Millennials, die platteland en Afrika nuwe prof se fokus

Prof Hannes Knoetze is in September vanjaar as professor in Missiologie aan die Universiteit van Pretoria aangestel. Hy wil met sy navorsing jongmense in Afrika bemagtig, berig JACOBIE M HELENA.


“Skuus, ek praat nou baie prakties,” maak Hannes Knoet­ze verskoning vir die feit dat hy tydens ons gesprek baie na praktiese voorbeelde verwys.

Maar is dit nie presies wat ’n mens van ’n teoloog met sy voete in die praktyk sou verwag nie? Dié dinamiese akademikus is onlangs aangestel as professor in Missiologie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Vir hom is teologie nie net iets waaroor gepraat moet word nie, maar wat eerder gelééf moet word. In sy loopbaan het hy al op Rosendal in die Vrystaat, Daniëlskuil in die Noord-Kaap en by Noordwes-Universiteit (NWU) as predikant en dosent bedien.

Verbasend genoeg het Knoetze sy roe­ping om predikant te word in die “begrafnisuur” van ’n Kerkregklas ontvang. “Dit was nog ’n Donderdag tydens die begrafnisuur. Ek het in daardie kerk­reg­klasse ’n baie duidelike roeping gekry,” onthou hy die dag goed. Knoetze is na sy diensplig in die NG gemeente Rosendal, ’n klein gemeente in die Vry­staat, bevestig. In hierdie tyd was hy ook verantwoordelik vir interkerklike ere­dienste vir die mense wat by die bouprojekte aan die Katsedam in Lesotho betrokke was.

Maar Knoetze vertel dat hy die meeste van interkerklikheid geleer het by die studente wat voor hom in die Missiologieklas by die NWU op die Mahikeng-kampus gesit het. “Ek het by NWU ongelooflik baie by die Afrikane oor teologie geleer. Ek het daar, tydens 2015-2016 se studente-opstande, besef die teologiese opleiding wat ons aanbied gee nie die antwoorde wat Afrikane van die kerk en teologie vra nie,” vertel Knoetze.

Knoetze verduidelik dat hy uit die kontaksessies met die studente al hoe meer agtergekom het dat daar nie aan­dag aan die Afrika-millennials gegee word nie. “Millennials is die grootste mensegroep in Afrika. 60% van Afrika se bevolking is millennials en kinders en ons gee nie aan hulle aandag nie,” verduidelik hy. Knoetze vertel dat die millennials nêrens inspraak in die kerk of die politiek het nie, maar dat hulle eintlik die mense is wat kennis van tegnologie, soos selfone, het. En dit is juis dié leemte in studies oor millennials, teologie en kerk in Afrika wat hy in sy Missiologieklasse wil aanspreek.

Nog ’n studietema wat Knoetze na aan die hart lê, is hoe om die spirituele wêreld in Afrika beter te verstaan. Hy vertel: “Afrika is ’n spirituele vasteland. In die Westerse wêreld het ons die hele ding van die spirituele negeer (vergeet). En in Afrika kan jy dit nie doen nie. Jy moet kennis neem van die spirituele wêreld en die Afrika-wêreldbeeld in ag neem wanneer jy teologie in Afrika doen. Ons moet weer gaan sit en luister na Afrika voor ons met ons teologiese raamwerke kom,” het Knoetze passievol verduidelik. Hy benadruk dat gelowiges baie by die Afrikane oor ’n klomp goed kan leer omdat ons almal baie verskillende perspektiewe op geloof en God het. “Ons het mekaar nodig om beter perspektiewe te kry,” het Knoetze gesê.

Knoetze moedig aan dat daar baie meer interdissiplinêr en intradissiplinêr oor teologie en kerkwees gedink moet word. Hy gebruik die voorbeeld van die nie-regeringsorganisasie, Kgatelopele Social Development Forum, wat hy in sy tyd as predikant op Daniëlskuil in die Noord-Kaap, gestig het. “Ek het by die NGO geleer dat ons jongmense moet toerus. Ek het laasjaar ’n kursus saam met verpleegkundiges in Palliative Pastoral Care ontwikkel. Dit help mense wat home-based care doen om ook die pastorale vaardighede te hê om mense wat sterf te begelei. Op hierdie stadium leer mense om pasiënte fisies te versorg, maar nie geestelik nie. Dit is belangrik dat ons hierdie goed bymekaar moet bring. Én jong mense is bereid om hulleself te gee,” verduidelik Knoetze.

Knoetze vertel dat daar so baie jongmense, veral op die platteland, is wat enigiets sal doen om net ’n werk te kry. “Daar is ’n groot groep jongmense wat leergierig is en húlle kan ’n hele samelewing verander. Ons as kerk het ’n groot rol om te speel om geleenthede vir hulle meer toeganklik te maak. Partykeer is mense net so arm dat hulle nie taxi-geld het om na die volgende dorp vir ’n werksonderhoud te ry nie.”

Knoetze verduidelik verder: “Dit was vir my altyd interessant dat ek juis ’n bydrae kon lewer omdat ek van plattelandse gebiede af kom. Die punt is dat twee derdes van die NG Kerk se gemeentes op die platteland is alhoewel daar baie meer lidmate in die stede is. In die kerk het ons ’n goeie en sterk fokus op die stede, maar die nood is groot op die platteland.”

En Knoetze se droom vir Missiologie by UP?

“Die kerk het werklik gevorder met ekumeniese verhoudinge in die buiteland, maar nie in die binneland nie. Ek dink Missiologie is die kern van teologie. As ons nie missionaal in al ons vakdissiplines begin werk nie, mis ons die kern van die evangelie. Ek wil voortbou op die werk van my voorgangers en die fokus verskuif van instandhouding na ’n jonger generasie wat vir Suid-Afrika ’n groot verskil wil maak,” vertel Knoetze.