Neels Jackson

Neels Jackson was voorheen kerksake-verslaggewer van Beeld. Sedert 2014 is hy redakteur van Kerkbode.

‘This little light of mine, I’m gonna let it shine’

“Hoe ons onthou, hoe ons vergeet. Om verbeeldingryk te leef.” Dit is die tema van die Lentekonferensie van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria. NEELS JACKSON doen verslag.


Op die eerste oggend van die Lentekonferensie is prof Thuli Madonsela, vorige Openbare Beskermer en nou verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, aan die woord.

Halfpad deur haar rede vertel sy van ’n liedjie wat hulle as kinders in die kerk geleer het. Sy begin sing – en haar gehoor val spontaan saam het haar in: “This little light of mine, I’m gonna let it shine …”

En op ’n manier vat dit die boodskap saam – haar boodskap maar ook dié van ander sprekers.

Die konferensie begin met dr André Bartlett, hoof van Excelsus, se opening. Hy lees Deuteronomium 8:6-18. Hy gebruik dit om oor die tema van die konferensie te praat.

Dr André Bartlett praat oor die onthou van die moeilike omstandighede van die verlede, die onthou van God se teenwoordigheid en die verbeelding van ’n nuwe toekoms. Foto: Neels Jackson

Die teks het in die tyd van die ballingskap ontstaan, maar dit voer die eerste gehoor en huidige gehore terug na Israel se krisisgeskiedenis. Moses praat met die volk oor die land van oorvloed wat op hulle wag, maar hy herinner hulle aan die tyd in Egipte en aan die moeilike pad deur die woestyn. En hy herinner die volk dat God daar by hulle was. Met hierdie wete kan hulle hulle ’n nuwe, voorspoedige toekoms voorstel.

Bartlett verwys na die moeilike omstandghede waarin die volk was en merk op: “Dit klink soos ons eie situasie.” Hy praat oor die onthou van die moeilike omstandighede van die verlede, die onthou van God se teenwoordigheid en die verbeelding van ’n nuwe toekoms.

Hy projekteer ’n prentjie op die skerm van legkaartstukkies wat ’n mens se kop bou, maar aan die bokant lê die stukkies nog los rond. Hulle moet nog elkeen sy plek kry. Die belangrikste stuk van die legkaart, sê Bartlett, is die teenwoordigheid van God.

Wanneer prof Jerry Pillay, dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie, die gehoor verwelkom, praat hy ook daaroor dat Suid-Afrika nou in ’n krisis is. “Hoe skep ons ’n nuwe land, een van oorvloed,” vra hy. “Wat is die boodskap van die evangelie? Waartoe roep Jesus ons nou?”

Hy verwys na korrupsie en sê dat Suid-Afrika nou morele leiers nodig het. Die kerk moet daarin ’n rol speel, sê hy.

As Madonsela begin praat, verwys sy na die “nuwe dagbreek” waarvan mense gepraat het met die verkiesing van pres Cyril Ramaphosa. Maar nou is daar soveel geweld, geweld teen vroue en kinders, teen bejaardes op plase, teen vreemdelinge, teen LGBTI-mense. Dit lyk of die nuwe dag verdwyn het.

“Is die nuwe dag weg, of is dit net bewolk?” vra sy, en voeg by: “Ons moet die leiding neem om die nuwe dag te laat deurbreek.”

Dan begin sy stories vertel.

Sy vertel van ’n jong meisie in ’n ver dorpie wie se kinderjare gesteel is. Sy kon nie skool toe gaan nie, want sy moes die familie se diere oppas. Op 9 is sy as bruid gegee aan ’n man 20 jaar ouer as sy.

Toe sy tien jaar later (reeds ’n ma van drie en swanger met nommer vier) weerstand bied teen die korrupsie in die dorpie, word daar aan haar man vertel dat sy ’n los vrou is, dat die baba wat sy dra, nie syne is nie.

Hy rand haar aan en los haar vir dood tussen die beeste. Sy sterf egter nie, maar wil later selfmoord pleeg. Waar sy op die treinspoor lê, hoor sy egter die noodroepe van ’n man. Sy staan op, vind die honger man en gaan kry vir hom kos. In die proses ontdek sy dat haar lewe ’n doel het: om ander te help.

Later stig sy ’n weeshuis en haar lewe lank versorg sy kinders. Op 60 kom sy af op ’n man van 80 wat in nood is – haar man, die een wat haar verniel het. En sy ontferm haar oor hom.

Madonsela haal vir Viktor Frankl aan: ’n Mens kan nie kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy daarop reageer.

Sy vertel van Pixley ka Seme, een van die vroeë leiers van swart politieke weerstand in Suid-Afrika. Hy het as Christen grootgeword, sê sy, en met die idee van “no colour to the soul”. Hy het gekies om vuur nie net vuur te bestry nie. Hy het onthou dat jy as Christen lig vir die wêreld moet wees.

Sy maan haar gehoor om die droom te onthou wat hulle vir Suid-Afrika het.

Dan vertel sy van ’n paneelbespreking waarby sy onlangs was. Die panneellede was mense uit uiteenlopende politieke agtergronde, maar toe sy hulle vra hoe lyk hulle droom vir die land, is almal s’n dieselfde: ’n land waar elkeen se menslikheid tot sy reg kan kom.

Self is sy aangevuur deur die gedagte dat siel nie kleur het nie. Sy praat oor haar aanstelling as openbare beskermer. “Jy kan nie lei met ’n titel as jy nie gelei het sonder ’n titel nie,” merk sy op.

Sy vertel van haar besoek as openbare beskermer aan die berugte Glebelands-hostel in Johannesburg en van die ongelooflike armoede wat hulle daar gevind het.

“Ek vertel julle dié stories sodat ons kan onthou wie ons is. Ons is gemaak na die beeld van God. Ons is verlos deur Christus.”

Sy voeg by: “Dit is nie genoeg dat ons van die bergtoppe af kla nie.”

Toe sy die leerstoel in maatskaplike geregtigheid by Stellenbosch aanvaar het, vertel sy, was dit nie omdat dit die enigste of bes betalende aanbod was wat sy gekry het nie, sê sy. Sy het dit aanvaar omdat sy geglo het die demokrasie is in ’n krisis. En sy praat weer oor armoede en oor die onreg wat dit is.

Sy sluit af deur te verwys na James Patrick Kinney se gedig “The cold within”.

Dit vertel van ses mans wat in bittere koue om ’n sterwende vuur sit. Elkeen het ’n stuk hout wat die vuur aan die brand kan hou, maar elkeen vind ’n rede om dit nie op die vuur te plaas nie. Een sien die res is nie van sy kerk nie. ’n Wit man sien dat ’n ander swart is; die swart man wil nie dit witte help nie. Die arme wil nie sy hout gee om die ryk man warm te maak nie en die ryke wil sy hout vir homself hou. Die laaste gee niks verniet weg nie.

“They didn’t die from the cold without, they died from the cold within,” sluit die gedig af.

Haar uitdaging, sê Madonsela, is dat ons die lig vir die wêreld moet wees.

Römer maan teen Bybelse pieng-pong

Die debat oor homoseksualiteit moenie begin by Levitikus 18 en 20 of Romeine 1 nie, maar by die idee van menseregte wat sy wortels in die Bybelse tradisie het.

So het prof Thomas Römer tydens ’n openbare lesing oor die Ou Testament en homoseksualiteit by die Universiteit van Pretoria gesê. Römer is ’n Duitse teo­loog, rektor van die Collège de France in Parys en sedert 2013 besoe­ken­de professor by Tukkies.

Hy het skerp kritiek uitgespreek op ’n Bybelgebruik wat enkele versies uithaal en dit as troefkaarte in ’n debat gebruik. Dan speel jy pieng-pong, want daar is altyd ’n ander vers om mee te antwoord, het hy gesê.

Hy het daarop gewys dat dit anachronisties is om die woord homoseksuali­teit in Bybelse konteks te gebruik, omdat dié woord eers in die 19de eeu geskep is.

Hy het ook gesê dat die Bybel verstaan moet word teen sy kulturele en ideologiese agtergrond. Levitikus 18 en 20 kom byvoorbeeld uit ’n wêreld waar­in slawerny en ongelykheid tussen mans en vroue aanvaar is.

Seks was iets tussen ’n aktiewe en pas­siewe persoon waarin die aktiewe per­soon domineer. Dit sou vernederend vir ’n man wees om die passiewe rol te vertolk.

Römer het daarop gewys dat iemand wat op grond van Levitikus 20:13 daarop aandring dat homoseksualiteit sonde is, dan ook op die doodstraf daarvoor moet aandring.

Oor die verhaal van Sodom en Gomorra het hy gesê dat dit eintlik niks met homoseksualiteit te doen het nie. Dis ’n verhaal oor seksuele geweld waardeur die inwoners van Sodom die besoekers wou verneder. Dit was ’n sken­ding van destydse reëls oor gasvryheid.

Römer het oor die vriendskap tussen Dawid en Jonatan gesê dat die verhaal baie dubbelsinnig is, maar dat daar tog aanduidings is dat die vriendskap as ’n liefdesverhouding gesien kan word.

In vraetyd was daar kritiek op Römer se gedagte dat die debat by menseregte moet begin. Hy het bevestig dat hy menseregte as ’n begrip met Bybelse wor­tels sien, maar gesê dit is net ’n voorstel dat die debat daar moet begin. Daar is ander moontlikhede ook.

Hy het egter gepleit vir ’n breër ge­sprek oor seksualiteit aangesien die idees oor seksualiteit wat tekste soos dié in Levitikus onderlê, nie net so na van­dag oorgedra kan word nie.

‘Kerk verskil nie oor die sentrale waarhede nie’

Neels Jackson van Centurion skryf:

Dr Chris van Wyk skryf (Kerkbode, 2 Augustus 2019) oor die gelykenis van die onkruid tussen die koring in Matteus 13. Dit kom teen die agtergrond van meningsverskil in die kerk oor selfdegeslagverhoudinge en ’n hoofartikel in Kerkbode van Januarie 2017 (wat ek nog geskryf het) wat aan die hand van die gelykenis pleit vir ruimte vir verskillende standpunte. Dr Van Wyk argumenteer hierteen.

Hy voer aan dat Guido de Bres dié gelykenis in artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis gebruik. Sy gronde vir dié stelling is onduidelik. Ander mense kon dalk later teksverwysings by die NGB gevoeg het, maar volgens Scheffler (in sy bydrae “Die gebruik van die Nuwe Testament in die Nederlandse Geloofsbelydenis” in Bosman, HL en andere, Die Nederlandse Geloofsbelydenis – Onstaan, Skrifgebruik en Gebruik, Unisa, 1987) was daar nie Skrifverwysings in die oorspronklike teks van die NGB nie. Boonop skryf Scheffler dat die NGB ’n voorliefde het vir tekste uit die Nuwe Testamentiese briewe, veral Hebreërs, eerder as die evangelies. By dit alles verwys NGB 29 glad nie na koring of onkruid nie.

Nietemin, dr Van Wyk gebruik sy twyfelagtige stelling om van die gelykenis te spring na NGB 29. Dan gebruik hy dié artikel se onderskeid tussen die ware en valse kerk as raamwerk vir sy argument. Hy keer wel later terug na Jesus se verduideliking dat die onkruid verwys na “almal wat ander mense in sonde laat val, en almal wat die wet oortree”.

Hy gaan egter volledig verby die punt van die gelykenis, naamlik dat die boer sy werkers aansê om nie dadelik dié onkruid uit te trek nie, omdat hulle in die proses dalk koring kan uittrek. Hulle moet dus nie te seker wees wat is onkruid en koring nie.

In die NG Kerk is daar nie verskil oor die sentrale waarhede van die Skrif nie. Christus is die Here en Verlosser. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Die Bybel is die Woord van God en rigtingewend vir ons lewens. Daaroor stem almal saam.

Daar is egter diep verdeeldheid oor selfdegeslagverhoudinge – en in die Woord is dit hoogstens ’n randsaak. As die algemene sinodes van 2015 en 2016 ’n aanduiding is, dan is die kerk naby aan helfte-helfte verdeel oor hierdie randsaak.

Vir die kerk is daar nou twee moontlikhede. Ons kan elkeen in ons verskillende kampe só seker wees van ons eie standpunt dat ons dit met die ware kerk vereenselwig. Dan kan ons gelowiges wat die Skrif anders verstaan, as die valse kerk uitmaak. Ons kan karikature van mekaar teken (soos in Van Wyk se opmerking “die valse kerk is sag op sonde”). Ons kan mekaar verketter en verdeeldheid saai.

Of ons kan die weg volg wat Jesus se gelykenis aandui. Ons kan nederig wees oor ons eie standpunt en erken dat dit vir ons as kerk, nou, oor die saak van selfdegeslagverhoudings, nie so duidelik is wat is koring en wat is onkruid nie. Dan kan ons ruimte vir mekaar se standpunte laat totdat daar groter duidelikheid groei. So kan ons die eenheid probeer behou.

Die vaste tye van son en maan

Psalm 104 besing God se lof aan die hand van verskeie aspekte van sy skepping. In vers 19 hou dit verband met die ritmes van die natuur: “U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee, die son weet wanneer om onder te gaan.” Moderne mense kan nog verstom staan oor die skoonheid van ’n sonsondergang soos dié in die Rietvlei-na­tuurreservaat in Pretoria op die foto, maar ons is minder bewus van die son en maan as aanduiders van ons tyd. Daarvoor gebruik ons horlosies en kalenders. Daar verskyn selfs Christelike jaarbeplanners wat nie die fases van die maan aandui nie, omdat party gebruikers daarvan volmaan met heidense praktyke assosieer. Die digter van Psalm 104 weet egter dat dit God is wat dit so gemaak het. En of die mens sy tyd aan die hand van die son en maan, of met horlosies en kalenders meet, dit bly uiteindelik in God se hand.

Kos vir die mense

Psalm 104 is ’n skeppingspsalm. Die 35 verse word grootliks daaraan gewy om God se grootheid te besing aan die hand van die natuur wat Hy gemaak het en onderhou. In vers 14 en 15 word daar egter skielik ook na die mens verwys: “U laat gras uitspruit vir die diere en groen plante vir die mens sodat hy kos uit die aarde kan kry: wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee.” Dit is ’n erkenning van God se liefdevolle sorg vir die mens, soos vir die res van die natuur. Dis sorg wat ons sien en proe in ’n verskeidenheid groente en vrugte en graan, in brood en wyn, soos op die foto hierbo. Dis sorg wat nie net laat oorleef nie, maar wat, met die luukse van wyn daarby, ook vreugde bring. Maar die psalm lê daarmee ook ’n verband tussen mens en natuur. Die mens staan nie teenoor die skepping nie, maar is deel daarvan – en afhanklik daarvan. Van hedendaagse mense vra dit ’n eko-bewustheid, ’n lewenstyl wat besorg is oor en ingestel is op die bewaring van die omgewing waarvan God ons deel gemaak het. Foto en teks: Neels Jackson

Ikonografie: Sy herontdek dié geloofskat

Ikone kan benut word om die gereformeerde tradisie te verryk, meen ds Fay van Eeden. Sy het met NEELS JACKSON daaroor gesels.


Vir ds Fay van Eeden was dit ’n diep geestelike ervaring toe sy die eerste keer ’n ikoon geskryf het.

Ikone is nie iets wat tradisioneel deel vorm van die gereformeerde tradisie nie. Met die Reformasie van ’n halwe millennium gelede het die Protestante op groot skaal van kunswerke en gra­fiese voorstellings ontslae geraak. Gereformeerdes het ’n sobere, gestroopte spiritualiteit beoefen.

Maar in die Oosterse kerke het ’n ryk tradisie van ikone geblom – voorstel­lings van die mens Jesus en van heiliges uit die Bybelverhale en uit die kerklike tradisie. Ikone is vir hulle “die vyfde Evangelie” vertel Fay.

Dit is nie kunswerke nie. Daarom skilder ’n mens nie ’n ikoon nie. Jy skryf ’n ikoon. En jy aanbid ook nie ’n ikoon nie. Jy respekteer ’n ikoon. Ortodokse gelowiges bestempel dit as vensters waar­deur jy kyk. En John de Gruchy ver­wys daarna as “genademiddele” in die titel van sy boek Icons as a means of grace.

Dit is moeilik om die Ortodokse Chris­tene se houding tot ikone te verstaan, sê Fay.

Sy is een van die NG dominees wat begin het om te put uit hierdie ryk tra­disie van die breër geloofsfamilie. Haar belangstelling is geprikkel toe sy in 2013 tydens ’n ekumeniese konferensie by Mosaïek-gemeente in Johannesburg geluister het hoe dr Johan Geyser oor ikone praat.

Daarna het sy saam met ander mense uit die NG Kerk ’n kursus by die iko­no­graaf Annemarie Bands deurloop oor die skryf van ikone. Hulle het sewe dae lank elke dag van 8-uur tot 4-uur ge­werk, en dit was eintlik te kort, vertel Fay.

Daar het sy haar eerste ikoon geskryf: Jesus Pantokrator. Jesus die heerser oor die heelal. In ’n tradisonele Ortodokse styl.

Om ’n ikoon te skryf, is so anders, sê Fay. Elke kleur kry 40 lae. Die hele pro­ses is ’n gebed. Dis ’n stil ervaring. Dis moeilik – tegnies en geestelik. Jy is besig met die ikoon, maar die ikoon is ook besig met jou.

Sy sit baie keer in haar stiltetyd voor ’n ikoon. Dis vir haar ’n herinnering aan God se teenwoordigheid.

In ’n stadium het Fay gewonder of sy besig is om haar tradisie te verraai. Sy het begin wonder oor die moontlikheid van ’n gereformeerde ikoon. Daar is immers wêreldwyd ’n soeke na spirituali­teit. Sou ’n ikoon in die gereformeerde tradisie mense daarmee kon help?

Sy wou nie haar rug op die tradisie keer nie. Sy wou eerder die tradisie verryk. Uiteindelik het sy onder leiding van prof Cas Wepener van Tukkies ’n formele studie aangepak oor die ont­wikkeling van ’n ikoon vir ’n gereformeerde teologie in die Suid-Afrikaanse konteks. Daarmee het sy onlangs ’n MTh-graad verwerf.

Ds Fay van Eeden met die ikoon wat sy vir ’n gereformeerde liturgie geskryf het.

Dit het haar gehelp dat die Lutherse Wêreldfederasie ’n omvattende studie gedoen het oor aanbidding en kultuur. Die resultaat daarvan was die Nairobi-verklaring waarin twee maniere geïdentifiseer is waarop aanbidding verryk kan word. Die een is die dinamies ekwivalente wat iets oorneem en dit na vandag verplaas. Die ander is kreatiewe assimilasie waardeur ’n mens elemente van plaaslike kulture by ’n bestaande tradisie voeg.

Die tweede manier het vir Fay die moontlikheid geopen van ’n ikoonverrykte gereformeerde liturgie.

“Soos NG gemeentes se aanddienste dikwels musiek uit ander tradisies gaan haal, kan ons ook by die Ortodokse tradisie gaan leen – sonder om ons eie tradisie prys te gee,” verduidelik sy.

As deel van haar studie het sy ’n nuwe ikoon van Jesus geskryf. Sy het meer vryheid gebruik as wat baie Ortodokses sou toelaat. Ikonografie laat nie gewoonlik veel ruimte vir vernuwing nie. Jy skryf ’n ikoon soos dit nog altyd geskryf is.

Maar Fay het ook elemente van die tradisionele ikonografie behou, soos die ligkring om die kop. Sy het ook die tradisionele kleure behou waarmee Jesus altyd uitgebeeld word: Blou as simbool van sy Goddelikheid is te sien as ’n skynsel in Jesus se kleur, en rooi as teken van sy menslikheid in die wond aan sy sy.

Om kultuursensitief te wees, het sy Jesus nie as ’n tipiese Westerling uitgebeeld nie. Inderwaarheid het sy ’n bie­tjie by Etiopiese voorstellings gaan leen.

En die agtergrond van die ikoon is donker, omdat dit eintlik bedoel is om op Goeie Vrydag gebruik te word.

Vir die rand van die ikoon het sy shweshwe-lap gebruik wat uit die Basotho-kultuur kom.

Saam met die ikoon het sy ’n geloofsbelydenis geskryf. Om die ikoon alleen te gebruik, sou dalk te vreemd wees. Daarom is die gedagte dat die ikoon op ’n skerm geprojekteer word, terwyl die gemeente ’n responsoriese geloofsbelydenis doen.

Die hele ervaring het haar verryk, sê Fay. Sy het met allerlei persepsies oor ander Christelike tradisies geleef. Deur met ikone te werk, het sy waardering vir ander tradisies, maar opnuut ook weer vir haar eie tradisie, gekry.

“Ons sou bymekaar kon leer,” sê Fay. “Ons by hulle, maar hulle sou ook by ons kon leer. Ons is immers almal deel van die een, heilige, algemene Christe­like kerk.”

Ds Fay van Niekerk is leraar by die NG gemeente Stellastraat, Pretoria.

Sarah Jane Wessels was ‘ma’ vir baie

Ds Sarah Jane Wessels, die oudste vrou wat ooit as predikant in die NG Kerkfamilie gedien het en waar­skynlik die eerste vroulike eme­ritus-predikant in die NG Kerk, was ’n moederfiguur vir vele jonger, vroulike predikante.

Dit blyk uit die reaksies nadat Wessels op 4 April in Nelspruit op 81 jaar aan kanker oorlede is.
Sy is in Nigerië gebore waar haar pa, ds Marmeduke Visser, sendeling was, maar hulle het teruggekeer Suid-Afrika toe toe sy vier was. Op ses het sy al die roeping gevoel om predikant te word en vir haar pa se groentetuin gepreek.

Daardie roeping sou egter baie jare later eers vervul word, want vroue kon destyds nie predikante word nie. Dit het Wessels egter nie gekeer om onder meer ’n meestersgraad in praktiese teologie by die destydse Potchestroomse Universiteit te verwerf en verskeie ander teologiese vakke en kursusse te voltooi nie.

In die 1990’s, nadat die NG Kerk se Algemene Sinode besluit het dat vroue wel predikante mag word, het sy by die kweekskool op Stellenbosch begin om die ontbrekende deel van die NG Kerk se predikantsopleiding te voltooi.

Dr Carin van Schalkwyk, predikant van Philippolis en destydse klasmaat van Wessels, vertel dat hulle ses vroue in hulle finalejaarsklas was. Sy was die “tannie” tussen die ander.

Destyds was die gedagte aan vroue­predikante nog nuut en Van Schalkwyk vertel dat die vroue erge diskriminasie en uitsluiting beleef het. Hulle was dikwels kwaad en seer. Dan was Sarah Jane rustig en kalm en sou sy sê: “Kom ons gaan drink koffie.”

Hulle het baie respek vir Wessels gehad omdat sy op haar ouderdom steeds haar droom uitgeleef het.

Dit was vir hulle baie sleg dat Wessels ná die voltooiing van haar studies nie saam met haar klasmaats gelegitimeer kon word nie. Die rede was dat sy te oud was om predikant te word. Die kerkreg, sê Van Schalkwyk, is ongenaakbaar toegepas.

Maar toe kom sê Dawid Kuyler en Frederik Nel van die VGK vir haar hulle het geen reël van te oud wees nie en hulle het haar nodig. En toe legitimeer die VGK haar as predikant.

Sy het ’n jaar lank as predikant van die VGK gemeente Rust-ter-Vaal ge­werk en toe op 65 geëmeriteer. Daarna het sy ook vier jaar lank by die NG gemeente Randfontein-Noord as predikant gewerk.

En selfs nadat sy op 70 daar opgehou het, het sy nog Sondag na Sondag op uitnodiging in verskillende gemeentes gepreek, radiopreke gedoen en geskryf. En op die agtergrond het sy steeds ’n sterk versorgende rol as moederfiguur vir ander vroue in die bediening gespeel.

“Sy was ’n pastor pastorum vir ons vroue. Sy het ons altyd bemoedig,” sê prof Christina Landman. Sy het byvoorbeeld spesiaal Dullstroom toe gery vir Landman se ordening as predikant.

“Sy kon jou behoeftes aanvoel voor jy dit nog sê. Sy was versorgend en sou nooit veroordeel nie. Dit was goed om haar te ken,” sê Landman.

Om ’n kerk op ’n ashoop te bou

EJ Leach, vroeër predikant van die NG gemeente Waverley-Oos in Pretoria, en sy vrou, Sané, ’n maatskaplike werker, werk die afgelope jaar by ’n kerk in Hyderabad, Indië. Hulle was onlangs op ’n besoek aan Suid-Afrika, en het vir NEELS JACKSON van hulle werk en ervarings in Indië vertel.


Die storie van EJ en Sané se werk in Indië begin lank voordat hulle verlede jaar na Hyderabad vertrek het. Dit begin by geloofswaarhede wat hulle hier in Suid-Afrika geleer het.

Sané praat oor Jesus wat vir sy disspels gewys het hoe om gemarginaliseerdes lief te hê. “Ons moet doelbewus mense wat swaarkry, help,” sê sy.

Dit het sy al in haar ouerhuis geleer. Haar pa is ds Chris Lötter wat nou in Rayton is, maar ook een maal per maand ’n gemeente in Botswana gaan bedien. Verder was Sané betrokke by Echo Jeugontwikkeling in Villieria, Pretoria, waar hierdie geloofswaarheid in ’n gemeenskap uitgeleef word.

EJ sê dat hy in die kerk in Suid-Afrika dikwels beleef het dat daar ’n soort Ou- Testamentiese volksgodsdiens beoefen word. Dis so iets van “God vir ons mense”.

Sané Leach en drie van haar kollegas by die My Choices Foundation wat gesinsgeweld en mensehandel probeer teëwerk. By dié geleentheid het hulle Sowmya, ’n berader vir wie sy op die foto ’n drukkie gee, se verjaarsdag gevier.

In die Nuwe Testament is dit anders. Dit het hy geleer in die NG gemeente Stellastraat in Pretoria waar hy grootgeword het en in Tukkies se fakulteit teologie waar hy as predikant opgelei is.

En hy het dit leer leef in Intentional Living, ’n soort kommune wat hy en ’n groep medestudente op die spoor van die ou monastiese voorbeelde gevestig het. Die uitgesproke doelwitte was om eenvoudig te leef (teen die verbruikerskultuur in) en om kontak te maak en verhoudings te bou met armes. Daar het hulle grense van klas, ras en ekonomie oorgesteek.

In die kerk was hy dikwels gefrustreerd met die gebrek aan diversiteit. Hy wou sy gemeenskap verbreed sodat dit mense insluit wat anders as hy lyk en dink. Dit het bygedra daartoe dat hy en Sané Indië toe is.

In Hyderabad, ’n groot stad naastenby in die middel van Indië, werk EJ en Sané albei vir Hope Unlimited Church. En soos dit in die naam sê, is dit ’n kerk wat hoop wil bring. Maar hulle is elkeen ook betrokke by ’n ander bediening. Sané werk vir My Choices, ’n organisasie wat gesinsgeweld en mensehandel probeer teëwerk. EJ doen opleiding by Hand of Hope, ’n kerkplantbeweging.

Die afgelope jaar was daar baie dinge in hulle nuwe omgewing wat hulle getref het. Sané vertel van die Indiese kos wat so lekker is en van mense se gasvryheid. EJ vertel van die baie mense. Hyderabad is ’n stad met 11 miljoen inwoners – soveel soos in die hele Gauteng. Dit maak dat die verkeer iets verskriklik is. “Ek sal nooit weer kla oor ’n taxi hier nie. Daar gaan dit duisend maal erger,” verklaar hy.

Maar daar is ook maatskaplike kwessies wat ’n groot rol in hulle bediening speel. Dit sluit in:

– Christene is ’n klein minderheid en daar word dikwels teen hulle gediskrimineer.
– Die kloof tussen ryk en arm is baie groot en baie sigbaar. Jy kan byvoorbeeld ’n luukse hotel op ’n plek kry en dan is daar plakkers net oorkant die straat.
– Die kastestelsel wat mense in verskillende sosiale klasse plaas, is diep gewortel. Selfs Christene sukkel om daarvan afstand te doen, soos sommige Christene in Suid-Afrika sukkel om hulle rassisme af te lê.
– Die patriargale stelsel is baie sterk sodat vroue baie swaarkry. Gesinsgeweld is ’n groot kwessie.
– Armoede en die lae waarde van vroue dra by tot die probleem van mensehandel. Gewetenlose mense sal byvoorbeeld ’n arm plattelandse gesin nader met beloftes van ’n ryk man vir hulle dogter. Dan verkoop die ouers hulle dogter in die hoop op ’n beter toekoms, maar al wat gebeur is dat sy ’n seksslaaf word.
– Huwelike wat deur families vir hulle kinders gereël word sonder dat die kinders ’n sê daarin het, is algemeen.

EJ Leach (agter, tweede van regs) saam met lede van ’n sokkerspan van Hope Unlimited Church se mannebediening, Momentum. Dié foto, sê EJ, vertel iets van hulle kerk se demografie, want die oorwig van lidmate is in hulle twintigerjare.

Teen dié agtergrond vertel EJ van die Well of Life Churches. Dit is kerke wat in arm, plattelandse gemeenskappe rondom boorgate op die been gebring word. In sulke arm gemeenskappe het mense min opleiding en min infrastruktuur. Die lewe is swaar. ’n Vrou sal byvoorbeeld elke dag kilometers moet stap om te gaan water haal.

Om ’n kerk te plant, sink iemand dan ’n boorgat in die middel van die gemeenskap. Daar kan enigeen kom water haal. Vir die kerkplanter bied dit die geleentheid om met mense te gesels oor die lewende water. En uit sulke gesprekke word ’n gemeente gebore. EJ se rol is om vir dié kerkplanters opleiding te gee in kerkgroei.

Hulle kerk in Hyderabad het baie jongmense wat in die sterk IT-sektor werk. Van hulle lidmate wat uit die platteland kom, is die eerste in hulle families wat enige geleerdheid het. Maar of dit in die arm gemeenskappe om ’n boorgatkerk is en of dit in die cool stadskerk is, daar is baie lidmate wat die enigste Christene in hulle families is. En dan word hulle deur hulle eie familie verstoot. Die kerk moet vir hulle die rol van familie speel.

EJ Leach (tweede van links) maak vlieërs saam met inwoners van ’n tehuis vir MIV+ kinders. Dit is deel van die Hope Unlimitied Church se projek Hope Now. EJ vertel dat die oorgang van winter na somer in Indië met die Sankriti-fees gevier word. Dit is in sy wortels ’n Hindoefees wat die Songod se oorwinning oor die winter vier. As deel van die fees maak mense vlieërs wat hulle laat vlieg. Die kerk gebruik die geleentheid om met mense te praat daaroor dat Christene soms die wind van voor kry, en oor die Heilige Gees wat ’n mens oplig om bo die struikelblokke uit te styg.

Daar beleef EJ en Sané wat dit is om in ’n klein geloofsminderheid te leef. Hulle vertel met hoeveel toewyding sulke Christene hulle geloof uitleef, hoeveel energie hulle in hulle geloofslewe insit – teenoor gelowiges in ’n land soos Suid-Afrika wat soveel dinge as vanselfsprekend aanvaar.

In berading kry hulle byvoorbeeld gereeld te doen met jongmense wat mekaar in die stad ontmoet, verlief raak en wil trou. Maar dan is hulle heel moontlik uit verskillende kastes en die families wil nie instem tot die huwelik nie. ’n Liefdeshuwelik is glad nie vanselfsprekend nie.

’n Deel van Sané se werk is met vroue wat deur hulle mans mishandel word. Sy vertel dat daar ’n hardheid tussen mense in Indië is. Dit is algemeen dat ’n man sy vrou of dat ’n onderwyser ’n kind sommer teen die kop klap. Dis nie geweld soos om iemand met ’n mes te steek nie, maar sy sien ’n onderliggende woede tussen mense. En baie vroue is die slagoffers daarvan in hulle huwelike.

EJ sê dat hy daarom by Momentum, hulle kerk se mannebediening, gepraat het oor ’n manlikheid soos dié van Jesus, ’n manlikheid wat sag en weerloos kan wees.

Maar terwyl hulle met sulke maatskaplike probleme werk, is daar ook baie wat hulle inspireer, soos die gasvryheid wat hulle juis by arm mense beleef.

Kinders van ’n arm gemeenskap wat letterlik op ashope bly, eet aan ’n voedsame maaltyd wat vir hulle gegee is. Sané Leach vertel dat dit deel is van die projek Love thy Neighbour wat sy en EJ by die Hope Unlimited Church begin het. Een maal per maand gaan hulle na die gemeenskap wat deur die organisasie Christ for All bedien word. Dan gee hulle vir die kinders kos en hulle deel die evangelie op ’n kreatiewe manier, deur byvoorbeeld met vlieërs te speel. Die ashoopgemeenskap tel onder Indië se “onaanraakbares”, die laagste vlak in kastestelsel. Deur dié projek bring hulle van Hope Unlimited Church se welaf lidmate by die armstes in die gemeenskap uit. Dít, sê EJ, is ’n poging om deur die kastestelsel te breek.

EJ vertel verder dat hy ’n maand na hulle aankoms in Indië ’n konferensie bygewoon het van 400 pastore uit die platteland wat in haglike armoede werk. Hierdie pastore, verklaar hy, is die helde van die geloof. In die oggend weet hulle hulle gaan waarskynlik vandag met klippe gegooi word, maar hulle gaan nogtans uit en vertel mense van die evangelie. Die toewyding van gelowiges, die ure wat hulle werk het ’n groot indruk op hom gemaak.

Wat hou die toekoms vir hulle in?

EJ sê hulle is nou besig om die kultuur en die omstandighede in Indië te leer ken. Die plan is egter dat hy en Sané saam met ’n span gelowiges ’n nuwe Hope Unlimited Church in Kolkata moet gaan plant.

EJ hoop dat dit ’n kerk sal wees waar die selflose evangelie van Christus nog meer tot sy reg sal kom. Waar die boodskap van die radikale gelykheid van mense werklik sal wortel skiet en waar hulle die ongelykheid van die kastestelsel en die patriargie en van ekonomiese verskille nog meer sal deurbreek.

Gaan hulle terugkom Suid-Afrika toe?

Hulle weet Suid-Afrika het ook sy uitdagings en hulle praat met mekaar oor die vraag of hulle nie eintlik hier moet werk nie, maar solank as wat die Here hulle in Indië wil gebruik, sal hulle daar bly. Hulle voel tevrede dat hulle nou in Indië moet wees, sê Sané.

#imagine – verbeel jou ’n beter Suid-Afrika

Die naweek van 29 tot 31 Maart word die jaarlikse #imagine-jeugfeeste weer aangebied. Ds Fouché de Wet, uitvoe­rende hoof van #imagine, het vir NEELS JACKSON vertel van die pad wat #imagine geloop het om hier uit te kom.


Dit was in 2013 dat die droom ontstaan het om ’n nuwe beweging van jeugbediening op die been te bring. In 2014 sou dit 40 jaar wees na 1974 se Jeug-tot-jeugaksie – en, het mense soos ds Gielie Loubser van die Wes-Kaap en Louis Brittz van Pretoria gevoel, dis tyd om weer so iets te doen.

Baie daarvan was ’n geloofsdaad, want niemand het begroot om twee groot feeste, een in die Kaap en een in Gauteng, te hou nie. Maar hulle het dit gedoen.

Fouché vertel dat hy deur die NG Kerk se noordelike sinode gevra is om namens hulle betrokke te raak. Hy was in daardie stadium ’n bietjie allergies vir groot byeenkomste, maar het gehelp om die eerste fees in Gauteng te reël.

Twee deelnemers aan 2016 se noordelike #imagine-fees maak die #-teken met hulle vingers. Die kruissimbool in die #-teken is vir #imagine betekenisvol.

Sy “bekering” het by die eerste fees in 2014 plaasgevind, toe hy sien wat gebeur.

Eerstens het hy gesien hoe ’n groot behoefte daar was. #imagine was ’n onbekende produk, hulle het min bemark, maar die tieners het na die feeste toe gestroom.

Tweedens was daar die diversiteit. Dit het tieners van verskillende rasse, verskillende kerke, en uit die stad én platteland byeengebring.

Derdens het hy die passie gesien waarmee die kinders na die wêreld gekyk het. Hulle wou ’n verskil maak.

Met daardie eerste feeste het hulle ’n klomp lesse geleer. Oor logistiek, maar ook oor die teologiese aanpak van so ’n fees. “Ons moes ekumenies geoefen raak,” vertel Fouché.

Maar dit was ook duidelik dat daar baie potensiaal was. En hulle het die groen lig gekry om voort te gaan en die volgende jaar ’n tweede stel feeste te hou. Die NG Kerk was die groot stukrag agter alles, maar dit het ’n ekumeniese fees geword waarby daar verlede jaar 1 300 gemeentes van 400 dorpe en stede en 40 verskillende denominasies betrek is.

’n Tiener kniel in gebed by ’n kruis. Dit was by een van die stasies wat ingerig is vir tieners om hulle geloof op ’n persoonlike vlak uit te leef.

Finansies was nog altyd ’n vraagstuk, vertel Fouché, maar die Here het telkens voorsien. “Ons was nog altyd in die rooi, maar nooit so in die rooi dat ons dit nie kon maak nie,” sê hy.

#imagine het ’n paar dinge anders gedoen as vorige tienerbedienings wat net op kinders se persoonlike verlossing gefokus het. Daardie feeste was eiland­ervarings en niemand het dit opgevolg nie.

#imagine werk nou saam met gemeentes. Kinders moet deur hulle gemeentes inskryf. En dan gee #imagine vir die gemeentes opvolgmateriaal sodat hulle ná die feeste met hulle tieners kan werk.

#imagine hou ook nie net die groot feeste nie. #imagine kids is byvoorbeeld ’n vakansieprogram vir laerskoolkinders waarin die tieners wat by die feeste was, as leiers optree.

Vyf jaar ná die eerste twee feeste, is daar nou vier gevestigde feeste: ’n Wes-Kaapse fees by Bredasdorp, ’n Oos-Kaapse fees by Jeffreysbaai, ’n fees by Botha­ville wat die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal bedien, en ’n fees vir die vier noordelike provinsies naby Bela-Bela (vroeër Warmbad).

In kleingroepies gesels die tieners verder oor sake wat in die groot groep aan die orde gestel is.

Hulle droom daarvan om ’n eie fees vir KwaZulu-Natal te begin, sê Fouché. Sodra daar ’n sterk, gevestigde netwerk van kerke is wat bereid is om eienaarskap vir die fees te vat, skop hulle af.

In Namibië het die beweging ’n bietjie stoom verloor, en hulle markeer nou die pas totdat genoeg kerke ingekoop het om die fees volhoubaar te maak.

#imagine se groei het egter sy eie uitdagings meegebring. Almal wat daaraan gewerk het, het dit deeltyds gedoen. En dit het daartoe gelei dat die pap soms op die grond geval het.

Iets moes gebeur, maar niemand het geweet wat nie.

Fouché sê die keerpunt het gekom toe hy en ds Teodor van der Spuy die Triga Accelerator-kursus bygewoon het. Dit was ’n geleentheid om jong Christelike organisasies te help om te groei.

Drié jong organisasies en Christelike entrepreneurs is bymekaar gebring en hulle het geleer om meer soos besighede te dink. Hulle moes byvoorbeeld ’n besigheidsplan opstel.

Dit het daartoe gelei dat Fouché as #imagine se voltydse uitvoerende hoof aangestel is. Nou het hulle al vier voltydse mense in diens in kantore in Centurion en die Kaap.

In die #imagine-verhaal is daar ’n interessante dinamiek tussen stad en platteland. Sowat 70% van die tieners wat die feeste bywoon, kom uit die platteland, maar sowat 70% van die mense wat dit reël, kom uit die stad. Dit is ’n manier waarop die stede met hulle sterk jeugbedieninge die platteland help.

Oor vanjaar se feeste, sê Fouché dat hulle tema gaan oor die jong Timoteus en Paulus se oproep dat Timoteus God in sy verhaal sal raaksien. Hulle wil die tieners daardeur help om God in hulle eie storie raak te sien.

Een groot mikpunt is om die kinders se identiteit in Christus te vestig. ’n Tweede is om brûe te bou. En die derde is om kinders te help tot ’n lewe in diens van die kerk en die gemeenskap.

Dit gaan oor ’n verbeelding wat nuut dink oor jonges se plek in die kerk en die kerk se rol in hulle lewe. En oor hoe Suid-Afrika se landskap anders kan lyk as dié tieners werklik ’n verskil begin maak.

Geskep om te skep

“Die Skepper het ons gemaak om skeppend te wees,” sê dr Zander van der Westhuizen. Neels Jackson het met dié predikant van die NG gemeente Tygerpoort gesels.


In ’n mens se skeppende talent word daar iets sigbaar van die beeld van God waarna die mens geskape is.

Dit is hierdie kreatiwiteit wat die fokus is van Wolkedans, ’n musiekgedre­we produksie wat Zander, die sanger Leon Gropp en die akteur Pierre Brey­tenbach binnekort by die Woordfees in Stellenbosch op die planke gaan bring.

Die aanleiding tot die produksie lê eintlik al in verlede jaar se Woordfees, toe Leon, wat help met die kreatiwiteit in Tygerpoort, die prys gewen het vir die beste musiekgedrewe produksie. Dit was met Rooidag, waarin Leon sy toonsettings van NP van Wyk Louw se gedigte gesing het.

Vanjaar wou hulle iets anders doen. Zander, Leon en Pierre, ook ’n lidmaat van Tygerpoort, oos van Pretoria, het koppe bymekaar gesit.

Zander vertel dat die idee van Wolkedans vorm gekry het na aanleiding van die Franse skrywer, De Saint Exupery, se werk. Uys Krige en sy broer Japie het een van sy boeke in Afrikaans vertaal as Pioniers van die wolke.

Daarin beskryf Exupery hoe hy op ’n bus sit en ’n burokraat dophou. Dan praat hy met die burokraat oor hoe hy die digter in mense doodmaak deur mure om hulle te bou.

En daar is die gedagte vir Wolkedans gebore. Dit gaan daaroor dat mense nie hulle kreatiwiteit toelaat om te blom nie. “Ons versmoor dit. Ons word vasgevang in die daaglikse lewe, in die roe­tine,” sê Zander.

Zander het aanvanklik die teks geskryf. Hy en Leon het ge­slyp aan die lirieke en Pierre het met sy teatererva­ring gehelp om dit vir die verhoog reg te kry. Dit was ’n kreatiewe proses waar­aan dié drie saamgewerk het.

Die storie gaan oor ’n karakter, Alex du Buisson, wat opgehou het om te dig. Hy gaan dan uit om iets te konfronteer (Zan­der sê ’n mens moet na die pro­duksie gaan kyk om te sien wat dit is) en onderweg ontmoet hy drie ver­skillende karakters. Hierdie ont­moe­tings help hom om na te dink oor die lewe.

Zander, Leon en Pierre se veelsydigheid word in die produksie ten toon ge­stel. Hulle al drie maak musiek, al drie speel toneel, en al drie vertel die verhaal.

Die drie kreatiewe siele wat Wolkedans op die planke bring. Van links is Zander van der Westhuizen, Leon Gropp en Pierre Breytenbach. Foto verskaf

Dit is nie ’n gemeente­pro­duksie nie. Dit staan eintlik los van die gemeente, maar dit word heel eer­ste by Tygerpoort opgevoer. Daar­ná gaan dit Woord­fees toe en dan sal hulle dit verder neem. Daar is reeds planne om dit op Secunda te gaan opvoer en hulle beplan om dit in te skryf vir Aardklop.

Maar daar is tog ook ander raakpunte met die gemeente. Zander praat oor vryheid wat in die hart van die evangelie lê, oor hoe mense hulleself toe hou, hulle ongesonde self vas­hou, terwyl die Here wil hê men­se moet vry wees.

Omdat dit belangrik is, is selfinsig ’n tema in Tygerpoort. Eers as jy jouself verstaan, as jy jouself in die oë kyk, as die maskers afval – dan kan jy vry word. Dan kan jy word wie jy moet wees.

Wat hulle in die gemeente in gods­dienstige taal vir mense sê, word in Wolkedans op ’n ander manier, in ’n ander taal gesê. Dit is ’n universele boodskap, sê Leon.

Maar daar is ook ’n tea­ter­kul­tuur in Tygerpoort. Die gemeente het ’n tea­ter, want hul­le wil ’n spasie skep waar men­se wat nie normaalweg by die kerk sou uitkom nie, welkom sal voel.

Hulle moedig lidmate aan om ander mense van buite die kerk saam te bring teater toe. As sulke mense dan kom, word hulle stereotipes van outydse kerk­­wees ondermyn. Dan word dit vir hulle makliker om ook ’n erediens te kom bywoon.

Later vanjaar bring Tygerpoort ’n mu­siekblyspel met die naam Helder op die planke. Dit speel van 22 tot 24 Au­gus­tus en val saam met hulle gemeentefees. In dié stuk gaan Pierre, Anna Da­vel en Zander se een kollega, ds Wouter van Wyk, die hoofrolle speel.

Zander vertel dat daar heelwat kin­ders in die produksie gaan wees. Die uit­nodiging om te kom deelneem, gaan ook wyer as die gemeente. ’n Mens hoef nie ’n lidmaat te wees om ’n rol te kry nie.

Daar is 51 mense wat wil kom vir oudisies, maar uiteindelik gaan hulle ’n rolverdeling van dalk so 30 hê, sê Leon. Zander sê hulle werk eers met ’n konsep, dan hou hulle die oudisies en daarna word die teks van die produksie volledig uitgewerk.

Die blyspel, wat losweg op die verhaal van Josef gebaseer is, sluit aan by die tema van helderheid waarmee hulle in die gemeente werk. In die tema praat hulle oor die groter prentjie en hulle probeer mense help om dit te verstaan. Hulle speel met die verskil tussen sekerheid en lig. Dit gaan ook oor hoe ’n mens lig moet wees.

En so word skeppende talente in Tygerpoort inge­span om die evangelie op ’n kreatiewe manier te laat grondvat.

  • Wolkedans is ’n musiekgedrewe produksie wat eersdaags op die Woordfees (1-10 Maart) in Stellenbosch te sien sal wees. Dit word op die planke gebring deur ’n dominee, ’n sanger en ’n akteur.

Die evangelie vat grond op ’n plék

Hartsplek is die titel van prof Nelus Niemandt se jongste boek. Neels Jackson het by hom gaan hoor hoekom dié boek, en wat het plek met geloof te doen.


Niemandt sê daar was drie waarnemings wat aanleiding gegee het tot die skryf van die boek.

In die eerste plek het hy onder die indruk gekom van lidmate se stories oor hoe ’n groot rol plek­ke in hulle lewe speel. Hy noem byvoorbeeld mense wat in Gauteng bly en werk, maar wat in hulle hart steeds Kapenaars is. ’n Mens sien dié soort verbondenheid in die boeke van skrywers soos Karel Schoeman en PJ Schoeman, maar ook in die gronddebat wat nou in Suid-Afrika gevoer word. Daar is ’n diep verbondenheid van mense aan plekke, maar daar word gods­dienstig min daaroor nagedink.

In die tweede plek het die missionale teologie hom laat besef hoe gemeentes geanker is in hulle plekke. Dit, merk hy terloops op, is waarom virtuele kerke nie werk nie. ’n Gemeente is geanker in ’n dorp of ’n voorstad of ’n omgewing en dit mis virtuele kerke. Maar toe hy meer wou lees oor ’n teologie van plek, besef hy daar is nie so iets nie.

Een van die haltes langs ’n staptoer van aanbiddingsplek­ke in Pretoria se middestad is die ou Capitol-teater naby Kerkplein wat deesdae as motorhawe gebruik word. Hierdie toer, wat dr Nico de Klerk van StreetBiz Foundation op ad hoc-grondslag lei, sluit talle kerke in en is vol voorbeelde van hoe die evangelie op ’n wyse eie aan die midde­stad grondvat.

Derdens het die studente in sy finalejaarsklas gevra wat dit beteken om te “wandel in die wêreld”. Hulle wou verder daaroor gaan lees, maar daar was niks waarna hy hulle kon verwys nie.

Dit alles het hom aan die dink en toe ook aan die skryf gesit oor geloof en plek.

’n Mens moet onthou dat al die Bybelverhale geanker is in plekke, sê Niemandt. Hy verwys na die verhaal van Jakob se droom wat hom vir altyd verbind aan Bet-El, die plek waar dit gebeur het.

En as jy in die Nuwe Testament die stories van gemeentes gaan lees, dan is elkeen verbind aan ’n plek. Dit is die gemeente in Efese, die gemeente in Korinte, of die gemeente in Rome.

Dié verankering aan ’n plek, bring Niemandt in verband met God se koms aarde toe in die Persoon van Jesus Christus. Hy het op ’n spesifieke tyd en en in ’n spesifieke omgewing – die Palestina van twee millennia gelede – mens geword en op die aarde tussen mense kom woon en werk.

Net so behoort gemeentes veranker te wees in ’n plek. Hulle moet die evangelie op daardie plek laat grondvat. En dit sal anders gebeur in ’n middestads­omgewing waar die mense gekonfronteer word met vraagstukke soos armoede, werkloosheid en haweloosheid, as in ’n plattelandse gemeenskap waar die mense boer en die groot kwessie vir hulle droogte is. Dis dieselfde evangelie, maar die manier waarop dit grondvat, verskil.

En omdat dit so belangrik is dat ’n gemeente gean­ker is in sy plek, is dit ’n goeie ding dat gemeentes name het wat hulle verbind aan die plek waar hulle die evangelie moet leef. Name soos Kemptonpark-Noord of Middelburg-Wes of Wellington.

Dit is hoe dr De Klerk met mense in gesprek tree in die strate van Pretoria. Foto’s: Le Roux Schoeman

Niemandt onderskei ook ’n reeks ander soorte plek­ke. Daar is mooi plekke. Mense beleef dit veral in die natuur waar hulle iets van God se grootheid raaksien.

Maar daar is ook lelike plekke, plekke wat deur die mens verniel is. Op sulke plekke is dit belangrik om te verstaan dat God oral teenwoordig is, ook daar waar dit moeilik is om God se teenwoordigheid raak te sien.

Op sulke plekke is dit gelowiges se taak om so te gaan lewe dat mense se oë oopgaan vir God se teenwoordigheid ook daar – juis daar waar dit lelik is. Daarom skryf Niemandt ook oor plekke van genesing, plekke waar mense kan heel word, waar wonde genees word.

Dieselfde soort uitdaging geld gelowiges op vreemde plekke. Niemandt verwys na Israel in ballingskap. Hulle moes besef dat God ook daar teenwoordig is, en hulle moes daar leef met dié wete.

En as ’n mens deur die Bybel blaai, is daar baie verhale, reisverhale waar God mense na vreemde plekke toe neem. Dit wissel van Abraham wat moes trek, tot by Paulus, wat duisende kilometers gestap het juis om op vreemde plekke God se teenwoordigheid te laat sigbaar word.

Niemand skryf oor die belang van stil plekke, en verwys onder meer na retraitesentrums waar ’n mens kan stil word. Hy verwys ook na heilige plekke “waar die membraan tussen die heilige en die gewone baie dun is”. Dít, sê hy, is waarom mense pelgrimstogte onderneem na plekke waar daar ’n verwagting is dat hulle naby God sal kom.

God is eenvoudig op party plekke anders teenwoordig as op ander. Daarom dat die inrigting van plekke van aanbidding belangrik is. ’n Christuskers help mense byvoorbeeld om bewus te wees dat God teenwoordig is.

Die hele gedagte van plek is ook ter sprake in die debat oor grondhervorming. Christene bely immers die hele aarde behoort aan die Here.

Deur dit alles loop die gedagte dat die evangelie moet grondvat. Die kerk hou haarself nie besig met pienkwolkieteologie nie, sê Niemandt. Die evangelie moet ruik en smaak soos die plek waar dit grondvat.

Hartsplek word uitgegee deur Bybel-Media.

Die aardse Jesus nooi mense om Hom te volg

Dr Willem Nicol se jongste boek – Genooi om te volg – gaan oor Jesus van Nasaret. Dit het pas by Bybel-Media verskyn. Neels Jackson het met hom daaroor gesels.


Ons diepste verlange is na kontak met God. Soms beleef ’n mens iets daarvan in die groots­heid van die natuur, in die weerkaatsings van God wat ons in sy skepping sien. Maar Jesus is die helderste beeld van God wat ons het. En hy word daardeur aangetrek.

So verduidelik dr Willem Nicol waarom sy jongste boek oor Jesus gaan. En as hy vertel hoe Jesus jou tel­kens terugtrek na Hom toe, dan hoor ’n mens iets mee­sleurends daarin.

Maar die boek gaan nie maar net oor Jesus nie. Op die voorblad staan baie spesifiek: “Ervaar die lewe van die aardse Jesus.”

En dít, die aardsheid en mensheid van Jesus, is vir Willem belangrik. Hy beklemtoon dat Jesus vlees geword het. Hy het nie maar net gelyk na ’n mens nie. Hy het mens gewórd. En dit is anders as wat in die ander godsdienste gebeur. Die Hindoes het ook verhale, maar dis legendes sonder ’n historiese basis. Die Boeddhiste praat oor Gautama, maar histories gesproke weet hulle omtrent níks van hom af nie.

Met Jesus het God egter in die geskiedenis ingekom. As Christene oor Jesus praat, praat hulle oor werklike gebeure, gebeure wat Lukas, die evangelis, sê dat hy dit goed nagegaan het.

Willem wil sy leser na hierdie werklikheid toe neem. En hy gebruik ’n interessante tegniek. In elke hoofstuk is daar ’n gedeelte onder die opskrif: “Ons leef ons in”. In die eerste hoofstuk begin dit só: “Jy staan halflyf met ’n kaal bolyf en ’n nat broek in die water van die meer van Galilea. Jy voel klein golfies klap teen jou vel. Onder jou voete voel jy die seesand.”

Daarmee plaas Willem sy leser in die posisie van die eerste dissipels. Hy vertel hoe jy deur ’n vreemdeling geroep word om Hom te volg, hoe jy en jou broer die nette los en agter Hom aanstap.

En dan word die los van die nette ’n beeld. Die leser word opgeroep om die skewe voorstellings van Jesus soos nette te los ten einde Jesus te volg soos Hy inderdaad as mens op aarde geleef het.

Hy noem van die skewe voorstellings van Jesus wat in mense se gedagtes leef. Dis iets soos dat Jesus bloot gekom het om ons skuld te betaal. Dis waar, sê Willem, maar dis ’n reduksie. Dis ’n verskraling van Jesus. Jesus is baie meer as net die betaalmeester.

In die tweede hoofstuk se inleefstuk, neem Willem jou na Jesus toe. En wat jy sien verbaas jou: “Hy lyk dan soos ’n boemelaar. Hy het iets soos ’n lang T-hemp onder aan, en dit rafel uit by die kante. Daaroor het Hy iets soos ’n lang hemp aan, vol stof en duidelik al jare gedra.Verslete klere van ’n arm man. Ou sandale wat al afgeleef is. Skraal soos iemand wat min eet. Bruin, donkerder as baie van jou mense, soos iemand wat baie in die son en buitelug lewe.”

Daar is aanduidings van Jesus se armoede in die Bybel, maar ons lees dit mis, sê Willem. Hy verwys na die keer in Markus 2 dat die dissipels op die sabbat die koringkorrels uit die are uitgevryf het. Dit was omdat hulle honger was. Oor die vyeboom wat deur Jesus vervloek is, sê hy dat Jesus daarin na vrugte gesoek het omdat Hy honger was. By die vermeerdering van die brood en vis, was dit nie ’n geval dat die skare maar net vergeet het om hul piekniekmandjies te pak en kos saam te bring nie. Daar was nie kos in hulle huise nie.

En dis belangrik om te verstaan dat Jesus arm was, sê Willem. Hy is tereggestel omdat die owerhede nie gehou het daarvan dat Hy Hom so by die armes skaar nie. Daar was potensiaal vir opstand. En as die skares by sy intog in Jerusalem Hosannas sing, moet ’n mens verstaan dat “hosanna” beteken: “Verlos ons.” Dis ’n vryheidslied, sê Willem.

So help Willem sy lesers om verskillende kante van die mens Jesus beter te leer ken. Daar is hoofstukke met titels soos “Met oop arms” en “’n Nuwe wêreld van moontlikheid”, maar ook hoofstukke wat heet “Amptelik was Jesus ’n ketter” en “Amptelik was Jesus skuldig aan hoogverraad”.

Dis hierdie Jesus wat mense nooi om te volg, soos die titel van die boek sê.

En “volg” beteken meer as om net ’n paar stellings oor jou eie sondigheid en die betekenis van die kruis daarvoor te aanvaar. Dit gaan oor ’n lewenswyse wat vir gelowiges die model word.

Willem gebruik ’n aanhaling van CK Chesterton om iets daarvan duidelik te maak. Chesterton het gesê: “For St Francis his religion was not a thing like a theory, but a thing like a love affair.”


Ek sal die stories onthou

Die stories. Dis wat ek sal onthou. Stories van God se genade wat deur sy mense na die wêreld toe vloei.

Ná vyf jaar het ek aan die einde gekom van my dienstyd as redakteur van Kerkbode. Dit was vyf jaar waarin ek van naby kon sien hoe die groot skip van die NG Kerk besig is om al meer te draai; hoe ’n eens na-binne-gekeerde kerk al hoe meer na buite gerig word; hoe ’n eens magtige kerk, al meer ’n dienende kerk word. En dit is goed.

Die stories het dit vertel. Stories wat gekom het van Aranos in Namibië tot by Vryheid in KwaZulu-Natal; stories uit Prieska en Britstown en Strydenburg en Hopetown in die hart van Suid-Afrika; dit het gekom uit Letsitele en Lydenburg en Witrivier, uit Coligny en Randfontein, uit Steynsrus en Petrusburg en Philippolis, uit Cradock en George en Bonnievale en Yzerfontein, uit Pretoria en Johannesburg, Bloemfontein, Kaapstad, Port Elizabeth en Durban. En soveel meer.

Dit was stories van gewone mense en gewone gemeentes wat meegesleur is deur die liefde van Jesus en sy dienende voorbeeld gevolg het. Stories van mense wat ’n verskil gemaak het, party tot in Nepal en Japan.

Dit was vyf wonderlike jare.

Dit was wel soms moeilik. Ek het my eerste slegsêbrief gekry pas nadat my aanstelling by Kerkbode bekend geword het, nog voordat ek begin werk het. Daar was sporadies sulke boodskappe. Die afgelope week was daar weer een.

Ek was baie teleurgesteld dat die NG Kerk nie die evangelie in die woorde van die Belydenis van Belhar helder kon hoor en dit aangryp nie. Nog meer oor die 2016-besluit oor selfdegeslagverhoudinge. Ek dink nie die sinode het God se stem goed gehoor nie.

En daar was hoogtepunte. Die koms van e-Kerkbode was een. Daarvoor moet Lenois Stander en Nico Simpson die krediet kry. Die rubriek “Jong Stemme” was nog een. Die jong dominees gee my soveel moed.

Maar ek sal die stories onthou. Ek dink aan ’n hawelose, siek, jong vrou op die rand van die Bloem­spruit waar dit onderdeur ’n winkelsentrum vloei, met ’n NG dominee wat by haar kniel, haar bemoedig en hulp aanbied.

Ek onthou laggende kleuters wie se oë blink. Kleintjies in kleuterskole van gemeentes wat deur doelgerigte vroeëkinderontwikkeling vir hulle ’n fondament lê waarop hulle ’n lewe kan bou.

Daar was gemeentes wat onder misdaad deurgeloop het en besluit het om met liefde en diens en ontwikkeling in arm gemeenskappe te reageer.

En ek dink aan gemeentes wat grense oorgesteek en vreemdelinge verwelkom het.

Baie stories kon ek eerstehands beleef. Baie ander het deur kollegas of medewerkers by my aangekom. Deur Kerkbode kon ons die stories vir die breër kerk vertel.

In die proses het my verwondering oor God gegroei. Ek het gesien hoe daar genesing kom in gebroke lewens en situasies. Ek het gesien hoe mense van hulleself gee en in die proses beleef dat hulle lewe verryk word.

Ek sê dankie vir die geleentheid om hierdie werk vyf jaar lank te kon doen.

Selfs meer as voorheen glo en bely ek nou: Jesus is die Here!

Nuwe proponente wil ‘dien soos Jesus’

Die nuwe proponente wat onlangs in Pretoria tot die bediening toegelaat is, het as deel van hulle legitimasieplegtigheid elkeen ’n voorskoot gekry. Daarop staan daar netjies uitgeborduur: “Dien soos Jesus”, met die teksverwysing Markus 10:45 daarby.

In dié teks sê Jesus: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Daarby is daar ook ’n prentjie van ’n hand met ’n hart, om liedevolle diens te simboliseer.

Die gedagte aan die voorskote vir die proponente het ’n paar weke tevore ontstaan toe dr Stephan Joubert by die Hoëveldsinode gesê het dat diens ’n belang­rike eienskap is van volgelinge van Jesus.

Ds Natalia Visagie van die NG gemeente Alberton-Suid het toe tydens die tafelbespreking gesê dat predikante nie gelegitimeer moet word met togas nie, maar met voorskote.

Ds Natalia Strydom (voor in die middel met die geblomde rok) saam met die nuwe proponente in hulle voorskote.

Sy het die gedagte tydens ’n etenspouse weer geopper teenoor dr André Bartlett, moderator van Hoë­veldsinode. Bartlett werk as hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling, by die fakulteit waar die studente opgelei word.

Hy was positief oor die gedagte en Strydom het iemand in haar gemeente gevra om die voorskote te maak.

Tydens die legitimasieplegtigheid het die studente een vir een geantwoord op die vrae aan hulle en daarna die legitimasie-eed onderteken. Daarna het elkeen ’n geskenksak met ’n voorskoot in van Strydom ont­vang.

Die nuwe proponente het weer voor die kansel in die liturgiese ruimte gaan staan, en toe is hulle dosente vorentoe genooi om vir hulle die voorskote aan te sit.

In die program van die legitimasieplegtigheid is só oor die voorskote geskryf: “Verbum Divini Minister, Bedienaar van die Goddelike Woord. Die Woord word nie van bo af bedien nie, maar deur een wat navolger is van Jesus, die dienskneg by uitnemendheid. In ons wêreld is die voorskoot nie sonder simboliese waarde nie. Die een wat die voorskoot in die huishouding dra, neem reeds ’n stap na onder, na nederige diens. Mag die voorskoot jou herinner dat jy dienaar is in die huis­houding van God.”

Proponente ‘moet vir geregtigheid werk’

“Julle taak is om daar waar julle ’n werkruimte gaan vind, profeties te werk vir geregtigheid.”

Dít was die boodskap wat prof Alphonso Groenewald vir die NG Kerk se nuwe proponente gehad het tydens hulle onlangse legitimasieplegtigheid in die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria. Groenewald het gepreek uit Psalm 85 met die tema – Geregtigheid berei vir God die pad voor – uit vers 14.

Hy het die Ou-Testamentiese agtergrond van Israel se ballingskap en daarna die voortgesette onderdanigheid aan die Persiese magte bespreek en gesê dit word ’n teks wat droom van ’n komende wêreld waarin die geregtigheid van God aan die orde van die dag is, ’n samelewing waarin die uitbuiting van die gemargina­liseerdes – die wees, die weduwee en die armes – nie aanvaarbaar is nie.

Groenewald het gesê in die huidige konteks is daar veral vier sake wat op die proponente se agenda gaan staan. Dit is armoede, rassisme, seksisme en homofobie.

Hy het verwys na Denise Ackermann wat gesê het die kerke het nuwe taal nodig om te praat oor mense wat die Ander is, mense van ’n ander ras, gender, klas, seksualiteit, godsdiens of geboorteland.

Ongelukkig, het Ackermann gesê, is daar ’n tendens by kerke om die Bybel te gebruik om genderdiskriminasie, homofobie, geweld en onreg te legitimeer in ­diens van magaansprake.

“Billike diskriminasie”

Teen dié agtergrond wou Groenewald weet hoe dit in 2018 nog moontlik is dat ’n gemeente besluit om nie ’n vroulike proponent te beroep nie, net omdat sy nie getroud is of kinders het nie. Hy het gevra hoe dit moontlik is dat daar in die kerk gepraat kan word van “billike diskriminasie” wanneer dit gaan oor die erken­ning van ’n groep lidmate se menswaardigheid. “Van wanneer af wil ons as kerk vir ons ’n beeld van gereg­tigheid voorstel wat enigsins nog ruimte laat vir diskriminasie?” wou hy weet.

Groenewald het vir die propnente gesê Psalm 85 gee vir hulle ’n profetiese droom van ’n wêreld waarvoor hulle hulle moet beywer. Volgens dié droom kan God se vrede slegs ’n realiteit word wanneer daar gewerk word vir geregtigheid.

Hy het afgesluit met Jesus se eie woorde uit die berg­rede: “Geseënd is julle wanneer julle honger en dors na geregtigheid, want dan sal julle versadig word.”

Proponent Charlotte dans van vreugde

Lofliedere in Afrika-idioom het ná die legimasieplegtigheid deur die kerkgebou van die NG gemeente Universiteitsoord weergalm.

In die liturgiese ruimte het proponent Charlotte Sibanyoni saam met haar ma en die tannies van die gemeente Lux Mundi (waar sy betrokke is) se Sotho-bediening gedans.

“Ek was só bly,” sê Charlotte ’n paar dae later.

Dit was geskiedenis wat daar gemaak is: dié bril­jante, jong, swart vrou wat as student van die NG Kerk by Tukkies teologie gestudeer het en by dié legitmasieplegtigheid tot die bediening in die NG Kerk toegelaat is.

Maar dit was ook ’n lang pad vir Charlotte vandat sy as sewejarige saam met haar ma in ’n bediendeka­mer in Pretoria se Moot gebly het. Later het haar ma Mamelodi toe getrek en het sy eers by vriende, toe in ’n plek van veiligheid en toe in die Louis Botha-­kinderhuis gebly.

In haar graad 11-jaar – sy was in die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria – het sy op haar eie in ’n bediendekamer gebly en by plekke soos ’n pizza­winkel en sekuriteitsonderneming gewerk om te oorleef.

En toe gaan sy en ’n maat na die NG gemeente Concordia toe en daar leer sy vir ds Johan van Niekerk ken. Hy en sy vrou Rina het haar genooi om by hulle te kom bly en vir Charlotte het hy die pa geword wat sy nooit gehad het nie. Sy het ook belydenis van geloof in Concordia afgelê.

In haar matriekjaar verras die radiostasie Jacaranda FM haar met ’n beurs van ’n weldoener vir haar universiteitstudie. En toe haar dominee-pa vir haar vra wat sy wil gaan studeer, sê sy vir hom: “Ek wil doen wat jy doen. Ek wil ’n dominee in die NG Kerk word.”

Nou lag sy as sy vertel hoe verskriklik broekskeur dit aanvanklik gegaan het. Sy het Grieks en Hebreeus en ander vakke gedruip. Daar was hereksamens. En uiteindelik het sy haar eerste jaar deurgeskuur.

Maar in haar tweede jaar het haar punte opgeskiet tot in die sewentigs. En daarna was dit onderskeidings. Sy het haar BTh-graad en later ook die MDiv-graad met lof behaal. Sy gee nou klas in Hebreeus.

Dit was ook nie net met die akademie wat dit aanvanklik gehaak het nie. Ook met van haar klasmaats het dit soms gesukkel. Sy was vurig, vertel Charlotte. En soms kon van die klasmaats sulke onsensitiewe dinge sê. En dan het sy gereageer.

Maar mettertyd het ook dít beter gegaan. Sy het rustiger geword en geleer om te luister. Sy het begrip ontwikkel vir waar ander mense vandaan kom, vir die agtergrond wat hulle gevorm het om te dink soos hulle dink.

En nou praat sy van “ons”. Die NG Kerk is haar familie. Dit was NG mense wat haar studies betaal het. Dit was NG mense wat gesorg het dat sy blyplek het en wat vir haar ’n kar gegee het. Dit was NG mense wat haar op soveel maniere gehelp het.

Sy sien uit daarna om saam met die NG Kerk die toekoms in te stap. Sy sal aanhou klas gee, sê sy. En sy het ingeskryf vir haar doktorsgraad oor ’n aantal psalms.

Sy sou graag in ’n gemeente wou help. Sy sou met die jeug wou werk, oor hoe hulle na Suid-Afrika kyk. Sy kan in Afrikaans preek, maar sal graag help met ’n Engelse bediening. Sy wil diversiteit bevorder.

Want proponent Charlotte Sibanyoni droom oor ’n groter toekoms vir die NG Kerk.