe.

  2. Andries Steyn

    Presies soos jy daar skryf Dana , ek dink ook ons kerke moes meer toegangklik gewees het enige dae , nie net vir Sondae nie .

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.