Om ’n kerk op ’n ashoop te bou

EJ Leach, vroeër predikant van die NG gemeente Waverley-Oos in Pretoria, en sy vrou, Sané, ’n maatskaplike werker, werk die afgelope jaar by ’n kerk in Hyderabad, Indië. Hulle was onlangs op ’n besoek aan Suid-Afrika, en het vir NEELS JACKSON van hulle werk en ervarings in Indië vertel.


Die storie van EJ en Sané se werk in Indië begin lank voordat hulle verlede jaar na Hyderabad vertrek het. Dit begin by geloofswaarhede wat hulle hier in Suid-Afrika geleer het.

Sané praat oor Jesus wat vir sy disspels gewys het hoe om gemarginaliseerdes lief te hê. “Ons moet doelbewus mense wat swaarkry, help,” sê sy.

Dit het sy al in haar ouerhuis geleer. Haar pa is ds Chris Lötter wat nou in Rayton is, maar ook een maal per maand ’n gemeente in Botswana gaan bedien. Verder was Sané betrokke by Echo Jeugontwikkeling in Villieria, Pretoria, waar hierdie geloofswaarheid in ’n gemeenskap uitgeleef word.

EJ sê dat hy in die kerk in Suid-Afrika dikwels beleef het dat daar ’n soort Ou- Testamentiese volksgodsdiens beoefen word. Dis so iets van “God vir ons mense”.

Sané Leach en drie van haar kollegas by die My Choices Foundation wat gesinsgeweld en mensehandel probeer teëwerk. By dié geleentheid het hulle Sowmya, ’n berader vir wie sy op die foto ’n drukkie gee, se verjaarsdag gevier.

In die Nuwe Testament is dit anders. Dit het hy geleer in die NG gemeente Stellastraat in Pretoria waar hy grootgeword het en in Tukkies se fakulteit teologie waar hy as predikant opgelei is.

En hy het dit leer leef in Intentional Living, ’n soort kommune wat hy en ’n groep medestudente op die spoor van die ou monastiese voorbeelde gevestig het. Die uitgesproke doelwitte was om eenvoudig te leef (teen die verbruikerskultuur in) en om kontak te maak en verhoudings te bou met armes. Daar het hulle grense van klas, ras en ekonomie oorgesteek.

In die kerk was hy dikwels gefrustreerd met die gebrek aan diversiteit. Hy wou sy gemeenskap verbreed sodat dit mense insluit wat anders as hy lyk en dink. Dit het bygedra daartoe dat hy en Sané Indië toe is.

In Hyderabad, ’n groot stad naastenby in die middel van Indië, werk EJ en Sané albei vir Hope Unlimited Church. En soos dit in die naam sê, is dit ’n kerk wat hoop wil bring. Maar hulle is elkeen ook betrokke by ’n ander bediening. Sané werk vir My Choices, ’n organisasie wat gesinsgeweld en mensehandel probeer teëwerk. EJ doen opleiding by Hand of Hope, ’n kerkplantbeweging.

Die afgelope jaar was daar baie dinge in hulle nuwe omgewing wat hulle getref het. Sané vertel van die Indiese kos wat so lekker is en van mense se gasvryheid. EJ vertel van die baie mense. Hyderabad is ’n stad met 11 miljoen inwoners – soveel soos in die hele Gauteng. Dit maak dat die verkeer iets verskriklik is. “Ek sal nooit weer kla oor ’n taxi hier nie. Daar gaan dit duisend maal erger,” verklaar hy.

Maar daar is ook maatskaplike kwessies wat ’n groot rol in hulle bediening speel. Dit sluit in:

– Christene is ’n klein minderheid en daar word dikwels teen hulle gediskrimineer.
– Die kloof tussen ryk en arm is baie groot en baie sigbaar. Jy kan byvoorbeeld ’n luukse hotel op ’n plek kry en dan is daar plakkers net oorkant die straat.
– Die kastestelsel wat mense in verskillende sosiale klasse plaas, is diep gewortel. Selfs Christene sukkel om daarvan afstand te doen, soos sommige Christene in Suid-Afrika sukkel om hulle rassisme af te lê.
– Die patriargale stelsel is baie sterk sodat vroue baie swaarkry. Gesinsgeweld is ’n groot kwessie.
– Armoede en die lae waarde van vroue dra by tot die probleem van mensehandel. Gewetenlose mense sal byvoorbeeld ’n arm plattelandse gesin nader met beloftes van ’n ryk man vir hulle dogter. Dan verkoop die ouers hulle dogter in die hoop op ’n beter toekoms, maar al wat gebeur is dat sy ’n seksslaaf word.
– Huwelike wat deur families vir hulle kinders gereël word sonder dat die kinders ’n sê daarin het, is algemeen.

EJ Leach (agter, tweede van regs) saam met lede van ’n sokkerspan van Hope Unlimited Church se mannebediening, Momentum. Dié foto, sê EJ, vertel iets van hulle kerk se demografie, want die oorwig van lidmate is in hulle twintigerjare.

Teen dié agtergrond vertel EJ van die Well of Life Churches. Dit is kerke wat in arm, plattelandse gemeenskappe rondom boorgate op die been gebring word. In sulke arm gemeenskappe het mense min opleiding en min infrastruktuur. Die lewe is swaar. ’n Vrou sal byvoorbeeld elke dag kilometers moet stap om te gaan water haal.

Om ’n kerk te plant, sink iemand dan ’n boorgat in die middel van die gemeenskap. Daar kan enigeen kom water haal. Vir die kerkplanter bied dit die geleentheid om met mense te gesels oor die lewende water. En uit sulke gesprekke word ’n gemeente gebore. EJ se rol is om vir dié kerkplanters opleiding te gee in kerkgroei.

Hulle kerk in Hyderabad het baie jongmense wat in die sterk IT-sektor werk. Van hulle lidmate wat uit die platteland kom, is die eerste in hulle families wat enige geleerdheid het. Maar of dit in die arm gemeenskappe om ’n boorgatkerk is en of dit in die cool stadskerk is, daar is baie lidmate wat die enigste Christene in hulle families is. En dan word hulle deur hulle eie familie verstoot. Die kerk moet vir hulle die rol van familie speel.

EJ Leach (tweede van links) maak vlieërs saam met inwoners van ’n tehuis vir MIV+ kinders. Dit is deel van die Hope Unlimitied Church se projek Hope Now. EJ vertel dat die oorgang van winter na somer in Indië met die Sankriti-fees gevier word. Dit is in sy wortels ’n Hindoefees wat die Songod se oorwinning oor die winter vier. As deel van die fees maak mense vlieërs wat hulle laat vlieg. Die kerk gebruik die geleentheid om met mense te praat daaroor dat Christene soms die wind van voor kry, en oor die Heilige Gees wat ’n mens oplig om bo die struikelblokke uit te styg.

Daar beleef EJ en Sané wat dit is om in ’n klein geloofsminderheid te leef. Hulle vertel met hoeveel toewyding sulke Christene hulle geloof uitleef, hoeveel energie hulle in hulle geloofslewe insit – teenoor gelowiges in ’n land soos Suid-Afrika wat soveel dinge as vanselfsprekend aanvaar.

In berading kry hulle byvoorbeeld gereeld te doen met jongmense wat mekaar in die stad ontmoet, verlief raak en wil trou. Maar dan is hulle heel moontlik uit verskillende kastes en die families wil nie instem tot die huwelik nie. ’n Liefdeshuwelik is glad nie vanselfsprekend nie.

’n Deel van Sané se werk is met vroue wat deur hulle mans mishandel word. Sy vertel dat daar ’n hardheid tussen mense in Indië is. Dit is algemeen dat ’n man sy vrou of dat ’n onderwyser ’n kind sommer teen die kop klap. Dis nie geweld soos om iemand met ’n mes te steek nie, maar sy sien ’n onderliggende woede tussen mense. En baie vroue is die slagoffers daarvan in hulle huwelike.

EJ sê dat hy daarom by Momentum, hulle kerk se mannebediening, gepraat het oor ’n manlikheid soos dié van Jesus, ’n manlikheid wat sag en weerloos kan wees.

Maar terwyl hulle met sulke maatskaplike probleme werk, is daar ook baie wat hulle inspireer, soos die gasvryheid wat hulle juis by arm mense beleef.

Kinders van ’n arm gemeenskap wat letterlik op ashope bly, eet aan ’n voedsame maaltyd wat vir hulle gegee is. Sané Leach vertel dat dit deel is van die projek Love thy Neighbour wat sy en EJ by die Hope Unlimited Church begin het. Een maal per maand gaan hulle na die gemeenskap wat deur die organisasie Christ for All bedien word. Dan gee hulle vir die kinders kos en hulle deel die evangelie op ’n kreatiewe manier, deur byvoorbeeld met vlieërs te speel. Die ashoopgemeenskap tel onder Indië se “onaanraakbares”, die laagste vlak in kastestelsel. Deur dié projek bring hulle van Hope Unlimited Church se welaf lidmate by die armstes in die gemeenskap uit. Dít, sê EJ, is ’n poging om deur die kastestelsel te breek.

EJ vertel verder dat hy ’n maand na hulle aankoms in Indië ’n konferensie bygewoon het van 400 pastore uit die platteland wat in haglike armoede werk. Hierdie pastore, verklaar hy, is die helde van die geloof. In die oggend weet hulle hulle gaan waarskynlik vandag met klippe gegooi word, maar hulle gaan nogtans uit en vertel mense van die evangelie. Die toewyding van gelowiges, die ure wat hulle werk het ’n groot indruk op hom gemaak.

Wat hou die toekoms vir hulle in?

EJ sê hulle is nou besig om die kultuur en die omstandighede in Indië te leer ken. Die plan is egter dat hy en Sané saam met ’n span gelowiges ’n nuwe Hope Unlimited Church in Kolkata moet gaan plant.

EJ hoop dat dit ’n kerk sal wees waar die selflose evangelie van Christus nog meer tot sy reg sal kom. Waar die boodskap van die radikale gelykheid van mense werklik sal wortel skiet en waar hulle die ongelykheid van die kastestelsel en die patriargie en van ekonomiese verskille nog meer sal deurbreek.

Gaan hulle terugkom Suid-Afrika toe?

Hulle weet Suid-Afrika het ook sy uitdagings en hulle praat met mekaar oor die vraag of hulle nie eintlik hier moet werk nie, maar solank as wat die Here hulle in Indië wil gebruik, sal hulle daar bly. Hulle voel tevrede dat hulle nou in Indië moet wees, sê Sané.