Gebed van ’n woedende man

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Mense word so kwaad. Jy word woedend, en kyk jy rondom jou, sien jy ander mense se woede. In die strate. Op die televisie. Op Facebook en Twitter en op webwer­we. In die koerant. Oral. Woede. Ook in die kerk.

Ek voel die woede in myself. Soms voel dit asof woede makliker vir my kom as liefde. Of iets soos woede. Gebelgdheid. Die Bybelse toornigheid.

LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap

Jy voel verontreg oor bepaalde dinge, en dit maak jou toornig. Die woede bou op en gaan sit diep in jou. Soms kom dit uit op maniere wat jouself verras. Ek sien net daardie Vrystaatse politikus se gesig op die TV, dan begin ek byna dadelik lelike goed vir en oor hom sê. Hy wat sê: “Ek is onskuldig. Ek het niks verkeerd gedoen nie,” terwyl die provinsie waaroor hy geheers het in stukke is oor die korrupsie en wanbestuur waar­aan hy aandadig is.

Dieselfde met ons gewese president. Sien ek hom in die koerant of iewers, sukkel ek om ’n sagte woord te vind om my grimmigheid mee af te weer. In sulke oomblikke kyk ek soms boontoe, en sê: “Vergewe my.”

Ek hou nie van myself as ek só is nie. Ek voel ’n bietjie soos ek dink daardie figuur in Edvard Munch se skildery “Die Gil” behoort te voel net voor hy aan die skree geraak het.

’n Mens kan seker sê ek is ’n rassis, maar ek word net so kwaad vir mense wat rassistiese dinge sê of rassistiese uitsprake maak. Dit voel of daar al hoe meer van hulle op Facebook is. Wit en swart rassiste, hoewel party mense sê ’n swart mens kan nie rassisties wees nie. Dalk moet ek vir die mense wat dít sê ook kwaad wees. Ek weet nie.

Sien ek vir Donald Trump voel ek ook dadelik skuins. Die gewese president van Amerika. Hy wat waarskynlik meer as enigiemand anders in ons tyd woede vir baie iets aanvaarbaar, selfs edel, gemaak het. Trump met al sy tie­rende Twiets.

Trump wat links en regs mense afdank en verdoem. Wat van Jesus weerspieël hý?

Natuurlik is daar baie mense wat weer vir my sal kwaad word omdat ek nie van Trump hou nie. Regses, wat nie van gays hou nie. Hulle sal weer sê ek is ’n liberalis, wat ’n nuwe wêreldorde tot stand wil bring. Ons het allerhande name vir mekaar, ons wat vir mekaar kwaad word.

Die meeste mense vir wie ek kwaad raak, het ek nog nooit ontmoet en sal ek ook nooit ontmoet nie. Ek ken hulle nie werklik nie. Ons gewese president. En Donald Trump. En die vrou wat gisteroggend op my bakkie se stert in Vredenburg se hoofstraat gery en kwaai na my gegluur het nadat ek vir haar beduie het kom verby, kom net verby, en ry in jou maai in.

Dit is makliker as ooit tevore om iemand te laat verstaan jy is kwaad vir hom of haar. Eers sou jy die persoon se foonnommer of posadres probeer kry het en hom gebel of ’n kwaai brief vir hom geskryf het. Of by die koerant oor hom gekla het. Meestal sou jy dit eerder gelos het. Alles was te omslagtig.

LEES OOK: Die kerk en die Covid-19-entstof: Ons is aan mekaar verbind

Maar nou kan jy jou woede en ver­ontwaardiging met daardie een en die wêreld deel. Op Facebook of Twitter of waar ookal. Gou sal jy reaksie kry van iemand wat nie saam met jou stem nie. Dikwels sal julle kwaad vir mekaar raak en dinge vir mekaar begin sê wat julle dalk nie sou gesê het as julle mekaar in die oë kon kyk nie.

Soms gaan slaap jy kwaad vir mense vir wie jy lelike dinge gesê het waarvoor jy nooit sal kan jammer sê nie.

Soms gaan kyk ek na die profiele van die mense vir wie ek op Facebook kwaad word, en dink: Ons behoort nie kwaad vir mekaar te raak nie, ek en jy. Jy is al ’n ouma of ’n oupa. Kyk jou kleinkinders. Kyk die mooi rose in jou tuin. En jy skree ook vir die Stormers.

Woede maak jou iets minder as ’n mens. Ek voel dit. Dit is hier. In my. Ek skreeu op my bure se blaf-blaffende hond, en terwyl ek dit doen besef ek ek doen dit omdat ek kwaad is vir ’n klomp ander dinge ook. Dit smeul by tye in my. Soms moet mense naby aan my dit ontgeld omdat ek oor die algemeen verontwaardig voel.

Baie word op die oomblik geskryf en gesê oor die gees van woede wat in die wêreld heers. “Age of anger,” noem die Brit, Pankaj Mishra, sy jongste boek. Ons almal streef na ’n beter wêreld en land en stad en dorp en woonbuurt en gemeente en skool en … en ons verskil oor hoe dit moet gebeur. “The air is laden with the promises of large and small prophets,” haal Mishra die Duitse sosio­loog, Karl Mannheim, aan.

Op die ou end kom ’n mens weer terug by Daardie Gebod. Of nie?

Die grootste gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

En om dit uit te leef en te probeer regkry, is jy op ’n lang reis – ’n reis wat nooit ophou nie, teen woede in. Gee my krag daarvoor, Here. Staan my by.

Amen.

Word 'n vriend van Kerkbode

4 thoughts on “Gebed van ’n woedende man

  1. Donet van der merwe says:

    Elke liewe sin wat jy skryf Dana, gaan net so oor my!! tot by die blaffend hond waarvvor ek gesree het terwyl ek hier lees!!! Jy vat altyd ‘n ding perfek raak!!

  2. Carla Snyman says:

    Dis presies soos meeste van ons voel. Dit gaan oor beheer. Ons het beheer verloor oor groot dele van ons eie lewens en besluit nemingsmag, dis net gevat. Hoekom en hoe, weet ek nie… ek herken net die woede…. mooi loop

  3. René Taljaard says:

    Alles wat jy sê is so waar. Ek en my skoonsus het juis gister gepraat hieroor. Die “anger” oral! Onverklaarbare kwaaiheid. Gesigte met maskers en kwaai oë. Waar is die sagte glimlaggende oë heen? Waar is daardie sagte gerusstellende gees heen? Ek sukkel om die vrugte van die Gees te sien. Ek ondervind net grimmigheid en ontevredenheid. Ek bid om nie die sagte glimlag in my oë te verloor nie. Ek bid dat ek aktyd deernis sal hê… selfs met die grimmigte mense. Ai Dana Jesus se genade is so groot… ons moet dit net in ons siele voel. Dankie vir jou raak vatting! ⚘

  4. Roy Treurnicht says:

    “Ek hou nie van myself as ek só is nie.” Sekerlik waar woorde, en sekerlik ook nodige woorde, want sodra ons van onsself begin hou wanneer ons kwaad word, is daar ‘n groot skroef los! Dit wys dat ons nog ‘n Christelike gewete het wat ons terugruk na die wete dat dit deel van God se Kroonskepping is waarteen ons ontplof. Dankie, Dana.

Comments are closed.