Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Prof Piet Meiring (regs) in gesprek met prof Johan van der Merwe by die bekendstelling van sy nuwe boek In daardie tyd was daar reuse. Foto: Neels Jackson

Piet Meiring verspied terug en vorentoe vanaf “reuse” se skouers


“Los julle nonsens. Kyk by die venster uit en kyk hoe julle betrokke kan raak by die nood om ons, by die armoede en werkloosheid.”

Dit was prof Piet Meiring se boodskap aan die kerk by die bekendstelling van sy boek In daardie tyd was daar reuse wat op Maandag 23 Januarie by die NG Kerk Skuilkrans in Pretoria bekendgestel is.

LEES OOK: ’n Boek wat ’n reuse-impak op jou lewe kan maak

Die 81-jarige Meiring het vertel mense het aan hom gekarring om ’n outobiografie te skryf, maar hy het nie gedink daar is genoeg interessante stof om dit te doen nie. Hy het egter besef dat hy in sy lewe baie interessante mense ontmoet het, en het besluit om oor hulle te skryf. Hulle is die reuse waarna die titel van die boek verwys.

Hierdie reuse wissel van sy eie ouers tot by teoloë soos proff GC Berkouwer en Jo Verkuyl wat hy tydens sy studie in Nederland ontmoet het, plaaslike kerklui soos dr Beyers Naudé en proff Ben Marais, David Bosch en Johan Heyns en figure soos aartsbiskop Desmond Tutu en pres Nelson Mandela.

In die proses ontvou daar egter ’n hele stuk kerkgeskiedenis waarin Meiring self, volgens prof Johan van der Merwe wat die gesprek met hom gevoer het, ook ’n reus was.

Meiring het by die bekendstelling verskeie interessante staaltjies vertel.

LEES OOK: Ja! Die NGK kan met geloofwaardigheid oor onreg praat!

Een daarvan kom uit die tyd toe hy ’n jong dominee in die gemeente Lynnwoodrif was. Dit was die ou Suid-Afrika, en hy is kerkraad toe met die versoek om ’n swart predikant uit Uganda toe te laat om in hulle kerk te preek. Dit was ’n ernstige gesprek en toe staan een kerkraadslid op en sê dit is so ’n sensitiewe saak dat as een iemand daarteen stem, moet hulle nie voortgaan nie. Daarop het die man gebid en toe die kerkraad stem, was daar inderdaad geen teenstem nie.

Meiring het vertel hoe verleë hy was toe hy as dosent in sendingwetenskap by Tukkies aangestel is, terwyl almal geweet het prof David Bosch was die wêreldleier op die terrein. Hy het na Bosch toe gegaan en as ’t ware om verskoning gevra, maar Bosch het vir hom gesê: “Die kerk verstaan vir jou beter as vir my,” en sy seën op Meiring se aanstelling geplaas.

Hy het ook vertel hoe pres Nelson Mandela op ’n dag vir ’n paar verteenwoordigers van die NG Kerk gesê het hy is ’n sosialis, maar hy sien nou dit werk nie. Hy wou by hulle weet wat hy nou moet doen.

Uit die hele gesprek het temas van versoening, eenheid en geregtigheid deurentyd na vore gekom. Vandaar Meiring se reaksie op ’n vraag van Van der Merwe dat die kerk daadwerklik by die nood van die gemeenskap betrokke moet wees.

  • In daardie tyd was daar reuse word uitgegee deur CLF.
  • Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Piet Meiring verspied terug en vorentoe vanaf “reuse” se skouers”

  1. Prof. Piet Meiring se aanstelling as professor in die sendingwetenskappe, is te danke aan die bemiddeling van die Afrikaner Broederbond, n geheime nagtelike beweging in afrikaanse kerk/politieke kringe. Sy geloofwaardigheid as wegwyser na n nuwe sendingperspektief in sy boek, is in die weegskaal, tensy hy kan verduidelik of en indien wel, hoe hy homself ontworstel het aan hierdie apartheidsbeweging.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.