“In die Woord vind ons die lewe.”
Dít was die tema van NG gemeente Tetelestai in Randfontein in die Goudland Sinode se aanddiens op Sondag 29 November. Maar nie net het die tema van die diens die sentraliteit van die Bybel weerspieël nie, maar ook die dekor in die kerk. Ds Irma Nel, predikant by die gemeente, het saam met lidmate vir drie dae lank die liturgiese ruimte van die kerkgebou met bladsye uit 365 Bybels versier. Bybels is vir die versiering van die houtpaneel agter die preekstoel, die preekstoel self tot staanders vir die kerskandelare ingespan.

Nel sê dat sy gou besef het dat sy ’n wilde perd opgesaal het. “Ek het op Facebook ’n beroep op die gemeente gedoen om ou Bybels vir ons te skenk. Daar het in die kerkgebou ook ou Bybels rondgelê, so ons het dit sommer ’n Bybelskoonmaak genoem. Dit was eintlik ’n mal idee, maar ek wou tydens die belydenisafleggingsdiens ook die bekendstelling van die nuwe 2020-Bybelvertaling in Afrikaans vier. En ons glo dat dit so bestem was dat albei geleenthede op 29 November plaasgevind het,” het Nel gesê.
LEES OOK: DIE BYBEL 2020-vertaling is nou beskikbaar

Die Bybel: 2020-vertaling is op 29 November tydens ’n spesiale toewydingsgeleentheid in die Kopanong-kerk in Bloemfontein bekendgestel. Die vertalingsproses van die nuwe Bybel in Afrikaans is in 2006 begin en die projek spog met altesaam 170 medewerkers wat brontaalkenners (Hebreeus, Aramees en Grieks), teoloë, Afrikaanse letterkundiges, taalkundiges en vertaalkundiges ingesluit het. Die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans kan aanlyn by BibleSA en ook op die toepassing BibleSA verkry word.
En hoe nou met die tamaai Bybelversiering? Nel vertel dat sy aanvanklik die houtpanele wat met die Bybelblaaie versier is in haar huis wou hang, maar na die oorweldigende positiewe terugvoer van die gemeente sal dit eers in die kerkgebou bly.